EREDIENS

Idees en hulpbronne vir Eredienste van kindermomente tot jeugdienste

Kersfees is ‘n Jesusfees   

Kersboek vir gesinne om betekenisvol saam fees te vier       

Op julle merke … vertel … versier … vier!

Deur Chrissie Kritzinger

Gesinstradisies word mettertyd omskep in die kosbaarste kindertydherinneringe wat kinders waarskynlik eendag weer in hul eie gesinne sal toepas. Kersfees is ’n Jesusfees is geskryf met die hoop dat ’n nuwe tradisie van betekenisvolle Kersfees-rituele in gesinne sal posvat. Hoewel die belangrikste elemente die saamgesels, bid en sing is, sal die handaktiwiteite baie waardevol wees om die boodskap te herhaal, en boonop die jongspan heeldag besig hou!

Bonus: ’n Gratis CD met nuwe sowel as ou bekende kersliedere asook foto’s en instruksies wat aktiwiteite verduidelik. (more…)

Kinderseën

NGK Stellenbosch-Welgelegen se eredienste verloop op só ‘n wyse dat die Gr. 1-7’s vir die eerste gedeelte van die erediens in die aanbiddingsruimte is saam met die res van die gemeente en dan op ‘n sekere punt uitbeweeg vir kategese in ‘n ander lokaal.

Na ‘n besoek van een van die leraars aan Church of the Servant Christian Reformed Church in Grand Rapids, Michigan, vroeër vanjaar, het hulle ‘n nuwe tradisie begin waar die gemeente en kinders mekaar se tyd wat hulle saam met God spandeer nadat hulle uitmekaar uit gaan, seën.

Wat vir leraar Elzanne van der Westhuizen, wat dit vertaal en aangepas het vanaf die seën wat hiervoor gebruik word in dié gemeente in Amerika, so spesiaal is van hierdie seën, is dat die kinders ‘n rol as ‘n volwaardige Christen speel hierin en die “grootmense” óók seën – ‘n rol wat vir baie lank beperk was tot die leraar in die NG Kerk.

 

Ons Seën MekaarResponsoriese Litanie

Voorganger:    Familie van Christus, wat is julle gebed vir hierdie kinders?

Gemeente:      Mag die Here by julle wees.

Kinders:           En ook by julle.

Gemeente:      Mag die Woord van God groei in julle harte.

Kinders:           Dankie God!

Gemeente:      Gaan in vrede.

Familie- of ‘n Jeugdiens Nagmaal

Hier is ‘n voorbeeld van ‘n Powerpoint wat gebruik kan word in ‘n Familie- of ‘n Jeugdiens saam met die Nagmaal. Die Powerpoint bevat ‘n eenvoudige verduideliking van sakramente en daarna die 5 betekenisse van die Nagmaal verwerk uit die eerste formulier in die Eredienshandleiding. Een voorstel is om die betekenisse ook uitmekaar uit te haal en te fokus op een of twee afhangende van die tema van die teks op dié betrokke dag wat die Nagmaal gevier word (bv. om in Lydenstyd/Groot Lydensweek te fokus op die “onthou”-betekenis).

Laai hieronder alles af wat jy nodig het:

Nagmaal – Powerpoint in pdf formaat.

Nagmaal – Betekenis Powerpoint

Powerpoint oorspronklik saamgestel deur Callie Visagie van Stellenberg Gemeente en verwerk deur Elzanne van der Westhuizen.

Berei jou kinders voor vir die nagmaal

Die Nagmaal versterk nie net ons geloof nie, dit leer en vorm ons ook. Elke kind kan aanvoel dat die Nagmaal spesiaal is en met respek behandel moet word, maar soms sukkel ons almal om te verstaan hoekom ons nou juis die Nagmaal vier. Somerstrand Gemeente gebruik hierdie boekie die week voor hulle nagmaal vier om as gesin saam te gesels oor wat nagmaal beteken en hoe ons dit vier. Laai hulle boekie hier af en gebruik dit gerus vir inspirasie.

Laai die boekie hier af: Nagmaal Kinders

Kreatiewe Nagmaal Diens

Hierdie is ‘n nagmaal erediens waarin die nagmaal op 4 maniere bedien word en die lidmate kan kies watter uitbeelding en betekenis van die nagmaal hulle wil ervaar. Alternatiewelik kan ‘n mens dit versprei oor 4 nagmaal geleenthede.

Laai hier die nagmaal stasies powerpoint van die nagmaaldiens af. Dit bevat ook die liturgie en preek riglyne in die notas daarvan, sowel as die besonderhede van hoe om die 4 tafels te dek.

Die woorde en tekste wat uitgedruk kan word vir die onderskeie tafels, kan hier word.

Kindermoment – videoclip oor aanvaarding of diversiteit

Kindermoment – video clip oor aanvaarding of diversiteit

Hierdie advertensie kan gewys word in ‘n preek of les wat handel oor aanvaarding, diversiteit, eenheid, uitreik, naasteliefde, diensbaarheid ens. dit handel oor ‘n seuntjie wat in ‘n rolstoel is en dus nie saam met die ander seuns basketbal kan speel nie. Maar die seuns maak ‘n plan om hom in te sluit. die video greep is korter as 1min.

kindermoment – Oupa Abie video clips

Kindermoment – Oupa Abie video clips
Nuttige skakel met ‘n weeklikse poppekas episode:

www.facebook.com/AbieOupa

“Oupa Abie” se facebook blad bied elke week ‘n gratis 4-5 min poppekas video om te gebruik in eredienste of kategese. Die pop “Oupa Abie” gesels gewoonlik met een van sy kleinkinders oor die leesrooster teks van daardie week. Handig om te gebruik as ‘n kinderoomblik of as ‘n huisgeloof hulpmiddel om deur gesinne tuis te kyk en te bespreek. LW al is hierdie ‘n poppekas is dit gerig op die vlak van ‘n Graad 5-7 laerskool kind. Daar is ook gespreksvrae onder aan die youtube skakel.
In hierdie episode gesels Oupa Abie met Carlo oor God, Jesus en die Heilige Gees (1 Korintiërs 13: 11-13)

Pinkster materiaal

On the Journey – Tiener preek reek sof kamp met 5 sessies

Die reeks bevat 5 sessies en sluit aan by die #imagine tema van 2017 maar herhaal dit nie. Dit is geskryf vir pinkster maar kan ook enige tyd van die jaar gebruik word. Dit sluit 5 preekriglyne in, asook voorstelle vir gebedstasies en grootgroep speletjies by elk. Dit kan ook maklik gebruik word vir ‘n kamp.

Vir die program in PDF formaat, “click” hier: On the journey – ‘n reeks of kamp vir tieners

Vir die verskillende media prentjies waarna verwys word in die materiaal,  “click” hier.


Elektroniese Tiener Pinkster

Sosiale Media is deel van meeste tieners se leefruimtes en kan so maklik gebruik word as ‘n goeie voermiddel om by almal uit te kom wat nie altyd by die kerk kan uitkom nie. Hierdie reeks is saamgestel uit  8 Bybelstudies vanuit die Onsglo webtuiste of toep, wat fokus op Pinkster-tema’s, met ‘n Whatsapp prentjie en Facebook post vir elke dag.

 

Hoe werk dit:

Die reeks is opgestel om oor 8 dae te loop soos hieronder voorgestel, maar voel vry om dit te gebruik soos benodig.

  • Donderdag 25 Mei: Hemelvaart
  • Sondag 28 Mei: Heilige Gees
  • Maandag 29 Mei: Geloof
  • Dinsdag 30 Mei: Kerk
  • Woensdag 31 Mei: Gebed
  • Donderdag 1 Junie: Gehoorsaamheid
  • Vrydag 2 Junie: Getuienis
  •  Sondag 4 Junie: Gawes
Vir elke dag is daar ‘n Whatsapp prentjie wat uitgestuur kan word aan die verskillende tienergroepe.
  1. Laai die Whatasapp prentjies met ‘n link na die dag se Bybelstudie stuk ,sowel as die “Whatsapp Boodskap” Word dokument op jou rekenaar af.
  2. Gaan na www.web.whatsapp.com (om Whatsapp boodskappe vanaf jou rekenaar te stuur).
  3. As jy nog nie op die website ingelog is nie, maak Whatsapp op jou foon oop, gaan na die menu (die 3 kolletjies onder mekaar regs in die hoek), kliek op Whatsapp Web, en scan die QR kode wat op die website wys met jou foon se kamera. Dit behoort jou dadelik na jou Whatsapp te neem.
  4. Gaan na die betrokke groep/persoon vir wie jy die prentjie wil stuur.
  5. Kliek op die attach (skuifspeld) ikoon regs bo, en dan op die pers foto ikoon wat sê “photos & videos”.
  6. Dit sal jou rekenaar dokumente oop maak. Soek die prentjie wat jy wil stuur en heg dit aan.
  7. As jy wil, maak dan op jou dokumente die “Whatsapp Boodskap” Word dokument oop, copy die betrokke prente se boodskap en paste dit onderaan die prentjie op jou Whatsapp chat.
  8. En nou…druk stuur!
Daar is ook ‘n Facebook post met van die inligting van die dag se Bybelstudie stuk wat gedeel kan word op Facebook, sowel as ‘n dokument met die link wat jy in die “write” gedeelte op jou Facebook post kan sit.

 

Kliek hier vir die Whatsapp prentjies.

Kliek hier vir die Elektroniese Tienerpinkster boodskap gedeeltes vir Whatsapp prentjies

Kliek hier vir die Facebook prentjies 

Kliek hier vir die Elektroniese Tienerpinkster boodskap gedeeltes vir Facebook posts

 

Die webtuiste kan besoek word by www.onsglo.co.za of laai die volledige toep af op jou slimfoon deur in jou playstore te soek vir “Ons glo”.

Gebed vir moedersdag

Here God, U wat ons ware Ouer is, ons Vader en ons Moeder, ons bid:

Vir hulle wat vanjaar geboorte geskenk het aan hul eerste kind – ons vier dit saam met hulle.

Vir hulle wat vanjaar ‘n kind verloor het – ons rou saam met hulle.

Vir hulle wat in die loopgrawe met klein kindertjies is, met vlekke op hul klere en sakkies onder hul oë – ons waardeer hulle.

Vir hulle wat verliese beleef het deur miskrame, mislukte aannemings of kinders wat weggeloop het – ons treur saam met hulle.

Vir hulle wat die moeilike pad loop van infertiliteit, deur al die toetse, prosedures, moeilike besluite, hoop en teleurstelling – ons loop saam met hulle. Vergewe ons as ons dwase opmerkings maak wat hulle pad nog moeiliker maak as wat dit reeds is.

Vir hulle wat pleegouers, mentor-ouers, ouma’s op kinderdiens is, ons het hulle broodnodig.

Vir hulle wat hul kinders omvou met liefde en sorg – ons sê dankie vir hulle.

Vir hulle wat teleurstelling, hartseer en verwerping van hul kinders beleef – ons dra hulle aan U op.

Vir hulle wat vanjaar hulle moeder verloor het – ons rou saam met hulle.

Vir hulle wat mishandel is deur hul moeder – ons bid vir herstel en genesing.

Vir hulle wat reeds deur al die toetse van ouerskap is en wie se kinders nou uit die huis is – ons is dankbaar vir hulle en slaan ons arms om hulle.

Vir hulle wat deur die trauma van ‘n aborsie is – ons bid dat U hulle weer sal heel maak.

Vir hulle wat enkel is en graag ‘n ouer sou wou wees – mag daar onverwagse vreugdes in hulle lewe na vore kom.

Vir hulle wat stiefouers is – help hulle om daardie komplekse verhoudings na die beste van hul vermoë te hanteer.

Vir hulle wie se droom van kleinkinders nooit bewaarheid is nie, of wie se kleinkinders oorsee bly – sal U hulle troos.

Vir hulle wat hul kinders laat plaas vir aanneming – ons eer hulle selfloosheid en onthou dat hulle daardie kind in hulle hart vashou.

En vir hulle wat swanger is met nuwe lewe – ons staan in afwagting saam met hulle.

Hierdie Moedersdag bid ons vir hulle almal. Ons onthou hulle almal en ons eer hulle. Ons deel in hulle vreugdes en hulle pyn.

Here God, U wat ons ware Ouer is, ons Vader en ons Moeder, wees by ons almal. Amen

(Gebaseer op The wide spectrum of mothering deur Amy Young: http://messymiddle.com )

Dank en Deel: Eksodus 16:1-5; 13-21

Votum: Psalm 8

Seëngroet: Vriende ek groet julle in die naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees, wat jou liefhet en aanvaar, net soos jy is.

Kersritueel: Wie het verjaar in die afgelope week? Of wie het hulle doop herinnering gevier?

Lofsang:

Lied: Michael W Smith : Open the eyes of my heart, Lord

Lied: FLAM 66: Op vaste fondamente

Lied: Loflaaities: Dis so lekker om die Here te dien Die liefde van Jesus is wonderbaar

Dankoffer

Dankgebed

Lied: Jeugsangbundel(Groen boek) no. 9 : Ek roem U naam

Skriflesing: Eksodus 16: 1 – 5; 13-21

Preek: In Eksodus lees ons van God wat homself in die woestyn aan Israel bekend stel as Jahwe. Die Here. Maar gemeente hierdie is nie enige Here nie, maar ons God wat geïnteresseerd is in die nood van mense. God stuur Moses terug na Egipte om die nakomelinge van Jakob uit te lei uit slawerny. Dit is een van grootste gebeurtenisse in die lewe van die groepie slawe. Met hierdie ongelooflike uittog bewys God Hom as die God van die geskiedenis. Hierdie uittog speel ‘n sentrale rol in die Ou Testament, Selfs die profeet Jesaja verwys na die terugkeer uit ballingskap as ‘n “nuwe uittog”.

Nou goed dan dis wonderlik, maar wat moet ek en jy met hierdie merkwaardige uittog verhaal maak? Ek wil vandag probeer om hierdie uittog verhaal bietjie meer eenvoudig uit te pak. Ek gaan 5 punte gebruik om dit te doen:

1. Alles behoort aan God en is ‘n geskenk aan ons

2. God gee genoeg vir almal sodat ons kan deel met almal

3. Om op te gaar veroorsaak verrotting. Dit stink!

4. Om te werk is om God te help die manna te versprei en uit te deel, die belofte wat God aan almal gemaak het.

5. God gee aan os tye van rus sodat ons kan oefen waaroor die lewe werklik gaan.

Ons moet eerstens besef dat God nog altyd ‘n plan met die Israeliete gehad het. So ook met ons. Ons lees daarvan in Hosea. God wil die mensdom groot maak soos ‘n ouer ‘n kind, beskerm, lief hê en versorg. God wil die Israeliete leer om te leef as volwasse en deelnemende vennote saam met Hom. God wou hê dat die Israeliete se lewens ‘n voorbeeld aan ander kan wees. Hulle lewens moes getuig van mense wat in vrede leef, met vreugde. Hulle moet juis ‘n getuienis wees hiervan sodat ander en sodat ons wat moeg is vir verdrukking, gulsigheid en oorlog ook hierdie voorbeeld wil volg. Deur die Israeliete, en ander wat daarna gevolg het, probeer God die wêreld leer om saam met hom in vennootskap te tree. En wanneer elkeen van ons met die wete leef dat ons ‘n vennoot van God is, ‘n rentmeester, sal ons in vrede kan leef. En so begin die lewe in die woestyn, en hierdie was ‘n moeilike lewe, maar God berei die Israeliete en so ook ons voor sodat ons uiteindelike in vennootskap saam met hom kan leef.

Die woestyn word sowaar die Here se klaskamer. Die plek waar die mense sal leer om te leef soos wat God nog altyd bedoel het. So wanneer vind die eerste les in hierdie klaskamer plaas? Die oomblik toe die Israeliete begin kla en vertroue verloor. Hulle kla oor die leiers, hulle kla oor die feit dat hulle nie kos het om te eet nie en net daar is die eerste geleentheid om die Israeliete weer klaskamer toe te roep.

1. Alles behoort aan God en alles wat ons ontvang is ‘n geskenk van God af.

Vriende wanneer die Israeliete begin kla en wonder of hul nie eerder beter af was as slawe in Egipte nie., dan antwoord God hul. Hy gee aan hulle die geskenk van Manna. Hy gee die opdrag dat hulle elke dag moet Manna optel, maar slegs vir daardie dag. As jy ‘n groot gesin is tel jy meer op en as jy ‘n klein gesin is tel jy minder op en so het almal elke dag genoeg kos vir die dag gehad. Niemand het ook te veel gehad nie.

God het aan die Israeliete bewys dat Hy werklik ‘n genadige en liefdevolle versorger is. Maar meer belangrik- God het die volk opnuut bewus gemaak dat Hy werklik in beheer is. God gee aan ons alles wat ons nodig het. En niks wat God ons gee, is iets wat ons ooit sal kan verdien nie. Alles wat ons ontvang is slegs uit genade. Dis hier waar ons ook onsself moet konfronteer. Hoeveel maal het jy nie by jouself gedink, maar ek verdien hierdie verhoging, ek verdien om in ‘n mooi huis te woon met ‘n nuwe kar, ek verdien om prefek te wees of hoofseun of meisie te word. Dis waar dat ons kan hard werk en onsself kan bewys, maar alles behoort tog aan ons Here. Selfs die krag en potensiaal om te presteer is net ‘n genadige geskenk. Wat ons ontvang, ontvang ons van ‘n genadige en liefdevolle God, wat ons wil versorg.

Draai nou na mekaar en deel met die persoon langs jou, wat jy die afgelope week of maand van God ontvang het. Ek gee jul ‘n minuut.

2. God gee genoeg aan almal sodat ons kan deel met almal

Ons lees dat daar groot en klein families was, maar elke Israeliet het genoeg manna gekry om hul gesin te voed en niemand het te veel gehad nie. Ons kan vandag hieruit leer. God voorsien in ons daaglikse brood. Voedsel en ander basiese behoeftes is iets wat almal benodig. Hierdie behoeftes het ieder en elk, ongeag van status, of titel of prestasies- hierdie behoeftes is iets wat elke in gemeen het. Die realiteit is dat God genoeg aan ons skenk. Ons het oor genoeg hulpbronne, ons het oorgenoeg kos, maar ons misbruik dit, ons wat meer geld het of meer bevoorreg is kan dit dalk makliker bekom as ‘n hawelose, maar dit maak hom of haar nie minder waardig nie. God voorsien vir al sy kinders op aarde, maar ons moet leer om dit wat ons ontvang, met ander te deel.

Draai na mekaar en vertel vir die persoon langs jou, van ‘n geleentheid waar jy bekommerd was dat daar nie genoeg sou nie, maar dat daar wel genoeg was. God het voorsien. Ek gee weer so ‘n minuut.

3. Om op te gaar veroorsaak verrotting! Dit stink!

Ons lees dat party van die Israeliete te veel manna opgetel het. Hulle wou dit bere vir die volgende dag. Ongelukkig het hierdie orige manna gevrot en baie suur geruik. Jy sien die oomblik toe die Israeliete die gewoontes van hulle vorige eienaars, die Farao’s van Egipte aan geneem het, en probeer meer bymekaar maak, as wat hul benodig het, leer hul dat TE VEEL beteken nie noodwendig blydskap nie, en dat gulsigheid tot verrotting lei. Hierdie is ‘n baie belangrike les vir ons. Ons het van soveel dinge te veel. Hoeveel maal dink ons nie by onsself… as ek maar net nog in teestel kan kry wat by my nuwe plekmatjies pas, of ek kort nog net een lekker paar tekkies, want my ander paar is eintlik net vir stap. Hoeveel van ons het nie klere, of gereedskap of meubels wat ons eintlik nie in jare gebruik het nie. Hoeveel van ons het eintlik maar ook te veel van iets nie. Hoeveel van ons het nie iets in die huis wat al vrot nie!

Draai nou weer na mekaar en deel met die persoon langs jou, wat jy in jou huis het wat eintlik al verrot. Waarvan het jy te veel?

4. Om te werk, is om God te help die manna versprei en uit te deel. Die geskenk wat God aan almal belowe het.

Die Israeliete moes elke dag gaan werk en die manna optel sodat hulle daarvan kon eet. Hulle moes werk om hierdie geskenk van God te geniet, te ontvang, maar ook te deel. Hierdie les is baie belangrik! Die Here gee aan ons genadige geskenke, maar Hy vra ook van ons om deel te neem aan Sy skepping, Sy plan, die bou van sy koninkryk. Soos ons ontvang, so moet ons ook deel. Elkeen van ons is ‘n deelnemende vennoot, rentmeester en mede-skepper saam met God. Daarom is dit vir my en jou belangrik om aan te hou werk. Ongeag jou beroep- of jy nou ‘n huisvrou of man is, ‘n prokureur, ‘n onderwyser, ‘n tuinier of ‘n verpleegster, Jy werk 5 nie net vir jouself nie, maar ten gunste van die hele skepping. Ons uitdaging is om te besef dat ons werk elke dag deel is van ‘n groter prentjie, dat ons werk deelname is aan God se skepping en dat dit ons weer in staat stel om te deel. God het ons as verhouding skepsels geskape. Ons is gemaak om in verhouding met mekaar en die Here te leef, maar ook in verhouding met mekaar te deel.

Neem nou weer so minuut, draai na mekaar en noem aan die persoon langs jou, hoe jy by jou werk of met jou werk ander kan leer deel, leer rus en of leer skep.

5. God gee aan ons tye van rus sodat ons kan oefen waaroor die lewe werklik gaan.

Die laaste les wat ons in die klaskamer van die woestyn leer is die les oor die Sabbat. Die les oor rus. God wou hê dat die Israeliete, en so ook ons vandag, die geskenk van rus en ontspanning ontvang. Die geskenk van tyd, sodat ons dit waaroor die lewe werklik gaan kan geniet. Sodat ons verhoudings, vennootskap en vriendskap ,met God, mekaar en die skepping tot in die volste sin van die woord geniet!!! Selfs die Israeliete moes die 6de dag harder werk sodat hulle die sewende dag kon rus. Hulle moes die sesde dag manna optel vir twee dae. God sien rus as ‘n belangrike deel van ons lewens, en tog is dit die minste belangrik in ons oë. Die mens vandag hoef nie elke dag te werk om die geskenke, die manna van God, te ontvang en uit te deel nie. Hierdie geskenk van ekstra tyd is iets wat ons moet koester. Dis hierdie geskenk van tyd wat dit vir die mens, diere en die skepping moontlik maak om ook te rus. Die Sabbat, ‘n rus dag is juis wat dit vir ons moontlik maak om werklik die vriendskap met God, ons mede skepsels en die skepping te geniet.

Dallas willard vra die volgende vraag: “Do you think God gave you more work than you have time for today?”.

Tog sien ons selfs kerk toe gaan, as ‘n werk, ‘n taak wat ons tyd om te rus wegneem. Moet ons nie dan juis herbesin oor hoe ons ons tyd bestee nie. Is ons nie besig om so min tyd te maak vir rus, dat ons selfs ons kosbaarste oomblikke van verhouding-bou met God en ons medemens prys gee nie. God gee tog ook die geskenk van genoeg tyd…

Draai na mekaar en besluit op iets wat jy hierdie week gaan doen, sodat jy meer tyd sal maak om te rus en deel dit ,met die ander persoon.

God het dag na dag manna uitgedeel en gedroom van ‘n universele manna gemeenskap. ‘n Gemeenskap waar almal ontvang, dankbaar is en deel. God droom van ‘n wêreld waar daar geen big shots of hawelose is nie, geen arm en ryk nie, geen verdrukker en verdrukte nie, maar waar die menslike lewe in harmonie met die hele skepping leef, waar elke gedeelte leef vir die beter van die hele wêreld. God droom van vrede, ‘n geneesde wêreld. Kan ons onsself deel maak van hierdie droom. Kan ons weer leer ontvang, dank en deel. Dis die uitdaging vir elkeen van ons!

Gebed.

Slotlied: Liedboek 253: v 1+2 U het die brood gebreek

Seën: Mag die Here jou God jou seën, en mag jy tot seën van ander leef, mag ons leer om te ontvang, te deel en te rus.

Liedboek 334

Amen, amen, amen.

Geskryf deur Ds. Jana Dickison

Vir ‘n drukbare PDF weergawe, “click” hier: Familiediens Preek – Dank en Deel, Eksodus 16v1-5 & 13-21

Jeugdiens: Naby

naby Facebook banner

Tema: Genade verniet

Teks: Romeine 10:5-15

Die jaar het begin en ons almal moet het sekerlik weer nuwe jaar voornemens gemaak of beplan om iets af te handel hierdie jaar. Dalk gaan jy hierdie jaar al daardie gewig verloor, leer kitaar speel, die marathon hardloop, jou roetine opskerp sodat jy nie van die huis af ook hoef te werk nie.

Dadelik het hierdie jaar ook seker weg gespring met nuus oor hoe swaar ons gaan kry en hoe moeilik dit gaan wees om daardie voornemens na te kom. Die petrol is reeds op en inflasie maak ons kos duurder. By die skool het hulle vir jou gesê dat hierdie jaar moeiliker gaan wees, jy is nie meer ‘n kind nie, jy gaan moet hard werk (moenie te erg daaroor worry nie, hulle gaan dit elke jaar vir jou se.). Dit is hoe ons wêreld in mekaar steek, dit is hoe ons salarisse verdoen, matriek sertifikate kry, grade kry. Ons kry net as ons dit verdien of hard gewerk het daarvoor. Daarom het ek gedink om met julle goeie nuus te deel, die Evangelie, wet letterlik “goeie nuus” beteken.

Wanneer ons die Evangelies van Jesus lees (die boeke in die begin van die Nuwe Testament) wat ons die verhaal van Jesus vertel, leer ons dat die belangrikste ding wat jy vir hierdie jaar nodig het, die een ding wat alles laat sin maak, die een ding wat ons nodig het om die mens te word wat God ons geskep het om te wees, nie iets is waarvoor jy hoef te werk nie. Vir die eenvoudige rede: jy nie kan nie!

Wanneer ons Paulus se brief aan die gemeente in die boek Romeine lees, dan word dit vir ons mooi verduidelik.

Vir die res van die boodskap kan hierdie skakel gevolg word: Romeine 10 preek

Vir die kategese materiaal oor hierdie teks en tema kan hierdie skakel gebruik word: Naby kategese

Die prent hieronder kan afgelaai en gebruik word as ‘n sosiale media “post”, deur regs te “click” en die “save picture as” opsie te gebruik. (Die prent heel bo kan op dieselfde manier afgelaai word om as ‘n Facebook “banner” te gebruik)

 

“Niemand wat in Hom glo,sal teleurgestel word nie.”