Bybel

Woema vir die Woord

bring Bybels terug na die kategesegroep

Dit is baie belangrik dat elke kind en tiener in die kategese leer om die Bybel lief te hê, te gebruik en dit te lees! Min huise maak Bybellees ‘n prioriteit. Daarom is dit nodig dat kinders en tieners tydens kategese aan die Bybel blootgestel word en dit inoefen. Dan sal dit moontlik ‘n gewoonte raak wat tuis ge-eggo kan word.

Junior kategese

  • By kinders val die klem op Bybelverhale en memorisering van belangrike versies.
  • Daarom moet elke kind ‘n Bybel kategese toe bring en moedig ons kinders aan om belangrike gedeeltes met plakkers en kleure te merk om dit makliker te vind en te onthou.
  • Dit is belangrik dat ouers weet watter teks/Bybelverhaal behandel is, sodat hulle dit tuis ook kan lees.
  • Plaas altyd die Bybelstorie binne die groter verhaal van die Bybel sodat kinders die tydlyn en konteks begin verstaan.

Senior kategese

  • In die senior kategese moedig ons elkeen aan om die Bybel in konteks te lees en toe te pas, daarom moet tieners ook die Bybel saambring.
  • Help ook mekaar om die Bybel op elkeen se selfoon af te laai sodat dit ook in die week gelees kan word en toeganklik is.
  • ‘n Kategese groep kan saam ‘n weeklikse rooster volg om dieselfde tekste te lees.
  • Basiese stiltetyd-metodes word aangeleer sodat die Woord self gelees en toegepas kan word.
  • Tieners word aangemoedig om gedeeltes binne die konteks van die groter “lyne” van die Bybel te lees en die verloop van die Bybel se verhaal te verstaan.
  • Gesels in die groepe oor stiltetyd-metodes en ander geloofsgewoontes en oefen dit in.
  • Praat oor wat in die pad staan van Bybellees (tyd, motivering, gebrek aan kennis, oorvol gedagtes of ander steurnisse) en gee vir mekaar raad om dit te hanteer.
  • Maak weekliks tyd om te vertel wat julle in die Bybel raak gelees het.

Om ons kinders en tieners te motiveer om die Bybel te lees, moet ons self ‘n voorbeeld wees en ons dade moet daarvan getuig.

Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart. Heb 4:12

 Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.
2 Tim 3:16

 

Geskryf deur ds Anriëtte de Ridder (Predikant in Sinodale diens vir Jeug en Familiebediening van die Wes-Kaapland Sinode).

Hoekom is die HELE Bybel nodig?

‘n Jongmens vra “hoekom moet ons die hele Bybel lees en nie net die Nuwe Testament nie?”

Die Bybel is oos ‘n fliek

‘n Maklike manier om dit vir ‘n tiener te verduidelik is om die Bybel te vergelyk met ‘n fliek. Om die laaste (en belangrike deel) van die fliek te verstaan, help dit as jy die eerste deel van die storie gekyk het. As jy die fliek in die middel begin kyk, dan verstaan ‘n mens nie al die gebeure of karakters nie. Die impak van die fliek is dan minder. Dieselfde geld met die Bybel. Dit is ‘n versameling stories wat vertel van God se reis met die mens oor ‘n baie lang tyd. Jesus se koms het ‘n nuwe tydperk ingelei en daarom volg ons nie meer die wette of offerdiens of praktyke van die `Ou Testament nie. Maar deur die Ou Testament te lees verstaan ons die grootheid van Jesus se koms en die gawe van Sy genade soveel beter.

Die jongmens vra verder “maar hoekom is sekere dele so vreemd”?

Die Bybel is soos Netflix

Die Bybel is ‘n versameling stories soos Netflix ‘n biblioteek van flieks en programme is. As jy die dag ‘n fliek wil kies om te kyk, dan moet jy eers besluit watter kategorie of genre fliek jy wil kyk… Aksie? Drama? Comedy? Series? Science-fiction? Jy gaan met ‘n verskillende ingesteldheid na elkeen kyk. Sommige flieks gaan jou laat lag, ander gaan jou iets leer? Soms gaan ‘n fliek jou laat ontspan, ander kere gaan dit jou uitdaag.  Dieselfde geld met die verskillende Bybel-boeke. Genesis en Psalms is verskillende tipe boeke en klink verskillend. ‘n Mens kan nie Jesaja en Johannes op dieselfde manier lees nie. Filippense en Openbaring is nie met dieselfde doel geskryf nie.

Wenke wanneer jy Bybel lees

  • Ken die groot gebeure (storielyn) van die Bybel.
  • As jy ‘n boek lees, vra jouself af waar in die storielyn dit inpas.
  • Kyk of die tema van die teksgedeelte iets is wat deurlopend in die Bybel belangrik is, of net in daardie tydperk van die storie (bv. offers, slawerny, oorlog, kerk, genade, die Gees).
  • Probeer om ‘n hele boek (bv. Lukas) deur te lees oor tyd (en nie net los tekste nie.
  • Vind meer uit oor die agtergrond en karakters in die verhaal.
  • Laat die Gees jou lei om die waarheid in die verhaal te ontdek sodat die verhaal jou raak en vorm.

The Word on the Street

The Word on the Street
Rob Lacey

“For those who’ve never read the Bible, and for those who’ve read it too much.”

“Purist alert: This is not THE Bible (capital B) … but it might just get you reaching for one.”

So begin en eindig die agterbladskrywe van hierdie boek en dit is ‘n baie goeie beskrywing! Dit is nie die volledige Bybel nie, maar Lacey herskryf sekere gedeeltes van die Bybel om sodoende die hele storie van die Bybel weer te gee. Hy doen dit egter in ‘n heel ander formaat. Hy herskryf die dele van die Ou Testament as webblaaie. Die Pentateug word geskryf as ‘n gebruikershandleiding vir die lewe, die geskiedkundige boeke as ‘n webtuiste met die naam “New Nation”, die wysheidsliteratuur as digkuns en die profete as ‘n “couriers hotline”.

Die Nuwe Testament begin met wat Lacey ‘n “4D Biography” noem van “The Liberator” en Handelinge word geskryf as die opvolgverhaal van die beweging wat ontstaan a.g.v. hierdie “Liberator”. Met die Nuwe-Testamentiese briewe, bou Lacey voort op die digitale metafoor wat hy begin het in die Ou Testament deur die briewe as e-posse oor te skryf uit Paulus se werk “Sent Items” boks met die briewe aan gemeentes, sy persoonlike “Sent Items” boks met die briewe aan persone en die res van die briewe uit ander e-pos-skrywers se e-pos-bokse.

Lacey se persoonlike storie van hoe hy hierdie boek geskryf terwyl hy deur ‘n reis met kanker gegaan het is ook agteringevoeg. Hy is in 2006 oorlede van dié siekte.

Lacey se neerpen van sy persoonlike reis met die Bybel, laat die Bybelboeke ‘n besonderse kant wys wat ons dikwels miskyk omdat ons die tekste al so baie gelees het. Dis ‘n wonderlike hulpmiddel om tekste op ‘n nuwe manier oop te breek en anders na die Bybel te laat kyk en met nuwe oë te help lees.

Hierdie boek is beskikbaar by Takealot by die volgende skakel:

https://www.takealot.com/the-word-on-the-street/PLID35666658

‘n 3-5 week reeks oor die Bybel

‘n 3-5 week reeks oor die Bybel

Laat elke tiener, kategeet en ouers die gratis toep “onsglo” aflaai op hul selfone (op die appstore en google play store beskikbaar)

https://play.google.com/store/apps/details?id=za.co.onsglo&hl=en

https://itunes.apple.com/za/app/ons-glo/id1220885509?mt=8

Die inhoud is ook op die webtuiste www.onsglo.co.za beskikbaar.

Gebruik dan die Bybelstudies en “lees meer” gedeeltes onder die afdeling “Bybel”. Daar is ‘n teks en gespreksvrae vir die kategese kleingroepe. Vir die kategeet is daar ‘n “delf dieper” gedeelte om te lees. Daar is ook telkens ‘n aktiwiteit, gebedswenk en tiener fokus by elke onderwerp. Doen dit vir 3 weke (tema 1-3) of vir 5 weke (voeg tema 4 en 5 by). Ouers kan aangemoedig word om saam met die tieners die reeks te volg en tuis dit ook saam te doen.

Week 1: Inspirasie van die Bybel

Esegiël 2: 9 – 3:3

Delf dieper – Coenie Burger

 

Week 2: Konteks van die Bybel

Josua 6:1-21

Delf dieper – Ian Nell

 

Week 3: Hoe lees ons die Bybel

Lukas 2: 41-52

Delf dieper – Julie Claassens

 

Week 4: Onderskei God se stem

1 Samuel 3: 1-18

Delf dieper – Tiana Bosman

 

Week 5: Die Heilige Gees

Handelinge 1:1-8

Delf dieper – Henco van der Westhuizen

Om stil te word

#DIepdink

Die Amerikaanse teoloog en skrywer, Dallas Willard, was ‘n paar jaar gelede in Suid-Afrika en het ’n preekbeurt gehad in ’n NG Gemeente. Op die kanselkleed was die Afrikaanse frase “Jesus is Here”, wat Dallas toe in Engels lees “Jesus is Here” (Jesus is hier). Hy maak toe die opmerking dat dit een van die grootste waarhede is, waaraan ons die minste aandag gee.

Op sy beurt vertel Rob Bell die storie van Moses, wat skape oppas en die brandende bos opmerk (Eks. 3). Hy vra die vraag of ons nie dalk elke dag by brandende bosse verbyloop, sonder dat ons dit opmerk nie; dat ons by God verbyloop maar hom nie raaksien nie.

Beide Dallas Willard en Rob Bell verduidelik dat ons heel eenvoudig te besig is en te veel kop-geraas en klank-geraas het. Ons  almal voel aan dat ons daagliks stiltetyd moet hou en ons dan  sit ons soms die klank-geraas, maar nie die kop-geraas nie. Kop-geraas is al die goed wat ons gedagtes oorneem wanneer ons na Jesus wil luister: ons dagboeke en to-do-list… Daar is egter ook ander kop-geraas waaraan ons nie altyd dink nie en dit gaan baie kere oor hoe  ons die Bybel lees.

Ons is geneig om die Bybel te lees met ’n kop-geraas-metode, om inligting te kry. Die manier hoe ons Jesus se stem kan hoor uit die Bybel, is om die Bybel rustig en stil te lees, sodat ons Jesus se stem kan hoor en daardeur gevorm kan word:

Informatiewe lees

·         Lees met die verstand om te begryp

·         Kwantiteit

·         Verstaan

·         Haastig

·         Informasie

·         Kennis te versamel

·         Beheer

·         Doen

·         Funksioneel – Bybel = tool

Formatiewe lees

•             Lees met die hart om te ontvang

•             Kwaliteit

•             Luister

•             Wag

•             Transformasie

•             Verhouding: om Iemand te leer ken

•             Broos

•             Being

•             Relasioneel – Bybel = stem van God

 

Mag ons op hierdie manier van ons kop-geraas tot ruste bring. Mag ons rus vind wanneer ons die Bybel lees. Mag ons ervaar “Jesus is Here.”

*Hierdie het voorheen in NG Kenridge se Vrydag Nuus verskyn.