Nadenke oor jong volwassenes en die NG Kerk Deel 2: Jong Volwassenes wat die NG Kerk verlaat en nie deel word van ander kerke nie.

Hier volg moontlike redes waarom ‘n groep jong volwassenes die NG Kerk verlaat en nie deel word van ander kerke nie, soos saamgestel uit ‘n gesprek van die Jong volwasse Leer Gemeenskap byeenkoms gehou in November 2017. Hierdie is deel van ‘n reeks van 4 artikels.

Rede 1: Gebrek aan konneksie (gebrek aan diepgaande verhoudings, mentorskap, dissipelskap en geloof belewenisse en groei).

Hierdie mense het die kerk verlaat weens ’n leemte of gebrek aan konneksie met of binne die kerk. Hulle is nie noodwendig kwaad vir die kerk, of is seergemaak deur die kerk nie, maar voel steeds nie dat kerk ’n belangrike rol in hul lewens speel nie, alhoewel hulle hulself steeds as gelowig beskou.

Konneksies en persepsies

Mense wat vir hierdie redes die kerk verlaat het, is steeds baie kere op soek na gemeenskap of konneksie op ’n manier, maar soek dit dan dikwels buite die kerk, nie binne die kerk nie.  In ons ervaring, vind mense wat om hierdie redes die kerk verlaat het, wel konneksies binne klubs, belangegroepe, familiebande, vriendekringe, werksverhoudings, of sosiale byeenkomste.

In baie gevalle, pas hulle hul geloof by hul lewens aan, eerder as om hulle lewens by hul geloof aan te pas. Kerk is iets wat dikwels in die agterkop gehou word, en eerder as ’n soort “klub” beskou wat ‘n diens aan die kliënte moet verskaf tydens lewensoorgange, soos doop, belydenis, trou of begrafnis”. Kerk en geloof is dikwels dus ook net iets wees wat net in krisistye bygewoon / geraadpleeg word.

Verbruikersmentaliteit

Vir mense wat om hierdie redes die kerk verlaat het, kom dit voor of geloof eerder gaan oor wat ‘n mens kan ontvang (sogenaamde “quick fixes” ) as wat ‘n mens kan gee.  Verbruikersmentaliteit speel ‘n groot rol. Daarom, as kerkbywoning opgeweeg word teen ’n ander aktiwiteit, soos strand, sport, hul kinders, kuiers, of vakansie, sal dit eerder wegval. Die kerk maak in die algemeen nie vir hulle sin nie, en daarom beplan hulle nie hul naweke rondom aktiwiteite wat die kerk mag aangaan nie. Die vervulling van wense of behoeftes word hoër geag as die bydra wat hulle kan lewer by ’n kerk.

In baie gevalle, word hul identiteit nie gevorm deur die kerk of hul geloof nie, maar juis deur wat hulle het, doen, of besit. Hierdie self genoegsaamheid bepaal meer hul lewensbeskouing as hul geloof. Hulle soek sin, betekenis en tevredenheid in rykdom, familie, vriende, of sosiale groepe, status, ens.

Baie mense wat hierdie diskonneksie met die kerk ervaar het, het dit alreeds begin ervaar in die tydperk van hul geloofsvorming (as kinders en tieners), en het daarom as volwassenes nie meer ’n sterk behoefte om kerk by te woon of aktief betrokke by ’n kerk te wees nie. Hulle ouers het soms ook hierdie voorbeeld gestel. 

Rede 2: Die kerk help nie om my geloof en lewe (roeping) te verbind aan mekaar nie

Ons ervaring is dat daar ‘n groep jong volwassenes is wat ‘n gaping tussen geloof en daad beleef. Hierdie groep jong volwassenes het in die kerk groot geword en is steeds passievol om God te leef in hul alledaagse lewe, maar sukkel om ruimte te vind vir diens in die kerk of hulle sukkel om hul roeping (beroep) en geloof aan mekaar te verbind.

Roeping en geleenthede

Hierdie groep voel dat hulle roeping / beroep / lewe nie anders kan as om losstaande van hul kerk belewenis te funksioneer nie. Hulle Christelike agtergrond het hul nie daarop voorberei om Sondag (kerk) met Maandag tot Saterdag (werk en samelewing) te verbind nie.

Hierdie groep het ‘n bitter smaak in hul mond omdat die kerk hulle nie speelveld gee om met passie hul roeping uit te leef nie, en daarom is hulle skepties oor die kerk as instansie maar nie apaties teenoor die kerk nie.

Vir hierdie groep is dit belangrik dat hulle in hul beroep hul roeping kan uitleef. In die uitleef van hul roeping wil hulle verandering in die samelewing bring. Dit is vir hierdie groep belangrik dat daar nie ‘n skeiding tussen geloof en die alledaagse leefwêreld is nie.

Hierdie groep beleef God buite die mure van die kerk daarom voel hulle dat hulle tans ‘n groter, vinniger, effektiewer en met meer intensie impak kan maak buite die tradisionele gemeentelike strukture. Vir hulle moet geloof in die wêreld saak maak.

Geleenthede en uitdagings

Die kerk mis die geleentheid om hierdie jongmense se gawes te ontgin. Hulle is bereid om met passie saam met die span te speel, maar ruimte in die span is daar nie. Die kerk speel te stadig vir hierdie groep in die skep van geleenthede, omdat die kerk reguleer eerder as improviseer en innoveer. In die skep van ruimte sukkel die kerk om hierdie groep te help om die skakel te maak wat geloof en roeping verbind. Die kerk sukkel om hierdie groep te help om in die kultuur waarin hul leef te lewe en te dien.

Die kerk kan hierdie groep help om aktief hul roeping in hul kultuur (alledaagse) uit te leef deur spasie te skep vir dialoog en toerusting oor die uitleef van gawes. Laasgenoemde sluit “gewone” gawes, talente en belangstellings in.

As die kerk hierdie groep kan help om hul werk as gelowige aan te pak en ‘n verandering daardeur te laat plaasvind, sal hierdie groep se roeping bevestig word in ‘n geloofsgemeenskap waar hul hulself tuis vind en sal wil bly.  In hierdie sin moet die kerk jong volwassenes help om hul leef- en werk-wereld te verbind met God.

Rede 3: Ek glo nie meer nie as gevolg van my rede (wetenskaplike of teoretiese oorwegings) of as gevolg van my ervaring (seerkry in die kerk)

Sommige mense verlaat die kerk en kies om hulself daarvan en hulle geloof af te sny. Daar is verskeie redes hiervoor. Vanuit navorsing in Amerika en enkele stories van Suid-Afrikaanse jongmense wat ons al gehoor het, kon ons ‘n aantal afleidings maak oor die moontlike redes hiervoor. Hierdie redes kan op die volgende maniere uiteengesit word:

Hart-redes & Kop-redes

Meeste van die inligting waarna ons gekyk het kan ons in twee groepe plaas, naamlik mense wat emosioneel seergekry het in die kerk (dus slegte ervarings of “hart”) en mense wat hulself rasioneel nie kan vereenselwig met wat hulle hoor in die kerk of lees in die Bybel nie (dus as gevolg van hul rede of “kop”)

Van die hart-redes waaroor mense die kerk/hulle geloof agterlaat is oordeel wat hulle daarin ervaar (bv. rondom seksualiteit, morele kwessies, psigiatriese siektes ens.), slegte ervarings met ander Christene/die kerk (bv. ouers wat mishandel, geestelike leiers/mentors wat liefdeloos of sonder integriteit optree ens.) en mense wat voel dat daar nie ruimte is vir hulle in die kerk om wie hulle is uit te leef nie.

Van die kop-redes wat ons identifiseer het wat mense lei tot ‘n rasionele besluit om die kerk/geloof agter te laat is dat hulle ervaar dat die kerk anti-wetenskap is en dat Christene naïef is, dat die kerk as ‘n plek waar intellektuele (bv. filosofiese) denke nie ‘n plek het nie en dat die Bybel nie logies sin maak vir hulle nie (wat gepaard gaan met Bybel-interpretasie) en hulle dit nie kan glo nie.

“Engaged” & “Disengaged”

Vanuit verskeie stories, lyk dit vir ons asof sommige van hierdie mense hulself heeltemal afsny van die kerk/geloof vir watter rede ookal (“disengaged”) en ander mense wat kies om hulself af te sny en sê dat hulle finaal klaar is met kerk en geloof, maar tog steeds oop is vir gesprekke rondom hierdie sake.

Mense wie se storie getuig van “disengagement” is gewoonlik ook apaties teenoor die kerk en geloof (bv. as gevolg van finansieel welgesteldheid, logiese redes ens.). Daar is geen ruimte vir ‘n gesprek oor hierdie kwessies nie. Terwyl ons vind dat daar wel verhale is waar mense gekies het om te breek met kerk en geloof vir kop- of hart-redes, maar bereid is om ‘n pad te stap met ‘n geestelike mentor sonder die voorwaarde om “terug te kom” kerk toe. Hierdie mense ervaar steeds sterk emosionele wroegings as gevolg van die besluit wat hulle geneem het, en is daarom steeds weens hierdie onverwerkte emosies op ‘n indirekte manier “engaged” met die kerk/geloof. Daar is ook ander mense wat afstand doen van hulle geloof, maar hulself steeds beskryf as “spiritueel”.

Persepsies & Veralgemenings

‘n Algemene tendens in verskeie van die stories en waargenome redes is dat mense se besluit om hulself van die kerk/geloof te distansieer, dikwels gebaseer is op persepsies en veralgemenings. Christenskap en Christelike kerke word dikwels beskryf as “konserwatief” of “liberaal”, “anti-iets”, “beperkend” ens. Veralgemenings is dikwels gebaseer op die persoon se eie ervaring in die geloofsgemeenskap waarin hulle grootgeword het, terwyl persepsies gevoed word deur ander bronne. Hierdie persepsies en veralgemenings is na ons mening egter nie noodwendig waar van alle kerke of alle Christene nie.

Vanuit die bogenoemde, is dit duidelik dat daar verskeie redes is waarom mense hulself distansieer van die kerk en/of hul geloof. Dit is belangrik dat ons nie veralgemeen wanneer ons dink oor hoe om mense op hierdie plek in hulle storie te omarm as kerk nie.

___________________________________________________________________________