124172615

DINKDIEP

Wat is die doel van kategese (en die jeugbediening)? 

Die droom van enige kerk se jeugbediening is dat ons kinders en tieners vir Jesus persoonlik sal ken en sal aanhou om in ‘n verhouding met Hom te groei. Die uiteinde is dat ons geloof by jongmense wil help vorm wat hulle help om as dissipels te leef en ‘n verskil te maak in die wêreld. Jongmense moet eendag, waar hulle ook al gaan, “kerk” kan wees.

Kategese se doel is om by jongmense geloof te vorm wat:

  • gegrond is op kennis van die Bybel en die kerk – met die wysheid en vaardighede om dit in hul lewens toe te pas
  • hulle help om daagliks in ‘n verhouding met ander mense, hulself en God te leef
  • in gehoorsaamheid en diensbaarheid hul roeping uitleef en ‘n verskil in die wêreld maak
  • die misterie van God bewonder en Hom op verskeie maniere aanbid

Daarom moet kategese, eredienste, jeugaktiwiteite, huisgeloof, kampe en uitreike alles meewerk om verskillende tipes ruimtes te skep waar geloof se verskeie fasette gevorm word. Alles maak deel uit van ‘n holistiese en omvattende geloofsontwikkelingsproses. Elkeen vorm ‘n boublokkie en help ons op ons geloofsreis.

‘n Afrika spreekwoord lui “It takes a village to raise a child”, daarom:

  • Is dit nie net een persoon (kategeet) se verantwoordelikheid om geloof te vestig nie. Ouers, ander leiers en volwassenes, groeplede, predikante, bejaardes ens. is almal nodig en vorm deel van die geloofsgemeenskap.
  • Die mikpunt is dat elke kind/tiener ten minste 4 volwasse, gelowige persone moet hê wat in sy/haar lewe inbou.
  • Daarom moedig ons kategete (en ander) aan om elke kind/tiener en hul omstandighede goed te leer ken en om ‘n verbintenis te maak om ‘n pad met hulle te stap.

Praktiese wenke

  • Maak seker dat elke kind en tiener jul jeugbediening se visie ken.
  • Maak seker dat elkeen weet hoekom bywoning van kategese, kerk, kampe, uitreike ens. belangrik is en hoe dit hulle help om hulle geloof te bou.
  • Verbind mense aan kinders en tieners (dié verhoudings gebeur nie noodwendig spontaan nie) en skep verskeie geleenthede vir almal om dieper gesprekke in te oefen om sodoende vir mekaar om te gee en geloof te vorm.

 Laat ons God dankbaar dien met eerbied en ontsag, soos Hy dit wil, want ons God is ‘n verterende vuur. Heb 12: 28b-29

(I pray that) Jesus will ignite the kingdom life within you, a fire within you, the Holy Spirit within you, changing you from the inside out! Matt 3: 11 (Msg)

 

Geskryf deur ds Anriëtte de Ridder (Predikant in Sinodale diens vir Jeug en Familiebediening van die Wes-Kaapland Sinode).

 

 

 

Hoe help gemeentes gesinne om tegnologie-slim te raak?

Ons begin gewoonlik die gesprek oor tegnologie by die gevare daarvan en hoe om skermtyd te beperk – en dis ‘n fout! Ons moet eerder begin om ouers die visie, die wil en vaardighede te gee om intensioneel te leef.

Daarom kan ons nie wegtrek by die praktiese moets en moenies van tegnologie nie. Dit gaan hulle uitput om by die reëls te hou en hulle gaan nie gemotiveerd wees om gedrag te verander nie. Begin eerder by God se droom – gesinne wat Sy liefde vergestalt. Verduidelik dat die doop ouers herinner aan God se belofte dat Hy deel is van ons kinders se reis en ouers help om hulle verantwoordelikheid na te kom om hulle kinders vir Hom groot te maak.

Gereelde gesprekke en ruimtes waar ouerskap in die lig hiervan bedink en bespreek kan word, is dus baie belangrik:
• Dink saam oor temas soos balans, ruimtes en ritmes.
• Gesels met ouers oor karakter en hoe om dit te vorm.
• Gesels oor mentorskap, dissipelskap en hoe om rolmodelle vir kinders en vir mekaar te wees.
• Verduidelik geloofsgewoontes, byvoorbeeld huisgelooftyd, maar gee ook baie praktiese wenke en tyd om gewoontes in te oefen (byvoorbeeld ons eet saam om ‘n tafel, ons sit om ‘n tafel en almal kry ‘n beurt om te gesels).
• Hieruit kan ‘n gesprek oor tegnologie vloei wat by b.g. waardes begin.

Die erediens kan ook gebruik word om almal te help om oor balans te dink en wat dit beteken om intensioneel te leef:
• Gebruik die liturgiese ruimte en ritmes om geloofsgewoontes te beoefen wat tuis ge-eggo kan word.
• Preek oor temas soos stilte, refleksie, dankbaarheid, verantwoordbaarheid ens.

Skep doelbewus ruimtes waar ouers mekaar kan help:
• Reël spesiale eredienste, oueraande en toerustingsgeleenthede of gebruik die tyd na die erediens of tydens kategese om ouers (wat wil) aan mekaar te verbind.
• Skep ‘n ruimte waar hulle gemaklik kan gesels, mekaar kan beïnvloed en ondersteun ten opsigte daarvan om kinders met karakter groot te maak en intensioneel te leef.
• Laat hulle die uitdagings en idees oor dissipline, skermtyd, familietyd, waardes, uitdagings, ens. deel.
• Betrek ook die wysheid van ouer mense in die groter geloofsfamilie by hierdie gesprekke.

Hierdie wenke is saamgestel deur ds Anriëtte de Ridder na aanleiding van ‘n Familie Netwerk gesprek in 2019 oor Families en Tegnologie.

Lees gerus die boek “The Tech-Wise Family: Everyday Steps for Putting Technology in Its Proper Place” deur Andy Crouch.

Denke oor Belydenis van Geloof (oorsigtelik)

Die Algemene Sinode het ‘n taakspan gevorm om oor die betekenis en plek van belydenis van geloof (BVG) te dink en by die volgende Algemene Sinode hieroor terugvoer te gee. Die opdrag hou verband met die nadenke oor doopviering, die problematiek van die “funksionele dubbel lidmaatskap”, asook die kindernagmaal. Anriëtte de Ridder vertel dat die term “roetemerker” telkens in dié taakspan se besinning na vore kom. Sy verduidelik dat roetemerkers verwys na ‘n geloofsmoment op jou lewensreis waar jy figuurlik gesproke anker gooi wanneer jy deur stormwaters gaan. In ‘n oorgangstyd onthou jy wie jy is (ek is gedoop), aan Wie jy behoort (Jesus Christus) en wie om jou staan en jou ondersteun (die gemeente as geloofsfamilie). Dit help jou om deur die oorgangstyd te kom en in hierdie tyd jou geloof te vorm, te versterk en te vier.  Wanneer jy ‘n ritueel hieraan koppel, noem ‘n mens dit ‘n roetemerker. BVG is só ‘n roetemerker.

Wat is belydenis van geloof nié?
Dit is nie ‘n tweede lidmaatskap nie (die doop is die enigste inlywing in die geloofsfamilie)
Dit is nie die afhandeling van kategese nie (want ons glo in lewenslange leer)
Dit is nie die toediening van heil nie
Dit is nie die verkryging van iets nie (bv. sekere regte in die kerk nie)

Wat is wel die waarde van belydenis van geloof?
Dit is ‘n geleentheid om tydens die deurgang (tans is dit die deurgang na jong volwassenheid) ‘n roetemerker neer te sit waartydens die volgende plaasvind:
Oriëntasie (waar jy vandaan kom, waar jy is en waarheen jy gaan)
Identifikasie (saam met wie jy reis)
Konfirmasie (wie jy is, watter belofte jy aan kan vashou)

Wat kan ons intussen in gemeentes doen om BVG sinvol te vier?
Ons kan BVG in die primêre plek inrig as ‘n roetemerker in ‘n oorgangstyd. Dit beteken dat ons in die eerste plek vir die persoon wat belydenis aflê herinner aan wie hulle is, aan Wie hulle behoort en dat die gemeente hulle ondersteun. Dit is belangrik om die fase waarin hulle is (‘n tyd van onsekerheid en verandering op die drumpel van jong volwassenheid) te erken en BVG te sien as ‘n geleentheid om geloof te versterk en te vorm (eerder as te toets). Dit beteken dat die gemeente die persoon bevestig (“affirm”). Dit is belangrik om BVG te koppel aan die doop. Simbole kan insluit hand in die doopvont (om te herinner aan die doop) asook handoplegging en salwing met olie (as teken van die Gees se werk in daardie persoon se lewe).

Nog roetemerkers op die geloofspad
Verder kan ‘n gemeente nog deurgangsmomente identifiseer en ‘n roetemerker daarlangs plaas. Dink dalk aan sekere lewensfases (bv. begin van skool of begin van tienerjare). Of dink aan sekere belewenisse bv. verlies, viering, toewyding en die opneem van leierskapsrolle. Hierdie sou intergenerasioneel gevier kon word.

Hoe sou dit lyk? Dit kan so eenvoudig wees soos die volgende:

  • Oriënteer – identifiseer, benoem en beskryf die oorgangstyd
    Bv. ons vier vandag die oorgangstyd van ons jongmense wat hoërskool toe gaan of ons dink vandag aan mense wat die afgelope tyd verlies beleef het en wil hulle die geleentheid gee om met die volgende roetemerker hulle geloof te bely.
  • Identifiseer – Herinner die persoon wie hulle is (hulle is gedoop), aan Wie die persoon behoort (Jesus Christus) en wie om die persoon staan (jy is deel van ons geloofsfamilie wat jou ondersteun). Die persoon kan dit ook daarna bely.
  • Konfirmeer – Bevestig hier die belofte dat God saam met hulle op die lewensreis of in die oorgangstyd is.
  • Sakrament – verbind die roetemerker aan die doop of vier dit met die nagmaal.
  • Simbool – Gebruik ‘n ritueel en simbool om dit te vier bv. handoplegging, ‘n kers aansteek of gee ‘n simboliese geskenkie.
  • Seënbede

 

Die 4 fases van geestelike groei volgens Morgan Scott Peck

Wat is die verskillende fases van geestelike groei en in watter fase bevind jy tans jouself, jou gesinslede of die lede van jou kategese-groep?

Dit is belangrik dat wanneer ons hieroor dink, ons moet onthou dat daar nie verskillende “vlakke van geloof” is nie. Wanneer ons van “geloofsfases” praat, is dit dus nie ‘n meet-instrument om jouself met ander te vergelyk nie, maar bloot ‘n manier om te verstaan hoe ons geloof ontwikkel kan word.

Volgens Morgan Scott Peck (1936-2005), sielkundige en outeur van die bekende boek “The Road Less Travelled”, kan geestelike groei in 4 fases beskryf word. Elke mens gaan deur hierdie fases, maar nie noodwendig op dieselfde manier of net eenmalig nie. Jy kan ook tussen die fases heen en weer beweeg of jouself gelyktydig in meer as een fase bevind.

  1. Fase van chaos – In hierdie fase bestaan geloof uit ‘n klomp los gedagtes en oortuigings wat nie noodwendig logies sin maak nie. Dis gewoonlik “’n bietjie van alles” en ‘n ondeurdagte samestelling van ‘n verskeidenheid geloofsoortuigings. In hierdie fase is ‘n mens ego-sentries, het ‘n mens min empatie vir ander en sal jy nie maklik toegee nie. Klein kinders se geloof kan so beskryf word, maar sommige mense skuif nooit uit hierdie fase nie.
  2. Fundamentalistiese fase – In hierdie fase word die basis van jou geloof gevorm (ook genoem die institusionele fase). Dit is hier waar jy jou beginsels bou, jou geloof in kompartemente verdeel en logies beredeneer. Hierdie fase bied standvastigheid. In hierdie fase is jy gehoorsaam aan jou geloof “reëls” en respekteer jy geloofleiers.
  3. Kritiese fase – In hierdie fase begin jy geloofskwessies te bevraagteken sonder om noodwendig jou beginsels te verloën. Hierdie fase kom veral voor in tye van swaarkry of teleurstellings wanneer jou geloofsoortuigings “nie meer sin maak nie”. Sommige mense bly in hierdie fase van skeptisisme en beweeg weg van godsdiens.
  4. Fase van misterie – In hierdie fase aanvaar jy dat daar nie vir alle vrae antwoorde is nie en dat geloof nie altyd logies of verklaarbaar is nie. Maar jy begin die wonder en misterie van die skepping en die menslike bestaan bewonder. ‘n Groter begrip en behoefte aan waardegedrewe etiek, genade, empatie, liefde en geregtigheid ontwikkel.

Hierdie uiteensetting kan gebruik word om jou eie geloofsreis beter te verstaan. Dit verduidelik ook hoekom dit partykeer so moeilik vir Christene is om mekaar te verstaan – byvoorbeeld iemand wat in ‘n fundamentalistiese fase is sal moeilik kan saamleef met iemand in die misterie-fase. En as jy jou tans in die kritiese fase bevind, is dit goed om te gesels met iemand in die misterie-fase eerder as die chaos-fase. Iemand wat onlangs trauma beleef het, kan dalk terugkeer na die fase van chaos of die fundamentalistiese fase.

Rituele en kennis van God en godsdiens kan jou egter slegs die skaduwee van God wys – nie die werklike diepte van ons multidimensionele God nie. Dit is waarom ‘n lewendige en persoonlike verhouding met God so belangrik is. Dit is eers in verhouding met Hom dat jou geloof kan groei.

Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe. Hy is immers die hoof, en uit Hom groei die hele liggaam. Efesiërs 4: 15-16a

Saamgestel deur ds Anriëtte de Ridder (Predikant in Sinodale Diens vir Jeug en Familiebediening, Wes-Kaapland Sinode)

 

 

Hoe “groen” is jou God?

Ekologie begin by teologie

Ekologie, aardverwarming, herwinning… Die meeste van ons dink hierdie saak is belangrik, maar in die praktyk is dit ‘n ander storie. Hoe “groen” is jou en jou gesin se lewe? Dit hang natuurlik baie af van hoe “groen” jy dink jou God is!

Kom ek begin by die begin. Die mens is geskep as God se verteenwoordiger, Sy beeld, met die opdrag om die aarde te bewoon en te bewerk. Toe loop dinge skeef. Jesus kom om die mens te red, maar… o aarde! Wat van die aarde? Hoe verstaan ons vandag die mens se identiteit, opdrag en verantwoordelikheid?

Hoe “groen” jy dink, word dus bepaal deur jou teologie. As jy glo dat Jesus net gekom het om ons van ons sondes te verlos, gaan jy nie werklik die oortuiging hê om te herwin nie. As jy glo dat Jesus ons net roep om dissipels te maak, gaan daar nie veel tyd oor wees vir blikkies optel nie. As jy van oortuiging is dat die kerk se belangrikste taak is om sonde uit te wys, gaan ‘n wurmplaas laaste op die lys wees. En as jy dink die hemel is iewers anders as op aarde, gaan bome plant ’n mors van tyd wees. Om “groen” te dink, daag dus ook jou teologie uit!

‘n Gemeentelid noem aan my dat hy glad nie ‘n “groen mens” is nie, tog noem hy homself ‘n rentmeester?! ‘n Lidmaat vra my hoekom ons gemeente betrokke is by herwinning, dit het dan niks met die kerk te doen nie?! In kontras daarmee lees ek in ‘n boekwinkel agter op ‘n Bybel met die naam “The Green Bible – Harpers” die volgende woorde: “Jesus is coming… quick, plant a tree!”

Vir my is “groen” ‘n omvattende manier van dink oor God se Koninkryk. God het die mens EN die hele aarde lief. Sy redding en genesing is nie net vir siele nie, maar vir sy HELE Skepping. Sy Koninkryk is nie net die kerk nie, maar ELKE sfeer van die lewe. Om “groen” te wees beïnvloed elke aspek van my lewe, insluitend die manier waarop ek begeer, koop, eet, gebruik, besit, bewaar en weggooi. Dit gaan oor watter legacy my lewe agterlaat.

Wat kan jy en jou gesin prakties begin doen (of ophou doen) om “groener” te leef? Kom as familie bymekaar en besluit watter “groen” keuse julle saam kan neem.

Laat U Koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied… Matt 6:10

 

Geskryf deur ds Anriëtte de Ridder (Predikant in Sinodale diens vir Jeug en Familiebediening van die Wes-Kaapland Sinode)

 

Is kleiner kategese groepe dalk beter?

Party gemeentes het min kinders, hoe nou gemaak? Een oplossing wat soms voorgestel word, is dat ‘n mens dan minder moet bymekaarkom (bv. elke tweede week), maar dit het gewoonlik die teenoorgestelde uitwerking en die getalle raak dan nóg yler. Sommige gemeentes gooi groepies weekliks lukraak bymekaar (afhangende van watter kategeet opdaag) sodat daar darem ‘n groot groep is om voor kategese aan te bied, maar dan is daar weer min verhoudingsbou wat plaasvind.

Daar is egter waarde aan klein groepies wat nie misgekyk moet word nie. Ek was self in ‘n kategesegroep van 4: ek, 2 seuns en my pa wat ons kategeet was. Dit was nie aldag lekker nie (veral nie as die 2 seuns nie opgedaag het nie), maar dit was beslis dieper en van meer betekenis as baie ander mense se Sondagskool ervarings. Daar is nooit vir my “klas” gegee nie, ons het altyd ontspanne gesels en was vry om vrae te vra. Dit was wel lekker om soms saam met die ander groepe aktiwiteite te doen, soos om waatlemoenfees, konsert of speletjiesaande te hou. Maar die waarde van ‘n klein kategese groepie sal my altyd bybly.

Hier is 4 dinge wat kleiner groepe beter maak:

(more…)

Om stil te word

Die Amerikaanse teoloog en skrywer, Dallas Willard, was ‘n paar jaar gelede in Suid-Afrika en het ’n preekbeurt gehad in ’n NG Gemeente. Op die kanselkleed was die Afrikaanse frase “Jesus is Here”, wat Dallas toe in Engels lees “Jesus is Here” (Jesus is hier). Hy maak toe die opmerking dat dit een van die grootste waarhede is, waaraan ons die minste aandag gee.

Op sy beurt vertel Rob Bell die storie van Moses, wat skape oppas en die brandende bos opmerk (Eks. 3). Hy vra die vraag of ons nie dalk elke dag by brandende bosse verbyloop, sonder dat ons dit opmerk nie; dat ons by God verbyloop, maar hom nie raaksien nie.

Beide Dallas Willard en Rob Bell verduidelik dat ons heel eenvoudig te besig is en te veel kop-geraas en klank-geraas het. Ons almal voel aan dat ons daagliks stiltetyd moet hou en ons dan sit ons soms die klank-geraas af, maar nie die kop-geraas nie. Kop-geraas is al die goed wat ons gedagtes oorneem wanneer ons na Jesus wil luister: ons dagboeke en to-do-list… Daar is egter ook ander kop-geraas waaraan ons nie altyd dink nie en dit gaan baie kere oor hoe ons die Bybel lees.

Ons is geneig om die Bybel te lees met ’n kop-geraas-metode, om inligting te kry. Die manier hoe ons Jesus se stem kan hoor uit die Bybel, is om die Bybel rustig en stil te lees, sodat ons Jesus se stem kan hoor en daardeur gevorm kan word:

Informatiewe lees

·         Lees met die verstand om te begryp

·         Kwantiteit

·         Verstaan

·         Haastig

·         Informasie

·         Kennis te versamel

·         Beheer

·         Doen

·         Funksioneel – Bybel = tool

Formatiewe lees

•             Lees met die hart om te ontvang

•             Kwaliteit

•             Luister

•             Wag

•             Transformasie

•             Verhouding: om Iemand te leer ken

•             Broos

•             Being

•             Relasioneel – Bybel = stem van God

 

Mag ons op hierdie manier van ons kop-geraas tot ruste bring. Mag ons rus vind wanneer ons die Bybel lees. Mag ons ervaar “Jesus is Here.”

*Hierdie het voorheen in NG Kenridge se VrydagNuus verskyn.