124172615

Hoe kan ‘n gemeente ‘n familie raak (deel 1)

Gespreksnotas (deel 1) van die Familie Netwerk byeenkoms gehou op 19 Julie 2018 aan die hand van ‘n hoofstuk “Congregations as Family” in die boek “Passing on the Faith. A Radical New Model For Youth and Family Ministry” deur Merton P. Strommen en Richard A. Hardel.

 Is familiebediening ‘n afdeling van gemeente-wees of is ‘n gemeente een groot familie?

Familiebediening is beide‘n afdeling van gemeente-wees én die gemeente is ook een groot familie. Daarom beteken familiebediening dat ons twee dinge doen:

  1. Gemeentes moet indiwiduele huishoudings / families versterk.

Vra die vrae:

  • Hoe kan ons dinge doen wat mense in huishouding nader aan mekaar bring?
  • Hoe kan ons families help of aanmoedig om tyd saam te spandeer?
  • Hoe kan ons families bystaan om geestelik saam te groei?
  1. Gemeentes moet ook die gemeente self (of die ervaring daarvan) as een groot, inklusiewe, inter-generasionele familie versterk?

Vra die vrae:

  • Wat kan ons doen om die ervaring van mense te bevorder dat die gemeente een groot gasvrye ruimte is?
  • Hoe kan ons die beeld van die gemeente versterk dat almal (ongeag ouderdom, ras, klas, geslag, vermoëns, ens) ingesluit word en belangrik is?
  • Hoe kan ons dit voortdurend makliker maak vir mense om van buite die gemeente deel te word van die gemeente familie?

Tradisionele familiebediening kan juis mense uitsluit, aangesien dit deur mense verstaan kan word as ‘n term wat slegs verwys na ‘n tipiese gesin met ma, pa en kinders, terwyl dit eintlik alle tipe mense en huishoudings in die gemeente as geheel kan en moet insluit. Vra krities die vrae-

  • wat in ‘n gemeente se erediens, geboue en aktiwiteite sê vir besoekers (ook kinders, tieners, mense met gestremdhede, ander rasse ens.) dat hulle welkom is?
  • En wat staan in die pad?

Die hoofstuk in die boek getitel “Congregations as Family” noem 8 faktore wat bydrae om ‘n gemeente as een groot familie te versterk:

  1. ‘n Gasvrye atmosfeer
  2. Aanbidding wat inspireer
  3. ‘n Omgee omgewing
  4. ‘n Klimaat wat denke aanmoedig
  5. Families wat ander families help
  6. ‘n Klem op gebed
  7. Inter-generasionele diens geleenthede
  8. ‘n Gesamentlike doel (missie)

Die groep wat saam gesels het by die Familie Netwerk byeenkoms, het aan ‘n paar voorbeelde gedink uit hulle eie ervaring wat hiermee kan help:

  • Gebruik foto’s van verskillende rasse en tipe families in PowerPoint
  • Let op taal – verwelkom byvoorbeeld alle ouderdomme persone, noem altyd waar die kleedkamers en ruimtes vir klein kinders is, sodat besoekers maklik tuis kan kom
  • Let op hoe die voorportaal lyk– is daar byvoorbeeld foto’s van kinders op die mure, is dit rolstoel vriendelik?
  • Betrek bejaardes by die jeug- of kinderbediening deur geleenthede te skep vir stories vertel. Spesifieke geleenthede kan hiervoor gereël word of huidige geleenthede kan hiervoor ingespan word.
  • Hang foto’s van die kategese groepe in die voorportaal – dit gee vir kinders / jongmense die boodskap gee dat hulle belangrik is en welkom is.
  • Pak klein tafeltjies, stoeltjies, Kinderbybels en inkleur goed in die erediens ruimte uit – dit laat voorskoolse kinders welkom voel en bevorder hulle deelname.
  • ‘n Klimraam of bordkryt buite en ‘n tafel met koeldrank kan kleiner kinders laat tuiskom terwyl ouers saamkuier na ‘n erediens.
  • Benoem ‘n moederskamer eerder “ruimte vir ouers met babas” en kyk of die ruimtes voldoende is en vriendelik is
  • Is daar genoeg aanwysings sodat besoekers weet waar alles is? Is dit in verstaanbare terme?

 

Die groep het nog stories vertel van waar hulle dit reeds regkry:

Een persoon vertel dat hulle ‘n inter-generasionele staptoer gereël het waar volwassenes jongmense op ‘n ander manier kon leer ken en wedersydse verhoudings gebou kon word. Dit was veral baie waardevol dat studente en jongwerkendes saam gegaan het en met die tieners tyd só spandeer het.

 

Die boek beklemtoon dat dit is belangrik is om “thinking spaces” te skep waar jongmense die vryheid en vrymoedigheid het om hul standpunte te lig en saam te gesels sonder oordeel. ‘n Voorbeeld hiervan is ‘n gemeente wat tieners en volwassenes genooi het om saam te gesels oor hul ervarings in die gemeente deur bv. vrae te vra soos waar voel jy dat jy kan groei, dien en “connect” in die gemeente? Dit was baie opbouend omdat die volwassenes ook gedeel het waar hulle geleer het en almal vrymoedigheid gehad het.

 

‘n Ander gemeente vertel dat dit goed werk om tieners as leiers te bevestig. Dit gee vir hulle ook ‘n stem en deurdat hulle diensbaar is en verantwoordelikheid neem, groei hulle ook. Dit is egter belangrik om met dié tiener leiers tyd te spandeer en verhoudings te bou en hulle nie net alleen te laat nie.

 

‘n Ander persoon vertel dat hulle volwassenes wat nie by die kategese betrokke is nie, ook nooi om hulle ervaring of stories (ook stories van gebrokenheid of foute) te deel met die tieners. Op só manier kan tieners ook verhoudings met ander volwassenes bou.

 

Die groep het mekaar uitgedaag om ook hierdie gesprek verder ook te voer met die kerkraad en ander leiers van elkeen se gemeente. Vra die vrae: wat in ‘n gemeente se erediens, geboue en aktiwiteite sê vir besoekers (ook kinders, tieners, mense met gestremdhede, ander rasse ens.) dat hulle welkom is? En wat staan in die pad?  Nog ‘n praktiese idee is om die kerkraad / leiers deur die verskillende lokale van die gemeente te laat stap en daarna te kyk vanuit die skoene van besoekers / verskillende ouderdomsgroepe.

Gespreksnotas saamgestel deur Anriëtte de Ridder, Eugene Malan, Pierre Burger, Jana Dickason, Ronel Viljoen en Nico Lochner