dinkdiep

Holistiese Familiebediening Deel 1 – Lidmaatbemagtiging is die sleutel

Die grense van “familie” bediening lê so wyd dat ‘n predikant of jeugwerker maklik verlam kan voel. Wanneer lidmate egter bemagtig word om leiding te neem bring dit nuwe moontlikhede en hoop. Die Here gee aan elke gemeente die nodige gawes om hul roeping uit te leef. Die kerk se taak is om lidmate te help om hul gawes en roeping te ontvang terwyl hul dien en dit verder uit te bou.

(more…)

Hoe kan ons millennials beter verstaan? Deel 2: Outentiekheid

Wat is outentiekheid?

Outentiekheid gaan oor egtheid, oorspronklikheid en om die bron van iets te weet.  Die moderne mens se soeke na outentieke verhoudings, produkte en ruimtes kan gesien word as ‘n teenreaksie op die nywerheidsera waar die fokus was op massa produksie. Millennials word gekenmerk aan die behoefte om hulself (en ander) as unieke persone te erken en hulle heg ook meer waarde aan konteks en stories wat elke mens se ervarings beïnvloed. Die tegnologie era het verhoogde netwerke en kommunikasie tot gevolg, maar mense soek ook ter selfde tyd dieper konneksie en egtheid in verhoudings.  ‘n Verdere rede hoekom outentiekheid só ‘n belangrike tema geraak het, is die mens se strewe na etiese ekologiese bewussyn.  Organiese kos, “fair trade”, volhoubare ontwikkeling, en verantwoordbare produksie is alles hieraan verbind. Die opkoms van “neighborhood markets”, organiese produkte en “craft” bier / koffie / gin / roomys is uitdrukkings van hierdie terugkeer na die bron en outentieke ervarings.

Hoe beïnvloed die soeke na outentiekheid die kerk?

Gemeentes wat ruimte maak vir unieke geloofservarings, diversiteit in hul kerkraad en leierskap het, deursigtig is oor finansies en nadink oor volhoubare gebruik van hulle bronne is al voorbeelde van uitdrukkings hiervan. ’n fokus op mentorskap en die skep van ruimtes waar egte konneksie kan plaasvind is ook ‘n voorbeeld. Eerlike en egte prediking, etiese leierskap en die terugkeer na eenvoud is vir die moderne gelowige belangrik.

Hoe help dit ons om millennials beter te verstaan?

Millennials soek nie perfekte leiers nie, maar leiers wat ook eerlik is oor hulle tekortkominge. ‘n Leierskap struktuur wat ruimte bied vir ‘n verskeidenheid soort leiers (leierskap style, ouderdomme, diversiteit verteenwoordig) sal meer aanklank vind by hierdie geslag. Emosionele intelligensie, kulturele intelligensie, en spirituele intelligensie I vir hierdie generasie baie belangrik sowel as persoonlike geloofsgroei en ontwikkeling. Millennials wil nie as groep hanteer word nie en sal daarom aanklank vind by dinge soos mentorskap, ‘n verskeidenheid van groepe, en die erkenning van elkeen se unieke geloofsreis.

Gespreksnotas saamgestel deur Anriëtte de Ridder tydens ‘n byeenkoms van die Jong Volwasse Leer Gemeenskap in Februarie 2018.

Hoe kan ons millennials beter verstaan? Deel 1: Modulariteit

Wat is modulariteit?

Die Jong Volwasse Leer Gemeenskap het ‘n paar beginsels raakgelees en dit bespreek, waarvan een daarvan modulariteit (“modularity”) is. Modulariteit verwys na iets wat uit verskillende komponente bestaan, byvoorbeeld wanneer geboue uit vaste komponente saamgestel kan word. Modulariteit verwys ook na die vermoë van iets om verander na gelang van behoeftes, soos ‘n meubelstuk wat eers ‘n kot is en wat later in ‘n bed of bank verander kan word soos wat behoeftes in ‘n gesin verander. Moduleriteit kan gesien word in dinge soos hoe mense self wil kies hoe hulle selfoon kontrakte opgebou word en hulle wil dit ook kan verander. Nog ‘n voorbeeld is waar mense flexityd kan werk en self kies hoe hulle hulle tyd “blokkies” van oefening, rekenaar werk, vergaderings, internet tyd en familietyd in hulle dag kan inpas. Nog voorbeelde is hoe mense hulle selfone bou deur self hulle toeps te kies of waar mense self kies watter t.v. programme kies (Netflix, Showmax ens). Modulariteit hou verband met verbruikerswese maar gaan meer as net oor die vervulling van behoeftes. Dit gaan ook oor die vermoë van mense (en dit wat hulle gebruik) om aanpasbaar te wees. Dit gaan oor die moderne mens se behoefte aan verhoogde eienaarskap asook die erkenning daarvan dat mense en hulle behoeftes (asook omstandighede) uniek en veranderlik is. Modulariteit is ‘n algemene teken van die tyd, maar is veral belangrik en deel van die millennials se leefwêreld.

Hoe impakteer modulariteit dit die kerk?

Ons sien reeds die groei van modulariteit in die kerk. ‘n voorbeeld is ruimtes wat vir meer as een doel gebruik kan word byvoorbeeld vergaderings en jeug byeenkomste, deur die meubels rond te skuif. Nog ‘n voorbeeld is ‘n preekstoele op wiele wat weggeskuif kan word in informele eredienste om ruimte te maak vir die begeleidingsgroep. Gemeentes wat verskillende erediens tipes aanbied is ook ‘n voorbeeld sowel as wanneer liturgieë in ‘n erediens week na week verskil omdat die predikant dit self “opbou” uit opsionele verskillende “blokkies”. Kategese kurrikulums wat tematies is en kwartaalliks gekies kan word in die volgorde wat die gemeente pas, is nog ‘n verskynsel hiervan. ‘n Ander vorm hiervan is waar ouers van klein kinders die opsie het om net ‘n gedeelte van die diens by te woon en die diens so ingerig word dat hulle iets ontvang maar gemaklik die diens kan verlaat op ‘n bepaalde tyd.

Hoe help dit ons om te dink oor millennials se belewenis van kerk?

Millennials sou moontlik kerk as een (opsionele) blokkie kan sien in hulle lewe wat hulle kan inpas na gelang van behoefte, prioriteit en tyd. Millennials sou ook moontlik kerkaktiwiteite kan sien as ‘n spyskaart van opsies of blokkies waarvan hulle kan kies en inpas in hul lewe na gelang van behoefte. Dit kan veroorsaak dat “kerk” verskraal kan word en verbruikerskultuur aangemoedig word, waarin millennials sou kon dink dat hulle kerk toe kom of deel is van die kerk om net iets te ontvang.  Maar aan die ander kant kan dit deelname en toewyding bevorder as die millennial voel hulle kan self kies en dat die opsies sekere behoeftes vervul. Die Jong Volwasse Leer Gemeenskap meen egter dat kerk ‘n groter rol te speel het as bloot om opsies uit te dink (meer blokkies te skep) of te wedywer met ander “blokkies” om ‘n groter rol te speel. Kerk as geloofsgemeenskap is die ruimte waar millennials perspektief kry oor AL die blokkies van hul lewens. Die kerk kan ‘n ruimte vir refleksie en nadenke wees oor al die aspekte van sy/haar lewe sodat alle blokkies geleef kan word vanuit ‘n koninkryk perspektief.

Die moderne mens raak al meer modulêr. Die vraag is nie of dit goed of sleg is nie, maar hoe dit millennials se ervaring en denke oor die kerk beïnvloed en hoe die kerk hierdie as ‘n geleentheid benut, maar ook die uitdagings daarvan herken en bestuur.

Gespreksnotas saamgestel deur Anriëtte de Ridder na aanleiding van die Jong Volwasse Leer Gemeenskap byeenkoms gehou Februarie 2018.

Hoe lyk huishoudings in Suid-Afrika?

#DIepdink

Wanneer gemeentes nadink oor jeugbediening, is dit onmoontlik om die jeugbediening los te maak van die huishoudings waaruit die jongmense kom nie. Dit is onmoontlik vir ’n jeugbediening om alleen verantwoordelikheid te neem vir die geloofsontwikkeling van kinders. Buiten dat dit onmoontlik is, lê ’n Bybelse verstaan van geloofsontwikkeling die verantwoordelikheid daarvan juis by die voete van ouers.

In 2005 het die Algemene Jeugkommissie van die NGK in samewerking met Buvton en die Hugenote Kollege in twintig gemeentes uit Gauteng en die Wes- en Suid-Kaap ‘n projek genaamd die Familie Gemeente Projek (FGP)[i] afgehandel. Een van die bevindinge van hierdie projek het gewys dat ouers gevoel het dat gemeentes hulle nie genoeg ondersteun in hul taak van geloofsontwikkeling van hul kinders nie. My opinie hieroor is dat gemeentes eerstens nie die aard van huishoudings verstaan nie en daarom ook nie altyd weet wat gesinne nodig het nie.

In 2011 het die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIR)[ii] ’n studie, getiteld First Steps to Healing the South African Family asook Solidariteit Helpende Hand (SHH)[iii] se verslag, ʼn Foto van Afrikaanse Gesinne in Suid-Afrika bekend gestel wat ten doel gehad het om ’n prentjie van huishoudings te skep.

Die SAIR het hulle prentjie van die groter Suid-Afrika opgesom deur te sê dat “In South Africa, the ‘typical’ child is raised by their mother in a single-parent household.” Hulle het die volgende statistiek daarvoor gehad:

  • 35% van alle kinders in Suid-Afrika leef saam met albei hul biologiese ouers.
  • 40% van alle kinders in Suid-Afrika leef slegs by hul biologiese ma
  • 8% van alle kinders in Suid-Afrika leef slegs by hul biologiese pa
  • 6% van alle kinders in Suid-Afrika leef glad nie by enige van hul biologiese ouers nie
  • 43% van Suid-Afrikaanse kinders tussen 0 en 4 jaar leef saam met albei ouers in die huis
  • 24% van wit kinders in stedelike gebiede woon in enkel-ouer gesinne

SHH het gefokus op spesifiek wit, Afrikaanse huishoudings en hier lyk die statistiek soos volg:

  • Ongeveer een uit drie van Afrikaanse kinders kom uit ’n gebroke gesin (geskeide ouers)
  • 66% van gebroke huishoudings se kinders leef by die ma,
  • 15% van gebroke huishoudings se kinders leef by die pa
  • 19% van gebroke huishoudings se kinders leef by ander familie of vriende
  • Huishoudings spandeer 10-12 ure per week minder saam

Hierdie prentjie help ons om dalk meer te verstaan wat die uitdagings is waarbinne gemeentes hul jeugbediening moet sien. Die groter sekularisasie van die samelewing en die post-Christendom era het reeds tot gevolg gehad dat dit glad nie meer ’n gegewe is dat kinders outomaties kerk toe kom nie. Hoewel daar steeds baie kinders gedoop word en “op die boeke” is, is dit toenemend ’n geval dat slegs ongeveer ’n derde[iv] van daardie kinders enigsins by die gemeente se jeugbediening geleenthede gaan uitkom.

Die struktuur van huishoudings wys vir ons dat van die derde wat wel kom, byna ’n kwart waarskynlik net elke tweede week die jeugbediening sal bywoon, weens ouer-toesig kwessies. Omdat huishoudings ook merkbaar minder tyd saam spandeer, kan ons bespiegel dat, veral Sondae, wanneer daar nie werk en/of skool programme is nie, ’n huishouding aktiwiteite sal kies waaraan almal saam kan deelneem en nie iets doen wat hulle generasie-gewys fragmenteer nie.

Wat hier nog nie deel van die prentjie is nie, is die die huishoudings wat wel twee ouers het, se werk samestelling. Daar is aspekte soos veral in stedelike gebiede, waar een van die ouers pendel vir werk, hetsy op ’n plaaslike vlak (bv. 2 ure in die motor), op nasionale vlak (gereelde werk in ander dele van die land) of in die buiteland (kontrak-werk, multinasionale maatskappye, ens.) Die praktiese effek daarvan is ook in der waarheid enkelouer huishoudings. Daar is ook nie na die invloed van skoolprogramme op kinders se tyd gekyk nie.

Die missionale beweging van die kerk vra dat jeugbediening al meer kreatief moet dink om jongmense te bedien in die wêreld waar hulle is. Een van die aspekte hiervan is om kinders se ouers beter toe te rus om binne-in die huishoudings geloofsvorming te fasiliteer, maar ook om ruimte en kapasiteit te skep waar huishoudings as ’n eenheid kan tuis kom in die bediening van die gemeente.

[i] Familie Navorsing Projek – A (FNP A). (n.d.). Opsomming van vraelyste. Ongepubliseerde verslag.

Familie Navorsing Projek – B (FNP B). (n.d.). Familie Navorsing: ‘n Outsider Witness Verslag oor die Opsommings van Onderhoude. Vir verdere refleksie… Ongepubliseerde verslag.

Familie Navorsing Projek – C (FNP C). (n.d.). Familie Navorsingsprojek: aan huis van Nico Simpson. Ongepubliseerde verslag.

 

[ii] Holborn, L & Eddy, G. (2011). First steps to healing the South African Family. Johannesburg: South African Institute of Race Relations.

 

[iii] Taljaard, A., & Langner, D. (2011). ‘n Foto van Afrikaanse Gesinne in Suid-Afrika. Pretoria: Solidariteit Helpende Hand.

 

[iv] SCHOEMAN, WJ. (2011). Kerkspieël – ‘n kritiese bestekopname. NED GEREF TEOLOGIESE TYDSKRIF

DEEL 52, NOMMERS 3 & 4, SEPTEMBER & DESEMBER. Wellington: CLF

The Third Space

3ds

‘The Third Space’ het ontstaan deur Ray Oldenburg, ‘n sosioloog wat van die term gebruik maak in sy boek getiteld ‘The Great Good Place: Cafes, Coffee Shops, Community Centers, Beauty Parlors, General Stores, Bars, Hangouts and How They Get You Through the Day’.

Oldenburg glo dat ‘third spaces’ ‘n belangrike manier is om gemeenskap te vorm. Dit bou kohesie en vorm identiteit. “Third spaces are a vital factor in the quest for community”.

rds‘n Third Space is ‘n plek wat almal in hul lewe het. Dit is ‘n plek wat nie jou huis of jou werk is nie en waar jy kontak maak, reflekteer en ontspan.

Dit help jou met die oorgang en beweeg na verskillende ruimtes in jou lewe.

In my eie konteks gebruik ek “Third Spaces” as ‘n ekumeniese beweging waar ons eenkeer ‘n week by ‘n neutrale plek soos ‘n koffee winkel bymekaar kom. Ons kom as verskeie denominasies bymekaar as jong volwassenes om in gesprek te tree oor waar ons die Here ervaar in ons lewens. Hier word ‘n ruimte gebied waar stories uit verskillende kontekste gehoor en gedeel word.

Die geleentheid word “The Third Space” genoem waar ons ‘n sosiale netwerk vorm waar dialoog kan geskied. Dis ‘n ruimte en sosiale platvorm vir jong volwassenes om saam te ontspan, kontak te maak en te reflekteer oor God en die lewe. Sodoende word ons blootgestel aan verskillende Godsbeelde, spiritualiteite, wêreldbeskouing wat ons persoonlike lewens verryk en vernuwe. Deur die vertel van stories maak ons sin van die lewe.

Almal word dan gemotiveer om ‘Third Spaces’ op ander plekke met mekaar te skep en sodoende vorm hulle gemeenskap rondom verskeie belangstellings en aktiwitiete.

Soos ek reeds genoem het gebruik ek spesifiek ‘Third Spaces’ om verhoudings te bou binne ons konteks van jong volwassenes in ekumeniese verband, maar ‘n mens sou kreatief kon omgaan met die konsep van ‘n ‘Third Space’.  Dit kan ook dien as ‘n tipe ‘Fresh Expression’ om ‘un-churched’ en ‘de-churched’ mense te bereik.

3rdsa

Ds Johan Visser

Woodland Hills Gemeenskapskerk

Skole bediening energie gesprek – waarnemings en leidrade vir die pad vorentoe

www-gazillionthanks-com-8Op 4 Augustus 2016 het ‘n groep jeugwerkers en predikante by Communitas op Stellenbosch byeengekom om te gesels oor skole bediening. Daar is geluister na mekaar se stories asook gesels met organisasie wat reeds betrokke is in skole.

Organisasies mee gesels:

VCSV David Nefdt

Gateway telefoon konferensie Willie Roos

Kohin Elize

FutureNow Gert van der Merwe

Scripture union Mark Krastin

Ander projekte:

  • Jana Dickason – “detensie bediening” in Durbanville Hoërskool
  • Anton Duvenhage – sportbediening Hermanus
  • Vicus Kruger – Bellville skole jeugmentors
  • #imagine opvolg materiaal (boekie plus flashdrive vol ekstras. Ook aanlyn beskikbaar) – ideaal vir hoërskole of koshuise
  • #imagine kidz – geleentheid vir verskeie kerke/skole om saam te werk aan ‘n vakansie program wat by skole of nasorge of kerke aangebied kan word.
  • KIX materiaal vir laerskole / crèches / nasorge (kixkinders.co.za). Dit bestaan uit 7 ontmoetings per kwartaal en werk kronologies deur die Bybel. Gedrukte nuusbriewe kan bestel word of die ouer materiaal kan aanlyn gratis afgelaao word.
  • Reach for life – jy kan toegang kry in skole deur VIGS prevention en Reach for Life. Die Bybelstudies is makliker, hou die hele jaar (40) en bevat ook seksualiteit en vigs goed binne in die Bybel. Jy kan R21 drukkoste betaal of `n program hê en dan gaan soek hulle `n borg vir jou.
  • Manie Botha – heymanie.co.za HeiLead is sy skoolprogram. R150 vir die dvd en boekie en R20 per boekie. Leierskapsontwikkeling in skole.

Wat het die groep gehoor? Enkele opmerkings deur die groep

Die kontekste van elke gemeente en gemeenskap is baie divers – dit kort fyn luister om te hoor wat van toepassing is op my eie konteks.

Verhoudingsbou met onderwysers is baie belangrik omdat hulle hoofsaaklik die rolspelers is.

Daar is baie strategieë en modelle – begin egter eers by die vraag oor hoe jou konteks lyk.

Dit was positief om te hoor dat daar ander mense is wat sukkel met skole bediening.

Dit was ook positief om te hoor van ander  / nuwe vorms van die bediening – om vars te kan dink.

Skole projek van Bellville was baie interessant

Waarde gedrewe program is ‘n moontlike opsie om te ondersoek

Diversiteit is ‘n geleentheid om by mekaar te leer.

Ons het ‘n ruimte nodig om te “share” en mekaar se stories te hoor.

Ons het ‘n forum nodig vir netwerk en gesprek. Dit was baie waardevol om saam te kuier en so te leer.

Hoe kan ons brûe bou met die ouer predikante sodat hulle ook nuut dink oor skole bediening? Dalk ‘n forum skep met ouer en jonger kollegas wat saamgesels.

Vandag gehoor netwerke is baie belangrik (skool, kerk maar ook met ander denominasies en gemeentes).

Dit is lekker om te hoor dat daar is ook ander  kerke met uitdagings, maar dat daar ook verskillende kreatiewe maniere is om die kinders te bedien.

Opnuut besef die belangrikheid van verhoudings en koffie! En die belangrikheid van “facetime” in die proses.

Ons het gehoor dat daar verskillende sub-kulture in ‘n skool is.

Die kinders wat baie besig is, is ‘n realiteit.

Daar is soms baie gemeentes of denominasies wat in kompetisie is.

Ek het opnuut onthou die belangrikheid om self met tieners te praat.

Dis ‘n wanpersepsie dat godsdiens nie in skole mag wees nie of dat daar ‘n wet daarteen is.

Die brugbou en samewerking tussen denominasies is noodsaaklik.

Ons gaan moet werk aan ons samewerking met ander denominasies, veral charismatiese kerke.

Ons moet kyk na beleidsdokumente vir samewerking.

Daar is ‘n groot geleentheid by nasorg as ‘n bedieningspunt.

Ek het gehoor daar is ander maniere om by skole betrokke te raak byvoorbeeld die detensie bediening of stiltetye in die koshuis.

Leidrade vir die pad vorentoe:

Ons moet beslis kyk na ‘n “waarde projek” vir skole.

Ons kan meer navorsing doen oor verskillende kontekste.

Ons moet ook die konteks van armer skole deurdink.

Ons kan die verskillende modelle vergelyk … bv jeugwerker, gateway model ens en dan kommunikeer hoe dit werk.

Ons kan riglyn saamstel vir skole oor doe samewerking tussen denominasies

Ons kan Hub-sisteem deurdink waar ‘n paar kerke vir ‘n bepaalde skool / skole saam verantwoordelikheid neem.

Artikel samegestel deur Anriëtte de Ridder