Familie Netwerk

10 idees om gesinne saam te bedien

  1. Familiekamp

Dit is ‘n wonderlike manier om genoeg tyd te kry met gesinne om hulle bekend te stel aan geloofsgewoontes. Hierdie kamp is nie net ‘n saamkuier kamp met ‘n Sondag “erediens” nie, maar ‘n kamp met ‘n paar kort sessies waar geloofsgewoontes prakties ingeoefen word.

Wat doen ‘n mens egter op ‘n kamp met gesinne wat hoërskool kinders ook het? Kan ‘n mens een kamp vir alle gesinne doen? Een moontlikheid is dat ‘n mens hier en daar dan iets “ouer” uitwerk vir die gesinne wat tieners het. Of dalk eerder ‘n kamp hou een jaar met gesinne met (oorwegend) voorskool en laerskool kinders en die daaropvolgende jaar ‘n kamp met gesinne met (oorwegend) hoërskoolkinders. Dit is egter belangrik dat die hele gesin, ongeag die gesinsamestelling, welkom moet voel.

  1. Tent oorslaap aand

Dit kan by die kerk gebeur, in die kerksaal of in die tuin van die kerk of dit kan op ‘n sportveld of ander plek gebeur. Die hele gesin kom kamp, indien moontlik, en daar is ‘n kort program wat gesinne iets leer oor huisgewoontes.

  1. Tiener uitreik

Baie gemeentes hou in die Julie vakansie ‘n uitreik vir tieners na ‘n ver plek. Hiervoor is daar gewoonlik sessies vooraf om die tieners voor te berei. Een idee is dat ouers (en ander gesinslede) ook vooraf na een van die sessies genooi word om meer te hoor van waaroor die uitreik gaan. Hulle moet dan tydens hierdie sessie ook in gesinsverband praat oor die tieners se verwagtings, ens. Hierdie geselstyd word gefasiliteer.  Só leer gesinne om op ‘n dieper vlak met mekaar te gesels. Na die uitreik plaasgevind het, kan daar ‘n braai gehou word waar ouers (gesinne) ook genooi word om terugvoer stories van die uitreik te hoor.

  1. Tiener kamp

Ouers moet tieners op Sondagoggend kom haal by die kamp en die laaste “sessie” bywoon van die kamp. Dit kan die vorm aanneem van ‘n piekniek, waar tieners die geliefkoosde kampliedjie vir hulle ouers sing, en waar daar ook vertel word wat die tema van die kamp was. Daar kan geleentheid wees vir een of twee getuienisse (vooraf gereël met die betrokke tieners). Daarna kan ‘n fasiliteerder die tieners begelei om aan hulle ouers (in gesinsverband) te vertel:

  • waar hulle die Here ontmoet het op die kamp
  • wat het hulle geleer oor God / geloof
  • wat het hulle ervaar
  • watter aanbiddingslied tot hulle gespreek het
  • watter teks die meeste tot hulle gespreek het

Dit is belangrik egter dat tieners voorberei word hiervoor, aangesien almal nie noodwendig vrymoedigheid het om spontaan hieroor te gesels nie. Tieners wie se ouers nie kan kom nie, moet ook verwelkom word in ander gesinne sodat hulle deel kan wees.

  1. “Familiekamp” waar gesinne tuis slaap

‘n “Kamp” word gehou by die kerk, maar gesinne slaap saans tuis. Dit bespaar kostes en maak dit vir almal moontlik om te kom. Ook diegene met besige programme kan byvoorbeeld vir die Saterdagaand aansluit.

  1. Ouertoerusting

‘n Ouerskap kursus of geleentheid word gereël waar ouers toegerus word. Tydens sekere van die sessies of op ‘n sekere tyd, word die kinders / tieners genooi om by te kom sodat daar saamgesels kan word of een van die aktiwiteite geoefen kan word.

  1. Erediens om tafels

‘n Alternatiewe diens word gehou waar ouers en kinders / tieners om tafels sit sodat die erediens interaktief kan plaasvind. In die meeste gesinne vind geloofsgesprekke nie gereeld plaas nie. Hierdie is ‘n ideale geleentheid om te oefen om saam die teks te lees en die vrae te bespreek.  Almal moet deelneem en moet geleentheid kry om te gesels. Dit werk ook goed om ‘n aktiwiteit na aanleiding van die tema te doen in gesinsverband, byvoorbeeld familie waardes te teken, of ‘n kruis te versier vir Lydenstyd.  Die kinders / tieners wie se ouers nie opdaag nie, word ingedeel by hulle maats se gesinne en welkom laat voel. Dit is ook moontlik om dit met die hele gemeente te doen.

  1. Kategese met ouers

Ouers kan genooi word om gereeld (elke kwartaal) of tydens spesiale geleenthede saam kategese by te woon. Dit help ouers om saam die “les” te ervaar, die kategeet te ontmoet en ‘n ondersteuningstelsel vir die kategeet te vorm. Dit is ook ‘n goeie geleentheid om as gesinne saam te gesels oor ‘n tema. Die tema van die byeenkoms kan die Kerkjaar wees, ‘n familie of geloofsgewoonte bespreek en in-oefen of selfs die lewensfase van die kind wees. Voorbeelde is:

  • ‘n kategese les vir Graad 1 en hulle gesinne oor hoe elkeen vir God spesiaal is en God altyd by ons is
  • ‘n kategese les met ouers en Graad 7’s oor groepsdruk en hantering van vrese as voorbereiding vir hoërskool
  • ‘n byeenkoms in Lydenstyd, Pinkster, Koninkrykstyd of Advent om oor die kerkjaar te gesels en iets te maak vir die huis daaroor
  • ‘n kategese les vir Graad 4-6 ouers oor huisgeloof tyd
  1. Graadbyeenkoms

Tydens hierdie byeenkoms waar kinders (graad 4-6) “rapporte” (m.a.w. terugvoer) gee vir ouers oor hulle sterkpunte (en waaraan hulle kan werk). Dit word positief gedoen met sinne wat bloot op die rapport omkring word – hierdie dien as gespreksaanknoopspunte en is ‘n goeie hulpmiddel vir eerlike gesprek oor verhoudings en gesinsdinamika.

  1. Nagmaal

Vier nagmaal in gesinsverband. Dit kan om tafels gebeur of bloot in groepe in die kerkbanke. Skep geleentheid waar almal vir mekaar kan vertel wat die betekenis van nagmaal is en die nagmaal ook aan mekaar kan bedien (dit word ingestel en begelei deur ‘n voorganger). Dit is ook ‘n wonderlike geleentheid om vir mense te leer om vir mekaar te bid en mekaar te seën (ondersteun hulle deur vir hulle die woorde of ‘n riglyn te gee, want dit kom nie vir almal maklik nie).

Hierdie is saamgestel deur die Familie Netwerk groep wat op 26 Oktober 2018 te Stellenbosch byeengekom het. Die Familie Netwerk kom gereeld bymekaar om artikels te bespreek en “best practices” te identifiseer wat gemeentes kan help met Familie bediening.

Huisgeloof en die senior lidmaat

Hoekom senior lidmate betrek by huisgeloof?

Huisgeloof is nie net ‘n kinder- of gesinsbediening program nie, maar ʼn manier om kerk te doen.  Ons eerste gedagte aan huisgeloof is hoe ons ouers kan help om geloofsvorming by die huis te kan doen, maar geloofsvorming is ʼn lewenslange proses wat alle ouderdomme insluit.

(more…)

Die waardevolste geskenk aan jou kind!

– Immanuel van Tonder

Daar is een geskenk wat meer waardevol is as die meeste ander geskenke wat jy aan jou kind kan gee.  Hierdie geskenk kos niks nie, maar dit vra alles van jou.  Dit is binne bereik van elke ouer maar dit is ook een van die moeilikste geskenke om te gee.  Dié geskenk is om elke oomblik met deernis (compassion) volbewus teenwoordig te wees.    ‘n Ander woord daarvoor is “mindfulness” of “kindfulness”. Ek gebruik die woord deernisvolle volbewussyn.

(more…)

Wat is geloofgewoontes?

Gebruik sport as metafoor om geloofsgewoontes te verduidelik:

Geloofsgewoontes is dinge wat ons gereeld doen om in ons geloof te groei. Geloofsgewoontes help ons om God se teenwoordigheid in ons daaglikse lewe raak te sien en dit met mekaar te deel. Daar is baie geloofsgewoontes, soos vas, mediteer en geloofsreise, maar daar is ook  alledaagse gewoontes wat ’n gesin maklik saam kan doen.

Sport is vir die meeste gesinne ’n maklike metafoor om te gebruik wanneer hulle oor geloofsgewoontes nadink.

(more…)

Wat is huisgeloof?

Die term “huisgeloof” word deesdae dikwels gebruik. Waarna verwys dit?

Gemeentes ontdek vandag opnuut dat geloofsvorming grootliks by die huis plaasvind. Jare lank het mense gedink ’n mens neem jou kinders kerk toe en daar leer hulle primêr van God. Vandag besef ons die huis en kerk vorm ’n span en albei hierdie ruimtes is belangrik vir geloofsvorming.

Huisgeloof verwys na gesinne (mense wat saam in ’n huishouding woon) wat saam hulle geloof uitleef en beoefen.

(more…)

12 idees vir die familiebediening in jou gemeente

Maak vandag ‘n begin om jou gemeente as geloofsfamilie te versterk deur ook gesinne te bedien. Hier is ‘n paar eenvoudige idees:

  1. Plaas familie-wenke op jou bulletin – iets wat families saam kan doen of oor gesels in die week
  2. Stuur ‘n boodskap aan ouers (via WhatsApp, SMS of epos) of plaas in die bulletin waaroor die kategese inhoud gehandel het, sodat ouers en kinders saam daaroor kan gesels.
  3. Bied ouertoerusting aan oor relevante onderwerpe tydens kategese, na ‘n erediens of op ‘n weeksaand. Onthou om kinderoppassers te reël.
  4. Hou informele ouergesprekke oor ‘n koppie koffie oor ‘n verskeidenheid onderwerpe. Die doel is nie toerusting of inligting deel nie, maar om ‘n ruimte vir gesprek, bemoediging en ondersteuning te skep.
  5. Herdink die inhoud van die doopgesprek of bied ‘n dooptoerusting geleentheid aan.
  6. Bied ‘n voorhuwelikse of huweliksverryking kursus aan of nooi ‘n spreker.
  7. Hou ‘n familie kamp. Besluit vooraf oor die rede vir die kamp (bloot lekker saamkuier geleentheid of ook toerusting vir families oor huisgeloof) en kommunikeer dit duidelik.
  8. Netwerk met sielkundiges, maatskaplike werkers en ander diensorganisasies sodat jy weet hoe en waarheen gesinne in nood te verwys.
  9. Hou ‘n gemeente ete wat fokus om jonk en oud aan mekaar te verbind. Laat gemeentelede ook mense buite die gemeente nooi.
  10. Gebruik 40 dae reekse om ook gesinne in kleingroepe of byeenkomste byeen te bring waarin kinders welkom en deel is.
  11. Skep geleenthede waar ouers wat nie gewoonlik deel vorm van kategese nie, genooi word. Gebruik die geleenthede om huisgeloof praktyke te vestig.
  12. Vier roetemerkers, soos oorgangstye (Gr 1, Gr 8, nuwe werk, nuwe intrekkers, ens), verliese (iemand oorlede, werkloosheid), hartseer tye (siekte ens.), oorwinnings en spesiale dae met rituele wat almal herinner dat God deel is van die alledaagse lewe.

Geskryf deur Anriëtte de Ridder 

Nog 10 wenke om kinders te betrek in ‘n interaktiewe erediens (deel 2)

Inter-ouderdom dienste betrek oud en jonk

‘n Inter-ouderdom, interaktiewe erediens fokus om alle gemeentelede aan mekaar te verbind. In die loop van die erediens en preek word daar geleenthede geskep waar mense van verskillende ouderdomme met mekaar kan saam gesels of iets saam kan doen. Dit is nie ‘n kinderdiens nie, maar ‘n geleentheid om saam te groei as gelowiges in een geloofsfamilie.

Nog 10 wenke om die erediens en preek interaktief te maak:

(more…)

10 wenke om kinders te betrek in ‘n interaktiewe erediens (deel 1)

Inter-ouderdom eredienste betrek almal

‘n Mens hoef nie ‘n spesiale kinderoomblik aan die begin van die diens te hê om die kinders te betrek nie. Met ‘n kinderoomblik word kinders hoofsaalik verbind aan die persoon wat dit aanbied, soos die leraar. Met ‘n inter-ouderdom interaktiewe erediens is die fokus om die gemeentelede aan mekaar te verbind. In die loop van die erediens word daar geleenthede geskep waar mense van verskillende ouderdomme met mekaar saam kan gesels of iets kan doen.

(more…)

12 Wenke om oud en jonk aan mekaar te verbind in jou gemeente

Hoe kan huidige ruimtes of geleenthede anders ingerig word om verskillende mense en generasies aan mekaar te verbind?  

Hier is 12 wenke:

  1. Kampe is ‘n wonderlike geleentheid om inter-ouderdom spasies te skep waar verskillende generasies kan “connect” aan mekaar, maar dan moet almal deelneem (daar moenie deelnemers en toeskouers wees nie). Skep rolle vir allerlei mense (nie net kategete nie, maar ook studente, middeljariges en ouer mense) en gee vir almal verantwoordelikhede, sodat almal met ‘n doel gaan.
  2. Kinder vakansie programme kan ook só aangebied word sodat kinders, tieners en volwassenes betrek word en beide tieners én volwassenes die kinders dien. Om saam te werk na ‘n gemeenskaplike doel bind mense saam.
  3. #imagine is ‘n ideale geleentheid om ‘n hele gemeente te betrek om saam te gaan kamp en verhoudings te bou. Skep ‘n gesamentlike doel soos om te help by die gebedstasies (#imagine se “encounter stations”).
  4. Betrek gesinne / huishoudings by huidige diensprojekte of uitreike sodat hulle leer om ook saam ‘n verskil te maak bv. om families te nooi om saam broodjies te kom smeer vir ‘n plaaslike sopkombuis of ouers saam te nooi op ‘n jeug uitreik.
  5. Betrek die hele familie as eredienswerkers of om mense by die deure te verwelkom. Gee vir hulle toerusting sodat hulle byvoorbeeld ook leer om kinders te groet (byvoorbeeld met ‘n “high five” of “fist pump”).
  6. Laat kinders saam met ouers die nagmaaltekens uitdeel.
  7. Benader tradisionele gemeente sang op ‘n heel ander manier. “Blended worship” is ‘n uitdaging, maar tog kan ‘n mens nie net die erediens laat besit deur sekere ouderdom mense nie. Een styl kan nie oorheers nie. As dit ons kerk begrip is dat ons álmal wil verwelkom en tuiskom in die erediens, moet ons ook bereid wees om nuut te dink oor die keuse, styl en samestelling van die liedere.
  8. Betrek kinders en tieners by die begeleidingsgroep.
  9. Reël ‘n  inter-ouderdom staptoer of uitstappie waar volwassenes jongmense op ‘n ander manier kon leer ken en wedersydse verhoudings gebou kon word.
  10. Gebruik en bevestig tieners as leiers in die gemeente bv. as kerkraasdslede of op kommissies of as jeug leierspan. Dit gee vir hulle ook ‘n stem en deurdat hulle diensbaar is en verantwoordelikheid neem, groei hulle ook. Dit is egter belangrik om met dié tiener leiers tyd te spandeer en verhoudings te bou en hulle nie net alleen te laat nie.
  11. Nooi volwassenes wat nie by die kategese betrokke is nie, om die kategese groep te kom besoek. Hulle kan byvoorbeeld hulle ervaring of stories (ook stories van gebrokenheid of foute) te deel met die tieners. Op só manier kan tieners ook verhoudings met ander volwassenes bou.
  12. Gebruik tieners as leiers (of hulpleiers) by die kategese en by kampe. so kan hulle reeds vroeg leer dien en lei.

Saamgestel deur die Familie Netwerk, ‘n inisiatief van die Taakspan Jeug en Familie van die Sinode van Wes-Kaapland.

12 Wenke om families te laat tuiskom in jou gemeente

Die lede van die  Familie Netwerk het aan 12 wenke gedink om gemeentes meer familie vriendelik in te rig (overal vir nuwe persone en besoekers):

  1. Gebruik foto’s van verskillende rasse en tipe families in PowerPoint
  2. Let op taal – verwelkom byvoorbeeld alle ouderdomme persone, noem altyd waar die kleedkamers en ruimtes vir klein kinders is, sodat besoekers maklik tuis kan kom
  3. Let op hoe die voorportaal lyk– is daar byvoorbeeld foto’s van kinders op die mure, is dit rolstoel vriendelik?
  4. Betrek bejaardes by die jeug- of kinderbediening deur geleenthede te skep vir stories vertel. Spesifieke geleenthede kan hiervoor gereël word of huidige geleenthede kan hiervoor ingespan word.
  5. Hang foto’s van die kategese groepe in die voorportaal – dit gee vir kinders / jongmense die boodskap gee dat hulle belangrik is en welkom is.
  6. Pak klein tafeltjies, stoeltjies, Kinderbybels en inkleur goed in die erediens ruimte uit – dit laat voorskoolse kinders welkom voel en bevorder hulle deelname.
  7. ‘n Klimraam of bordkryt buite en ‘n tafel met koeldrank kan kleiner kinders laat tuiskom terwyl ouers saamkuier na ‘n erediens.
  8. Benoem ‘n moederskamer eerder “ruimte vir ouers met babas” en kyk of die ruimtes voldoende is en vriendelik is
  9. Is daar genoeg aanwysings sodat besoekers weet waar alles is? Is dit in verstaanbare terme?
  10. Doen weeklikse verjaarsdae vieringe met sjokolade of ‘n kaartjie – kry tieners om te help om dit uit te deel.
  11. Gebruik die kinderoomblik of familietyd in die erediens om huisgeloof aktiwiteite in te oefen – so word huisgesinne / -houdings versterk.
  12. Gebruik verskillende ouderdom, geslag en tipe personen om getuienisse te gee of ‘n gebed te doen / voor te lees in die erediens.

Die Familie Netwerk is ‘n inisiatief van die Jeug en Familie Taakspan van die Sinode van Wes Kaapland.

Hoe kan ‘n gemeente ‘n familie raak? (deel 2)

Nog gespreksnotas van die Familie Netwerk byeenkoms gehou op 19 Julie 2018 aan die hand van ‘n hoofstuk “Congregations as Family” in die boek “Passing on the Faith. A Radical New Model For Youth and Family Ministry” deur Merton P. Strommen en Richard A. Hardel. 

“Gemeentes het nie bloot ‘n “familiebediening” nie, maar ís ook in geheel ‘n familiebediening”.

Hierdie was die onderwerp van die onlangse Familie Netwerk gesprek. Dié gesprek het daartoe gelei dat ons besef het dat gemeentes nuut moet dink oor hoe hulle ruimtes, atmosfeer en geleenthede ingerig word sodat almal deel kan voel van die gemeente as groter familie.  Dikwels word kinders slegs verdra in die erediens, eerder as wat die erediens ook aan hulle behoort. Maar waar begin ‘n mens die kultuur in ‘n gemeente skuif?

Ons voorstel is dat jy ‘n gespreksgeleentheid met die Kerkraad of met leiers van die gemeente reël en die volgende vrae vra:

(more…)

Hoe kan ‘n gemeente ‘n familie raak (deel 1)

Gespreksnotas (deel 1) van die Familie Netwerk byeenkoms gehou op 19 Julie 2018 aan die hand van ‘n hoofstuk “Congregations as Family” in die boek “Passing on the Faith. A Radical New Model For Youth and Family Ministry” deur Merton P. Strommen en Richard A. Hardel.

 Is familiebediening ‘n afdeling van gemeente-wees of is ‘n gemeente een groot familie?

Familiebediening is beide‘n afdeling van gemeente-wees én die gemeente is ook een groot familie. Daarom beteken familiebediening dat ons twee dinge doen:

(more…)

Is familiebediening ‘n afdeling van gemeente-wees of is ‘n gemeente een groot familie?

Gespreksnotas van die Familie Netwerk byeenkoms gehou op 19 Julie 2018 aan die hand van ‘n hoofstuk “Congregations as Family” in die boek “Passing on the Faith. A Radical New Model For Youth and Family Ministry” deur Merton P. Strommen en Richard A. Hardel.

 Familiebediening is beide‘n afdeling van gemeente-wees én die gemeente is ook een groot familie. Daarom beteken familiebediening dat ons twee dinge doen:

(more…)

Jy en jou VGK bure

As jeug van die kerk sou ons graag wil deel wees van ‘n nuwe era waarin ons die eenheid van die kerk en gemeentes leef en beleef. Dit is waar dat kontekste geweldig baie verskil – maar ons sou elkeen graag wil uitnooi om te soek na maniere om brûe te bou  tussen mekaar. So gaan elkeen van ons help om ‘n nuwe generasie wat opgroei in jou dorp of omgewing, beter begrip vir mekaar te gee.

(more…)

Mylpaal bediening

Die huisgeloof gespreksgroep het op Vrydag 26 Januarie bietjie saamgesels oor mylpaal bediening. Die span het probeer om spesifieke mylpale in verskillende lewensfases te identifiseer vir families, wat hulle dan tuis ook kan vier. Die span het tot die slotsom gekom dat verkillende families het verskillende mylpale wat vir hulle belangrik is, bloot as gevolg van elke familie se unieke samestelling.

(more…)