ONTMOET MY KROEGVRIENDE

Ek kuier gereeld in die plaaslike bar. Kontroversieel, ek weet. Maar vir my is dit waar ek my stories van hoop vind.

My kelnerin bring vir my my drankie en vra my bietjie uit oor die moontlikheid om haar kind te laat doop. Oor ete begin ’n jongman tentatief gesels oor sy geloofsvrae, maar hy wil nog eers bietjie gaan dink. Ons sal nog goed daaroor gesels, belowe hy. Een van die ander jong mans, ’n ateïs, raak saam met my opgewonde oor my kategesemateriaal en vra in detail vir my daaroor uit. Ek gesels oor sosiale geregtigheid met ’n buitelander. En as ek by die huis kom, bel een van die ander kelnerinne, ook ’n ateïs, my omdat sy deur ‘n persoonlike krisis gaan.

Die verhoudings is nog nuut. Die gesprekke is nog tentatief. Maar my aande in die kroeg laat my dink oor kerkwees saam met mense wat in plekke en op maniere kuier wat nie tipies met die kerk geassosieer word nie.