NUUS

Kyk wat in verksillende gemeentes gebeur

5 VBO Kursusse vir 2017

www-gazillionthanks-comKursusse Jeug- en familiebediening


Padlangs ouerskap

Jan van Zyl en Johann Winterbach

14-16 Februarie 2017

Die doel van die kursus is om ouers te begelei in deelnemende positiewe ouerskap.

Ouers word toegerus met gereedskap om hulle te help om ʼn veilige ruimte te skep waar elkeen in die gesin die geleentheid kry om sy/haar volle potensiaal te ontwikkel.

Kinders word ook geleer om self verantwoordelikheid vir hulle gedrag te neem. In die proses waar kinders geleer word om keuses te maak, leer hulle selfstandigheid. Die einddoel is ʼn plek waar almal in die gesin gelukkig en tevrede is.

Deelnemers ontvang die volgende vaardighede en gereedskap:

  • om die belangrikheid van kwaliteit-tyd te besef;
  • hoe om empaties te wees – verskeie kommunikasie-vaardighede word aangeleer soos om te eggo, refleksiewe luister, edm;
  • positiewe geloofwaardige terugvoer;
  • nie-bedreigende kommunikasie;
  • ek-boodskappe;
  • dissipline en
  • hoe om ʼn huisvergadering in te rig.

Hierdie kursus word spesifiek so ingerig dat deelnemers toegerus word om die kursus self te gaan aanbied.


VARS! Alternatiewe bedieningsmodelle aan naskoolse jongmense en millennium ouers

Anriëtte de Ridder en Gielie Loubser

3-4 Mei 2017

Benut die geleentheid om vars perspektiewe te kry en ‘n relevante bedieningsmodel te ondersoek vir jou konteks.

  • Wie is “Millennials” en hoe dink en leef hulle?
  • Wat wys die nuutste navorsing vir ons oor hierdie groep se unieke geloofsgewoontes en behoeftes?
  • Hoe kan gemeentes nuwe bedieningsgeleenthede raaksien en ontgin?
  • Wat leer voorbeelde en stories hiervan vir ons oor nuwe moontlikhede en vars metodes?
  • Hoe word ons eie perspektiewe oor kerkwees in die proses uitgedaag en vernuwe?

Millennials vra verseker ’n nuwe manier van kerkwees.  Wat hierdie nuwe vorme kan kerk alles kan wees word hoofsaaklik bepaal deur die konteks. Tog is dit nodig om ’n verbeelding te ontwikkel van wat alles moontlik is.

Kom dink en praat saam oor die uitdaging wat millennials vir ons stel om relevant te bedien.


Speltegnieke in jeugbediening

Siegfried Louw

27-28 Junie 2017

Hierdie is ʼn kursus vir eenvoudige spelterapie-tegnieke met skoolgaande kinders (tieners ingesluit)

  • Gemeentes wil betrokke raak by die broses in die samelewing, maar sukkel soms met die wêreld van ʼn kind. Kinders geniet nie “praat-terapie” nie, want hulle abstrakte denke is nog nie daar nie (die jongeres).
  • Speltegnieke gee aan ons die instrument om kinders se lewensvordering te fasiliteer, indien ʼn paar basiese beginsels gevolg word.
  • Gestalt speltegnieke word gebruik om kinders te bemagtig met selfstandigheid, verantwoordelikheid en volledige menswaardigheid. Die kind bly in beheer van sy/haar eie proses.

Na die kursus

  • Sal jy weet hoe om basiese speltegnieke in berading te benut.
  • Sal jy praktiese speltegnieke vir emosionele ontlonting kan gebruik. ʼn Verskeidenheid van mediums word gedek.
  • Die basiese teoretiese vertrekpunte van Gestalt speltegnieke sal deel van jou kennisvaardighede wees.
  • Ons verwagting is dat jy van die kursus sal wegstap met ʼn gevoel dat jy iets konkreet kan gaan doen in jou omgewing.

SAAM! Intergenerasionele jeugbediening

Anriëtte de Ridder e.a.

6-7 September 2017

Benut die krag van saamwees en ondersoek moontlikhede om binne in jou gemeente ruimte te skep vir intergenerasionele bediening.

  • Wat is intergenerasionele bediening?
  • Wat wys die nuutste navorsing vir ons oor geloofsvorming wat ʼn impak het oor hoe ons dink oor jeugwerk?
  • Wat is die basiese uitgangspunte en kern sleutels van ʼn intergenerasionele strategie?
  • Hoe verander die beginsels van intergenerasionele jeugbediening tradisionele ruimtes soos die erediens, kategese, feeste, die bediening van sakramente, ens.?
  • Watter praktiese voorstelle en kontekstuele voorbeelde is daar?

Daar is ruimtes in ons gemeentes wat aan volwassenes behoort (“adult centred spaces”) en dan is daar ruimtes waar daar op kinders gefokus word (“child centred spaces”). In eersgenoemde word die styl, taal en gewoontes deur die volwasse lidmate bepaal en is hulle behoeftes die fokuspunt (dink maar aan ʼn erediens). In laasgenoemde werk dit net mooi anders om en is kinders se geloofsontwikkeling en lewensfases weer die uitgangspunt en volwassenes is daarop gefokus (dink maar aan kategese).

ʼn Intergenerasionele bediening skep ruimtes waar generasies SAAM bedien kan word, almal verwelkom word, almal die ruimte beïnvloed en almal mekaar kan beïnvloed. Hierdie kursus ondersoek die teorie en praktyk van intergenerasionele jeugbediening en hoe dit prakties in verskillende fasette van gemeentebediening (erediens, kategese, kampe, uitreike, feeste, ens) asook huisgeloof geïntegreer kan word.


Kategese vir die volgende generasie

Anriëtte de Ridder e.a.

24-26 Oktober 2017

Die geloofsvorming raamwerk, die nuutste navorsing en kontekstuele nadenke bied ʼn padkaart om kategese te herontwerp vir die volgende generasie!

  • Teologiese grondbeginsels en Bybelse perspektief vir geloofsvorming
  • Die uitdagings vir kategese en geloofsvorming vandag
  • Leidrade wat die nuutste navorsing vir ons gee
  • Kategese as deel van ʼn groter jeugbediening-strategie
  • Kontekstuele toepassing
  • Nadenke oor belydenisaflegging
  • Die proses van dissipelskap en mentorskap
  • Kategese materiaal keuse
  • Ouers se betrokkenheid en rol
  • Huisgeloof en familiebediening

Tydens die kursus sal daar gekyk word na die teologiese raamwerk vir geloofsvorming en hoe kategese steeds ʼn belangrike deel daarvan vorm.  Ons gaan ook saam dink oor hoe kategese in ʼn nuwe konteks en generasie ʼn nuwe vorm aanneem. Die nuutste navorsing gee vir ons perspektief oor hoe ons vars uitdrukking aan antieke beginsels kan gee. Verskillende kontekstuele benaderings (byvoorbeeld stad, platteland, klein, medium en makro gemeentes) sal ook aandag geniet. Die Kategese taakspan van die Algemene Sinode se boekie “Geloofsvorming herontwerp” beskryf 12 bakens vir geloofsvorming wat as subtemas vir die gesprekke sal dien. Daar sal ook deurgaans saam gesoek word na “best practices” wat jou gemeente kan help om effektiewe geloofsvorming te fasiliteer.

LW Hierdie is ‘n herhaling van die kategese kursus wat in Oktober 2016 aangebied is.

Wêreldonderwysersdag Oktober jaarliks

dinkjeug-cartoon27UNESCO (United Nations Educational, Scientific and Cultural Organization) het 5 Oktober as jaarlikse Wêreldonderwysersdag verklaar.
Hierdie dag is ‘n besondere poging tot bewusmaking, begrip en waardering vir die onmisbare bydrae wat onderwysers wêreldwyd ten opsigte van opvoeding en ontwikkeling lewer. Enigeen wat net ‘n effense mate van insig in onderwysers se program en verantwoordelikhede het, sal hardop en met oorgawe wil sê: “Hoor, hoor!”
Wanneer laas het jy vir die onderwysers in jou gemeente/gemeenskap gebid? Dalk is ‘n oproep en woord van waardering net wat hulle nodig het om die laaste kwartaal van die jaar met nuwe moed en geloof aan te pak. Meneer en Juffrou, ons salueer julle vir elke ekstra myl wat julle loop. Mag die Here julle seën met wysheid en onderskeidingsvermoë om elke dag aan te hou om ‘n verskil te maak.
As jy jou hiermee vereenselwig, lees die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) se mediaverklaring ter ondersteuning van die projek.

Leesroostertekste 2017

Neels du Plooy verskaf namens die redaksie van Woord en Fees die datums vir die kerkjaar en die leesroostertekste vir Januarie 2017 tot Desember 2017. Predikante en skribas van gemeentes kan die dokument nou op die sinode se webwerf kry, terwyl hierdie inligting gerus ook met lidmate wat ook graag die sleuteltekste in hulle dagboeke aanteken, gedeel kan word.

1leesrooster2

 

 

https://kaapkerk.co.za/wp-content/uploads/2016/09/Leesrooster_Sleuteltekste_-JanTotDes-2017.pdf

Teologiese Opleiding Is ek geroep? Of dalk my kind of kleinkind?

 

Bemoedig of ontmoedig ek geroepenes?

Wat doen jy as jy sê jy is geroep? Of dalk jou kind of kleinkind?

Wanneer ‘n persoon ervaar dat God hulle roep, is hulle meestal baie onseker. Onseker of hulle goed genoeg is om God se werk te doen. Baie geroepenes loop vir lank met hierdie bewuswording van ‘n roeping sonder om met iemand daaroor te gesels.

Ek wil jou aanmoedig om hieroor te gesels …
Luister gerus na Frederick Marais in die onderstaande kort video.
Inskrywings sluit einde September. Kontak Amanda van Niekerk by 021 808 9138 of toerusting@sun.ac.za met navrae.

https://www.youtube.com/watch?v=fbsAXmQ70Us

#Imagine koffie 13 Okt 2016

imagine-koffie-info

SAVE THE DATE

Ons wil jou graag nooi om saam met ons te dink en beplan aan volgende jaar se Imagine 2017 byeenkoms vanaf 18 – 20 Maart 2017.

Ons nooi jou uit om lekker saam te kom koffie drink  Donderdag 13 Oktober 14:30 en te gesels oor hoe dit volgende jaar kan lyk en jou idees te deel.

R.S.V.P:

Anriette de Ridder

083 490 0602

#Imagine Ignite 2016 leierstoerusting

imagine-ignite

Graag nooi ons jou en jou leiers, om die Imagine Ignite konferensie by te woon, wat dwars oor die land in 15 verskillende plekke, aangebied gaan word.

Ons reël hierdie byeenkoms vir alle leiers wat met kinders of tieners werk.  Dit sluit predikante, jeugwerkers, vrywilligers asook ouers in, wat met kinders of tieners werk.

Die doel van hierdie konferensie is, om mense toe te rus in die jeugbediening en dus is dit ʼn ideale geleentheid vir jou om kategete en leiers in jou bediening te nooi na hierdie geleentheid.

Hier is die “link” na die “Facebook page” indien jy wil sien, watter konferensie die naaste aan jou is:

https://www.facebook.com/ImagineIgniteSA/events

Indien jy sou belangstel om Imagine Ignite by jou kerk of dorp te “Host”, kontak asseblief vir Rehet by: info@imaginemovement.co.za

Alle video materiaal word voorsien asook ʼn volledige pakket met wat jy gaan benodig.

Ons sien uit daarna om soveel moontlik mense by die verskillende geleenthede te hê, sodat ons kan saam dink, droom en leer oor jeugbediening.

Ons vra ook dat jy die inligting asseblief op sosiale media, kerk Nuusbriewe en whatsapp groepe sal deel.

Vriendelike groete

Anriette

Strategie vir jeugbediening

anriette-de-ridder-moderamen-jeug-gesprekDs Anriëtte de Ridder (PSD: Jeug en Familiebediening)  gesels tydens die Moderamenvergadering (Augustus 2016) in die Wes Kaap oor die strategie vir Jeugbediening – vanuit die Diensgroep vir Gemeentebegeleiding. Sekere vrae word as deel van hulle navorsing gebruik.

Geloof word met ‘n tafel vergelyk – die vier bene is verhoudinge, aksie, aanbidding en kennis. Dieselfde as oor jare, maar ANDERS – want die konteks waarin ons jeug leef, is totaal anders. Anriëtte se interessante styl van aanbieding skep ruimte vir goeie interaksie, sodat die lede van die moderamen kan opstaan en hulle gedagtes oor vraag 1 “Hoe leer jy kosmaak?” met mekaar kan deel.

Onder verskyn die voorlegging wat Anriëtte gemaak het.  Dit kan in gemeentes en tydens ringsittings nuttig aangewend word.

Energiepunt gesprekke 2016

lightbulb-momentDie taakspan vir Jeug en Familiebediening het 6 fokusareas geïdentifiseer wat energiepunte is in die sinode. Dit beteken dat hierdie energiepunte die potensiaal het om groot energie los te maak. Maar dat dit ook nadenke en vars idees nodig het om die energie te ontsluit.

Daar word tans gesprekke gehou met predikante en jeugwerkers in die vorm van ’n informele VBO dag kursus. Daar is drie geleenthede vir gesprekvoering vir elkeen van die 6 onderwerpe. Elkeen van die gesprekke loop dan ook uit op ’n hulpmiddel, of gespreksdokument wat vir die hele sinode beskikbaar gestel gaan word. Drie gesprekke het al vir ’n eerste rondte bymekaar gekom.

Die volgende datums is:

  • 8 September – kategese
  • 12 September – Belydenisjaar en -aflegging (2)
  • 20 September – naskoolse jongmense
  • 27 September – familiedienste, kindermomente en familie liturgieê
  • ? Oktober -skolebediening (2)
  • 25 Oktober – familiebediening (2)

Laat weet asb vir José (Jeugkantoor sekretaresse) by jeug@sun.ac.za indien jy belangstel om deel te word van een van die energiepunt gespreksgroepe.

Jeugwerkers retraite 18-20 Oktober 2016 Hermanus

jeugwerkers-retraite

Ds Anriëtte de Ridder bied ’n jeugbedienaars retraite aan vir kinder- en jeugwerkers, sowel as jeugleraars by Blinkwater in Hermanus 18-20 Oktober 2016 . Sy vertel “Ons gaan wynproe, walvisse kyk, saam kuier en goed rus. Melanie Thirion bied  ’n sessie aan oor “Hoe bly ek vars in jeugbediening?” en ds Pierre Goosen gesels weer oor “Wat is my roeping en hoe hoor ek dit opnuut?”. Ons bespreek ook die boek “You Are What You Love: The Spiritual Power of Habit”.”  Inligting en inskrywings by José in die Jeugkantoor by 021 808 3381 of jose@sun.ac.za

Re-Imagine Matriekfees 2016

imagine“Die Jeugkantoor reël soos elke jaar (al vir meer as 40 jaar lank) weer vanjaar ’n skoolverlaterskamp, deesdae die Re-Imagine Matriekfees genoem.

Daar sal vanjaar weer een wees op Heroldsbaaien by Noordhoek, en wel van 30 November tot 7 Desember.

Ons vra asb dat gemeentes hulle matrikulante sal aanmoedig om die Matriekfees by te woon en waar moontlik selfs ’n finansiële bydrae te maak om dit vir hulle moontlik te maak.

Hulle kan die inskrywingsvorm sommer vir die matrikulante per WhatsApp of e-pos stuur!” So versoek Faani Engelbrecht.

Gemeentes kan gerus oorweeg om te belê in jongmense se oorgangfase na die grootmenswêreld wat na die eindeksamen vir ons kinders wag.

Klik hier vir meer inligting en die inskrywingsvorm