Nog 10 wenke om kinders te betrek in ‘n interaktiewe erediens (deel 2)

Inter-ouderdom dienste betrek oud en jonk

‘n Inter-ouderdom, interaktiewe erediens fokus om alle gemeentelede aan mekaar te verbind. In die loop van die erediens en preek word daar geleenthede geskep waar mense van verskillende ouderdomme met mekaar kan saam gesels of iets saam kan doen. Dit is nie ‘n kinderdiens nie, maar ‘n geleentheid om saam te groei as gelowiges in een geloofsfamilie.

Nog 10 wenke om die erediens en preek interaktief te maak:

  1. Gebruik hier en daar vrae deur die loop van die preek wat mense interaktief kan bespreek
  2. Liturgiese handeling – doen iets met mekaar saam, bv. om saam brood te breek, mekaar te seën of saam te bid
  3. Dink aan iets wat hulle simbolies kan doen bv. kers aansteek, hande was, sout proe, met olie salf, ‘n blaar ophang, ‘n saad plant, ens.
  4. Huisgeloof moment – oefen iets in die erediens wat hulle kan herhaal of voltooi by die huis (b.v. speletjie, woordsoek, gebedsidees, ens.)
  5. Uitdaging – noem ‘n praktiese uitdaging wat almal vir die week moet doen en laat gesinne die volgende week weer terugvoer daaroor gee.
  6. Vertel ‘n storie of wys ‘n videogreep wat almal kan verstaan.
  7. Gebruik ‘n objek, praktiese illustrasie of visuele uitbeelding om ‘n punt te illustreer of te verduidelik – maak koffie, gebruik ‘n alledaagse items of dalk ‘n objek uit die verhaal bv. wys ‘n brood en vis met die vertel van die verhaal van die vermeerdering van die brode en visse
  8. Laat kinders / gemeentelede rond beweeg om met ander in die gemeente te gesels bv. stuur kinders na die bejaardes om iets uit te deel of ‘n vraag te vra soos watter speletjie hulle in hul jong dae gespeel het.
  9. Gee vir gemeentelede kans om te vertel wat hulle in die teksgedeelte opgeval het of wat hulle gehoor het in die preek en wil onthou.
  10. Gebruik die kerkjaar simboliek om mense te betrek by die diens. Daar is baie idees hieroor aanlyn beskikbaar.

Geskryf deur Anriëtte de Ridder na aanleiding van ‘n Familie Netwerk gesprek oor “Hoe om kinders te betrek by eredienste”. Die Familie Netwerk is ‘n inisiatief van die Taakspan vir Jeug en Familiebediening van die Sinode van Wes-Kaapland.