124172615

Huisgeloof: Idees vir saam Bybel lees

Hierdie reeks idees sluit aan by die “Ons huis oefen” boekie.

Wasgoedlyn met tekste
Span ‘n tou soos ‘n wasgoedlyn voor die venster. Elke keer wanneer julle ‘n teks hoor wat vir julle belangrik is, skryf dit neer en knyp dit met ‘n wasgoedpennetjie vas.

Swartbordteks
Skryf die week se erediensteks op ‘n swartbord neer of plak dit teen die muur waar die hele gesin dit maklik kan raaksien.

Lectio Divina
Lectio Divina beteken letterlik in Latyn “heilige lees”. Dit is ‘n baie, baie ou manier om saam na die Bybelteks te luister. Gebruik die teks van die erediens, ‘n Bybelleesplan of ‘n Kinderbybel en kies ‘n vaste tyd om dit saam te lees.
Lees die teks wat julle gekies het en gesels saam oor hierdie vrae:

  • Waaroor wonder jy? Wat dink jy beteken dit?
  • Wat val jou op? Wat dink jy wil God vir jou sê? (Moet jy iets doen, hoor of oordink?)
  • Waarvoor kan jy vir God dankie sê? Waarvoor kan ons God spesiaal vra?
  • Wat gaan jou laat onthou wat God deur hierdie Bybelgedeelte vir jou gesê het?

Die groot storie
Teken ‘n Bybel-tydlyn met die hoofgebeure in die Bybelverhaal. Google dit as julle vashaak. Besluit saam hoe julle dit op ‘n plakkaat gaan uitbeeld. Probeer die Bybelverhale chronologies lees en dit op die tydlyn “inpas”, soos die hele verhaal van Moses of ‘n hele Bybelboek soos Johannes.

Vergelyk verskillende Bybelvertalings
Elkeen in die gesin kies ‘n gunsteling-teksgedeelte in die Bybel. Lees dit dan in verskillende vertalings en let op die ooreenkomste en verskille.

Opgestel deur ds Francois Maritz.

Vir die volledige boekie, kyk hier.