NUUS

Kyk wat in verksillende gemeentes gebeur

GEOPENDE DEURE: Aanbiedings vir kinders, jeug en studente

Die kinder-, jeug- en studentebediening van Geopende Deure Suider-Afrika strewe daarna om die plaaslike Kerk te bedien en om, sodoende, ook die vervolgde Kerk wêreldwyd op ʼn effektiewe wyse te bemoedig en te versterk. Ons is in staat om insiggewende multimedia-aanbiedings te gee, asook verskeie getuienisse uit die vervolgde Kerk, by skole, gemeentes en jeuggroepe. Ons jeugbediening fokus graag op diegene tussen die ouderdom van ses tot 21 jaar oud.

Ons programme word aangepas om in die behoeftes van die spesifieke gehoor te voldoen, asook die ouderdomme van die kinders en jongmense teenwoordig.
Ons aanbiedings kan omskryf word as aanbiedings by kleingroepe, skoolsaalopeninge, godsdiensperiodes, sendingweke, gebedsgroepe, Sondagskool- of Kinderkerkbyeenkomste, jeugkerkdienste, ens.
Die doel van hierdie aanbiedings is om die kinders en jeug in te lig oor die vervolgde Kerk, asook die werk van Geopende Deure in geslote lande reg om die wêreld.

Nooi ons gerus na jou gemeente of jeuggroep om te kom vertel van ons vervolgde broers en susters in Jesus Christus – húlle wat in ons geloof deel, maar nie ons vryheid nie! Kontak gerus ons Jeugkoördineerder, Natasja, vir meer besonderhede deur ʼn e-pos te stuur aan: youthsa@od.org of besoek gerus ons webblad vir meer inligting.

Geopende Deure – Diens aan vervolgde Christene wêreldwyd!

Kersfees is ‘n Jesusfees   

Kersboek vir gesinne om betekenisvol saam fees te vier       

Op julle merke … vertel … versier … vier!

Deur Chrissie Kritzinger

Gesinstradisies word mettertyd omskep in die kosbaarste kindertydherinneringe wat kinders waarskynlik eendag weer in hul eie gesinne sal toepas. Kersfees is ’n Jesusfees is geskryf met die hoop dat ’n nuwe tradisie van betekenisvolle Kersfees-rituele in gesinne sal posvat. Hoewel die belangrikste elemente die saamgesels, bid en sing is, sal die handaktiwiteite baie waardevol wees om die boodskap te herhaal, en boonop die jongspan heeldag besig hou!

Bonus: ’n Gratis CD met nuwe sowel as ou bekende kersliedere asook foto’s en instruksies wat aktiwiteite verduidelik. (more…)

Padlangs-kursus Oktober

’n Nuwe tyd vra baie nuwe dinge, maar wat van OuErSkAp?

  • Hoe hanteer jy selfoon en internet gebruik in ’n nuwe generasie?
  • Hoe beskerm jy jou kinders teen al die invloede in ’n tyd waar hulle toegang tot alles het?
  • Hoe gee jy nie net vir jou kinders goeie waardes nie, maar ook die vaardighedeom die waardes toe te pas en uit te leef?

Ons nooi jou om in te skryf vir die Padlangs Ouerskap-kursus wat Ma – Wo 22 – 24 Oktober by Communitas in Stellenbosch aangebied word.

(more…)

Ons beleef die gasvryheid van die Taizé broers

‘n Paar predikante uit die Skiereiland het die Taizé broers gaan besoek waar hulle tans woon in Woodstock in Kaapstad. Hulle is deel van die Taizé geloofsgemeenskap in Frankryk, maar hulle word telkens na ‘n ander Afrika land gestuur om ‘n plaaslike Taizé byeenkoms vierjaarliks te reël. Die volgende een word beplan vir September 2019 in Kaapstad en word gemik op 18-35jariges uit alle denominasies.  “Ons is gasvry ontvang, ons het saam met hulle gebid en gesing in hul kerkie en hulle het vir ons ‘n eenvoudige maaltyd voorberei wat ons saamgeëet het. Dit was inspirerend om meer te hoor van hulle drome”, vertel Anriëtte de Ridder.  Indien jy meer wil weet oor hoe jou gemeente kan deel wees of die volgende geleentheid soos hierdie wil bywoon, kontak Anriëtte de Ridder deur ‘n epos te stuur aan jeug@sun.ac.za.  Vir meer inligting lees hier (Aangeheg).

Agter van links:

Hanno Ackerman

Brother Reynold

Annelet Slazus

Christi Thirion

Marileen Steyn

Brother Luc

Helené Fouché

 

Voor van links:

Brother Claudio

Anriëtte De Ridder

Jana Dickason

Bianca Botha

Jandré Viljoen

Johan Steenkamp

Millennials – energie en kreatiwiteit

Millennials is ‘n onuitputlike bron van energie en kreatiwiteit. Jy sal verras wees oor die palet van kleur wat hulle jou aanbied. Gryp die geleentheid aan!

Communitas se Predikantebegeleiding bied ‘n dagkonferensie/gesprek aan saam met prof Jaco Hamman van die VANDERBILT Teologiese Skool in Nashville, VSA. Hy is professor in Teologie, Sielkunde en Kultuur.

Sy boek, “The Millennial Narrative” handel oor die vraag: hoe kan die kerk mense bereik wat as ‘spiritual but not religious’ identifiseer?

6 VBO punte is te verdien, ‘n lekker middagete is deel daarvan, jy is saam met vriende en kollegas en bo alles word jy deur die dag begelei deur ‘n belese, berese, goed-ingeligte en dinamiese gespreksleier. Kom verruim jou en julle gemeente se bediening.

Die kursus op Maandag, 6 Augustus sal vanaf 9h30 – 15h30 plaasvind in die Hofmeyrsaal by die Fakulteit Teologie in Stellenbosch.

Kontak Adrienne Bester vir inskrywings by bestera@sun.ac.za /021 808 3382

Toegerus vir die Toekoms

Die wêreld verander so vinnig en soms voel ‘n mens oorweldig deur al die uitdagings wanneer jy kinders begelei.

Die Kix-Konferensie Toegerus vir die Toekoms is ‘n ideale geleentheid vir jou en ander Kix-leiers, kategete, jeugleiers, ouers, jeugwerkers en predikante om oor die geleenthede van die toekoms na te dink. Kom luister na relevante sprekers, woon praktiese werkswinkels by, ontdek nuwe hulpbronne en netwerk met ander kinderbedieningsleiers.

Hierdie geleentheid vind op 11 en 12 September by die NG Gemeente Kuilsrivier-Suid plaas.  Vir verdere inligting kontak jeug@sun.ac.za of kry jou inskrywing en die program hier.

‘n Vars Perspektief tot Berading aan Tieners

Die boek “Dansend met die Lewe” deur Kobus Anthonissen dien as raamwerk vir hierdie kursus. Die boek gebruik deurgaans die beeld van ‘n danser as metafoor om ‘n alternatiewe mens- en God-beskouing voor te hou. Dit kan mense ondersteun om ‘n gelukkige, vervulde lewe te leef te midde van gebrokenheid en lyding. Die kursus dek temas en vrae wat in tipiese beradingsgesprekke, met veral tieners, na vore kom.  (more…)

DIE 2017 HOFUITSPRAAK OOR GODSDIENS IN SKOLE

Wat is die praktiese implikasies?

INLEIDEND

Regter Willem van der Linde het namens ʼn volbank regters in die Suid-Gautengse Hooggeregshof uitspraak gelewer in die saak van die Organisasie vir Godsdienste-onderrig en Demokrasie versus ses skole.

Hierdie toetssaak het sy oorsprong in 2014 toe die Organisasie vir Godsdienste-onderrig en Demokrasie die hof versoek het om dit ongrondwetlik te verklaar dat sekere godsdienspraktyke in skole voorkeur bo ander geniet.

Die hof het beslis dat ʼn openbare skool nie een spesifieke godsdiens ten koste van ander mag bevorder nie.

Dié beslissing roep baie vrae en vrese op. Daarom is volledige en gebalanseerde inligting nodig.

Hierdie inligtingstuk steun swaar op die ervaring en perspektiewe van Mnr Paul Colditz, die hoof uitvoerende beampte van FEDSAS (Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole), wat die Ring van Bellville en die Sinodale Taakspan vir Leer- en Aktuele Sake op 4 September 2017 hieroor toegespreek het. Dit sluit ook aan by die interpretasie van Dr Gustav Claassen, die Algemene Sekretaris van die NG Kerk.

Uit die staanspoor moet die essensiële punt onderstreep word dat ʼn  openbare skool aan die onmiddellike gemeenskap waarbinne die skool geleë is behoort. Die hofuitspraak bevestig dat die beheerliggaam, wat verteenwoordigend is van die skoolgemeenskap, die gesag het om besluite te neem oor godsdiens by die skool. Die skool sal wettig optree solank die reëls van die beheerliggaam nagekom word.

Hierin moet die beheerliggaam optree ooreenkomstig die Grondwet (Artikel 15(2)) en die Skolewet (Artikel 7).

Dit beteken dat godsdiensbeoefening op ʼn billike grondslag moet geskied en dat deelname vry en vrywillig moet wees.

“Die hof het die plek van godsdiens in die Suid-Afrikaanse publieke sfeer bevestig.”

Mnr Paul Colditz

“Die NG Kerk was van die begin af ten gunste van vrywillige godsdiensbeoefening. Vanuit ʼn kerklike oogpunt gesien, is daar dus geen spanning ten opsigte van die uitspraak nie.”

Dr Gustav Claassen, Algemene Sekretaris van die NG Kerk

ONDERSKEI GOED

In die Nasionale Beleid oor Godsdiens en Onderwys van 2003 word vier aspekte onderskei:

  1. Godsdiensonderrig

Onderrig in die leerstellinge en oortuigings van ʼn spesifieke geloof met die doel om te oortuig, of aanhang van die geloof te versterk.

  1. Godsdienste-onderrig

Onderrig oor die bestaan, geskiedenis, gebruike, geskrifte en rituele van verskillende godsdienste, soos ingesluit in die kurrikulum vandag. Hierdie onderrig is nie bedoel om te oortuig nie, maar om respek te kweek.

  1. Godsdiensbeoefening

Rituele en gebruike van ʼn godsdiens soos byvoorbeeld Skriflesing, ʼn boodskap, gebed en sang.

  1. Godsdienstige oriëntasie of etos

Lewens- en wêreldbeskoulike uitgangspunt, waarvan godsdienstige oortuigings deel is, en wat inherent deel is van die wese van die mens en samelewingsverbande, ook van ʼn skool.

GRONDWET EN SKOLEWET

Die Grondwet bepaal in Artikel 15(2) dat Godsdiensbeoefening by staats- of staatsondersteunde instellings mag geskied, mits

  • daardie beoefening reëls nakom wat deur die tersaaklike openbare gesag gemaak is;
  • dit op billike grondslag geskied; en 
  • bywoning daarvan vry en vrywillig is.

Die Skolewet Artikel 7 gebruik die uitdrukking “vryheid van gewete en godsdiens in openbare skole”:

Behoudens die Grondwet en enige toepaslike provinsiale wet kan godsdiensbeoefening by ‘n openbare skool gehou word ingevolge reëls wat deur die beheerliggaam uitgevaardig is, indien sodanige beoefening op ‘n billike wyse geskied en bywoning daarvan deur leerders en personeellede vry en vrywillig is.

Die Grondwet art 15(1) bepaal “elkeen” het die reg op vryheid van gewete, godsdiens, denke, oortuiging en mening. Volgens art 8(4) is die “elkeen” waarna verwys word ook ‘n “regspersoon”, dus ook ʼn skool.

Die Skolewet Artikel 5, wat handel oor die toelatingsbeleid van ʼn openbare skool bepaal dat ʼn skool nie aan ʼn leerder inskrywing mag weier omdat die leerder nie met die skool se missiestelling saamstem nie. Die kind moet wel die skool se gedragskode nakom.

DIE STAATSORDE

Suid-Afrika se leuse is “Eenheid in diversiteit”.

Die beleid van Christelik Nasionale Onderwys wat sedert 1948 afgedwing is, het min ruimte gebied vir ander. Die Staat het met ander woorde ʼn bepaalde godsdienstige oriëntasie afgedwing. ʼn Staat kan egter nie vir mense sê hoe hulle oor God en die lewe moet dink nie.

Die Suid-Afrikaanse staat beskerm godsdiensvryheid. Elk het die reg om te glo of nie te glo nie, om nie gedwing te word om te glo of nie te glo nie, om geloof te behou of te verander en om geloof te manifesteer en te beoefen, in privaat sowel as openbaar.

Ons het nie staatskole in Suid-Afrika nie. Ons het openbare skole in ʼn gedifferensieerde regstaat. Skole is gemeenskapsinstellings, met ʼn eie godsdienstige oriëntasie of etos. Die staat kan nie hierdie eie etos voorskryf nie. Indien dit die geval was, het ons te make gehad met ʼn totalitêre staat.

Suid-Afrika is ook nie ʼn sekulêre staat nie. Staat en godsdiens word nie absoluut geskei soos byvoorbeeld in die VSA nie. Die klem is eerder op godsdienstige verdraagsaamheid en diversiteit. Die regering moet die ruimte hiervoor skep.

 

DIE HOFSAAK

Ses skole en twee ministers is oënskynlik uit die bloute geteiken.

In die hof was:

  • Die Applikant (Organisasie vir Godsdienste-onderrig en Demokrasie);
  • Nege respondente (Ses skole, Minister van BO, Minister van Justisie en NASGB);
  • Vyf Vriende van die Hof (Cause for Justice, Council for Religious Rights and Freedom, CASAC, AfriForum, Solidariteit).

20 advokate was betrokke in die hof vir drie dae. Die hofstukke self het ongeveer 4000 bladsye beslaan.

Twee belangrike aanvalle is geloods, naamlik teen die skole se

  • godsdienstige oriëntasie of etos

6 verklarende bevele is gevra en 2 is toegestaan

  • godsdiensbeoefening en praktyke.

71 interdikte is gevra en almal is van die hand gewys.

 

DIE GESKILPUNTE

Die hof het 3 basiese geskilpunte tussen die partye geïdentifiseer:

  1. Of ʼn openbare skool hom as ʼn Christelike skool mag uitgee, en indien wel, in watter mate.
  2. Of ʼn openbare skool self godsdiens mag beoefen, en in watter mate dit godsdiensspesifiek mag wees.
  3. Of ʼn leerder gevra mag word om aan te dui dat hy/sy ʼn bepaalde (godsdienstige) geloof aanhang of nie.

Die hof het ten gunste van die skole beslis wat betref geskilpunte 2 en 3.

DIE BEVEL

It is declared that it offends section 7 of the Schools Act for a public school

  • (i) To promote or allow its staff to promote that it, as a public school, adheres to only one or predominantly only one religion to the exclusion of others; and
  • (ii) To hold out that it promotes the interests of any one religion in favour of others.

Die hof het dus nie vir skole gesê: “Julle mag nie Christelik wees nie”. Openbare skole mag hulleself wel nie adverteer as Christelik nie, want dit sluit ander uit.

 

WAT BETEKEN DIE UITSPRAAK PRAKTIES?

  • Moenie paniekerig raak nie. Niks het verander nie.
  • Respekteer die samelewing se diversiteit, en veral minderhede.
  • Verwyder uitwaartse tekens van godsdienstige bande van webtuistes, visie- of missieverklarings.

Skole kan steeds open deur uit die Bybel te lees en te bid, lofprysing- en aanbiddingsgeleenthede reël, “Ma’s wat Omgee” byeenkomste hou, die Gideons toelaat om Bybels uit te deel, bid voor en na sport, Bybelstudiegroepe of kringe hou. Die beginsel wat geld, is vrywilligheid.

Wat van die skoolwapen en leuse? Die skoolwapen en leuse mag nie eksplisiet na een godsdiens verwys ter uitsluiting van ander nie. Spesifieke Christelike tekens moet dus verwyder word.

ʼn Skoolhoof en onderwysers kan eerlik wees oor wat hulle glo as individue. Hulle moet egter seker maak dat billikheid en gelykheid geskied ten opsigte van formele godsdiensbeoefening in die skool.

 

WAT HET DIE HOF NIE GESÊ NIE?

Een belangrike smeekbede wat van die hand gewys is, is: 

[It is unconstitutional for any public school to] align or associate itself with any particular religion;

Die hof het nie godsdiens of godsdiensbeoefening in skole verban nie.

Die hof het steeds ouers, leerders en onderwysers se reg erken om hulle godsdiens in privaat en openbaar te beleef en te beoefen.

Saalbyeenkomste mag met Bybellees geopen word, MITS die reg van ander gerespekteer word en alternatiewe geleentheid vir ander wat nie wil nie, geskep word. Dit word reeds in vele Wes-Kaap skole suksesvol gedoen

Skole kan die Imam nooi vir die Moslem-kinders wat in die Christelike skool is.

WAT BEHOORT ONS TE DOEN?

Ons behoort uit ons pad te gaan om respek te betoon teenoor mense met ander geloofsoortuigings. Hierdie respek is deel van ons getuienis teenoor hulle.

Ons behoort te let op ons taal, ook teenoor mense wat ons vyandiggesind is, veral op sosiale media. Ons mag nie kwaad met kwaad vergeld nie. Ons is nie verdoemend teenoor ander nie. Ons val nie persone aan of probeer mense verkleineer nie. Die Bybel vra dat ons ons vervolgers seën en nie vervloek nie.

Ons moet onthou wat dit is wat mense oorspronklik na die kerk van Christus toe aangetrek het. Mense het na die lewe en optrede van Christene gekyk en gesê: “Ons wil ook graag hê wat julle het.”

Twee riglyne staan dus duidelik vir ons uit:

(1) Die grondwetlike reg tot godsdiensbeoefening in skole, mits dit vrywillig is.

(2) ʼn Gees van verdraagsaamheid, dit wil sê geen outoritêre godsdiensdwang, geestelike uitbuiting en manipulasie nie.

 

WAAR KRY ONS HULP AS ONS VASHAAK?

FEDSAS (www.fedsas.org.za) help skole om reg te maak waar daar geregverdigde kritiek is in terme van hierdie uitspraak. Daar is gewoonlik net ʼn klein verstellinkie nodig.

VBO kursusse vir die 3de Kwartaal

Ons wys jou graag op ʼn paar kursusse wat in die volgende weke plaasvind:

ʼn Eendag-konferensie spesiaal vir vroue in die bediening (waarmee jy VBO-punte kan verdien),

2 VBO-kursusse – een oor Menswaardigheid en vriendskappe oor grense; en ʼn ander oor die bediening van verskillendende generasies in EEN ruimte;

asook 2 retraites … :

10 Aug 2017 vanaf 09h00 Vroue in die Bediening eendag-konferensie Alle vroulike jeugwerkers, proponente, dosente en predikante van die NG Wes-Kaapland sinode en VGK Kaapland sinode:

Kom geniet ‘n dag van netwerk en toerusting ter viering van Reformasie 500.

Waar?  Hofmeyrsaal, Stellenbosch Moeder

Koste?  R150

Sluitingsdatum: 7 Augustus 2017

Kontakpersoon:  Ankia du Plooy byngkvroue@sun.ac.za

 

 

 

VBO-punte word aangevra

23 – 24 Aug Loop Saam Hierdie kursus is spesifiek ontwikkel vir die reis op pad na heling tussen die vier kerke as deel van die Seisoen van Menswaardigheid se strategie om die herstel van menswaardigheid in Suider-Afrika te bevorder. Die doel van die kursus is om mekaar te help in die ontwikkeling van volhoubare vriendskappe oor grense.

Skryf in voor 16 Aug.

Aanbieders: Colin Goeiman en Hannes Theron

 

 

 

VBO-punte: 20

6-7 Sep Intergenerasionele jeugbediening Daar is ruimtes in ons gemeentes wat aan volwassenes behoort (“adult centred spaces”) en dan is daar ruimtes waar daar op kinders gefokus word (“child centred spaces”).  ʼn Intergenerasionele bediening skep ruimtes waar generasies SAAM bedien kan word, almal verwelkom word, almal die ruimte beïnvloed en almal mekaar kan beïnvloed…

Aangebied deur Anriëtte de Ridder e.a.

Skryf in voor 30 Aug.

 

 

 

VBO-punte: 20

Dan is daar ook 2 retraites wat deur die Sentrum vir Geloofsvorming plaasvind, wat ons namens hulle onder jou aandag bring.

Jy kan Annie Roux  kontak – tel 078 668 0815/ info@geloofsvorming.co.za  vir meer inligting of om in te skryf. (Jy kan wel ook hiervoor VBO-punte verdien.)

21-24 Aug Geloofsreis 3 : Die Innerlike Reis Selfkennis is van kardinale belang vir Geloofsvorming…
18-21 Sep Geloofsreis: Verdere Reis 2 Hierdie retraite se titel is In die oomblik en word aangebied deur Willem Nicol. In die oomblik is ook die titel van Willem se nuutste boek…

#imagine mission exposure 18-22 Julie 2017

Ons nooi alle predikante, jeugwerkers en jeugleiers uit na ‘n missionale blootstelling geleentheid. #imagine reël hierdie (en ander) geleentheid vir gemeentes om blootstelling te kry en saam na te dink oor uitreike.  Bring ‘n groepie tieners en bly saam op ‘n kampterrein by Llandudno, Kaapstad. In die dag sal daar besoeke wees aan organisasies en kerke wat uitreike en diensprojekte lei. Saans sal daar saam gesels word om na te dink oor hoe jul in jul konteks meer missionaal kan wees.

Datum: Di 18 Julie – Sat 22 Julie

Apostle Battery Kampterrein

Tye Dinsdag 6nm – Saterdag 1nm

Koste R700 (borgskappe is beskikbaar)

Etes en verblyf is ingesluit.

Vir meer inligting of om in te skryf kontak José by die jeugkantoor:jeug@sun.ac.za 021 808 3381

Nog inligting:

  • Gerhard Duvenhage (JAM) wat hierdie jaar ‘n spreker was by #imagine, sal hierdie jaar se Mission Exposure lei.
  • Elke groep van 10 of minder tieners moet ‘n leier saambring.
  • Eie vervoer na en van die terrein, en waar moontlik ook tydens die paar dae.
  • Ons besoek organisasies wat werk met byvoorbeeld mense wat op straat is (MES), immigrante en kinders wat in plakkerskampe woon (JAM), Kruis kulturele blootstelling

Vriendelike groete

Ds Anriette de Ridder

PSD Jeug en Familiebediening

Kinderbedieningskonferensie Mei 2017 Hoëveld Sinode

Registrasie vanaf 8:00 te Northfield Metodiste kerk, Aerodrome rylaan, Northmead, Benoni.
8:30 Opening
9:00 Algemene sessie 1 Johan Smith Onderwerp: Dieper in Gesinne
9:45 Wegbreeksessie 1:
Sessie 1/1 Janco Mocke Lofprysing en aanbidding vir kinders
Sessie 1/2 Paul du Toit Hoe kinders die Bybel ontdek
Sessie 1/3 Jaco Schoeman Mylpaal bediening (Vibrant Faith)
Sessie 1/4 Verskeie sprekers Kinderkerk/Kategese materiaal
11:45 Algemene sessie 2 Wynand Coertzen Onderwerp: Wyer in skole
13:30 Wegbreeksessie 2
Sessie 2/1 Kenny Killian Hoe om ʼn Kinderkerk aan te bied.
Sessie 2/2 Hayley Walker Protective behaviours
Sessie 2/3 Transforming kids Hoe bereik ons skole?
Sessie 2/4 Hano Jacobs Bediening wyer deur Sosiale media
Sessie 2/5 Netta vd Walt Gebruik van praktiese hulpmiddels
15:00 Algemene sessie 3 Dirkie van der Spuy Onderwerp: Dieper en Wyer in leiers
16:15 Afsluiting