Geloofsgewoontes

Dank en Deel: Eksodus 16:1-5; 13-21

Votum: Psalm 8

Seëngroet: Vriende ek groet julle in die naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees, wat jou liefhet en aanvaar, net soos jy is.

Kersritueel: Wie het verjaar in die afgelope week? Of wie het hulle doop herinnering gevier?

Lofsang:

Lied: Michael W Smith : Open the eyes of my heart, Lord

Lied: FLAM 66: Op vaste fondamente

Lied: Loflaaities: Dis so lekker om die Here te dien Die liefde van Jesus is wonderbaar

Dankoffer

Dankgebed

Lied: Jeugsangbundel(Groen boek) no. 9 : Ek roem U naam

Skriflesing: Eksodus 16: 1 – 5; 13-21

Preek: In Eksodus lees ons van God wat homself in die woestyn aan Israel bekend stel as Jahwe. Die Here. Maar gemeente hierdie is nie enige Here nie, maar ons God wat geïnteresseerd is in die nood van mense. God stuur Moses terug na Egipte om die nakomelinge van Jakob uit te lei uit slawerny. Dit is een van grootste gebeurtenisse in die lewe van die groepie slawe. Met hierdie ongelooflike uittog bewys God Hom as die God van die geskiedenis. Hierdie uittog speel ‘n sentrale rol in die Ou Testament, Selfs die profeet Jesaja verwys na die terugkeer uit ballingskap as ‘n “nuwe uittog”.

Nou goed dan dis wonderlik, maar wat moet ek en jy met hierdie merkwaardige uittog verhaal maak? Ek wil vandag probeer om hierdie uittog verhaal bietjie meer eenvoudig uit te pak. Ek gaan 5 punte gebruik om dit te doen:

1. Alles behoort aan God en is ‘n geskenk aan ons

2. God gee genoeg vir almal sodat ons kan deel met almal

3. Om op te gaar veroorsaak verrotting. Dit stink!

4. Om te werk is om God te help die manna te versprei en uit te deel, die belofte wat God aan almal gemaak het.

5. God gee aan os tye van rus sodat ons kan oefen waaroor die lewe werklik gaan.

Ons moet eerstens besef dat God nog altyd ‘n plan met die Israeliete gehad het. So ook met ons. Ons lees daarvan in Hosea. God wil die mensdom groot maak soos ‘n ouer ‘n kind, beskerm, lief hê en versorg. God wil die Israeliete leer om te leef as volwasse en deelnemende vennote saam met Hom. God wou hê dat die Israeliete se lewens ‘n voorbeeld aan ander kan wees. Hulle lewens moes getuig van mense wat in vrede leef, met vreugde. Hulle moet juis ‘n getuienis wees hiervan sodat ander en sodat ons wat moeg is vir verdrukking, gulsigheid en oorlog ook hierdie voorbeeld wil volg. Deur die Israeliete, en ander wat daarna gevolg het, probeer God die wêreld leer om saam met hom in vennootskap te tree. En wanneer elkeen van ons met die wete leef dat ons ‘n vennoot van God is, ‘n rentmeester, sal ons in vrede kan leef. En so begin die lewe in die woestyn, en hierdie was ‘n moeilike lewe, maar God berei die Israeliete en so ook ons voor sodat ons uiteindelike in vennootskap saam met hom kan leef.

Die woestyn word sowaar die Here se klaskamer. Die plek waar die mense sal leer om te leef soos wat God nog altyd bedoel het. So wanneer vind die eerste les in hierdie klaskamer plaas? Die oomblik toe die Israeliete begin kla en vertroue verloor. Hulle kla oor die leiers, hulle kla oor die feit dat hulle nie kos het om te eet nie en net daar is die eerste geleentheid om die Israeliete weer klaskamer toe te roep.

1. Alles behoort aan God en alles wat ons ontvang is ‘n geskenk van God af.

Vriende wanneer die Israeliete begin kla en wonder of hul nie eerder beter af was as slawe in Egipte nie., dan antwoord God hul. Hy gee aan hulle die geskenk van Manna. Hy gee die opdrag dat hulle elke dag moet Manna optel, maar slegs vir daardie dag. As jy ‘n groot gesin is tel jy meer op en as jy ‘n klein gesin is tel jy minder op en so het almal elke dag genoeg kos vir die dag gehad. Niemand het ook te veel gehad nie.

God het aan die Israeliete bewys dat Hy werklik ‘n genadige en liefdevolle versorger is. Maar meer belangrik- God het die volk opnuut bewus gemaak dat Hy werklik in beheer is. God gee aan ons alles wat ons nodig het. En niks wat God ons gee, is iets wat ons ooit sal kan verdien nie. Alles wat ons ontvang is slegs uit genade. Dis hier waar ons ook onsself moet konfronteer. Hoeveel maal het jy nie by jouself gedink, maar ek verdien hierdie verhoging, ek verdien om in ‘n mooi huis te woon met ‘n nuwe kar, ek verdien om prefek te wees of hoofseun of meisie te word. Dis waar dat ons kan hard werk en onsself kan bewys, maar alles behoort tog aan ons Here. Selfs die krag en potensiaal om te presteer is net ‘n genadige geskenk. Wat ons ontvang, ontvang ons van ‘n genadige en liefdevolle God, wat ons wil versorg.

Draai nou na mekaar en deel met die persoon langs jou, wat jy die afgelope week of maand van God ontvang het. Ek gee jul ‘n minuut.

2. God gee genoeg aan almal sodat ons kan deel met almal

Ons lees dat daar groot en klein families was, maar elke Israeliet het genoeg manna gekry om hul gesin te voed en niemand het te veel gehad nie. Ons kan vandag hieruit leer. God voorsien in ons daaglikse brood. Voedsel en ander basiese behoeftes is iets wat almal benodig. Hierdie behoeftes het ieder en elk, ongeag van status, of titel of prestasies- hierdie behoeftes is iets wat elke in gemeen het. Die realiteit is dat God genoeg aan ons skenk. Ons het oor genoeg hulpbronne, ons het oorgenoeg kos, maar ons misbruik dit, ons wat meer geld het of meer bevoorreg is kan dit dalk makliker bekom as ‘n hawelose, maar dit maak hom of haar nie minder waardig nie. God voorsien vir al sy kinders op aarde, maar ons moet leer om dit wat ons ontvang, met ander te deel.

Draai na mekaar en vertel vir die persoon langs jou, van ‘n geleentheid waar jy bekommerd was dat daar nie genoeg sou nie, maar dat daar wel genoeg was. God het voorsien. Ek gee weer so ‘n minuut.

3. Om op te gaar veroorsaak verrotting! Dit stink!

Ons lees dat party van die Israeliete te veel manna opgetel het. Hulle wou dit bere vir die volgende dag. Ongelukkig het hierdie orige manna gevrot en baie suur geruik. Jy sien die oomblik toe die Israeliete die gewoontes van hulle vorige eienaars, die Farao’s van Egipte aan geneem het, en probeer meer bymekaar maak, as wat hul benodig het, leer hul dat TE VEEL beteken nie noodwendig blydskap nie, en dat gulsigheid tot verrotting lei. Hierdie is ‘n baie belangrike les vir ons. Ons het van soveel dinge te veel. Hoeveel maal dink ons nie by onsself… as ek maar net nog in teestel kan kry wat by my nuwe plekmatjies pas, of ek kort nog net een lekker paar tekkies, want my ander paar is eintlik net vir stap. Hoeveel van ons het nie klere, of gereedskap of meubels wat ons eintlik nie in jare gebruik het nie. Hoeveel van ons het eintlik maar ook te veel van iets nie. Hoeveel van ons het nie iets in die huis wat al vrot nie!

Draai nou weer na mekaar en deel met die persoon langs jou, wat jy in jou huis het wat eintlik al verrot. Waarvan het jy te veel?

4. Om te werk, is om God te help die manna versprei en uit te deel. Die geskenk wat God aan almal belowe het.

Die Israeliete moes elke dag gaan werk en die manna optel sodat hulle daarvan kon eet. Hulle moes werk om hierdie geskenk van God te geniet, te ontvang, maar ook te deel. Hierdie les is baie belangrik! Die Here gee aan ons genadige geskenke, maar Hy vra ook van ons om deel te neem aan Sy skepping, Sy plan, die bou van sy koninkryk. Soos ons ontvang, so moet ons ook deel. Elkeen van ons is ‘n deelnemende vennoot, rentmeester en mede-skepper saam met God. Daarom is dit vir my en jou belangrik om aan te hou werk. Ongeag jou beroep- of jy nou ‘n huisvrou of man is, ‘n prokureur, ‘n onderwyser, ‘n tuinier of ‘n verpleegster, Jy werk 5 nie net vir jouself nie, maar ten gunste van die hele skepping. Ons uitdaging is om te besef dat ons werk elke dag deel is van ‘n groter prentjie, dat ons werk deelname is aan God se skepping en dat dit ons weer in staat stel om te deel. God het ons as verhouding skepsels geskape. Ons is gemaak om in verhouding met mekaar en die Here te leef, maar ook in verhouding met mekaar te deel.

Neem nou weer so minuut, draai na mekaar en noem aan die persoon langs jou, hoe jy by jou werk of met jou werk ander kan leer deel, leer rus en of leer skep.

5. God gee aan ons tye van rus sodat ons kan oefen waaroor die lewe werklik gaan.

Die laaste les wat ons in die klaskamer van die woestyn leer is die les oor die Sabbat. Die les oor rus. God wou hê dat die Israeliete, en so ook ons vandag, die geskenk van rus en ontspanning ontvang. Die geskenk van tyd, sodat ons dit waaroor die lewe werklik gaan kan geniet. Sodat ons verhoudings, vennootskap en vriendskap ,met God, mekaar en die skepping tot in die volste sin van die woord geniet!!! Selfs die Israeliete moes die 6de dag harder werk sodat hulle die sewende dag kon rus. Hulle moes die sesde dag manna optel vir twee dae. God sien rus as ‘n belangrike deel van ons lewens, en tog is dit die minste belangrik in ons oë. Die mens vandag hoef nie elke dag te werk om die geskenke, die manna van God, te ontvang en uit te deel nie. Hierdie geskenk van ekstra tyd is iets wat ons moet koester. Dis hierdie geskenk van tyd wat dit vir die mens, diere en die skepping moontlik maak om ook te rus. Die Sabbat, ‘n rus dag is juis wat dit vir ons moontlik maak om werklik die vriendskap met God, ons mede skepsels en die skepping te geniet.

Dallas willard vra die volgende vraag: “Do you think God gave you more work than you have time for today?”.

Tog sien ons selfs kerk toe gaan, as ‘n werk, ‘n taak wat ons tyd om te rus wegneem. Moet ons nie dan juis herbesin oor hoe ons ons tyd bestee nie. Is ons nie besig om so min tyd te maak vir rus, dat ons selfs ons kosbaarste oomblikke van verhouding-bou met God en ons medemens prys gee nie. God gee tog ook die geskenk van genoeg tyd…

Draai na mekaar en besluit op iets wat jy hierdie week gaan doen, sodat jy meer tyd sal maak om te rus en deel dit ,met die ander persoon.

God het dag na dag manna uitgedeel en gedroom van ‘n universele manna gemeenskap. ‘n Gemeenskap waar almal ontvang, dankbaar is en deel. God droom van ‘n wêreld waar daar geen big shots of hawelose is nie, geen arm en ryk nie, geen verdrukker en verdrukte nie, maar waar die menslike lewe in harmonie met die hele skepping leef, waar elke gedeelte leef vir die beter van die hele wêreld. God droom van vrede, ‘n geneesde wêreld. Kan ons onsself deel maak van hierdie droom. Kan ons weer leer ontvang, dank en deel. Dis die uitdaging vir elkeen van ons!

Gebed.

Slotlied: Liedboek 253: v 1+2 U het die brood gebreek

Seën: Mag die Here jou God jou seën, en mag jy tot seën van ander leef, mag ons leer om te ontvang, te deel en te rus.

Liedboek 334

Amen, amen, amen.

Geskryf deur Ds. Jana Dickison

Vir ‘n drukbare PDF weergawe, “click” hier: Familiediens Preek – Dank en Deel, Eksodus 16v1-5 & 13-21