Holistiese Familiebediening Deel 2: Taal gebruik

Hoe beinvloed taal inskusiwiteit of ekslusiwiteit van ‘n holistiese familie bediening?

Dink gou ‘n oomblik na oor die terme en voorbeelde wat jul in die gemeente gebruik om na “families” te verwys? Gebruik julle altyd die voorbeeld van ‘n ma, pa en kinders, terwyl daar ook dalk kinderhuis kinders, pleegkinders of koshuiskinders in die gehoor is? Verwys jul altyd na ouers terwyl daar ook kinders is wat deur grootouers of stief ouers grootgemaak word? Is daar altyd twee ouers in jou illustrasies – wat van enkelouers? Is die foto’s wat jul gebruik in “powerpoints” of op sosiale media of in jul kommunikasie divers (in samestelling en in ras of geslag) of bevorder dit die siening dat net ‘n familie en 2 ouers “normaal” is? Is jou briewe gerig aan ma’s (terwyl sommige gesinne net ‘n pa of grootouer of voog het)? Is die stories wat jy gebruik altyd gerig op een tipe familie, of skep jy doelbewus ruimte vir diversiteit?

Taal skep werklikheid. Of ons dit wil erken of nie, die sensitiwiteit of eerder onsensitiwiteit van ons taal beperk ons eie, en in gevolg ons gemeente, se verstaan van seker onderwerpe. In hierdie geval, “ hoe definieer ons families”.

In ons hedendaagse samelewing is ons in ʼn sekere sin gekondisioneer om families te definieer as, die gewone, gelukkig getroude laat 20”s gesin met hulle 2.4 kinders. Dus is ons taal nog nie ontwikkel om ons nuwe samestelling van families in te sluit nie. Natuurlik kan ons nie elke voorbeeld van families in een sin kwalifiseer nie, maar ons kan intensioneel te werk gaan daarmee. Dus vra die raamwerk van ʼn holistiese familie siening die intensionele uitbreiding van ʼn nuwe taal, nuwe gewoontes en ʼn nuwe bewusmaking.

Dit gesê, rus die onus op ons om ʼn nuwe kultuur te skep, nie net in ons gemeentes nie, maar gemeenskappe. Dit begin deur ons lidmate bewus te maak van os diverse familie dinamika. Daarom moet ons hierdie nuwe terme uitpak wanneer ons dit gebruik, sodoende die gemeentes help verstaan waaroor ons praat as ons oor familie praat en hoekom ons holisties daarna kyk.

Baie maal word taal gebruik om die bestaande magsverhoudinge of gemak sones in stand te hou, en weet ons dat die verandering en vernuwe daarvan, hierdie bestaande gemak bedreig. Daarom is ons soms verkeerdelik versigtig. Taal is dikwels nie ʼn probleem of ongemaklik vir die persone wat in ʼn gemaklike posisie verkeer nie, maar eerder vir die persone aan die onder kant van die magsdriehoek. Dis hulle wat seerkry wanneer hierdie eensydige en beperkte taal gebruik word.

Hierdie artikel is geskryf deur Jana Dickason, Nico Lochner, Lou-Marié Denton  na aanleiding van die Familie Netwerk gesprek gehou in April 2018 te Stellenbosch. Die Familie Netwerk is ‘n gereelde gesprek wat deur die Taakspan vir Jeug en Familiebediening gehou word in die Wes Kaap Sinode van die NG Kerk.