Die waardevolste geskenk aan jou kind!

– Immanuel van Tonder

Daar is een geskenk wat meer waardevol is as die meeste ander geskenke wat jy aan jou kind kan gee.  Hierdie geskenk kos niks nie, maar dit vra alles van jou.  Dit is binne bereik van elke ouer maar dit is ook een van die moeilikste geskenke om te gee.  Dié geskenk is om elke oomblik met deernis (compassion) volbewus teenwoordig te wees.    ‘n Ander woord daarvoor is “mindfulness” of “kindfulness”. Ek gebruik die woord deernisvolle volbewussyn.

Dit impliseer nie net om teenwoordig te wees nie, maar ‘n spesifieke houdingin jou teenwoordigheid.  Jou deernisvolle volbewussyn is nie in die eerste plek op jou kind gemik nie maar dit is eers gerig op jouself. Die kwaliteit van jou selfbewussyn bepaal die kwaliteit en die aard van jou aandagtigheid by jou kind.  Die houding in jou selfbewussyn gaan ook kommunikeer na jou kind…

Jy hoef nie altyd in ‘n “ideale” emosionele staat te wees nie(ons weet mos dat ons almal emosionele golwe ervaar), maar jy moet net deernisvol bewus wees van wat jy voel. Dis al!  Neem net jou eie lyf, emosies en gedagtes waar.  As jy dit kan regkry, “label” jou gevoel. Ek is nou so kwaad of teleurgesteld of bang! Met oefening kan dit in paar sekondes gebeur.

Soms word ons so oorspoel deur emosies dat ons nie maklik ons emosie kan erken nie. Fokus dan net op jou asemhalingof ander sintuiglike impuls.  Daar is goeie wetenskaplike bewyse dat net ‘n fokusverskuiwing na jou asemhaling dit regkry om te keer dat jy oorrompel word deur jou emosies.

Is jy deernisvolbewusdaarvan wanneer jy moeg, moedeloos, gefrustreerd of kwaad is?  Sonder om jouself te veroordeel dat jy voel soos jy voel, kan jy net daarvan bewus raak. As jy jouself veroordeel dat jy so voel, maak jy die situasie net erger.  Jy word dus nie kwaad vir jouself omdat jy kwaad is nie.  Raak net deernisvol bewus van wat in jou aangaan.

Dit klink na iets eenvoudig maar daar kom ‘n groot bevryding as jy dit kan regkry om jou emosies waar te neem en nie opgeneem te raak daardeur nie. Dit is amper asof daar ‘n ligtheid oor jou kom. Die meganisme is dat jy afstandkry van die woede en dit met deernis (compassion) kan sien en hanteer. Wat neurologies gebeur is dat jy jouself en die situasie vanuit die “slimmer” deel van jou brein (pre-frontale korteks) benader i.p.v. die oerbrein. (amygdala).

As jou kind in die openbaar ‘n “vloermoer” gooi, haal diep asem en raak eers net bewus daarvan dat jy skaam, skuldig, teleurgesteld en kwaad voel.  Jy veroordeel jouself nie daarvoor nie, jy erken dit net met deernis aan jouself.  Gee danmet deernisaandag aan wat jy by jou kind sien sonder om dadelik te veroordeel. Jy het mos nou gesien dat daar emosies is wat jou persepsies gaan kleur.

Jou onbeheerste skaamte en woede sou veroorsaak het dat jy net sekere dinge raaksien en totaal oorrompel word daardeur.   Probeer in daardie situasie duidelik sien wat voor jou gebeur.  Wat sê en doen jou kind?  (Niewat jy dinkjou kind doen nie).  Vra vir die kind wat hy of sy nou voel.   Laat hulle die gevoel “label”.   Ek wil so ver gaan om te sê dat as jou kind sy gevoel kan uitspreek, koop vir hom iets om hom mee te beloon!

Kan jy sien dat jy nou baie beter aan die situasie kan aandag skenk?  Jy is bewus van wat jy voel, wat jou kind voel en doen en tog is daar ‘n vorm van vryheid van jou eie en jou kind se optrede.  As jy nie “opgeslurp” raak in die situasie nie, kan jy nou met baie meer kreatiewe en verantwoordelike moontlikhede vorendag kom.  Nou kan jy kies of jy langs jou kind op die grond wil lê en huil, of ‘n ballon bars, dalk soos ’n nar tekere te gaan, die item te koop wat hy/sy wil hê of sy optrede op selfoon opneem en weer aan hom terug speel.

Die probleem is dat ons gewoonlik net gedrag probeer verander en ‘n vorm van geweld (verbaal of fisies) as die enigste oplossing sien. Wat van as jy net kan stop sodat jy die situasie mooi kan beskou en daarna eers ‘n gepaste optrede kies?  Al is dit dan ‘n pak slae. (Wat ek persoonlik dink net die heel laaste uitweg is.  Ek en my vrou het vroeg in ons ouerskap besluit om ons daarvan te weerhou.)

Wat van die gedagte om die probleemsituasie as ‘n geleentheid te sien?  Sien uit na die volgende vloermoer of emosionele uitdaging!  Jou houding van ‘n nuuskierige, positiewe, geduldige deernis gaan ‘n groot impak hê.  Jy sal so bevry voel van die situasie.

Die groef waarin ons val is dat ons outomatiese optrede (autopilot) ons lei. Ons eie gedagtes vorm ‘n filter wat so baie situasies vertroebel. Ouers mis  gereeld die rykdom van die goeie tye want hulle skakel hulle bewussyn af.  As jy die skatte uit jou lewe en verhoudings wil ontgin moet jy juis aan-dagtig wees.

Daar is mense wat sê dat die enigste manier om dié lewenstyl van volbewussyn aan te leer is om gereeld te mediteer en stil te wees.  Alhoewel dit ‘n verskil sal maak, is dit is nie baie realisties in meeste ouers se lewens nie.  Hierdie oefening in deernisvolle volbewussyn kan bewustelik geoefen word in enige situasie van elke dag!

Oefen sommer jou aandagtigheid nou net waar jy is!  Raak nuuskierig bewus raak van die boodskappe van jou lyf, gedagtes en emosies.  Verwelkom die boodskappe wat jy kry sonder veroordeling.  Wees tuis in jou jouself, met jouself.   Dieselfde proses kan jy oefen as jy kos maak, by die werk is, op reis is, maar veral as jy by jou kind en jou man/vrou is.

Hoe meer teenwoordig jy raak, hoe meer sal die fontein van die lewe vir jou oopgaan.  Jy gaan dieper verbintenisse bou met die omgewing, met jouself en jou mense. Dalk is die begin van die reis om ten minste aan jouself die geskenk van volbewussyn te gee. Dit is heel moontlik die grootste geskenk aan jou kind!

Geskryf deur Immanuel van Tonder vir die Oostelike Sinode se Huisgeloof Netwerk.