ONTMOET ZOLANI

In my vorige gemeente, het ons regtig gesukkel om die jongmense, beide tieners en jong volwassenes, by die kerk betrokke te kry. Toe ons besluit het om ons vrese eenkant te stoot en eerder in waagmoed vorentoe te beweeg, het ons genadig heelwat jong volwassenes ryker geword. Ons het ons eredienste heelwat aangepas en begin om mense aktief na ons eredienste en byeenkomste te nooi. Ons het die eienaarskap van die spasie, ruimte en liturgie heeltemal oorgegee aan die jonger mense, en skielik het nie net die getalle toegeneem nie, maar ons het ook begin om oor kultuurgrense te beweeg.

Ons het altyd vanuit ’n plek van gasvryheid mense begin innooi. Gevolglik, het daar ’n paar Xhosa-sprekende jongmense wat naby gebly het en deur ander mense genooi is, ons dienste begin bywoon. Stadigaan het hierdie groep vermeerder, totdat ons hoofsaaklik in Engels begin preek het en Xhosa liedere begin sing het.

Een van ons jong volwassenes, Zolani, het graag sy vriende genooi en het begin om ’n rol van invloed in ons gemeente te begin aanneem.