BOEKE EN MUSIEK

Resensies oor en voorstelle vir boeke en musiek

The Word on the Street

The Word on the Street
Rob Lacey

“For those who’ve never read the Bible, and for those who’ve read it too much.”

“Purist alert: This is not THE Bible (capital B) … but it might just get you reaching for one.”

So begin en eindig die agterbladskrywe van hierdie boek en dit is ‘n baie goeie beskrywing! Dit is nie die volledige Bybel nie, maar Lacey herskryf sekere gedeeltes van die Bybel om sodoende die hele storie van die Bybel weer te gee. Hy doen dit egter in ‘n heel ander formaat. Hy herskryf die dele van die Ou Testament as webblaaie. Die Pentateug word geskryf as ‘n gebruikershandleiding vir die lewe, die geskiedkundige boeke as ‘n webtuiste met die naam “New Nation”, die wysheidsliteratuur as digkuns en die profete as ‘n “couriers hotline”.

Die Nuwe Testament begin met wat Lacey ‘n “4D Biography” noem van “The Liberator” en Handelinge word geskryf as die opvolgverhaal van die beweging wat ontstaan a.g.v. hierdie “Liberator”. Met die Nuwe-Testamentiese briewe, bou Lacey voort op die digitale metafoor wat hy begin het in die Ou Testament deur die briewe as e-posse oor te skryf uit Paulus se werk “Sent Items” boks met die briewe aan gemeentes, sy persoonlike “Sent Items” boks met die briewe aan persone en die res van die briewe uit ander e-pos-skrywers se e-pos-bokse.

Lacey se persoonlike storie van hoe hy hierdie boek geskryf terwyl hy deur ‘n reis met kanker gegaan het is ook agteringevoeg. Hy is in 2006 oorlede van dié siekte.

Lacey se neerpen van sy persoonlike reis met die Bybel, laat die Bybelboeke ‘n besonderse kant wys wat ons dikwels miskyk omdat ons die tekste al so baie gelees het. Dis ‘n wonderlike hulpmiddel om tekste op ‘n nuwe manier oop te breek en anders na die Bybel te laat kyk en met nuwe oë te help lees.

Hierdie boek is beskikbaar by Takealot by die volgende skakel:

https://www.takealot.com/the-word-on-the-street/PLID35666658

Raw spirituality

Hierdie boek oor spiritualiteit is ‘n fantastiese boek met praktiese voorstelle en handleidings om verskillende geloof gewoontes te oefen. Die boek, geskryf deur Tom Smith, ‘n Suid-Afrikaner, bevat wonderlike inspirerende stories en teologie wat jou as individueel, julle as gemeente of kleingroep kan help om saam die gewoontes van Jesus en die vroeë kerk te herontdek en te oefen.

Tussen al die redes waarom jy hierdie boek moet lees, is die belangrikste dat hierdie boek gemeentes in Suid-Afrika kan help om verhoudings te bou oor kultuur, sosiale en ekonomiese grense.

 

Cultivating Missional Change

As jy wonder oor “kerk wees”, belangstel in ander vorms van gemeente lewe, al gehoor het van “fresh expressions”, dan is hierdie boek vir jou. Cultivating Missional Change bevat ‘n versameling verhale van verskillende denominasies reg oor die wêreld en is ook geskryf deur teoloë van regoor die wêreld, insluitend Suid-Afrika. Hierdie boek kan jou begrip van “missionaal” uitdaag en kan jou gedagtes rondom uitreik en gemeente lewe stimuleer.

Omdat hierdie boek so ‘n groot verskeidenheid verhale en skryf stukke bevat, mag daar hoofstukke wees wat jou kan verveel omdat dit dood eenvoudig nie relevant is nie. As jy egter nuuskierig is en meer sou wou weet van gemeentes en denominasies in ander lande, sal selfs hierdie afdelings jou interesseer.

 

An Hour on Sunday: Creating moments of transformation and wonder Nancy

An Hour on Sunday:  Creating moments of transformation and wonder

Nancy Beach.

” I am convinced that modern-day miracles can take place when people enter our churches.  The hour on Sunday can be a time of wonder, a time to quiet souls, spark deep emotion, and prompt turning points with eternal significance”

Hierdie boek is nie ‘n gedetailleerde sukses resepteboek nie, dit sal moontlik die meeste linkerbrein lesers frustreer met al die sketse en kantaantekeninge!  Dit is egter ‘n besondere boek vir bedieningsleiers, kunstenaars en leiers wat glo in die potensiaal van kuns in die kerk.

Nancy gesels, en dit voel soos ‘n lekker koffie kuier gesels wanneer jy die boek lees, oor 10 beginsels wat toegepas kan word om oomblikke van betekenis in die erediens te skep.

Eerlike stories, kennis en selfondersoekende vrae maak deel uit van elke hoofstuk, en die tong in die kies illustrasies help die lesers om saam te lag vir hul eie bedieningsflaters!

Ek vind my inspirasie en motivering vir Sondae daarin om gereeld deur hierdie besondere boek te blaai – mag jy dit ook so vind.