Intergenerasionele Eredienste, Kategese en Kampe

Inleiding

Vra die vraag af: hoe lyk jou gemeente se eredienste, kategese en kampe op die oomblik?

Sal die volgende mense welkom voel in hierdie ruimtes:

  • ‘n Senior lidmaat?
  • ‘n Volwassene?
  • ‘n Tiener?
  • ‘n Laerskool kind?
  • ‘n Voorskoolse kind?

Teologiese Onderleg vir Intergenerasionele Jeugbediening

Voorheen het ons gemeentes gefunksioneer volgens die herder-kudde-model van kerk-wees wat baie klem plaas op die predikant en ander “lerende leiers” in die gemeente. Die res van die gemeente se funksie was baie meer passief en hulle het onderrig ontvang – veral kinders.

Ons is egter besig op ‘n reis in ons kerk waar die liggaamsmodel van kerk-wees baie meer klem geniet en dit dwing ons om anders te dink oor die funksie van AL ons lidmate binne die gemeente – ook kinders. Die liggaamsmodel lê klem daarop dat elke persoon ‘n belangrike rol het om te speel in die gemeente en dat kinders dus volwaardige ledemate is van die liggaam – daar is immers nie ‘n junior Heilige Gees nie!

Hoe lyk eredienste, kategese en kampe binne die bogenoemde twee modelle en hoe verskil dit?

Eredienste

‘n Erediens in ‘n gemeente waar die herder-kudde-model sterk funksioneer, sal baie klem lê op sekere rolspelers (en hulle sal meestal, indien nie almal nie, volwassenes wees) en daar sal min interaksie wees tussen die mense teenwoordig. Die diens sal grotendeels afhang van ‘n predikant wat doen en ‘n gemeente wat passief luister. Die opset is een-tot-baie, mense sit in rye agtermekaar en kinders is apart of afwesig.

‘n Erediens wat gebaseer is op die liggaamsmodel van kerk-wees, sal ruimte maak vir elke persoon in die vertrek om aktief daaraan deel te neem. Daar is gelyke waarde van almal teenwoordig. Mense leer bymekaar en kyk mekaar in die oë indien moontlik. Dit is nie net ‘n een-rigting-gesprek nie, maar ‘n gesprek tussen almal teenwoordig in een of ander vorm.

Voorbeelde:

  • Eredienswerkers (span wat mense verwelkom by die deur, nagmaaltekens uitdeel en offergawes opneem) bestaan uit gesinne – dus kinders en volwassenes van alle ouderdomme.
  • Daar is ‘n geleentheid in die diens vir kinders se verjaarsdae wat gevier word en selfs ‘n ouma sin wat gereeld die diens bywoon!
  • Daar is kinderliedjies sowel as meer volwasse-gerigte liedjies. Almal staan en sing beide genres liedjies saam, maar met die kinderliedjies staan die kinders soms op die stoele en doen die bewegings ook saam.
  • Kinders kan gebruik word om simbole in te bring of te gebruik wat aanhak by die preekreeks, bv. vlae met woorde op wat gedra word of kers wat tydens Lydenstyd uitgedoof word.
  • Geleentheid vir families of lidmate om na mekaar te draai en vrae te bespreek in die diens.
  • Daar kan selfs ‘n graad-diens gehou word vir ‘n spesifieke graad waar gesinne een van die kategese-lesse saam doen en die predikant van voor af fasiliteer.

Kategese en Kampe

Die herder-kudde-model van kerk-wees laat kategese ‘n skoolklaskamer dupliseer waar daar ‘n “onderwyser” is (gewoonlik ‘n volwassene) wat net kennis oordra aan passiewe kinders wat min geleentheid het om hulle eie opinies en vrae te gee en vra. Die klem is daarop dat hulle die kennis inneem en dit netso kan weergee.

Op kampe sal die prentjie baie eenders lyk, maar net met ‘n groter groep en in ‘n ander ruimte. Daar sal moontlik tye wees op die kamp vir ander aktiwiteite as kennisoordrag, maar dit sal losstaande wees en nie noodwendig ‘n spesifieke doel dien in terme van die vorming en inlewing van die tema nie.

Wanneer die beginsel van die liggaamsmodel op kategese toegpas word, het almal wat betrokke is ‘n rol om te speel. Die onderwysers word eerder fasiliteerders van ‘n gesprek waar die tema bespreek word en hierdie gesprek waar die kinders/tieners geleentheid kry om ook deel te neem is netso belangrik en onlosmaaklik verbind aan die kennis oordrag. Die groepe is kleiner sodat gesprek makliker kan plaasvind. Kategesegroepies sit in kringe sodat almal mekaar in die oë kan kyk en nie in ‘n ry voor die onderwyser nie. Ervaringsleer is ook belangrik.

Met kampe is een oorhoofse tema belangrik waarop alles gebasseer is: kennis, gesprekke, ervaringsleer en musiekbediening. Die doel van al hierdie aspekte van die kamp is geloofsvorming in ‘n eilandsituasie eerder as nét kennisoordrag. Kampeerders word ook in kleingroepe ingedeel met fasiliteerders en almal wat gaan kamp het ‘n rol, bv. kleingroepleiers, band, bidders, beraders, ens.

Ouervergaderings

Ouervergaderings in die herder-kudde-model lyk ook baie eenders as eredienste in hierdie model: die predikant van vooraf praat, ouers wat in rye sit en kinders wat afwesig is.

In die liggaamsmodel sal ‘n ouervergadering die kinders ook insluit, kinders sal saam met hulle ouers in kleingroepe sit en daar sal geleentheid wees vir hulle om ook met mekaar te kommunikeer oor dit wat van voor af met hulle gedeel word.

Wenke om ruimtes meer intergenerasioneel-vriendelik te maak

  • Handwerk (crafts) wat almal saam moet doen of elkeen individueel en dan met mekaar deel.
  • Oop vrae: Dit is belangrik dat die vra wawt gevra word deur ‘n 4-jarige sowel as ‘n 30-jarige beantwoord kan word.
  • Stories: Alle ouderdomme het stories om te vertel, maar ons het min tye om te luister na mekaar.
  • Getuienisse
  • Simboliek: Dit is iets waaraan ons almal kan deelneem.
  • Speletjies: Gesamentlike ervaringsleer of speletjies gebaseer op ‘n sekere tema of preek-/kategese-reeks wat huis toe geneem kan word om in huisgeloof tyd te speel.

Slot

Dink terug oor jou beskrywing van die ruimtes in julle gemeente aan die begin. Hoe kan jy net een ding in elke ruimte verander of toevoeg om dit meer intergenerasioneel te maak?

Moenie oorhaastig alles verander nie! Fasiliteer geloofsgroei met klein veranderinge.

Elzanne van der Westhuizen