DiepDink

VARS! Gespreksnotas oor millennials

Twee weke gelede het ‘n groep van 18 predikante en jeugbedienaars saam met Anriëtte de Ridder en Gielie Loubser by Communitas bymekaar gekom om te gesels oor vars en alternatiewe bedieningsmodelle aan naskoolse jongmense en millennium ouers. Die gesprek is gevoer na aanleiding van die boek “You Lost Me – Why Young Christians Are Leaving Church… and Rethinking Faith” van David Kinnaman oor sy navorsing oor buitekerklike jongmense (met ‘n voorheen kerklike agtergrond).

Hier is 2 video grepe oor sy boek:

You Lost me

Prodigals, Nomads & Exiles

Volg hierdie skakel vir die gespreksnotas van die VARS byeenkoms:  VARS gesprek oor millennials

 

Vriendelike groete

Anriëtte

 

Godsbeeld

Woorde is wat ons het om dinge te beskryf. Ons gebruik woorde om kos, mense, ʼn ervaring en God te beskryf. Maar ons woordeskat bepaal hoe goed of hoe in diepte dit beskryf kan word. Jeugwerkers gebruik ook woorde, maar nie net om môre of welkom te sê vir die tieners van die gemeente nie, maar om diepgaande gesprekke te hê oor besondere lewensvrae en kwessies. Die belangrikste area waar Jeugwerkers woorde gebruik is om ʼn beskrywing van God aan tieners oor te dra.

Maar dink gou aan jou eie woordeskat, aan die woorde wat jy gebruik om God in jou stiltetyd vir jouself te beskryf. Hierdie woorde is beperk tot jou eie ervaring van God en die lewe. Jou idee van God en jou woorde is iets eie aan jou. Dit is woorde wat vir jou iets beteken, wat ʼn wêreld skep waarin jy kan veilig voel. Maar hierdie woorde is nie die enigste woorde wat gebruik word om God te beskryf nie. En dit is hier waar Jeugwerkers versigtig moet wees.

Die Jeugwerker se idee van God is nie die enigste idee nie, soos daar verskillende tieners voor mens sit by ʼn byeenkoms, net so verskillend is die idees van God. Sommige gebruik dalk sport-woorde, ander dans-woorde en sommige musiek-woorde. Die verskillende woorde skep verskillende prentjies van God, en indien hierdie realiteit nie in ag geneem word wanneer daar met tieners gewerk word nie, kan dit probleme veroorsaak. Hiermee probeer ek sê dat nie een van ons die kapitaal/kopiereg op ʼn Godsbeeld het nie. Daarom moet ons so versigtig wees om nie slegs een beeld van God te verkondig nie – die een waarmee ons die gemaklikste is nie. Soms moet ons spasie gee om te hoor wat ander se beeld van God is, dit te respekteer en daaroor te gesels. God word soms so maklik en vinnig vasgevang in mense se woorde, en op die einde is dit al God wat sommige ooit sal ken – ʼn mensgemaakte God.

Voorbeelde van maklike beelde van God wat sonder om twee keer te dink oorgedra word: God is Koning, God is ‘n Herder, God is ʼn Pa (Vader), God is ʼn Heerser en God is ‘n Hy (manlik). Sommige van hierdie beelde is ook nie meer bekend in ons konteks nie.

Van hierdie is goeie beelde, maar mens moet altyd kyk na wat die gevolge van ʼn spesifieke beeld is. Bv. God is ʼn hy (manlik) – as die enigste hy’s (mans) wat jy ken jou seer maak en mishandel, hoe goed kan hierdie God dan wees?

Soms is dit nodig om te hoor wat die spesifieke tiener se omstandighede is en wat veroorsaak dat hy/sy nie God op ʼn spesifieke manier kan sien nie, en volgens dit die beeld van God te beskryf. Jeugwerkers moet party keer verkleurmannetjie speel en aanpas by spesifieke situasies en woorde gebruik wat eie aan die tiener is om God ‘verstaanbaar’ te maak binne die wêreld van die tiener.

Dit beteken ook dat Jeugwerkers moet oplet na wanneer ons eie beeld van God, ons eie woorde die enigste woorde raak. Onthou dat God nie vasgevang kan word deur ons woorde nie, maar dat ons woorde wel ander se realiteit vorm. Gebruik die woorde om God te beskryf versigtig en laat altyd spasie vir nog woorde. Ons dien ‘n God wat nie vasgevang mag word in ons woorde nie.

Geskryf deur Liesel Nieuwenhuizen

Boelies

…En sê nou daar’s ‘n boelie...-

‘n Rukkie gelede, oppad na KIX by een van ons skole, kom ek af op ‘n huilende kind, een van ons KIX-ers. Sy wou nie sê wat haar so ongelukkig maak nie. Toe ek haar ma die aand bel, kom die storie uit. Sy word geboelie, al lankal al, deur ‘n graad 3 dogtertjie en haar twee trawante wat ‘n terreurveldtog op die skoolterrein voer. In dieselfde week vertel iemand my van ‘n seuntjie van die ander skool. Soggens het hy maagpyn of gooi selfs op. Hy is te bang om skool toe te gaan, want hy word geboelie.

Baie mense voel dit is maar deel van grootword dinge. Maar só eenvoudig is dit nie. Boelies is ‘n universele verskynsel wat in elke land, kultuur, ouderdomsgroep en geslag plaasvind. Dit is ‘n probleem wat vir almal hoofbrekens besorg, ook vir kinderwerkers. Kom ons bekyk die verskynsel van boelies ‘n slag van naderby. Kom ons help en bemagtig mekaar om sodoende kinders, ouers en onderwysers te help wat hiermee te doen het.

Wat is ‘n boelie?

Dit is iemand wat beheer wil verkry oor ‘n meer weerlose of kwesbare persoon óf oor sy vriendekring[1] deur fisiese of verbale aggressie [2]. Seuns en dogters kan boelies wees.[3] Navorsing het bevind dat die verskynsel van boelies, baie dikwels in skole voorkom.[4]

Wat is tipiese boelie gedrag?[5]

  • Boelies is geneig om te boelie wanneer daar nie gesagsfigure naby is nie, byvoorbeeld op die speelgrond, in die kleedkamers of in die skool se gange.
  • Boelies het gewoonlik een of twee trawante wat altyd saam met hulle is en hul help om ‘n kind te intimideer.
  • ‘n Slagoffer kan geterg word, name genoem word, afgepers word of fisies seergemaak word.
  • Boelies kan stories of leuens oor die slagoffer versprei.
  • Boelies kan poog om almal teen die slagoffer te laat draai – om hom / haar ‘n uitgeworpene te maak.
  • Boelies kan die slagoffer se besittings wegsteek, beskadig of afvat.
  • Boelies kan slagoffers totaal ignoreer en ander sover kry om dieselfde te doen, die “silent treatment.”
  • Boelies kan die slagoffer dreig dat sy vriende of familie ook ge”kry” sal word.
  • Boelie gedrag doen nie net die slagoffer skade aan nie, maar ook aan die boelie self.[6]

Wat moet mens weet van boelies[7]

  • Hulle hou daarvan om mense te verkleineer, skaam of seer te maak.
  • Boelies het nie baie selfvertroue nie; daarom pik hulle op ander.
  • Hulle is dikwels ongelukkige mense met probleme.
  • Boelies voel beter oor hulleself as hulle ander kan laat sleg voel.
  • Baie kenners is dit eens dat boelies boelie, omdat hulleself geboelie is, miskien tuis, elders of by die skool. (NB Maar selfs al word iemand geboelie, het hy / sy ‘n keuse. Hy hoef nie ‘n boelie te word nie!)
  • Sommiges help die boelie om te boelie, om te verhoed dat hulleself geboelie word.
  • Boelies werk dikwels in groepe, want dit help hulle om verskonings te hê wanneer hulle uitgevang word, bv. “…Ek het dit nie begin nie… Ek was net daar naby… Hy [die slagoffer] het dit begin en ek het net my vriend gehelp…”
  • ONTHOU: ‘n Boelie kan alleenlik suksesvol wees indien niemand iets daaromtrent doen nie!
  • Boelies se ouers neig om inkonsekwent dissipline toe te pas en dikwels is daar min warmte of liefde in sulke gesinne.[8]
  • Gewoonlik is boelies nie model studente nie, presteer nie goed op skool nie en kom nie oor die weg met hul onderwysers nie.[9]
  • Boelies is nie gewild onder hul portuurgroep nie.[10]

Hoe lyk die boelie se tipiese slagoffer?[11]

  • ‘n Slagoffer kan enigiemand wees wat toevallig op die verkeerde tyd, op die verkeerde plek is.
  • Mense wat op enige wyse dalk “anders” is.
  • Enigiemand wat lyk asof hy / sy ‘n maklike teiken is (maklik om bang te maak).
  • Iemand wat kleiner of jonger as die boelie is.
  • Mense wat sensitief is, wat maklik huil of ontsteld word.
  • Mense wat nie baie vriende het nie, byvoorbeeld nuwe kinders.

Wat is die gevolge vir die slagoffer?[12]

  • Om geboelie te word is baie stresvol vir die slagoffer.
  • Kinders mag ‘n teësin ontwikkel vir skool.
  • Slagoffers begin alle lede van die portuurgroep wantrou en sukkel om vriende te maak.
  • Ekstreme slagoffers kan depressie of ‘n fisiese siekte ontwikkel.
  • Meeste slagoffers presteer goed op skool en is in staat om te begin vriende maak soos hulle ouer word.
  • Meeste slagoffers (veral die wat deur volwassenes ondersteun word) oorleef die boelie ondervinding sonder langtermyn newe-effekte.

Hoe hanteer mens ‘n boelie?[13]

  • Leer ‘n kind om ALTYD oplettend te wees en voortdurend op die uitkyk te wees vir ‘n moontlike boelie situasie.
  • Vermy ‘n boelie situasie. Weet wanneer om weg te loop.
  • Gebruik humor om ‘n boelie te ontlont. Maak ‘n grap wanneer ‘n boelie begin aanmerkings maak of begin om te terg. Daardeur kry die boelie nie die gewenste reaksie van die “slagoffer” nie. Laat die kind dit vooraf inoefen met rollespel. Gee vir die kind grappies / grappige sinsnedes wat hy / sy moontlik kan gebruik vir die boelie.
  • Tree self-handhawend (assertive) op. Sê DUIDELIK vir die boelie om te skoert of “GAAN WEG!” en stap dan self weg van die situasie. Laat die kind dit vooraf oefen in die spieël en deur rollespel.
  • Maak ‘n nuwe vriend(e).
  • Bly voortdurend tussen ‘n groep kinders. Boelies pik op kinders wat alleen is.
  • Soek vriendelike kinders se geselskap op en begin bou aan vriendskap met hulle.
  • Kry hulp by ‘n volwassene. Moedig die kind aan om as hy geboelie word, te gaan praat met ‘n onderwyser, sy ouers of ander volwassenes.[14]
  • Beskerm die kind se gevoelens teen “name-calling” deur hulle te leer om hulself te beskerm teen beledigings. Leer die kind dat om die boelie terug te beledig, die situasie net sal vererger.
  • Om die krag en seermaak uit woorde weg te neem, kan die beledigende woorde hardop gesê word deur die kind. Laat die kind dan die woorde “weggooi”. ‘n Mens kan die kind laat oefen om die woorde in ‘n vullisblik te gooi. Laat die kind daarna iets positiefs oor homself sê wat hy weer kan inneem. Byvoorbeeld: “Niemand hou van jou nie.” Ek gooi die woorde weg en sê “Ek hou van my.”
  • Leer die kind om nie dadelik tou op te gooi as ander kinders hom nie by ‘n speletjie insluit nie. Help die kind om vol te hou om te vra om saam te speel. (Laat die kind vooraf oefen om nie aggressief of kermend te klink as hy met hulle praat nie. Help hom om te oefen om positief en vriendelik te lyk. Oefen gesigsuitdrukkings in die spieël.)[15]
  • As ‘n laaste uitweg, (volgens sommige kenners) leer die kind selfverdediging, vir geval hy fisies seergemaak gaan word en hy nie van die situasie kan ontsnap of hulp kan kry nie.

Wat kan skole doen om boelies stop te sit?[16]

  • Moenie boelie gedrag ignoreer nie – spreek dit aan! ONTHOU: ‘n Boelie kan alleenlik suksesvol wees indien niemand iets daaromtrent doen nie!
  • Gaan doen deeglike “huiswerk”. Stel akkuraat vas wat die omvang van die probleem is.
  • Sorg dat volwassenes meer sigbaar is oral op die skoolterrein, maar veral die areas wat die boelie probleem voorkom, bv. kleedkamers, speelgrond, die nasorg lokale, gange, ens. Sorg vir beter toesighouding, veral tydens pouses.
  • Maak dit teen die reëls om iemand anders te boelie. Wees konsekwent om alle boelie gedrag te dissiplineer.
  • Praat ernstig met boelies. Laat hulle verstaan dat jy bewus is van wat hulle doen en dat jy dit nie gaan duld nie.
  • Help die boelies om hulp te kry. Boelies is mense wat self probleme het.

[1] Carol E. Watkins, M.D. (Northern County Psychiatric Associates, Lutherville and Monkton, Baltimore County, Maryland) – Dealing with Bullies and how not to be one (www.ncpamd.com)

[2] Laura DeHaan, Ph.D (Assistant Professor of Child Development, North Dakota State University) – Bullies, February 1997. (www.ag.ndsu.edu)

[3] Hara Estroff Marano – Big bad bully. Psychology Today Magazine, Sept / Oct 1995.

[4] Ibid.

[5] Bullying – being unkind to others (Kids’ Health: Children, Youth and Women’s Health Service, South Australia, 8 April 2008.)

[6] Carol E. Watkins, M.D. (Northern County Psychiatric Associates, Lutherville and Monkton, Baltimore County, Maryland) – Dealing with Bullies and how not to be one (www.ncpamd.com)

[7] Bullying – being unkind to others (Kids’ Health: Children, Youth and Women’s Health Service, South Australia, 8 April 2008.)

[8] Laura DeHaan, Ph.D (Assistant Professor of Child Development, North Dakota State University) – Bullies, February 1997. (www.ag.ndsu.edu)

[9] Ibid.

[10] Ibid.

[11] Bullying – being unkind to others (Kids’ Health: Children, Youth and Women’s Health Service, South Australia, 8 April 2008.)

[12] Laura DeHaan, Ph.D (Assistant Professor of Child Development, North Dakota State University) – Bullies, February 1997. (www.ag.ndsu.edu)

[13] Hara Estroff Marano – Big bad bully. Psychology Today Magazine, Sept / Oct 1995.

[14] Personal safety and self defense for children, teens and adults: Face bullying with confidence. KIDPOWER – webtuiste.

[15] Ibid.

[16] Laura DeHaan, Ph.D (Assistant Professor of Child Development, North Dakota State University) – Bullies, February 1997. (www.ag.ndsu.edu)

 

Gedagtes oor verhoudings, vryheid en lewe

#DIepdink

Cars- ja, die Disney fliek, met Lightning McQueen, Mater en Doc Hudson. Ten spyte daarvan dat albei my kinders dogtertjies is, speel Cars byna op “repeat” in die DVD masjien. Afgesien daarvan dat ek die storie letterlik honderde al gekyk het, het ek onlangs eers besef dat dit ’n storie oor vryheid is.

Aan die begin sien ons hoe McQueen se kuipe-span bedank, want McQueen is skynbaar ’n one-man-show. Hy wil nie gebind wees aan ander wat vir hom sê wanneer hy bande, of brandstof nodig het nie. Verhoudings is vir hom ’n struikelblok wat hom gevange hou en keer om sy doelwit te bereik, naamlik om wenner van die Piston Cup te wees. Dit is sy droom, maar meer, hy koppel sy hele identiteit aan die gedagte dat hy ’n renmotor is, wat moet kompeteer en wen.

Op pad na die wedren, wat die finale wenner sal bepaal, beland hy deur ’n snaakse sameloop van omstandighede as “gevangene” van Radiator Springs. Hy is gevonnis tot gemeenskapsdiens, om die hoofstraat te herstel. In die loop van die paar dae daar ontwikkel hy verhoudings met karre, waarmee hy nooit andersins sou nie. Hy leer dat sukses en prestasies as doelwitte leeg is.

Dit het vir my ’n treffende beeld geword van ons lewe saam met Jesus. Baie mense van ons wêreld is baie prestasie gedrewe en in die proses word verhoudings kettings wat ons gevange hou. Die cliché is egter dat wanneer die doelwitte behaal word, is dit leeg wanneer daar niemand is om die vreugde mee te deel nie.

Ek verstaan die storie van die Bybel dat Jesus nie teenprestasie is nie. Hy is nie teen die gedagte dat ons ontwikkel en uitnemend leef nie, maar Jesus is beslis eerste vir verhoudings. Ons is gemaak om God se liefde te ontvang en ander mense lief te hê. Wanneer ons uitnemendheid en sukses gekoppel word aan verhoudings, het dit ’n groei-effek op ander mense.

Aan die einde van Cars wen McQueen nie die Piston Cup nie. Hy kom derde en dus laaste, maar skielik is hy deel van verhoudings wat die eerste plek baie relatief maak. Hy ontdek dat die verhoudings baie meer vryheid gee as sukses en bekendheid.

Wanneer ons uitnemend lief het en verhoudings bou ontdek ons vryheid, want prestasies alleen is koue selle waarin ons opgesluit word. Saam met ander mense is daar vryheid en die lewe in oorvloed waarvan Jesus praat (Joh. 10).

*Hierdie het voorheen in NG Kenridge se Vrydag Nuus verskyn.

Om te luister

#DIepdink

Jy ken daai gevoel. Daai gevoel dat iemand nie mooi geluister het na wat jy sê nie. Wanneer dit met my gebeur is sommer dadelik kwaad, want die ander persoon gee dan nie regtig aandag aan my nie en dit laat my onbelangrik voel en ook dat my verhouding met die persoon nie belangrik is nie. Die meeste van ons doen dit, sonder dat ons dit besef. Steven Covey beweer dat ons in ons luister-proses baie kere meer besig is om ons eie reaksie te formuleer as om regtig te luister na wat iemand sê.

Wanneer ons met iemand stry kom dit nog beter na vore en baie kere ontaard die stryery in ’n “shouting match” want ons voel dat wanneer ons die volume hoër maak, ons die punt beter sal kan dryf en op daardie manier gehoor sal word.

Om regtig na mense te luister is een van die maklikste maniere om menswaardigheid aan mense te betoon. Maar, om regtig te luister vat tyd en dit kos energie, want ons moet in iemand anders se skoene inklim. Die storie van Jesus en die pa wie se kind demoon-besete was (Markus 9:14-29) wys vir ons dat Jesus gehoor het wat aan die gebeur was, maar dat hy ook geluister het. Die manier waarop Jesus geluister het, het waarskynlik netsoveel beteken as die feit dat Jesus die seun gesond gemaak het.

Pete Scazzero[1] help ons met ’n paar praktiese punte om na mense te luister (en daarvan raak sigbaar in Jesus se optrede):

  1. Plaas jou eie agenda op die agtergrond. Jou eie agenda maak dat jy net wil hoor wat jy wil hoor, mis wat jy nie wil hoor nie en daarom nie luister nie.
  2. Laat die persoon praat tot hulle die hele gedagte afgehandel het. Wanneer ons “inchip” maak dit die omgewing vir hulle onveilig en in plaas van deel, word hulle dan verdedigend.
  3. Probeer dit wat die persoon gesê het in jou eie woorde herhaal en laat die persoon toe om jou te korrigeer, indien nodig. Dit sê vir die persoon, jy het geluister en dat jy moeite doen om te verstaan wat hy/sy probeer sê.
  4. As dit lyk of die persoon klaar gepraat het, maak eers seker of hy/sy klaar is. Dit maak dit moontlik vir die persoon om alles af te pak, sodat hulle kan voel hulle is gehoor.

Mag ons werklik na mense luister. Mag ons op hierdie eenvoudige manier mense help om menswaardig te voel. Mag mense op hierdie manier Jesus se genade deur ons beleef.

*Hierdie het voorheen in NG Kenridge se Vrydag Nuus verskyn.

[1] Peter Scazzero, 2006, Emotionally Healthy Spirituality, Zondervan

Soos jy bid, so glo jy, so leef jy.

#DIepdink

’n Paar jaar gelede het ’n skoolvriendin se man het binne ’n kwessie van enkele dae van blakend gesond beweeg, na onophoudelike hoofpyn, na ’n diagnose van ’n gewas op sy brein, na intensiewe sorg in die hospitaal, na dood. Deur die tyd het ek, saam met ’n klomp ander vriende en familie met groot hoop en verwagting gebid dat God die jong man sal genees, sodat hy kon voortgaan om vir sy pragtige jong gesin te sorg.

Hoe swakker dit gegaan het, hoe meer het ek gebid, tot my gebede meer die kleur van kerm en neul aangeneem het. Na sy dood was ek vies vir God en gefrustreerd met die Bybel en woedend vir Christene. Ek was vies omdat God nie ek en my vriendin se gebede verhoor het, soos ons wou nie. Ek was gefrustreerd met die Bybel, want dit belowe die opstandingskrag van Jesus, dat ons kan vra wat ons wil in sy Naam en hy sal gee en selfs dat ons nog groter werke sou doen as Jesus, maar helaas – geeneen van daardie beloftes het hier gegeld nie. Ek was woedend vir Christene wat vooraf groot stellings soos “Spreek net lewe” gemaak het en na sy dood self doodstil was.

Ek is steeds bietjie vies vir God, want my vriendin is nou ’n weduwee met twee seuns, waarvan een nooit sy eie pa sal ken nie. Ek weet nie hoe lyk God se pad nou met haar nie, maar hy het weer vir my een ding oor my lewe saam met Hom in gebed, geloof en lewe kom wys.

In Lukas 11:1-11 vra die dissipels vir Jesus om hulle te leer bid, waarna hy vir hulle die Onse Vader leer, die gewilde soek, klop en vra uitspraak maak. Heel aan die einde sê hy egter die volgende:

“As julle wat sleg is, dan weet om goeie geskenke aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die Hemelse Vader die Heilige Gees gee vir hulle wat Hom vra.”

Ek het geleer dat ons enige iets in gebed vir God kan vra. Ek het uit Lukas 11 geleer dat in gebed, ons God se volle, onverdeelde aandag kry, deur sy Gees. Ek het geleer, dat God nie altyd vir ons gee wat ons wil hê nie, maar Hy gee homself. Ek het dus geleer dat om aanhoudend te bid, aanhoudend my geloof versterk deur die Heilige Gees se teenwoordigheid te verseker en dat ek uit sy teenwoordigheid kan leef met die troos dat niks, nie eers die dood, my van Hom kan skei nie.

*Hierdie het voorheen in NG Kenridge se Vrydag Nuus verskyn.

Om stil te word

#DIepdink

Die Amerikaanse teoloog en skrywer, Dallas Willard, was ‘n paar jaar gelede in Suid-Afrika en het ’n preekbeurt gehad in ’n NG Gemeente. Op die kanselkleed was die Afrikaanse frase “Jesus is Here”, wat Dallas toe in Engels lees “Jesus is Here” (Jesus is hier). Hy maak toe die opmerking dat dit een van die grootste waarhede is, waaraan ons die minste aandag gee.

Op sy beurt vertel Rob Bell die storie van Moses, wat skape oppas en die brandende bos opmerk (Eks. 3). Hy vra die vraag of ons nie dalk elke dag by brandende bosse verbyloop, sonder dat ons dit opmerk nie; dat ons by God verbyloop maar hom nie raaksien nie.

Beide Dallas Willard en Rob Bell verduidelik dat ons heel eenvoudig te besig is en te veel kop-geraas en klank-geraas het. Ons  almal voel aan dat ons daagliks stiltetyd moet hou en ons dan  sit ons soms die klank-geraas, maar nie die kop-geraas nie. Kop-geraas is al die goed wat ons gedagtes oorneem wanneer ons na Jesus wil luister: ons dagboeke en to-do-list… Daar is egter ook ander kop-geraas waaraan ons nie altyd dink nie en dit gaan baie kere oor hoe  ons die Bybel lees.

Ons is geneig om die Bybel te lees met ’n kop-geraas-metode, om inligting te kry. Die manier hoe ons Jesus se stem kan hoor uit die Bybel, is om die Bybel rustig en stil te lees, sodat ons Jesus se stem kan hoor en daardeur gevorm kan word:

Informatiewe lees

·         Lees met die verstand om te begryp

·         Kwantiteit

·         Verstaan

·         Haastig

·         Informasie

·         Kennis te versamel

·         Beheer

·         Doen

·         Funksioneel – Bybel = tool

Formatiewe lees

•             Lees met die hart om te ontvang

•             Kwaliteit

•             Luister

•             Wag

•             Transformasie

•             Verhouding: om Iemand te leer ken

•             Broos

•             Being

•             Relasioneel – Bybel = stem van God

 

Mag ons op hierdie manier van ons kop-geraas tot ruste bring. Mag ons rus vind wanneer ons die Bybel lees. Mag ons ervaar “Jesus is Here.”

*Hierdie het voorheen in NG Kenridge se Vrydag Nuus verskyn.

Skole bediening energie gesprek – waarnemings en leidrade vir die pad vorentoe

www-gazillionthanks-com-8Op 4 Augustus 2016 het ‘n groep jeugwerkers en predikante by Communitas op Stellenbosch byeengekom om te gesels oor skole bediening. Daar is geluister na mekaar se stories asook gesels met organisasie wat reeds betrokke is in skole.

Organisasies mee gesels:

VCSV David Nefdt

Gateway telefoon konferensie Willie Roos

Kohin Elize

FutureNow Gert van der Merwe

Scripture union Mark Krastin

Ander projekte:

  • Jana Dickason – “detensie bediening” in Durbanville Hoërskool
  • Anton Duvenhage – sportbediening Hermanus
  • Vicus Kruger – Bellville skole jeugmentors
  • #imagine opvolg materiaal (boekie plus flashdrive vol ekstras. Ook aanlyn beskikbaar) – ideaal vir hoërskole of koshuise
  • #imagine kidz – geleentheid vir verskeie kerke/skole om saam te werk aan ‘n vakansie program wat by skole of nasorge of kerke aangebied kan word.
  • KIX materiaal vir laerskole / crèches / nasorge (kixkinders.co.za). Dit bestaan uit 7 ontmoetings per kwartaal en werk kronologies deur die Bybel. Gedrukte nuusbriewe kan bestel word of die ouer materiaal kan aanlyn gratis afgelaao word.
  • Reach for life – jy kan toegang kry in skole deur VIGS prevention en Reach for Life. Die Bybelstudies is makliker, hou die hele jaar (40) en bevat ook seksualiteit en vigs goed binne in die Bybel. Jy kan R21 drukkoste betaal of `n program hê en dan gaan soek hulle `n borg vir jou.
  • Manie Botha – heymanie.co.za HeiLead is sy skoolprogram. R150 vir die dvd en boekie en R20 per boekie. Leierskapsontwikkeling in skole.

Wat het die groep gehoor? Enkele opmerkings deur die groep

Die kontekste van elke gemeente en gemeenskap is baie divers – dit kort fyn luister om te hoor wat van toepassing is op my eie konteks.

Verhoudingsbou met onderwysers is baie belangrik omdat hulle hoofsaaklik die rolspelers is.

Daar is baie strategieë en modelle – begin egter eers by die vraag oor hoe jou konteks lyk.

Dit was positief om te hoor dat daar ander mense is wat sukkel met skole bediening.

Dit was ook positief om te hoor van ander  / nuwe vorms van die bediening – om vars te kan dink.

Skole projek van Bellville was baie interessant

Waarde gedrewe program is ‘n moontlike opsie om te ondersoek

Diversiteit is ‘n geleentheid om by mekaar te leer.

Ons het ‘n ruimte nodig om te “share” en mekaar se stories te hoor.

Ons het ‘n forum nodig vir netwerk en gesprek. Dit was baie waardevol om saam te kuier en so te leer.

Hoe kan ons brûe bou met die ouer predikante sodat hulle ook nuut dink oor skole bediening? Dalk ‘n forum skep met ouer en jonger kollegas wat saamgesels.

Vandag gehoor netwerke is baie belangrik (skool, kerk maar ook met ander denominasies en gemeentes).

Dit is lekker om te hoor dat daar is ook ander  kerke met uitdagings, maar dat daar ook verskillende kreatiewe maniere is om die kinders te bedien.

Opnuut besef die belangrikheid van verhoudings en koffie! En die belangrikheid van “facetime” in die proses.

Ons het gehoor dat daar verskillende sub-kulture in ‘n skool is.

Die kinders wat baie besig is, is ‘n realiteit.

Daar is soms baie gemeentes of denominasies wat in kompetisie is.

Ek het opnuut onthou die belangrikheid om self met tieners te praat.

Dis ‘n wanpersepsie dat godsdiens nie in skole mag wees nie of dat daar ‘n wet daarteen is.

Die brugbou en samewerking tussen denominasies is noodsaaklik.

Ons gaan moet werk aan ons samewerking met ander denominasies, veral charismatiese kerke.

Ons moet kyk na beleidsdokumente vir samewerking.

Daar is ‘n groot geleentheid by nasorg as ‘n bedieningspunt.

Ek het gehoor daar is ander maniere om by skole betrokke te raak byvoorbeeld die detensie bediening of stiltetye in die koshuis.

Leidrade vir die pad vorentoe:

Ons moet beslis kyk na ‘n “waarde projek” vir skole.

Ons kan meer navorsing doen oor verskillende kontekste.

Ons moet ook die konteks van armer skole deurdink.

Ons kan die verskillende modelle vergelyk … bv jeugwerker, gateway model ens en dan kommunikeer hoe dit werk.

Ons kan riglyn saamstel vir skole oor doe samewerking tussen denominasies

Ons kan Hub-sisteem deurdink waar ‘n paar kerke vir ‘n bepaalde skool / skole saam verantwoordelikheid neem.

Artikel samegestel deur Anriëtte de Ridder

Jana Dickason vertel van Detensie Bediening in Durbanville

www-gazillionthanks-com-5Jana Dickason (Durbanville Moeder Gemeente) en Wynand Breytenbach (Durbanville Bergsig Gemeente) het hul plaaslike Hoërskool genader en aangebied om die detensie tyd op ‘n Vrydagmiddag weekliks te fasiliteer. Hulle wil graag in hierdie tyd die tieners help om na te dink oor hul keuses en identiteit en positief te groei. Hulle doen dit deur veral te luister na hulle stories.  Hulle leuse is – Ons is hier om te luister, te fluister en te groei.

Hoe benader ‘n mens só ‘n bediening?

Begin deur stories te vertel, ook jou eie. Wees vulnerable. Maak duidelik jy is nie van die skool nie, maar van buite. Beklemtoon dat dit `n veilige ruimte is en dat jongmense nie veroordeel sal word nie. Soms neem dit lank vir jongmense om te begin oopmaak.  Hulle sukkel aan die begin om te deel en raak soms aanvallend.

Watter temas behandel hulle?

Hulle behandel 4 vrae, 1 vraag per week

  1. Wie is jy? (“body mapping”) Help hulle om hulle stories te vertel deur die prente wat hulle teken. Trek elkeen se hele liggaam af op groot velle papier. Elkeen kry die opdrag om binne in hulle prent te teken/skryf wie hy/sy tans is en buite om te teken/skryf waarheen hy/sy oppad is of /wie hy/sy wil wees OF wat hulle drome is. Bespreek dan die vraag – Wat verhoed jou vandag (dinge aan die binnekant) om te kom waar jy wil wees (aan die buitekant).
  2. Waarvoor staan jy? (Beskryf jou beste vriend – dan sien jy wat jy hoog ag, moenie laat ander se labels jou define nie, hoekom is dit nie so in die wêreld nie? Onreg) hier word gesprekskaarte gebruik.
  3. Wie het jou seer gemaak? (vul in op verskillende kaartjies – wêreld, geloof, ek, familie, skool; en maak ‘n tydlyn – hoogtepunte, laagtepunte ens, antwoord self ook die vrae)
  4. Waarheen is jy op pad? Weer body mapping, kyk nou of dit anders lyk as tydens die eerste week.

Soms kom daar dinge uit ‘n gesprek wat volgens wet gerapporteer moet word en dan neem die skool se maatskaplike werker dit gewoonlik verder.

Artikel samegestel deur Nicola Alberts na ‘n energiepunt gesprek oor skolebediening waar Jana Dickason bogenoemde storie vertel het van hul plaaslike “detensie bediening”.

Skole: Hoe vat ons hande en met wie?

www-gazillionthanks-com-1Nicola Alberts skryf oor die gesprek oor skole bediening:

Godsdiens word nie tans uit die skool uit gedryf nie, maar daar moet opgelet word dat die wet gelyke regte eis vir alle gelowe en dat godsdiensbeoefening nie die minimum skooldag se ure of inhoud beïnvloed nie.

Die veranderende wêreld van die leerder het `n invloed op ons bediening van hulle, byvoorbeeld sosiale media, ‘n kultuur van alles bevraagteken, kritiese denkers, diversiteit, ekonomiese omstandighede (baie kinders kan nie kampe bywoon nie) en die verkrummeling van familiestrukture.

Die groot vraag is hoe vat ons hande en met wie?

Die kerk en skool moet in dieselfde rigting probeer beweeg. ‘n Waardesisteem vir skole kan hiermee help. met ‘n program wat hierby aansluit. Alle gelowe kan hierby baat vind. Sekere skole doen dit reeds en kies per kwartaal ‘n kleur wat die waarde simboliseer of ‘n dier met sekere eienskappe.

As daar net een kerk in `n skool verteenwoordig word, veroorsaak dit wrywing, veral as daardie kerk sy dogma op kinders van ander kerke probeer afdwing. Dit is dus ook belangrik dat verskillende kerke saamwerk (mbv ‘n beleidsdokument).

Stories uit gemeentes:

In ‘n gesprek oor skole bediening gehou deur die Taakspan vir Jeug en Familiebediening van die Wes Kaap Sinode (4 Augustus 2016) het jeugwerkers en –leraars stories gedeel van hoe hulle skole in hulle konteks benader….

Stellenberg Gemeente het genoem dat samewerking tussen denominasies tans ‘n uitdaging is. Veral omdat ‘n sekere denominasies sterk voorskrifte het wat hulle in die skool propageer. Die skool se christen vereniging is egter interkerklik en vermy om te praat oor sekere onderwerpe nie (soos doop) t.w.v. die verhoudings. Daar is onderwysers wat vir hierdie vereniging verantwoordelik is en die gemeentes moet betrek. ‘n Beleidsdokument sal baie help in hierdie konteks.

Wellington Moeder gemeente het ‘n jeugleraar aangestel wat ook  `n kantoor by die skool het en 2 dae van `n week voldag by die skool is vir pastorale gesprekke met kinders. Hy bly ook by die koshuis. Graad 11’s en 12’s is kringleiers vir kleingroepe en daar is ‘n toerusting sessie vir hulle een keer per week. Toewyding van leerders is egter soms uitdagend. Daar is ook ‘n weeklikse VCSV byeenkoms na skool saans. Die beleid van die skool is dat geen ander skool aktiwiteite in daardie tyd gereël mag word, maar in werklikheid hou al die onderwysers nie daarby nie. Die selgroep en praise & worship in die koshuis elke tweede week werk goed, solank ‘n mens net deurgaans bewus bly van die ritmes van die skool.

Stellenbosch Moedergemeente het ‘n jeugwerker aangestel wat ook verantwoordelik is vir skole bediening. Hy probeer om die verhoudings tussen die denominasies te verbeter wat voorheen ‘n groot uitdaging was. Dit is baie belangrik om ook goeie verhoudings met die onderwyser/s te hê. Ondersteun ander gemeentes se jeugaande en drink koffie met die ander jeugleiers op die dorp.

In Riviersonderend gemeente verteenwoordig die skole op die dorp glad nie die gemeente se kinders nie. Die meeste kinders in die gemeente is in privaatskole of in koshuise in Caledon. Onderwysers met `n passie vir kerkwees is baie belangrik en daarom is een manier waarop ‘n gemeente skole kan bedien om onderwysers wat lidmate is te ondersteun.  Daar is “koshuisgodsdiens” in die plaaslike koshuis vir ‘n halfuur elke week. Die uitdaging is dat die kinders in die koshuise tussen graad 1 en 6 is. Skole bediening op ‘n klein plattelandse dorp is baie missionaal, omdat daar so min kinders van jou eie gemeente. Dit is belangrik om ook die leiers van die skool (leerlingraad en ander) te ontwikkel en op só ‘n manier die skool te bedien.

Ander gemeentes vertel van hoe hul jeugwerkers betrokke is by byvoorbeeld sportafrigting. Ander ondersteun weer die skole se CSV of die onderwyser wat daarvoor verantwoordelik is. Waar daar ‘n jeugwerker in ‘n skool geplaas kan word is daar baie groter kans vir verhoudingsbou en pastoraat. Bedienings moet egter meestal interkerklik gebeur. Een gemeente het ook ‘n projek waar hul kinders help met huiswerk en ‘n ander vertel weer van ‘n waarde-gedrewe kampe wat hul aanbied vir die skool.

Skole bediening gaan minder oor ‘n spesifieke gemeente en baie meer oor samewerking ter wille van die koninkryk! 

Nicola Alberts is verantwoordelik vir jeugwerk by die Hottentots-Holland Familiekerk in Somerset Wes. Sy het hierdie artikel geskryf na aanleiding van ‘n gesprek oor skole bediening gehou op 4 Augustus 2016 in Stellenbosch. Die gesprek is gereël deur die Taakspan vir Familie en Jeug bediening van die Wes Kaap Sinode.

 

 

Strategie vir jeugbediening

anriette-de-ridder-moderamen-jeug-gesprekDs Anriëtte de Ridder (PSD: Jeug en Familiebediening)  gesels tydens die Moderamenvergadering (Augustus 2016) in die Wes Kaap oor die strategie vir Jeugbediening – vanuit die Diensgroep vir Gemeentebegeleiding. Sekere vrae word as deel van hulle navorsing gebruik.

Geloof word met ‘n tafel vergelyk – die vier bene is verhoudinge, aksie, aanbidding en kennis. Dieselfde as oor jare, maar ANDERS – want die konteks waarin ons jeug leef, is totaal anders. Anriëtte se interessante styl van aanbieding skep ruimte vir goeie interaksie, sodat die lede van die moderamen kan opstaan en hulle gedagtes oor vraag 1 “Hoe leer jy kosmaak?” met mekaar kan deel.

Onder verskyn die voorlegging wat Anriëtte gemaak het.  Dit kan in gemeentes en tydens ringsittings nuttig aangewend word.