LEIER TOERUSTING

Idees en hulpbronne vir leier toerusting

Hoe kan jy ruimtes skep waar kinders dieper konneksie met volwassenes kan maak?

1.    Een tot een verhoudings

Moedig kategete aan om een tot een tyd buite die formele kategese tyd te spandeer.

2.   ‘Events’

Die gemeente gebruik geleenthede soos kampe of uitreike om verhoudings tussen kinders/tieners en ander volwassenes (kampleiers) te bou.  Gebruik volwassenes bv. in die kosspan of gebedspan en bou intensioneel geleenthede vir konneksie in die kamp in.

Of reël projekte waar verskillende belangegroepe dinge saam aanpak.

3.   Kleingroepe

Selgroepe/kleingroepe wat uit verskillende gesinne bestaan waar kinders/tieners deel is van die geloofsgesprekke.

4.   Verhoudingsbou oor ’n afstand

Help volwassenes om via sosiale media kontak te behou en kommunikasie te bevorder

5.   Geestelike leiers

Die gemeente het predikante en jeugwerks of ondersteun die skool se geestelike leiers om deurlopende verhoudings te bou

6.   Mentors

Gereelde gesprekke met ’n mentor oor geloofservarings en geloof

7.   Ander

Kan jy dink aan nog ruimtes wat ons kan skep?  Wat werk by julle?  Deel dit asb. met ons!

3 Goed waarmee tiener kleingroepleiers sukkel

Die meeste tienerbedienings maak staat op vrywilligers as groepleiers vir hul kleingroepe. Hierdie vrywilligers is ook gewoonlik ywerige mense wat kom aanmeld omdat hulle op ’n manier oortuig is deur die Here dat hulle die gemeente op hierdie manier moet dien. Dit is selde mense met opleiding of fasiliteringsvaardighede of meer ervaring as hul eie “Sondagskool” of CSV.

Die meeste kategese materiaal is ook afhanklik van gesprek en interaktiewe aktiwiteite wat deel vorm van groter gefasiliteerde proses. Wanneer jeugwerkers of predikante dan verby ’n groep stap, is dit gewoonlik die kleingroepleier wat met die kinders gesels… en ’n paar minute later steeds die kleingroepleier wat gesels… en paar minute later het die graad 9 seuns of aan die slaap geraak of mekaar met papierballetjies gegooi.

Die rede hiervoor is dat kleingroepleiers sukkel met ’n paar goed.

1.  Proses

Kleingroepleiers is nie altyd bewus van die groter proses van geloofsvorming nie. In die verlede was die klem sterk groot op kennis oordrag en die doelwit was om Bybelkennis onder die knie te kry (onthou jy Sondagskool eksamens?) Vandag volg ons groter prosesse wat soms eenmalig verduidelik word en daarna geïmpliseer word. Dis belangrik om kleingroepleiers gereeld te herinner aan die groter proses en hoekom dit interaktief en gespreksgedrewe bly.

Wat doen jy daaraan?

Kommunikeer by alle opleiding geleenthede die proses. Hoekom doen julle gemeente wat julle doen op die manier wat julle dit doen? Moet nooit aannames maak dat die kleingroepleiers dit sal onthou en implementeer nie.

2.  Leerstyle en persoonlikheid

Kleingroepleiers funksioneer gewoonlik uit hul eie leerstyle en persoonlikheidstipe en sukkel soms om te onthou dat daar soveel kombinasies van leerstyle en persoonlikheid is as wat daar jongmense in jou groep is. Tradisionele kennis oordrag was baie gestruktureerd en logies, wat daarom mense wat gestruktureerd en logies dink en funksioneer trek – daarom is dit baie kere maklik vir so persoon om net logies en gestruktureerd die inhoud oor te dra. Verskillende leerstyle en persoonlikheidstipes vereis verskillende benaderings om leer en geloofsvorming optimaal te funksioneer.

Wat doen jy daaraan?

Gebruik een volle opleidingsessie om ’n persoonlikheidstoets met die kleingroepleiers te doen en rollespel oor hoe verskillende persoonlikheidstipe en leerstyle in groepe funksioneer. Dis gewoonlik ook ’n goeie spanbou geleentheid. ’n Webtuiste soos https://www.16personalities.com/ het ’n eenvoudige, gratis toets met eenvoudige, duidelike verduidelikings. (Gebruik professionele en kundige mense in jou gemeente hiervoor as jy kan.)

3.  Stilte

Ons is oor die algemeen ongemaklik met enige stilte, selfs vir mense wat stilte verkies. In ’n groep opset veroorsaak stilte, veral by meer ekstrovert persoonlikhede, baie ongemak. Wanneer jongmense onseker is, is hulle geneig om stil te bly en gewoonlik spring die kleingroepleier in met die antwoord. Wanneer dit herhaaldelik gebeur begin die jongmense net wag sodat die groepleier op die ou end die “regte” antwoord gee.

Wat doen jy daaraan?

Spandeer gereeld tyd aan gespreksvaardighede, veral die kuns van oop vraagstelling en konstruktiewe stilte. Hierdie is vaardighede wat gedemonstreer en ingeoefen moet word.

Omdat vrywilligers gewoonlik beperkte ervaring het, is dit nodig om meer as een maal per jaar ’n opleiding sessie te hou. Voorbeeld en oefening help vrywilligers om die vaardighede te ontwikkel en te internaliseer, sodat hulle deelnemers word aan jongmense se geloofsvorming en nie bloot kennis-oordrag doen nie.

Christi Thirion (NG Kenridge)

5 Maniere om leiers NIE te werf nie

  1. Moenie mense smeek nie, deel met hulle die bediening se visie.
  2. Moenie mense vra om jóú te help nie, bemagtig hulle.
  3. Moenie voorgee dat die werk min is nie, wees deursigtig oor die verantwoordelikheid wat bediening inhou.
  4. Moenie mense werk gee sonder ondersteuning nie, help hulle om spanne op te rig.
  5. Moenie net aanvaar mense gaan aan vir nog ’n jaar nie, bewys dankbaarheid en bevestig hulle insette.

Onsigbare magte in ’n kleingroep: Leerstyle

Wanneer ’n kleingroepleier met kinders werk in ’n kleingroep situasie is daar ’n paar onsigbare magte, buiten die Heilige Gees, aan die werk. Dit is, magte wat, sonder aandag, maklik bose magte kan word, maar met die regte aandag lewenskrag in jongmense se geloofsvorming kan wees. Hierdie magte is leerstyle.

Elke mens het ’n voorkeur vir ’n kombinasie van leerstyle. Dit is die manier waarop die mens die maklikste inligting, kennis en vaardighede aanleer en vaslê. Daar is baie variasies op die tema waarvan Peter Honey[1] se beskrywings soos volg is:

Activists” is hoofsaaklik doeners. Hulle leer deur

  • Nuwe leer-ervarings, aktiwiteite en geleenthede
  • Kort hier-en-nou aktiwiteite soos speletjies, kompeterende take en rolspel
  • Aktiwiteite waar hulle aandag kry en in die kollig kan wees.
  • As hulle in die diepkant ingegooi word met ’n uitdagende aktiwiteit

Jongmense met hierdie leerstyl floreer wanneer daar gereeld iets nuut gebeur en hulle is oop vir nuwe ervarings. Hulle sukkel egter met die volgende:

  • Hulle is geneig om nie sommer oor meer as logiese voor die hand liggende oplossings of antwoorde te dink nie.
  • Hulle het die geneigdheid om te veel self te probeer doen
  • Hulle pak take gejaagd aan sonder om mooi te beplan
  • Raak maklik verveeld.

Reflectors” reflekteer graag oor inligting. Hulle leer die maklikste wanneer hulle

  • Iets moet ondersoek of oordink
  • kans kry om oor ’n saak te dink voordat hulle moet reageer
  • kans kry om te reflekteer oor wat hulle gesien of geleer het.
  • Tyd het om tot ’n gevolgtrekking te kom
  • Kan terugstaan om te observeer
  • Inligting kan versamel en integreer om tot ’n nuwe gevolgtrekking te kom.

Jongmense wat op hierdie manier leer vat gewoonlik bietjie langer omdat hulle op ’n metodiese manier inligting versamel en organiseer, voordat hulle gevolgtrekkings maak. Die uitdaging met jongmense met hierdie leerstyl is dat:

  • Dit lyk of hulle nie belangstel nie en passief is
  • Hulle kan lank vat om besluite te neem en tot ’n gevolgtrekking te kom
  • Hulle nie sommer deelneem aan groepgesprekke nie.

“Theorists” wil gevolgtrekkinge en uitkomste bepaal. Hulle leer die lekkerste wanneer:

  • inligting metodies kan oordink en gevolgtrekkings en verbande met sake kan trek.
  • In gestruktureerde omgewings met ’n duidelike uitkoms.
  • Wanneer hulle die kans kry om basiese metodes en motiverings agter sake kan bevraagteken en ondersoek.
  • Hulle intellektueel uitgedaag kan word.
  • Waar rasionele en objektiewe denke verwelkom word.
  • Hulle teenstrydighede kan saamgooi in ’n verstaanbare geheel

Jongmense wat op hierdie manier leer funksioneer goed in ’n omgewing waar ’n model of metode hulle kan help om ’n spesifieke uitkoms te bereik. Hulle is oor die algemeen baie gedissiplineerd, maar hulle sukkel wanneer:

  • Hulle buite die boks moet dink nie
  • Die uitkoms of proses onseker of deurmekaar is
  • Subjektiewe menings en perspektiewe – waar daar nie ’n definitiewe duidelike antwoord is nie
  • Vol moets en moenies

“Pragmatists” werk prakties volgens planne en tegnieke en hulle leer die maklikste  in omstandighede waar

  • Daar ’n duidelike verband tussen die inligting en ’n probleem of kwessie is.
  • Hulle tegnieke kan aanleer wat ’n duidelike toepassing vir hul leefwêreld het.
  • Hulle nuwe metodes en tegnieke kan inoefen met positiewe terugvoer.
  • Hulle kan fokus op praktiese aspekte
  • Teorie en informasie in praktiese situasies toegepas word
  • Hulle kan eksperimenteer met verskillende benaderinge

Hierdie jongmense is op die man af en duidelik en wil by die punt uitkom sodat hulle kan weet wat om te doen. Dit raak dus vir hulle moeilik om te leer wanneer:

  • Daar nie ’n duidelike praktiese toepassing is nie
  • Baie klem op teorie en basiese beginsels is
  • Hulle reeds ’n oplossing het

Wanneer ’n jongmens in ’n kleingroep situasie nie met een van sy dominante leerstyle gestimuleer word nie, raak hulle gewoonlik of heeltemal passief en onttrek of hulle raak ontwrigtend. Omdat ons nie altyd bewus is van jongmense se leerstyle nie interpreteer ons die gedrag slegs as ’n dissipline probleem.

Kleingroepleiers is geneig om self die kleingroep in te rig volgens hulle eie dominante leerstyl. Die ding wat dan ingedagte gehou moet word wanneer jongmense ontwrigtend is of nie deelneem nie, is of die jongmense dalk verveeld is omdat hulle nie in hul leerstyl akkommodeer word nie.

[1] How To Become A More Effective Learner

Werwing van Vrywilligers

Mark de Vries skryf in sy boek, Sustainable Youth Ministry[i], dat die werwing van vrywilligers een van die goed is wat leiers van enige bediening die meeste op ’n lukrake manier hanteer. Die meeste van ons plaas heel aan die begin of einde van die jaar ’n “vakature” advertensie in die gemeente se bulletin. Ons hoop om al die vakatures vir vrywilligers te vul, maar gewoonlik kry ons een of twee (soms meer, soms minder) aanmeldings op hierdie manier. Die volgende stap in die proses is gewoonlik om een of twee keer “voor in die kerk” te gaan staan en vertel hoe lekker die bediening is en dat ons mense nodig het, hoewel ek reken dat meeste mense argumenteer – as dit so lekker is, hoekom het julle mense nodig? Ek het al die desperate tegniek ook gehoor, dat op die dag van kategese indelings, die dominee voor die ouderdomsgroep en hulle ouers gaan staan en sê, “Daar is niemand wat vir Sondagskool vir julle kinders kan help nie. Julle kinders kan maar huis toe gaan.” Dan, met wrewel en/of geweldige skuldgevoel steek ’n ouer of wat hul hand op sodat hul bloedjies darem net iemand het.

De Vries skryf dat die effektiefste manier om vrywilligers vir jeugbediening te werf (asook verskeie ander bedieninge) is om individue te nader. In die geval van jeugbediening is dit, om lank voor die einde van die jaar of die bestaande groepleiers of betrokke ouers, eerstens te pols oor hul eie beskikbaarheid. Dis gewoonlik mense wat vanuit ’n roepingsbesef en/of verantwoordelikheidsbesef by die bediening betrokke is. Hulle het dus reeds op ’n manier by die bediening ingekoop. Om vroegtydig met hulle ’n doelbewuste gesprek te hê, kommunikeer in die eerste plek dat hulle werk en bydrae belangrik is en dat hulle “raakgesien” word.

Wanneer hierdie mense nie kan of wil aangaan nie, is dit belangrik om uit te vind hoekom nie. Soms is dit omdat hulle kapasiteit, kennis en vaardighede vir die bediening nie voldoende is nie. Dit beteken dat die leier van die bediening meer aandag aan versorging, mentorskap en opleiding moet gee. Wanneer een vrywilliger so voel, is daar gewoonlik ’n paar ander wat ook so voel. Wanneer die bedieningsleier hieraan aandag gee, sal so vrywilliger dalk waarskynlik kans sien om voort te gaan. Dit gebeur egter dat vrywilligers se werk of persoonlike omstandighede verander wat die eis vir hulle te hoog maak.

Wanneer ’n vrywilliger uittree of ’n ouer nie kans sien om meer gereeld betrokke te raak nie, vra vir ’n naam en kontaknommer van iemand anders wat hulle ken. Vra sommer ook die vrywilliger/ ouer om solank vooraf die kontak te waarsku, voordat jy nog kan bel.

De Vries gee ook die baie praktiese raad dat jy vir werwing-oproepe ’n “calling script” opstel. Dis ’n paar notas wat jy voor jou hou wat jou sal help om so duidelik as moontlik te kommunikeer en die persoon duidelik te laat verstaan wat dit is wat jy wil verwag. Volg die oproep op met ’n e-pos (nie ’n e-pos eerste nie!) en selfs ’n koffie afspraak.

Dit impliseer dat jy ’n duidelike taak omskrywing vir die vrywilliger ook moet kan gee. Dis letterlik ’n lysie van verwagtinge om die eis van die werk duidelik te maak. Dis so eenvoudig soos ’n “bullet point” lysie. My standaard taak omskrywing is soos volg:

Ons het (spesifiseer totale getal vrywilligers) mense nodig wat as dissipels van Jesus doelbewuste dinge weekliks saam met ‘n spesifieke groepie kinders sal doen. Ons verwag die volgende van ‘n fasiliteerder:

  • Om ’n lidmaat van X Gemeente te wees, die visie na te streef en aan die eredienste van die gemeente deel te neem
  • Om weekliks die gemeente se eredienste by te woon
  • Om die kinders te help om gefokus saam te gesels rondom die tema van die week
  • Om die name van die kinders in jou groepie te leer ken
  • Om ongeveer 30 minute per week af te staan om die kinders in jou groepie buite die kleingroepie beter te leer ken (bv. skool geleenthede by te woon, te bel of WhatsApp/SMS, gelukwensing met verjaardag, ens.)
  • Om bewus te wees van belangrike gebeure in die lewens van die kinders in jou groepie
  • Om een maal per kwartaal saam met die ander fasiliteerders te vergader ter wille van bemoediging, evaluering van die program, opleiding en gesamentlike gebed
  • Om saam te dink oor maniere om tot diens te wees van die kinders wat nie sterk verbind is aan die gemeente nie.

Die lysie kan ’n paar ander goed hê wat kontekstueel tot jou gemeente is, bv. indien julle gereeld kamp of uitreik of diensprojekte in die gemeente het, sodat die vrywilliger duidelik sal weet wat verwag word. Die kort en die lank is dat ’n vrywilliger so duidelik as moontlik prentjie moet hê van wat die bediening behels.

Moenie die advertensie in die bulletin vergeet nie, maar persoonlike kontak en doelbewuste, gefokusde werwing gaan die bediening in die langtermyn baat, wat energie en standhoudendheid betref.

 

[i] DeVries, M. (2008) Sustainable Youth Ministry. Why Most Youth Ministry Doesn’t Last and What Your Church Can Do About It. IVP.

Verskillende Spiritualiteite en Kreatiwiteit

Hier is ‘n aanbieding oor die 4 verskillende spiritualiteit tipes en hoe om plek te maak vir alle mense in die gemeente. Hierdie kan gebruik word om na te dink oor hoe om deur middel van kreatiwiteit ruimte te skep vir geloofsvorming.

Anriëtte de Ridder se aanbieding oor kreatiwiteit en verskillende spiritualiteite kan hier afgelaai word: https://drive.google.com/file/d/0B22hOnsP5kdKcVpuOEhvLTB6TTQ/view?usp=sharing

VBO kursusse vir die 3de Kwartaal

Ons wys jou graag op ʼn paar kursusse wat in die volgende weke plaasvind:

ʼn Eendag-konferensie spesiaal vir vroue in die bediening (waarmee jy VBO-punte kan verdien),

2 VBO-kursusse – een oor Menswaardigheid en vriendskappe oor grense; en ʼn ander oor die bediening van verskillendende generasies in EEN ruimte;

asook 2 retraites … :

10 Aug 2017 vanaf 09h00 Vroue in die Bediening eendag-konferensie Alle vroulike jeugwerkers, proponente, dosente en predikante van die NG Wes-Kaapland sinode en VGK Kaapland sinode:

Kom geniet ‘n dag van netwerk en toerusting ter viering van Reformasie 500.

Waar?  Hofmeyrsaal, Stellenbosch Moeder

Koste?  R150

Sluitingsdatum: 7 Augustus 2017

Kontakpersoon:  Ankia du Plooy byngkvroue@sun.ac.za

 

 

 

VBO-punte word aangevra

23 – 24 Aug Loop Saam Hierdie kursus is spesifiek ontwikkel vir die reis op pad na heling tussen die vier kerke as deel van die Seisoen van Menswaardigheid se strategie om die herstel van menswaardigheid in Suider-Afrika te bevorder. Die doel van die kursus is om mekaar te help in die ontwikkeling van volhoubare vriendskappe oor grense.

Skryf in voor 16 Aug.

Aanbieders: Colin Goeiman en Hannes Theron

 

 

 

VBO-punte: 20

6-7 Sep Intergenerasionele jeugbediening Daar is ruimtes in ons gemeentes wat aan volwassenes behoort (“adult centred spaces”) en dan is daar ruimtes waar daar op kinders gefokus word (“child centred spaces”).  ʼn Intergenerasionele bediening skep ruimtes waar generasies SAAM bedien kan word, almal verwelkom word, almal die ruimte beïnvloed en almal mekaar kan beïnvloed…

Aangebied deur Anriëtte de Ridder e.a.

Skryf in voor 30 Aug.

 

 

 

VBO-punte: 20

Dan is daar ook 2 retraites wat deur die Sentrum vir Geloofsvorming plaasvind, wat ons namens hulle onder jou aandag bring.

Jy kan Annie Roux  kontak – tel 078 668 0815/ info@geloofsvorming.co.za  vir meer inligting of om in te skryf. (Jy kan wel ook hiervoor VBO-punte verdien.)

21-24 Aug Geloofsreis 3 : Die Innerlike Reis Selfkennis is van kardinale belang vir Geloofsvorming…
18-21 Sep Geloofsreis: Verdere Reis 2 Hierdie retraite se titel is In die oomblik en word aangebied deur Willem Nicol. In die oomblik is ook die titel van Willem se nuutste boek…

Kategete toerusting: verskillende “tipes” kinders

Junior of senior kategese leiers

Tema: Geroep om elke “tipe” kind / tiener te bedien

Tydsduur: 45min – 90min

Gebruik die artikel van Stephen Altrogge as vertrekpunt of die videogreep (skakels onderaan). Beide die artikel en die videogreep poog om verskillende “tipes” kinders te beskryf wat hul jeuggroep bywoon. Hierdie kan ‘n lekker pret aktiwiteit wees om te doen met ‘n kategete toerusting. Wees net versigtig dat kinders / tieners nie negatief geëtiketteer word nie, maar dat die fokus van die oefening is om die kinders / jongmense wat kategese bywoon beter te verstaan. Dit sal juis sinvol wees om na só ‘n oefening, weer ‘n rondte saam te dink oor hoe ‘n mens elkeen van hierdie “tipe” jongmense bedien.

Rig die toerusting as volg in:

Deel die artikel uit of som dit op (noem dalk net ‘n paar “tipes”, sodat die kategete self ook kan uitdink). Hou dit lig en humoristies. Gebruik die laaste paar vrae om meer ernstig saam te dink oor die hantering van verskillende persoonlikhede binne die kategese groep. Onthou om die kategete te herinner dat die oefening oor “tipes” juis ons wil herinner

Laat die kategete dan in groepe werk met die volgende vrae:

  • Beskryf die tipes kinders / tieners in ‘n tipiese kategese groep
  • Gee vir elke “tipe” ‘n naam. “Tipes” kan ook geteken word met kryte op blaaibordvelle!
  • Gee terugvoer aan die groter groep.

Dink nou weer saam in kleine groepe (jy kan as fasiliteerder ook telkens ‘n inset gee of terugvoer kry)

  • Wat is die beste manier om met elke “tipe” verhouding te bou?
  • Wat sou elke “tipe” se manier wees wat sy/haar geloof gevorm word?
  • Wat sou die uitdagings wees om met elke “tipe” te werk?
  • Wat sou die bydrae wees wat elke “tipe” lewer of kon lewer tot die groep?

 

Skep ‘n tyd vir selfondersoek

  • Hoe hanteer ek as kategeet verskillende kinders?
  • Het ek voorkeur “tipes”?
  • Is daar kinders wie se uniekheid en persoonlikheid ek beter moet leer waardeer en hanteer?

Lees Psalm 139: 1-18, 23-24

Sluit af met gebed

  • Vra God om jul liefde vir ELKE tipe kind / tiener te gee.
  • Dank Hom dat Hy elke mens uniek gemaak het.
  • Vra Hom om jou as kategeet te gebruik in elkeen se lewe.

 

Artikel om te gebruik:

The 14 Kids You Find In Every Church Youth Group

http://foreverymom.com/faith/the-14-kids-you-find-in-every-church-youth-group-stephen-altrogge/

Videogreep: https://www.youtube.com/watch?v=_fIoNYbHnAw

 

deur ds Anriëtte de Ridder

Doopgesprek

Wil jy met ouers gesels oor die doop? Of met ‘n Belydenisklas? Wil jy dalk ‘n doopherinnering doen?

Ds Tinus van Zyl verduidelik die 5 basiese betekenisse van die doop in die volgende artikel:  http://www.onsglo.co.za/2017/02/06/doop/

Indien jy ‘n preek wil doen hieroor, of ‘n gesprek wil fasiliteer, volg ook dieselfde skakel vir ‘n teks, gespreksvrae, praktiese aktiwiteit en ‘n gebedswenk.

Hoe lyk geloofsvorming in jul jeugbediening?

toerusting

Gebruik die volgende gespreksvrae en 100 vraag vraelys om na te dink oor waar jul gemeente staan ten opsigte van die 4 dele van geloofsvorming in jul jeugbediening: Moderamen voorstelle geloofsvorming voorstelle
Laai die geloofsvorming boekie hier af: geloofsvorming boekie
Laai die “powerpoint” hier af: geloofsvorming aanbieding

Gerat om jong mense te begelei: Issues

groeipyne-1

OPENING (5 minute):

Gebed  en verwelkoming

Inligting

Die manier hoe Jesus sy dissipels gelei het was om hulle te leer en te lei om ’n nuwe lewenstyl te kweek. Geloof is nie net ’n kopoefening nie, dit is ’n nuwe leefstyl.

Vandag se tieners sit met ’n groot verskeideneid issues wat hulle lewenstyl verstrengel. Daarom moet hierdie issues ook aangespreek word.

Issue:  “an important topic or problem for debate of discussion: personal problems or difficulties.”

Hierdie afdeling wil u as kategeet toerus met inligting sodat u voorbereid sal wees op wat van die hedendaagse issues kan wees in n tiender se lewe en hoe om ’n issue te hanteer.

ONTKNOPING (5 minute):

Laat almal in groepe verdeel (5-10 in ‘n groep) en die volgende vraag bespreek:

Is daar iemand wat al gekonfronteer was met ’n situasie waarin ’n tiener issue gehad het wat hulle onkant gevang het?

Kry terugvoer in die groep en in die grootgroep.

LERING (30 minute):

Video

Kyk die vierde videosnit oor issues.

Hier is ‘n opsomming van die video:

  • Die lewe is soos ‘n legkaart waar elke deel inmekaar en aanmekaar gevelg is, die een staan nie los van die ander nie.
  • As daar ‘n onewewig aan die een onstaan, raak dit al die res en dit is waarom issues mense so kan verlam en maak dat jy voel of jy nie met die lewe kan aangaan tot daardie issue uitgeklaar is nie.
  • Jy as kategeet het ‘n bepaalde kurrikulum om deur te gaan in ‘n jaar met ‘n aantal lesse en sessie wat jy wil afhandel. Dis moontlik om dit als reg te kry en heeltemal die kinders/tieners in jou groep se lewens te mis.
  • Daarom kan jy nie met jou materiaal werk, los van julle issues nie.
  • Daar is hierdie ewige spanning van wat is die tieners se lewens en krisisse en hoe kan ek hierdie inhoud daaraan koppel.
  • Jou rol as kategeet is nie net om deur die materiaal te werk nie, maar om ‘n mentor vir die tiener(s) deur hulle issues te wees soos wat Paulus vir Timoteus was.

Gesprekspunte:

Laat almal in groepe oor die volgende praat en kry terugvoer in die grootgroep.

  1. Watter probleme of issues het die jongmense van vandag?
  2. Hoe sou jy wou hê kan die kerk se mense jou help met jou issues?
  3. Hoe belangrik is vertroulikheid?
  4. Oor watter tipe probleme kan ek nie stilbly nie? Hoe hanteer ek dit?
  5. Hoe het iemand jou al gehelp met jou issues? Vertel jou storie.

AFSLUITING (2 minute):

Gebed

Ons Dierbare Vader,

Daar is ’n groep jongmense wat elke Sondag voor ons sit. Elkeen met hulle eie issues. Here mag hulle weet dat hulle hierdie issues wat hulle lewenswyse verstrengel, nie alleen hoef te hanteer. Mag U die vertrouensband tussen ons en hierdie jongmense seën. Gee hulle die vrymoedigheid om hierdie issues met iemand te kom deel.

Dan wil ons vra Here, seën ons met die krag om elke kind en haar issue met die nodige wysheid en diskresie te hanteer. Sodat ons hulle kan help of kan lei na iemand wat wel kan help. Dankie Here dat ons kan weet U het hierdie kinders vir ons gestuur om meer te werk en dat ons kan vertrou dat die Gees saam met ons in hierdie kinders se geloofsopvoeding werk.

Amen

EKSTRA INLIGTING:

Audio clips

Temas wat op die CD verskyn is:

  1. Aanspreeklikheid
  2. Afstand
  3. Ander se probleme
  4. Jou storie is te hard
  5. Moenie bang wees vir hulp nie
  6. Moenie oordeel nie
  7. Moenie probleme soek nie

Geneem uit: Gerat om jongmense te begelei – Toerusting vir kategete en jeugleiers (Jeugfokus 2012)

 

Bestel die volledige reeks by Bybelmedia 0860 26 33 42, bestel@bmedia.co.za of http://eshop.bybelmedia.org.za/product/gerat-om-jongmense-te-begelei/

Gerat om jongmense te begelei: Groeipyne

groeipyne

OPENING (5 minute):

Gebed  en verwelkoming.

Inligting

Die jeug is NOU al reeds deel van die kerk. Hulle is juis ‘n belangrike deel van die kerk, want hulle het die potensiaal om die kerk vorentoe te neem waar die vorige geslagte dit nooit kon neem nie.

As ‘n kategeet is jy in die bevoorregte posisie om n groot verskil in die jongmense in jou klas se geloofslewe te maak, maar om dit effektief te kan doen, moet ons verstaan met wie ons werk, want nie almal wat “jeug” is, is op dieselfde vlak nie.

Hierdie handleiding wil u as n kategeet help om te verstaan dat daar verskillende fases in die kind se lewe is, wat beteken daar is ook verskillende vlakke in hulle geloofslewe.

Daar is ook inligting om lesse en byeenkomste beter te benader, sodat dit werklik tot die kind deurdring.

ONTKNOPING (5 minute):

  • Laat almal in groepe verdeel (5-10 in ‘n groep) en die volgende vraag bespreek:
  • Verstaan jy werklik die kinders wat in jou klas is?
  • Kry terugvoer in die groep en in die grootgroep.

LERING (30 minute):

Video

Kyk die derde videoskyf oor Groeipyne.

Gesprekspunte na die video:

Laat almal in groepe oor die volgende praat en kry terugvoer in die grootgroep. Groepe kan ingedeel word volgens die ouderdomme van die kinders vir wie als gegee word. Groepe kan die verskillende fases dan bespreek.

  1. Hoe verskil ‘n graad 1 tot 3 kind van ‘n grad 4 tot 6 kind?
  2. Wat wil ‘n laerskool in die klas doen en wat wil hulle nie doen nie?
  3. Kan ‘n graad 2 seun abstrakte konsepte bespreek?
  4. Wat verander om en by die ouderdom van 13?
  5. Hoe ver is ‘n tiener se kognitiewe ontwikkeling?
  6. Is dit normaal vir ‘n tiener om te rebelleer en vrae te vra? Doen alle tieners dit?

AFLSUITING (2 minute):

Gebed

Here God Almagtig, U het ons as kategeet geroep om ’n rol te kom speel in jongmense se lewens. Here elke kind wat voor ons sit word gekonfronteer met verskillende goed in die lewe, en daarom Here wil ons vra dat U ons as kategeet sal toerus met die nodige wysheid, kalmte en geduld wanneer die jongmense begin vrae vra. Mag ons ’n oor he om te luister en as ons oor die kennis beskik, mag ons hulle so goed as moontlik antwoord. Here mag hulle U ook al hoe beter leer ken deur al hulle vrae.

Amen

EKSTRA INLIGTING:

Audio clips

Temas wat op die CD verskyn is:

  1. Balaans
  2. Jongmense se vriende
  3. Nie almal ontwikkel ewe vinnig nie
  4. Soektog na identiteit
  5. Stereotipering
  6. Uniek tog eenders
  7. Verhouding met ouers

ONTWIKKELINGSFASES

Hierdie is ‘n baie basiese kykie na die ontwikkelingsfases van kinders / jongmense in die kerk. Soveel meer kan nog gesê word op elkeen van die ontwikkelings-fases. Mag dit jou prikkel om verder te lees en te ontdek. Paulus het gesê: “Vir almal het ek alles geword om in elk geval sommige te red. – 1 Kor 9:22”[1]. Na die mate wat ons verstaan wie die jongmens is wat voor ons sit, sal ons in staat wees om ons metodes aan te pas en die inhoud van die geloof tuis te bring.

Baba’s ouderdom 0-2 jaar

  • ‘n Baba is uitgelewer aan sy emosies – basiese sekuriteit is belangrik.
  • Die wete dat sy primêre versorger sal kom wanneer hy huil / roep sal later die mees basiese boustene van geloof word.
  • In die kerk moet ma of pa die ene wees wat hom haar vashou en versorg.
  • Dis wonderlik as ‘n kerk ‘n ruimte kan skep waar doeke omgeruil kan word, en ouers iets van die diens kan beleef terwyl hulle hul ouerlike take verrig.

Kleuters ouderdom 2-6 jaar

  • Beweging en aksie is belangrik in hierdie fase: dis die tyd van groot – motoriese ontwikkeling: hulle wil swaai, skopfiets ry, op die gras speel.
  • Hulle kan al ‘n eenvoudige Bybelles inneem, maar kan slegs in kort grepe konsentreer: rofweg 1 minuut vir elke jaar oud. Voorwerpe en sigbare lesse maak die inneem-proses soveel makliker.
  • Die hele kind se ontwikkeling is belangrik: intellektueel, sosiaal, emosioneel, geestelike, fisies. Om te leer ‘n beker vashou, is so belangrik soos ‘n loflied.
  • Klein groepies werk beter op hierdie ouderdom vir beter sorg.
  • Meestal kan hulle nie op hierdie ouderdom met maatjies speel nie, maar langs maatjies speel. Kerk is ‘n goeie plek waar hy kan leer om te sosialiseer.
  • Kleuters is basies selfsugtig, kan nog nie weg van homself dink nie. Sy onmiddellike behoeftes moet nou bevredig word.

Kinders ouderdom 6-9 jaar

  • Op hierdie ouderdom is stories baie belangrik: die stories gee die rou data vir ons verstaan van God – Wie is God? Hoe magtig is God? Waarvan hou God? Wat maak Hom kwaad? Hoe moet God se mense optree?
  • Hulle is baie lyflik: as kind se voete nie grond raak nie kan hy nie stil sit nie. Die help as ‘n kerk ‘n speelplek het waar hierdie behoefte uitgeleef kan word.
  • Hulle kan slegs konkrete begrippe verstaan: om te glo is ‘n reeks aksies word ons uitvoer: ons gehoorsaam ons ouers, ons lees en bid elke aand, ens.
  • Vermy simboliese taal, bv. om Jesus in jou hart in te nooi.
  • Hierdie is die “age of believe” – hulle wil glo. Om te glo in wonderwerke, en die bo-natuurlike mag van God kom maklik.
  • Beelde en simbole kan deur middel van stories oorgedra word, soos die storie van jou doop, en die storie van nagmaal.

Die oorgangsjare van ouderdom 10-14 jaar

  • Hierdie is ‘n belangrike oorgangsfase, nl. puberteit, en vir party kom dit vroeër as ander.
  • Dit verander hul totale menswees:

=  intellektuele ontwikkeling – Hulle begin kritiese denke ontwikkel: hoekom sê my pa een ding, maar doen ‘n ander ding? Hulle Bybelvers-memorisering is optimaal in hierdie fase. Hulle vra vrae oor die oorsprong van God, die dinosourusse in Genesis, en “ as God so magtig is, hoekom ….” Hulle leef in ‘n tydperk van tegnologiese ontwikkeling waar hulle alle inligting kan bekom met ‘n paar knoppies – die kerk kan dit positief aanwend.

= fisiese ontwikkeling: Seuns se stemme raak dieper, baard begin groei, en meisies ontdek hul skoonheid. Party is onbeholpe en val oor hul eie voete. Hul seksualiteit ontwikkel en saam met dit kom vrae, ontdekking  en eksperimentalisme.

= Sosiale ontwikkeling: Hul maats raak baie belangrik: ander se opinie, om aanvaar te word, deel van ‘n vriendekring te wes, is alles van kardinale belang. Hulle toets verskeie identiteite: Wil ek ‘n jock wees, of ‘n geek, of ‘n rocker, of emo? Ouers word effe op die agtergrond geskuif, maar het nog steeds ‘n kragtige inspraak op hul ontwikkeling. Hulle begin “ander” mense in hul wêreld raaksien: armes en minderbevoorregtes. Dis ‘n goue tyd vir die kerk om hulle te leer hoe om diensbaar te wees.

= Emosionele ontwikkeling: Hulle is buierig. Hulle beleef sterk emosies en is soms uitgelewer hieraan. Help hulle om hulself uit te druk en die gevoelens in woorde oor te plaas. Dis belangrik dat die mense van die kerk onvoorwaardelike liefde toon: al kom hulle met watter emosies by die klas aan.

= Geestelike ontwikkeling: Hulle is in staat om die hele verlossingsleer te verstaan, te ken en te kommunikeer aan ander. Hulle is fyngevoelig vir skyn-heiligheid. Die stories en voorbeelde van ander geestelike volwassenes by die kerk, kan dien as belangrike rolmodelle. Hulle moet betrokke gemaak word by diens-aksies.

Jong volwassenes van ouderdom 15-18 jaar

  • Die media en ons Westerse kultuur wil hierdie ouderdom jongmens in die kategorie van “adolessent” indeel: nog vis, nog vlees: nie kind nie, nie volwasse nie en geen verantwoordelikheid nie. Neurologiese navorsing bewys egter dat hulle breins werk soos enige volwassene s’n – maar soos volwassenes sonder lewenservaring. So, hanteer hulle so: op gelyke voet en met dieselfde waarde as ander volwassenes, maar met die behoefte van goeie rolmodelle en mentors wat hulle gidse kan wees.
  • intellektueel: Hulle het ‘n behoefte om die data van geloof te integreer in hul daaglikse lewens, en sal dikwels gesprekke voer oor die waarde van gebed, die sinloosheid van die lewe, tradisie-vastheid van die kerk en verskillende vorme van geestelikheid. Hulle daag bestaande strukture uit en dink nuut oor baie dinge. Hulle kan sterk oortuiginge ontwikkel wat selfs tot ‘n duidelike lewens-roeping kan lei. Hier moet hulle finale eienaarskap vir hul geestelike lewe neem, en dit moet in die finalejaar-katkisasie ‘n fokus wees.
  • fisies: Daar vind baie brein-ontwikkeling plaas in hierdie tyd, en daarom is hulle konstant moeg. Vroeë oggend-aktiwiteite werk nie vir hulle nie. Hul behoefte aan fisiese kontak met hul ouers neem af.
  • sosiaal: vriendskap en romanse blom al hoe meer. Hulle vind hul waarde in die interaksie met ander van hul ouderdom. Hulle eksperimenteer met risiko-gedrag om te sien of daar iets in is vir hulle of nie. Juis daarom is dit so belangrik dat hulle ‘n goeie waarde-sisteem reeds in plek moet hê wat hulle beskerm teen die gevare hiervan.
  • Emosioneel: Hulle is op ‘n paadjie na onafhanklikheid. Na die mate wat hulle hul emosies kan verwoord, kan hulle dit verwerk. Hulle begin vooruit kyk na die lewe en leefstyl wat vir hulle voorlê as volwassenes.

 

 

Geneem uit: Gerat om jongmense te begelei – Toerusting vir kategete en jeugleiers (Jeugfokus 2012)

 

Bestel die volledige reeks by Bybelmedia: 0860 26 33 42, bestel@bmedia.co.za of groeipynehttp://eshop.bybelmedia.org.za/product/gerat-om-jongmense-te-begelei/

[1] Die Bybel Nuwe Vertaling. 1998 (electronic ed.) (1 Co 9:22). Cape Town, South Africa: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.

Rev Allen Goliath on why not to worry about numbers in youth ministry.

winterskool-allen-goliath

The Reverend Allen Goliath is the Priest Assisting in St George’s Chathedral in Cape Town. He spoke on the topic of “The church as a home for the youth” at this year’s Winter School in Stellenbosch.

He explained that parachurch organizations did the youth work in the past. This has changed. The growth of the charismatic church as well as the changes in the country has led to these changes. In the nineties the church suddenly realized they’re losing the youth. They started investing in youth ministry with youth ministers, budgets, buildings etc. BUT now the youth worker has the pressure to keep up the numbers.

Democracy means that schools are not our biggest partners in ministry anymore as they are open for everyone and serve different religions.

The church needs to keep up with changes…

The result is that Sunday school now has to be and do so much more. Scholars’ programmes also are very full – this adds to the challenge of doing youth work.

The mindset of churches need to change…

National development means that our youth leave home to study and work in other places. Young adults leave (work and marry and live globally). Youth workers are not trained to keep up numbers but to minister. That should remain their focus. The problem is not the youth coming and going and moving between churches of cities… Because we are meant to be missional! Rather worry about what we do with them when they are there!

Empower and equip them for worship, witness and service, wherever they go!!

Youth ministry is not an add on. It is the key business of the church. We should focus on it.

“When I’ve got your child, I’ve got your whole family, your wallet, your attention, your time. Make a child a tree in the concert and the whole extended family comes!! What an opportunity!”

The thought that Goliath left me with, is that we should not get discouraged if the youth leave the church, but we should ask the reason why. Are they merely moving on, changing churches or cities? Or do they not feel as if the church is their home? Are they equipped to worship, witness and serve when they leave? If so, we have done our duty.