Bybellees

Hoekom lees, as jy kan txt?

4 wenke om Bybellees by tieners aan te moedig

Die einde van die Bybellees-era soos ons dit ken, het aangebreek. Toe ek klein was, was lees ‘n vanselfsprekende vaardigheid wat ons as kinders moes bemeester en biblioteke vol boeke is deur ons huisgesin gelees. Kinders vandag is egter anders aanmekaar gesit. Die informasie era het veroorsaak dat ons jongmense (en ons) op soveel ander maniere informasie inwin as bloot die lees van tekste. Jongmense se vaardighede het geskuif na ‘n multi-dimensionele inneem en verwerking van inligting. Dink maar net aan jou tiener wat gelyktydig kan huiswerk doen, WhatsApp, op instagram wees, ipod luister en TV kyk.

Dit maak Bybellees ‘n uitdaging vir die meeste hedendaagse kinders en tieners. Hoe vestig ons hierdie geloofsgewoonte by ons kinders? ‘n Paar idees:

  1. Help jou kind/tiener om die boodskap van die Bybel as ‘n geheel te sien. Moenie altyd net op individuele los tekste fokus nie. Vertel die verhale van die Bybel oor en oor. En hoe dit deel vorm van die groter prentjie.
  2. Help jou kind/tiener om die Bybel nie net as ‘n boek vol opdragte te sien nie. Moenie net die vraag vra: “Wat sê God vir my?” nie. Vra ook die vraag: “Wat sê hierdie gedeelte oor God en Sy koninkryk?” Ontdek saam die wonder van God en Sy betrokkenheid by ons wêreld.
  3. Help jou kind/tiener om die Bybel aan sy/haar daaglikse lewe te verbind. Soek telkens vir praktiese toepassings of ooreenkomste. Getuig uit jou eie lewe hoe God jou leer en lei.
  4. Moenie net die Bybel beperk tot die geskrewe boek nie. Gebruik ook hulpmiddels soos flieks, DVD reekse, musiek, apps, Laai die Bybel (verskillende vertalings, naslaanboeke oor die Bybel ens.) op jul tuisrekenaar en selfone af. Laat kinders/tieners ‘n verhaal lees en dan hulle gedagtes op verskeie maniere deel, bv. verbaal, op skrif, deur middel van kuns, musiek, drama, spel, ens. Gee ruimtes vir hulle om video’s daaroor te maak, blogs te skryf of dit weer te gee in kunswerke ens.

In die woorde van Phil Vischer: “Content is content. Free the Bible from the printed page, and watch it fly!”

Gebruik die app “Holy Bible” deur Youversion om die Bybel in verskeie tale af te laai en te lees. Afrikaanse Bybels en soekfunksies is aanlyn beskikbaar by www.Bybel.co.za en Engelse Bybels, soekfunksies en konkordansies is beskikbaar by www.biblegateway.com. Daar is ook ‘n verskeidenheid van naslaan webtuistes soos www.blueletterbible.org, www.textweek.com en www.bibleatlas.org. Die webtuiste van The Bible project bevat verskeie video’s oor die Bybel.

“Die hele skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek.”  2 Tim 3:16

Geskryf deur ds Anriëtte de Ridder (Predikant in Sinodale diens vir Jeug en Familiebediening van die Wes-Kaapland Sinode).