FAMILIEBEDIENING

Idees en hulpbronne vir Familiebediening

Idees vir Ouers & Kinders om Geestelik te Connect

  1. Eet saam met dieper kommunikasie: Gesinne kan byvoorbeeld aangemoedig word om tuis saam te eet en ‘n gespreksvraag wat by die erediens gegee is te bespreek. ‘n Gemeente-ete kan ook gereël word waar dit gebeur by die kerk met baie gesinne saam.
  2. Huisgelooftyd – spandeer tyd saam om ‘n teks: Gesinne kan byvoorbeeld aangemoedig word om ‘n huisgeloofboekie te gebruik of die kategese geselsblad (wat aanhaak by die week se les) word uitgegee of ‘n familie huisgeloofpakket kan tydens feestye soos Paasfees/Lydenstyd/Advent/Kersfees uitgedeel word.
  3. Mylpaalviering – Vier verjaarsdae, gebeure en herdenkings saam en herinner mekaar aan God se betrokkenheid by jul lewens en bid saam: Ouers kan byvoorbeeld met die doop van hulle kind toegerus word om die doop jaarliks te vier saam met hulle. Spesiale dienste help oor gesinne om ook tuis mylpale te vier, bv. ‘n matriekdiens aan die begin van die matriekjaar/-eksamen of ‘n Graad 1 Ouer en Kind Oggend.
  4. Daaglikse Gewoontes – Geestelike gewoontes wat gereeld of daagliks deel is van jul gesin se roetine: Ouers kan byvoorbeeld met ouertoerusting idees gegee word vir daaglikse gewoontes soos hoe om saam te bid voor ete, mekaar te groet op ‘n spesiale manier, te bid voor reis, ens.
  5. Familietyd – Ouers word aangemoedig of toegerus om ‘n weeklikse tyd saam as gesin te hê om mekaar beter te leer ken en verhoudings te bou: Voorbeelde hiervan is om gesinne aan te moedig om een aand per week die televisie af te skakel en daardie aand saam kos te maak, te eet en saam ‘n speletjie te speel. Hierdie speletjie kan iets wees wat uitgedeel word by die erediens en aanhaak by die gemeente se huidige preek-tema.
  6. Events: Die gemeente kan geleenthede reël waar verhoudings in families versterk kan word, byvoorbeeld ‘n familiepiekniek, ‘n familiedans, ‘n familiekamp of ‘n familie-nagmaal.

Intergenerasionele Eredienste, Kategese en Kampe

Inleiding

Vra die vraag af: hoe lyk jou gemeente se eredienste, kategese en kampe op die oomblik?

Sal die volgende mense welkom voel in hierdie ruimtes:

  • ‘n Senior lidmaat?
  • ‘n Volwassene?
  • ‘n Tiener?
  • ‘n Laerskool kind?
  • ‘n Voorskoolse kind?

Teologiese Onderleg vir Intergenerasionele Jeugbediening

Voorheen het ons gemeentes gefunksioneer volgens die herder-kudde-model van kerk-wees wat baie klem plaas op die predikant en ander “lerende leiers” in die gemeente. Die res van die gemeente se funksie was baie meer passief en hulle het onderrig ontvang – veral kinders.

Ons is egter besig op ‘n reis in ons kerk waar die liggaamsmodel van kerk-wees baie meer klem geniet en dit dwing ons om anders te dink oor die funksie van AL ons lidmate binne die gemeente – ook kinders. Die liggaamsmodel lê klem daarop dat elke persoon ‘n belangrike rol het om te speel in die gemeente en dat kinders dus volwaardige ledemate is van die liggaam – daar is immers nie ‘n junior Heilige Gees nie!

Hoe lyk eredienste, kategese en kampe binne die bogenoemde twee modelle en hoe verskil dit?

Eredienste

‘n Erediens in ‘n gemeente waar die herder-kudde-model sterk funksioneer, sal baie klem lê op sekere rolspelers (en hulle sal meestal, indien nie almal nie, volwassenes wees) en daar sal min interaksie wees tussen die mense teenwoordig. Die diens sal grotendeels afhang van ‘n predikant wat doen en ‘n gemeente wat passief luister. Die opset is een-tot-baie, mense sit in rye agtermekaar en kinders is apart of afwesig.

‘n Erediens wat gebaseer is op die liggaamsmodel van kerk-wees, sal ruimte maak vir elke persoon in die vertrek om aktief daaraan deel te neem. Daar is gelyke waarde van almal teenwoordig. Mense leer bymekaar en kyk mekaar in die oë indien moontlik. Dit is nie net ‘n een-rigting-gesprek nie, maar ‘n gesprek tussen almal teenwoordig in een of ander vorm.

Voorbeelde:

  • Eredienswerkers (span wat mense verwelkom by die deur, nagmaaltekens uitdeel en offergawes opneem) bestaan uit gesinne – dus kinders en volwassenes van alle ouderdomme.
  • Daar is ‘n geleentheid in die diens vir kinders se verjaarsdae wat gevier word en selfs ‘n ouma sin wat gereeld die diens bywoon!
  • Daar is kinderliedjies sowel as meer volwasse-gerigte liedjies. Almal staan en sing beide genres liedjies saam, maar met die kinderliedjies staan die kinders soms op die stoele en doen die bewegings ook saam.
  • Kinders kan gebruik word om simbole in te bring of te gebruik wat aanhak by die preekreeks, bv. vlae met woorde op wat gedra word of kers wat tydens Lydenstyd uitgedoof word.
  • Geleentheid vir families of lidmate om na mekaar te draai en vrae te bespreek in die diens.
  • Daar kan selfs ‘n graad-diens gehou word vir ‘n spesifieke graad waar gesinne een van die kategese-lesse saam doen en die predikant van voor af fasiliteer.

Kategese en Kampe

Die herder-kudde-model van kerk-wees laat kategese ‘n skoolklaskamer dupliseer waar daar ‘n “onderwyser” is (gewoonlik ‘n volwassene) wat net kennis oordra aan passiewe kinders wat min geleentheid het om hulle eie opinies en vrae te gee en vra. Die klem is daarop dat hulle die kennis inneem en dit netso kan weergee.

Op kampe sal die prentjie baie eenders lyk, maar net met ‘n groter groep en in ‘n ander ruimte. Daar sal moontlik tye wees op die kamp vir ander aktiwiteite as kennisoordrag, maar dit sal losstaande wees en nie noodwendig ‘n spesifieke doel dien in terme van die vorming en inlewing van die tema nie.

Wanneer die beginsel van die liggaamsmodel op kategese toegpas word, het almal wat betrokke is ‘n rol om te speel. Die onderwysers word eerder fasiliteerders van ‘n gesprek waar die tema bespreek word en hierdie gesprek waar die kinders/tieners geleentheid kry om ook deel te neem is netso belangrik en onlosmaaklik verbind aan die kennis oordrag. Die groepe is kleiner sodat gesprek makliker kan plaasvind. Kategesegroepies sit in kringe sodat almal mekaar in die oë kan kyk en nie in ‘n ry voor die onderwyser nie. Ervaringsleer is ook belangrik.

Met kampe is een oorhoofse tema belangrik waarop alles gebasseer is: kennis, gesprekke, ervaringsleer en musiekbediening. Die doel van al hierdie aspekte van die kamp is geloofsvorming in ‘n eilandsituasie eerder as nét kennisoordrag. Kampeerders word ook in kleingroepe ingedeel met fasiliteerders en almal wat gaan kamp het ‘n rol, bv. kleingroepleiers, band, bidders, beraders, ens.

Ouervergaderings

Ouervergaderings in die herder-kudde-model lyk ook baie eenders as eredienste in hierdie model: die predikant van vooraf praat, ouers wat in rye sit en kinders wat afwesig is.

In die liggaamsmodel sal ‘n ouervergadering die kinders ook insluit, kinders sal saam met hulle ouers in kleingroepe sit en daar sal geleentheid wees vir hulle om ook met mekaar te kommunikeer oor dit wat van voor af met hulle gedeel word.

Wenke om ruimtes meer intergenerasioneel-vriendelik te maak

  • Handwerk (crafts) wat almal saam moet doen of elkeen individueel en dan met mekaar deel.
  • Oop vrae: Dit is belangrik dat die vra wawt gevra word deur ‘n 4-jarige sowel as ‘n 30-jarige beantwoord kan word.
  • Stories: Alle ouderdomme het stories om te vertel, maar ons het min tye om te luister na mekaar.
  • Getuienisse
  • Simboliek: Dit is iets waaraan ons almal kan deelneem.
  • Speletjies: Gesamentlike ervaringsleer of speletjies gebaseer op ‘n sekere tema of preek-/kategese-reeks wat huis toe geneem kan word om in huisgeloof tyd te speel.

Slot

Dink terug oor jou beskrywing van die ruimtes in julle gemeente aan die begin. Hoe kan jy net een ding in elke ruimte verander of toevoeg om dit meer intergenerasioneel te maak?

Moenie oorhaastig alles verander nie! Fasiliteer geloofsgroei met klein veranderinge.

Elzanne van der Westhuizen

Hoekom doop ons?

‘n Gesprek met ‘n tiener deur Gielie Loubser

Waar begin God se pad met die mens:

Adam – die terme van die eerste verbond – jy moet dit en dat doen Ek sal dan dit en dat doen

Gevolg :Sondeval en sondvloed

Noag die enigste regverdige  Die verbond se terme staan steeds ( ook hy val en sondig en alles verval tot chaos)

Gevolg: Toring van Babel – ’n tweede einde

’n Derde en laaste begin – met Abraham ( word daarom ook die vader van die gelowiges genoem)

Lees Gen. 15:1-18

Die Here sluit ’n nuwe verbond met Abraham, wat nuwe terme en kondisies het. Die eerste verbond met Adam en Noag het misluk omdat die Here verwag het dat die mens sy kant van die verbond moet nakom dan eers sal God Sy kant nakom.

Die nuwe verbond se terme is dat God twee keer tussen die stukke vleis deurloop ( vers 17) en daarom beide kante van die ooreenkoms se verantwoordelikheid dra.

Dit gebeur dan dat die volk nie hulle ooreenkoms hou nie, en nou moet die oordeel van die verbond voltrek word ( soos die stukke vleis in twee geskeur word) maar God staan ook daarvoor in en stuur Sy enigste seun om aan die kruis in twee geskeur te word.

Voor Jesus gebore is word egter Johannes die doper gebore. Sy opdrag is om die pad vir die Here gelyk te maak. Hy is die eerste mens op aarde wat met die gebruik van die doop te begin, hy doop mense in die Jordaan. Hy bedien ’n egter bekeringsdoop, die Johannes-doop: Bekeer julle van julle slegte wee en maak die pad vir die Messias gelyk. Hy self sê hy doop net met water maar Jesus wat an hom kom, sal met die Gees en vuur doop. (Matt3:11)

Jesus word egter ook deur Johannes gedoop maar dis nie omdat Jesus dit nodig het nie, Hy is tog nie sondig nie en dis daarom nie nodig dat Hy Hom moet nie bekeer nie. Dis egter net die identifisering met die mens en juis die sondigheid van die mens sodat Hy ons sonde op Hom kan neem met die kruisiging.

Ons hoef ons nie ook te laat doop met ’n Johannes-doop of bekerings-doop nie. Dit was net ’n voorbereidingstyd vir Jesus se koms. Selfs Paulus sê later dat die Johannes-doop gekom en gegaan het. (Hand 19:3-5) Die Christelike doop wat ons ontvang het, is in die naam van die Vader Seun en Gees.

Met die groot opdrag in Matt. 28:19 staan daar: “maak die mense my dissipels en doop hulle in die naam van die Vader Seun en Gees.  Die volgorde van eers dissipels word en dan doop dui vir sommige mense daarop dat jy nie kinders moet doop nie, maar net gelowiges wat hulle eers bekeer het.

Dis egter belangrik om te verstaan dat dit die groot sending opdrag is. Gaan na alle nasies toe. Dis omdat dit in ’n sending konteks of tyd geskryf. Ook die boek Handelinge wat die meeste skryf oor die doop praktyke is in ’n sending konteks geskryf want die boek se naam is die Handelinge van die Apostels. Ons kan ook sê die sendingwerk van die Apostels. Dis daarom logies dat die volgorde in die sendingveld of konteks eers bekering dan doop sal wees. Jy kan tog nie na ’n persoon toe gaan en sê ek wil vir jou van Jesus vertel maar ek gaan jou eers net doop nie, jy sal later alles verstaan nie. Geen mens sal dit toelaat nie. Nee in ’n sending konteks maak jy eers dissipels en doop dan.

Maar is daar wel tekste wat vertel van kinders wat gedoop word? Daar is baie tekste wat vertel van grootmense wat gedoop word. LW Weereens is dit die feit dat Handelinge van eerste geslag gelowiges praat , ‘n sending konteks. Daar is egter ’n paar verhale wat vertel van die hele huisgesin wat gedoop is Hand 16:15 vertel van Lidia en haar hele huis wat gedoop is – op grond van Lidia se geloof en so ook Hand 16:33 wat vertel van die tronkbewaarder. Al kan ons nie bewys dat daar babatjies in die huis was nie ( en dis heel moontlik want families het as clans saam in huise gebly) kan ons seker weet daar was kinders en sien ons dat op grond van die volwassenes se geloof die huisgesin gedoop is. ( LW daar is baie gelowiges wat dink jy moet ook na jou bekering ook nog met die Heilige Gees gedoop word en dat dit alleen sal gebeur met ‘n handoplegging tydens n aparte ritueel wat hulle noem, die doop met die Heilige Gees. Daar is egter geen formule in die Bybel oor hoe jy die Gees ontvang het nie. Hand 10:44 vertel dat sommige sommer onder ’n preek die Gees ontvang het. Dit was weereens in ’n sending konteks waar die Gees nog nie orals op aarde uitgestort was nie. Ons word in die naam van die Gees gedoop en ontvang die Gees met ons doop)

Die belangrikste egter is om weer terug te gaan na die verbond wat steeds geldend is, God noem dit ’n blywende verbond met Abraham ons Vader. Hoe werk die terme en kondisies van hierdie blywende verbond! As ons eers ons moet bekeer voor ons gedoop kan word, is ons eintlik by die terme van die eerste verbond.

Die doop is iets wat God aan ons doen voordat ons kon kies kon vra!  Die doop is ’n aksie van God aan ons. In die doop is ons passiewe ontvangers van die bevestiging van God se liefde. Net soos Abraham geslaap het! Daarom die doop aan kinders te bedien wat nie weet of kan onthou nie, verander niks aan die waarde of geldigheid of betekenis van die doop nie. Dis juis die mooi daarvan dat God Homself aan ons verbind deur die doop en ons van die begin af insluit in hierdie genade verbond ( net soos met die besnydenis van 8 dae oue babatjies)

Die doop is een van 2 sakramente en en sakramente is heilige goed wat God vir en aan ons doen om ons geloof te verstrek. Sakramente is nie iets wat ons doen om ons geloof te bely of ons liefde aan God te wys nie. Nee dis iets wat ons net ontvang om ons geloof mee te verstrek. Dis soos ’n anker vir ons pad.

Die een sakrament is eenmalig en dis die doop. Die ander een is herhalend en dis die nagmaal. As ons die eenmalige sakrament wil herhaal deur ons te laat weer doop of herdoop is ons besig om vir God te sê dat ons Hom nie op Sy woord kan neem nie. Ons kan Hom eintlik nie glo nie en daarom moet Hy dit weer doen.  Mens kan seker sê ja maar ek onthou niks daarvan nie, maar dis waarom die ouers vir die kind van sy/haar doop moet vertel en dit herdenk. Daarom word net die kinders van gelowige ouers gedoop en moet die ouers met die doop weer hulle geloof bely!

Die tweede probleem met herdoop is dat jy jou anker verloor. As jy met die doop vir God en ander iets wil sê is dit so goed soos dat jy die anker vat en op jou eie dek van jou boot gooi. Dan bied dit vir jou geen vastigheid nie. Ankers moet buite ons wees. Buite ons ervaringsveld of gemoedstoestande of ons ervaring van ons vlakke van heiligheid of geloof. Die doop is die moeder van alle” bottomlines” in jou lewe. Jy hoef nooit aan jou doop te twyfel nie, want dis iets wat God aan jou gedoen het!

Net so is ook die nagmaal daar om ons te help glo! Moenie ’n sakrament gebruik om iets te doen nie. Dis nie jou aksie nie, nee sakramente is iets wat God aan jou doen. As jy jou geloof wil bely met die doop is dit so goed soos jy vat ’n skroewedraaier om ’n brief te skryf. Jy het verkeerde instrument beet!

Die doop is egter nie ’n “magic” aksie wat jou red nie. Nee dis net ’n bevestiging van God se onvoorwaardelike en onfeilbare liefde. Dis so goed soos jou geboortesertifikaat wat bewys dat jy wel deel is van die familie. Maar dit beteken nie jy wil deel van die gesin wees nie. As jy nooit huis toe kom nie as jy nooit jou identiteit opneem nie behoort jy ook nie aan die gesin nie. Maar die doop troos jou as jy wel dink jy is nie goed genoeg vir die huisgesin van God nie, dit versterk jou geloof en is daarom ’n teken en seël van God se liefde vir jou.

Leef daarom uit jou doop. Leef uit die wete dat God jou gekies het. Dis al geloofsekerheid wat daar bestaan. Ons sekerheid lê nie in onsself of in hoe goed ons is op probeer wees nie. Ons sekerheid lê in die karakter van God. Ons sekerheid lê in die liefde en genade van God. Of ek altyd glo weet ek nie, maar ek weet in WIE ek glo.

Ek glo in die een wat weet dat Hy twee keer deur die stukke vleis moes gaan om met ons ’n blywende verhouding te kon hê. Wat ook ons skuld moes dra. Daarvan is die doop ’n teken en seël. Leef uit jou identiteit as geliefde van die Here. Aanvaar die identiteit as geliefde van God, deel van die huisgesin van God. Bekering daarom is net die aanvaarding van ons dieper identiteit. Bekering is die ophou stry teen ons diepste aard, dis die terugkom na God, die gaan rus in Sy arms wat red en vertroos. Daaraan herinner die doop ons. Of jy dit nou wil weet of nie. Maar die wat dit weet kan rus vind kom, kom terug huis toe en word ’n kind van God genoem.

Huisgeloof – ‘n gesprek oor die Heilige Gees

WIND

Staan in die wind of voor ‘n waaier. haal ook diep asem terwyl jou hand ‘n entjie voor jou (oop) mond hou. gesels oor hoe ‘n mens nie die Heilige Gees kan sien nie en nie altyd bewus is van die Gees nie. tog is Hy soos die wind of suurstof altyd om ons en in ons aan die werk. soms kan jy hom voel of sy werk sien.

STERRE

Staan buite in die nag en kyk na sterre. Gesels oor die sterre oor hoe wonderlik hulle is. Praat dan oor hoe helder elkeen brand en lig maak. gesels oor hoe die Heilige Gees ons help om lig te maak en te skyn deur hoe ons getuienis.

KERSE

Skakel al die ligte af en steek ‘n kers aan en kyk na hoe dit brand. gesels oor hoe die Heilige Gees ons troos en lei in moeilike (donker) tye.

SPIEEL

Staan voor ‘n spieel. hoe help die Heilige Gees ons om meer soos Jesus te lyk en op te tree? Hoe help hy ons om goeie besluite te neem.

KLEI

Speel met die klei. jul kan iets van jouself uitbeeld. gesels oor hoe die Heilige Gees ons vorm deur ons aan Jesus (en sy woorde) te herinner. Hoe verander / vorm die Gees ‘n mens?

TUIN

Plant saam saadjies of werk in die tuin / groentetuin. gesels oor hoe die Heilige Gees ons help om te groei. hoe is ons soos saad? Hoe gee Hy vir ons kos en water? Hoe snoei hy ons? Watter vrugte dra ons as die Gees deur ons werk?

ALARM

Stel almal ‘n wekker of horlosie of selfoon vir die tyd wanneer julle wil gesels. wanneer die alarms / wekkers afgaan gesels oor hoe die Heilige Gees ons herinner. Hy help ons onthou. Hy herinner ons aan Jesus se beloftes.

WATER

gaan stap langs water (‘n dam, swembad of waterpoel). gesels oor hoe belangrik water is vir die mens. wat beteken dit dat die Heilige Gees soos ‘n fontein in ons binneste is? wat beteken dit dat die Heilige Gees ons dors wil les en ons wil vul met lewende water?

Vir meer inligting, Bybelstudies of idees oor die Heilige Gees, besoek www.onsglo.co.za of laai die onsglo app af in die google playstore of in die appstore.

 

Huisgeloof doopviering

Huisgeloof – idees om die doop te vier in gesinne

  • Vind uit wanneer elkeen in die gesin se doopdatum is. Stoor dit op julle fone se kalenders en vier elke jaar op daardie dae ‘n “doop-verjaarsdag” saam met daardie gesinslid om hulle te herinner dat hulle God se kind is.
  • Vertel vir jou kinders van hul doopdag – kyk na fotos, vertel stories, lees weer saam die teksgedeelte. Vertel wat dit vir jou beteken het as ouer om jou kind te laat doop.
  • Vul ‘n bakkie met water en sit dit op julle etenstafel. Voor julle saam eet, gebruik ‘n oomblik om jul doop te vier. Julle kan byvoorbeeld elkeen ‘n vinger in die water doop en dan hardop bid: “Dankie Jesus dat ek gedoop is. Dankie dat U vir my lief is en altyd by my is.”

Vir ‘n Bybelstudie oor die tema “doop” besoek http://www.onsglo.co.za/2017/02/06/doop/

Die “onsglo” toep is ook gratis beskikbaar om af te laai vanaf die google playstore en die appstore.

Huisgeloof nagmaal gesprek

Idees om oor nagmaal saam te gesels in gesinne

  • Lees en bespreek die verhaal van die eerste nagmaal in Matteus 26: 26-30
  • Hoe sal jy die Nagmaal verduidelik aan iemand wat dit vir die eerste keer gaan gebruik?
  • Maak ‘n plakkaat met ten minste 5 verskillende woorde wat Nagmaal beskryf.
  • Vind uit wanneer julle volgende Nagmaal-Sondag by die gemeente is. Hoe kan jul as gesin daar dien? Bv. help met die brood sny, die tekens uitdeel, opwas na die tyd ens.
  • Bak brood saam as familie. Terwyl julle die brood bak gesels oor julle eerste Nagmaal ervaring of wat die Nagmaal beteken.

Om meer te lees oor nagmaal of ‘n Bybelstudie oor die tema saam te doen, besoek: http://www.onsglo.co.za/2017/02/06/nagmaal/

Die “onsglo” toep is ook gratis beskikbaar om af te laai vanaf die google playstore en die appstore.

Huisgeloof gesprek oor belydenis van geloof

Gesels as gesin oor Belydenis van Geloof

  • Teken ‘n tydlyn van die hoofstukke van jou lewe. Vul die hoogtepunte en laagtepunte in. Watter spesiale oomblikke wat jy wil onthou en vier? Hoekom was hierdie oomblikke spesiaal in jou lewe? Hoe was God teenwoordig in al die verskillende hoofstukke?
  • Maak ‘n lys van ‘n paar oomblikke in jul as gesin (of elkeen apart) se lewe waar jy ‘n spesiale ervaring van God gehad het.
  • Ouers kan deel wat dit vir hulle beteken dat hulle belydenis van geloof afgelê het. Watter betekenis hou dit vir hulle vandag in?
  • Vra iemand in jou familie of iemand wat jul ken wat reeds belydenis van geloof afgelê het, om te vertel van hul ervaring en wat dit vir hulle beteken het. 
  • Gesels oor hoe Belydenisaflegging ‘n “antwoord op jou doop” is.

 

Vir ‘n Bybelstudie oor die tema “belydenis van geloof” besoek www.onsglo.co.za/2017/02/06/belydenis-van-geloof/

Die “onsglo” toep is ook gratis beskikbaar om af te laai vanaf die google playstore en die appstore.

 

Saamwees vir Paasfees Paaspakkie

Maak jou eie Paaspakkie vir jou gesin of gemeente vir die Paasvakansie deur als bymekaar te kry op die lys hieronder. Daar is 17 saam lees, dink en doen Huisgeloofgeleenthede wat jonk en oud kan doen om saam te dink oor Lydenstyd en Paasfees.

Lys van benodighede:

  • Boksies of sakkies om al die kaartjies en voorwerpe van die pakkie in te sit.
  • 1 Uitgedrukte kopie van die “Paaspakkie –template” per pakkie. Verkieslik uitgedruk in kleur en op karton.
    Onthou om jou drukker double sided, flip on short edge te stel voor jy hierdie stukke uitdruk, sodat die regte beskrywing by die regte prentjie is.
    Elke bladsy bevat 4 poskaart grootte kaartjies. Sy elke bladsy dus in kwart om al die kaartjies te kry. Daar is 17 kaartjies, 1 resep, 1 voorblad en 1 lees meer kaartjie.
  • Hier volg ‘n lys van die 17 kaartjies plus wat saam met elke kaartjie gegee kan word. Sit elke kaartjie saam met die bypassende voorwerp in ‘n sakkie om alles netjies en bymekaar te hou.
    1. Lydenstyd: 1 Swartsak
    2. Geheuespeletjie: Dobbelsteen
    3. Feesmaal: 6 Plekmatjies (die dokument “Plekmatjies” kan hiervoor gebruik word)
    4. Lof: ‘n Plakker met die woord “dankbaar” op en stukkies gekleurde karton om op te kan skryf
    5. Onderstebo: 2 Teesakkies
    6. Gereed: 2 Tea lights
    7. Dankie’s: Klippie
    8. Vrae speletjie: Slegs die kaartjie
    9. Belofte: 6 Hakspelde, krale/lint om dit mee te versier
    10. Diensbaar: “Geroep om te dien” plakaat(die dokument “Diensbaar” kan hiervoor gebruik word)
    11. Onthou: ‘n Pakkie gis en die resep op bladsy 9 van die “Paaspakie template” dokument.
    12. Bid: Boksie smarties
    13. Getuig: Bordkryt
    14. Kruisiging: Rooi tou en ‘n spyker
    15. Oomblikke: Slegs die kaartjie
    16. Hoop: Saadjies en ‘n klein potjie
    17. Uitstuur: Goue sterretjies en ‘n inkleur wêreld kaart (die dokument “Wêreldkaart” kan hiervoor gebruik word)
    18. Die Voorblad op bladsy 9 van die “Paaspakie template” dokument kan bo-op die paaspakkie boks/sakkie gesit word.
    19. Delf Dieper opsie: Op bladsy 9 van die “Paaspakie template” dokument is daar ‘n kaartjie getiteld “Delf dieper”. Op die kaartjie word daar verduidelik van die webtuiste/toep “Ons Glo” waar individue/gesinne dieper kan gaan delf oor party van die onderwerpe wat in die Paaspakkie is. Sit gerus die kaartjie onder in die boks.

Vir ‘n hierdie instruksies in PDF formaat “click” hier: Maak jou eie Paaspakkie instruksies

Vir die Paaspakkie templaat “click” hier: Paaspakkie -template (A4)

Vir die Plekmatjies “click” hier: Plekmatjies (A3)

Vir diensbaar plakaat “click” hier: Diensbaar (A3)

Vir die Wêreldkaart “click” hier: Wêreldkaart (A3)

Ons huis se reis na Kersfees

img_2313Wellington Moedergemeente het ‘n “kosblik” gepak vir huisgesinne wat saam wil dink oor die dieper betekenis van Kersfees.  Die kosblikke is genoem “ons huis se reis na kersfees”. Elke kosblik bevat 4 lekker saamgesels kaarte, 4 simbole en aktiwiteit idees vir gesinne (oud en jonk) om saam te doen tydens advent of gedurende die vakansie. Enige een is welkom om die uitdeelstuk en idees te gebruik. Die kosblikke en items kos ongeveer R10 elk as ‘n gemeente dit sou wou saamstel vir families.
Die kaartjies moet uitgedruk word en een van elk in die kosblik gepak word. Voorop kan “ons huis se reis na Kersfees” kaartjie geplak word wat op kleurkarton uitgedruk word. Dit sluit die 4 saamgesels Bybelstudies en vrae in.  Die volgende simbole word ook dan in die kosblik ingepak: ‘n klippie as simbool van die familie se saamwees, ‘n pakkie saad vir week 1 (simbool vir hoop) en ‘n ballon vir week 2 (simbool vir vreugde). Daar is reeds aktiwiteit vir week 3 (vrede) en week 4 (liefde) ingesluit in die kaartjies.

Laai die kaartjies hieronder af in PDF formaat:

kersfees_kosblik1

kersfees_kosblik-binne-ilovepdf-compressed