ONTMOET ALEX

Ek het onlangs geland aan tafel langs Alex, ‘n jong werkende man wat ek laas gesien het toe hy in matriek was. Ons was saam in die gemeente en ons paaie het in die jeugbediening gekruis waar ek hom as ‘n toegewyde jongmens beleef het. Dit was heerlik om te hoor hoe hy klaar gestudeer het en nou by ‘n groot firmawerk.

So baie is presies dieselfde soos ek hom onthou… ‘n vriendelik tog rustige introvert wat met belangstelling kan luister en gesels. Hy is slim, suksesvol en uitgesorteer. Die gesprek skuif vinnig na waar hy kerk gaan – ons het immers ‘n tuisgemeente in gemeen. Hy is nou by ‘n charismatiese kerk ingeskakel en dit klink of hy daar baie betrokke is. Nie lank nie, of hy vertel my ook dat hy ‘n maatskappy “on the side” het wat websites bou en IT werk doen. Hierdie maatskappy maak duidelik geld, maar hy vertel ook dat hy projekte in diens van die kerk of ander diensorganisasies verniet doen.

Trots op hom ry ek weg en ek dink aan hierdie jongman wat met sy gawes ook ‘n verskil maak in die koninkryk. Hy is nie meer deel van my denominasie nie, maar dit maak minder vir my saak. Hy is besig om die wêreld met sy gawes te dien.