Erediens

Familie- of ‘n Jeugdiens Nagmaal

Hier is ‘n voorbeeld van ‘n Powerpoint wat gebruik kan word in ‘n Familie- of ‘n Jeugdiens saam met die Nagmaal. Die Powerpoint bevat ‘n eenvoudige verduideliking van sakramente en daarna die 5 betekenisse van die Nagmaal verwerk uit die eerste formulier in die Eredienshandleiding. Een voorstel is om die betekenisse ook uitmekaar uit te haal en te fokus op een of twee afhangende van die tema van die teks op dié betrokke dag wat die Nagmaal gevier word (bv. om in Lydenstyd/Groot Lydensweek te fokus op die “onthou”-betekenis).

Laai hieronder alles af wat jy nodig het:

Nagmaal – Powerpoint in pdf formaat.

Nagmaal – Betekenis Powerpoint

Powerpoint oorspronklik saamgestel deur Callie Visagie van Stellenberg Gemeente en verwerk deur Elzanne van der Westhuizen.

Intergenerasionele Eredienste, Kategese en Kampe

Inleiding

Vra die vraag af: hoe lyk jou gemeente se eredienste, kategese en kampe op die oomblik?

Sal die volgende mense welkom voel in hierdie ruimtes:

  • ‘n Senior lidmaat?
  • ‘n Volwassene?
  • ‘n Tiener?
  • ‘n Laerskool kind?
  • ‘n Voorskoolse kind?

Teologiese Onderleg vir Intergenerasionele Jeugbediening

Voorheen het ons gemeentes gefunksioneer volgens die herder-kudde-model van kerk-wees wat baie klem plaas op die predikant en ander “lerende leiers” in die gemeente. Die res van die gemeente se funksie was baie meer passief en hulle het onderrig ontvang – veral kinders.

Ons is egter besig op ‘n reis in ons kerk waar die liggaamsmodel van kerk-wees baie meer klem geniet en dit dwing ons om anders te dink oor die funksie van AL ons lidmate binne die gemeente – ook kinders. Die liggaamsmodel lê klem daarop dat elke persoon ‘n belangrike rol het om te speel in die gemeente en dat kinders dus volwaardige ledemate is van die liggaam – daar is immers nie ‘n junior Heilige Gees nie!

Hoe lyk eredienste, kategese en kampe binne die bogenoemde twee modelle en hoe verskil dit?

Eredienste

‘n Erediens in ‘n gemeente waar die herder-kudde-model sterk funksioneer, sal baie klem lê op sekere rolspelers (en hulle sal meestal, indien nie almal nie, volwassenes wees) en daar sal min interaksie wees tussen die mense teenwoordig. Die diens sal grotendeels afhang van ‘n predikant wat doen en ‘n gemeente wat passief luister. Die opset is een-tot-baie, mense sit in rye agtermekaar en kinders is apart of afwesig.

‘n Erediens wat gebaseer is op die liggaamsmodel van kerk-wees, sal ruimte maak vir elke persoon in die vertrek om aktief daaraan deel te neem. Daar is gelyke waarde van almal teenwoordig. Mense leer bymekaar en kyk mekaar in die oë indien moontlik. Dit is nie net ‘n een-rigting-gesprek nie, maar ‘n gesprek tussen almal teenwoordig in een of ander vorm.

Voorbeelde:

  • Eredienswerkers (span wat mense verwelkom by die deur, nagmaaltekens uitdeel en offergawes opneem) bestaan uit gesinne – dus kinders en volwassenes van alle ouderdomme.
  • Daar is ‘n geleentheid in die diens vir kinders se verjaarsdae wat gevier word en selfs ‘n ouma sin wat gereeld die diens bywoon!
  • Daar is kinderliedjies sowel as meer volwasse-gerigte liedjies. Almal staan en sing beide genres liedjies saam, maar met die kinderliedjies staan die kinders soms op die stoele en doen die bewegings ook saam.
  • Kinders kan gebruik word om simbole in te bring of te gebruik wat aanhak by die preekreeks, bv. vlae met woorde op wat gedra word of kers wat tydens Lydenstyd uitgedoof word.
  • Geleentheid vir families of lidmate om na mekaar te draai en vrae te bespreek in die diens.
  • Daar kan selfs ‘n graad-diens gehou word vir ‘n spesifieke graad waar gesinne een van die kategese-lesse saam doen en die predikant van voor af fasiliteer.

Kategese en Kampe

Die herder-kudde-model van kerk-wees laat kategese ‘n skoolklaskamer dupliseer waar daar ‘n “onderwyser” is (gewoonlik ‘n volwassene) wat net kennis oordra aan passiewe kinders wat min geleentheid het om hulle eie opinies en vrae te gee en vra. Die klem is daarop dat hulle die kennis inneem en dit netso kan weergee.

Op kampe sal die prentjie baie eenders lyk, maar net met ‘n groter groep en in ‘n ander ruimte. Daar sal moontlik tye wees op die kamp vir ander aktiwiteite as kennisoordrag, maar dit sal losstaande wees en nie noodwendig ‘n spesifieke doel dien in terme van die vorming en inlewing van die tema nie.

Wanneer die beginsel van die liggaamsmodel op kategese toegpas word, het almal wat betrokke is ‘n rol om te speel. Die onderwysers word eerder fasiliteerders van ‘n gesprek waar die tema bespreek word en hierdie gesprek waar die kinders/tieners geleentheid kry om ook deel te neem is netso belangrik en onlosmaaklik verbind aan die kennis oordrag. Die groepe is kleiner sodat gesprek makliker kan plaasvind. Kategesegroepies sit in kringe sodat almal mekaar in die oë kan kyk en nie in ‘n ry voor die onderwyser nie. Ervaringsleer is ook belangrik.

Met kampe is een oorhoofse tema belangrik waarop alles gebasseer is: kennis, gesprekke, ervaringsleer en musiekbediening. Die doel van al hierdie aspekte van die kamp is geloofsvorming in ‘n eilandsituasie eerder as nét kennisoordrag. Kampeerders word ook in kleingroepe ingedeel met fasiliteerders en almal wat gaan kamp het ‘n rol, bv. kleingroepleiers, band, bidders, beraders, ens.

Ouervergaderings

Ouervergaderings in die herder-kudde-model lyk ook baie eenders as eredienste in hierdie model: die predikant van vooraf praat, ouers wat in rye sit en kinders wat afwesig is.

In die liggaamsmodel sal ‘n ouervergadering die kinders ook insluit, kinders sal saam met hulle ouers in kleingroepe sit en daar sal geleentheid wees vir hulle om ook met mekaar te kommunikeer oor dit wat van voor af met hulle gedeel word.

Wenke om ruimtes meer intergenerasioneel-vriendelik te maak

  • Handwerk (crafts) wat almal saam moet doen of elkeen individueel en dan met mekaar deel.
  • Oop vrae: Dit is belangrik dat die vra wawt gevra word deur ‘n 4-jarige sowel as ‘n 30-jarige beantwoord kan word.
  • Stories: Alle ouderdomme het stories om te vertel, maar ons het min tye om te luister na mekaar.
  • Getuienisse
  • Simboliek: Dit is iets waaraan ons almal kan deelneem.
  • Speletjies: Gesamentlike ervaringsleer of speletjies gebaseer op ‘n sekere tema of preek-/kategese-reeks wat huis toe geneem kan word om in huisgeloof tyd te speel.

Slot

Dink terug oor jou beskrywing van die ruimtes in julle gemeente aan die begin. Hoe kan jy net een ding in elke ruimte verander of toevoeg om dit meer intergenerasioneel te maak?

Moenie oorhaastig alles verander nie! Fasiliteer geloofsgroei met klein veranderinge.

Elzanne van der Westhuizen

Ritueel in die erediens

Tydens die SAAM! gesprek het Tinus van Zyl gedeel hoe hulle gemeente gebruik maak van ritueel om verskillende generasies by die erediens te betrek. Sy praktiese voorstelle vir sondebelydenis, doopliturgie, doopherinnering, nagmaal ens, kan hieronder af gelaai word.

Erediens en Musiek

Sommer ’n paar nota’s oor ‘Intergenerational ministry’ en
die rol wat dit in geloofsvorming speel – met spesifieke
fokus op die erediens en musiek

Meeste groter gemeentes het deesdae ’n verskeidenheid van eredienste.
Groepe word van mekaar geskei hetsy op grond van ouderdom of
spiritualiteitsvoorkeure.
Hoekom doen ons dit? Sommige meen dis a.g.v. die Verligting van die 18de
eeu toe meer klem begin lê is op die rede en onderrig. Aanbidding het toe
verander van ‘deelname aan geloof’ na ‘leer van geloof’.
Wanneer jy kinders vra waarom hulle kerk toe kom, wat is die standaard
antwoord? “Om meer van die Here te leer”. Ons het hulle dit mooi geleer,
nè.
Die verskil is tussen doksologie – om reg te aanbid – en dogmatiek – om reg
te glo. So, as ons glo dat aanbidding gaan oor reg glo – en kinders se
kognitiewe vermoëns is minder ontwikkeld as volwassenes s’n – dan maak dit
sin dat ons bedieningspraktyk sal wees om kinders eers te leer om reg te glo
– voordat hulle ons in aanbidding kan kom ‘join’.
Aanbidding gaan egter mos nie net oor reg glo nie…
’n Tweede moontlike rede – dalk ’n groter rede – is ons verbruikersmentaliteit.
Ons het ‘target marketing’ begin doen en ons glo dat deur ’n verskeidenheid
van bedieningsopsies te gee, bereik ons meer potensiële lidmate. Die vraag
is of ons nie juis in die proses meer en meer jong lidmate van ons vervreem
nie.
Die goeie nuus vir kleiner gemeentes is dat studies aantoon dat gemeentes
wat dit regkry om kinders en volwassenes saam in aanbidding te betrek,
klaarblyklik regtig groei.

Die res van die artikel kan jy hier aflaai: Aanbieding Intergenerationonal Erediens

Kreatiewe Nagmaal Diens

Hierdie is ‘n nagmaal erediens waarin die nagmaal op 4 maniere bedien word en die lidmate kan kies watter uitbeelding en betekenis van die nagmaal hulle wil ervaar. Alternatiewelik kan ‘n mens dit versprei oor 4 nagmaal geleenthede.

Laai hier die nagmaal stasies powerpoint van die nagmaaldiens af. Dit bevat ook die liturgie en preek riglyne in die notas daarvan, sowel as die besonderhede van hoe om die 4 tafels te dek.

Die woorde en tekste wat uitgedruk kan word vir die onderskeie tafels, kan hier word.

NOG 10 wenke vir kinders in die erediens

NOG 10 eenvoudige wenke om kinders te laat tuis voel in die erediens:

Anriëtte de Ridder

 

  1. Laat kinders iets voor in die diens kom haal of afgee.

Voorbeeld: ‘n simboliese saadjie of plantjie of gebedsversoek of kaartjie.

  1. Vra ‘n interaktiewe vraag wat mense in groepies / families vir mekaar antwoord.

Voorbeelde: Wie het ‘n groot invloed op jou lewe / lewe gehad? Wat is jou geliefkoosde Bybelverhaal? Waarvoor bid jy tans? Vertel van jou lekkerste verjaarsdag nog?

  1. Hou die erediens in ‘n ander plek.

Voorbeelde: ‘n piekniek erediens buite of ‘n diens om tafels in die saal of ‘n diens vir gesinne op die mat.

  1. Speel ‘n speletjie in die diens wat almal betrek

Voorbeelde: trek vragies uit ‘n hoed, bou jenga/lego om iets voor te stel of gee vir almal ‘n rooi en groen kaart en dan vir doen jy ‘n proefsteek met interessante  / snaakse vrae waarvoor elkeen moet “stem”.

  1. Vier die kerkjaar. Kinders is mal oor rituele en feeste.

Voorbeelde: Gebruik kleure en simbole. Betrek kinders by die versiering  van die erediens ruimte (hul kan in kategese iets maak byvoorbeeld vir advent of lydenstyd). Gee praktiese voorstelle wat hul tuis ook kan doen bv kruis op voordeur, adventskrans, ens.

  1. Let daarop en laat almal al hul sintuie gebruik met nagmaal (hoor, sien, vertel, voel en proe).
  2. Gee ‘n voorstel wat gesinne in die week kan doen om die boodskap van daardie dag te gaan leef.

Voorbeelde: besluit om een keer saam te eet hierdie week of maak broodjies en bring vir die sopkombuis bediening of besluit om hierdie week elke dag vir iets dankie te sê voor jul gaan slaap.

  1. Laat ‘n paar gesinne met kinders kollekte opneem.
  2. Laat kinders na kategese weer in die diens inkom en die gemeente wys wat hulle gemaak het terwyl iemand vertel waaroor hulle gesels het.
  3. Laat almal mekaar seën aan die einde van die diens. Gee die presies woorde hiervoor sodat dit gemaklik kan gebeur.

 

Wenke saamgestel na ‘n gesprek oor Familiedienste gereël deur die Wes Kaap Sinode se Taakspan vir Jeug- en Familie bediening 28 Julue 2016 te Communitas.

10 wenke vir kinders in die erediens

10 eenvoudige wenke om kinders te laat tuis voel in die erediens:

Anriëtte de Ridder

 

  1. Betrek gesinne by die verwelkoming by die deure

Ouers en kinders kan help met die bulletin uitdeel, verwelkom en plekke aanwys.

  1. Moedig generasie interaksie aan met interaktiewe vrae.

Laat kinders met ouer persone gesels deur ‘n vraag te vra en kinders moet dan by bejaarde lidmate die antwoord gaan kry.

Voorbeeld:  Gaan vra iemand wat lyk soos ‘n ouma of oupa hoe lank hulle al in die gemeente is. Kry dan die antwoorde en tel dit bymekaar. Of vra iemand ouer waarvan hulle hou van hierdie gemeente en kry terugvoer.

  1. Vier kinders en ouer persone se verjaarsdae van die afgelope week op ‘n nuwe manier.

Voorbeeld: Almal wat verjaar het moet bymekaar gaan staan en dan sing die gemeente “veels geluk” of deel ‘n blommetjie uit vir elkeen.

  1. Doen ‘n doop herinnering.

Almal kan na die doopvont gaan en dan vir mekaar met doopwater ‘n kruisie maak in elkeen se handpalm of op mekaar se voorkoppe. Gesinne kan dit saam doen. Gee spesifieke woorde. Of elkeen skryf die eerste letter van hul naam met hul vinger in die doopvont.

  1. Gebruik aksies of gebare of geluide wat almal kan saamdoen (om ‘n teks te onthou, ‘n storie uit te beeld of as ‘n gebedsmoment)

Voorbeeld: Hande na vore uitgesteek, handpalms oop en na bo in gebed

Almal wat help om die geluide van die storm te maak in die storie. die hele gemeente hou aan mekaar vas om die liggaam uit te beeld.

  1. Gebruik voorbeelde of foto’s uit die kinders se leefwêreld ook

Voorbeelde: gebruik foto’s van ‘n sportdag of eerste skooldag of verwys na iets wat kinders tans versamel of speel. Neem getuienisse van gesinne of tieners vooraf op om te wys in ‘n diens.

  1. “Oefen” die preek in die diens as dit oor ‘n familie- of geloofsgewoonte gaan.

Voorbeeld: laat hulle saam “wandel in die woord” of vir sake op die bulletin bid. Gee vir mekaar komplimente of luister na mekaar oor hoe elkeen God die afgelope week raakgesien het.

  1. Betrek gesinne en kinders by die nagmaal.

Voorbeeld: Laat gesinne die nagmaal tafel dek. Hou dit eenvoudig (tafeldoek, rolletjies en glasies sap) en laat twee of meer gesinne in die diens alles uitpak. Of ‘n paar gesinne kan ook saam die nagmaal uitdeel. Laat gesinne / groepe saam die nagmaal gebruik deur byvoorbeeld rolletjies te deel.

  1. Laat kinders kersies kom aansteek vir bepaalde gebed saak.
  2. Wees intensioneel met die kuier na die diens.

Voorbeelde: Gebruik gesinne om saam tee diens te doen. Gee vir elke gesin of persoon ‘n kleur plakker – elkeen moet dan gaan gesels met iemand wat ‘n ooreenstemmende kleur plakker ontvang het. Steek vure aan en braai stokbrood saam.

 

Wenke saamgestel na ‘n gesprek oor Familiedienste gereël deur die Wes Kaap Sinode se Taakspan vir Jeug- en Familie bediening 28 Julue 2016 te Communitas.

Paulus Videos

Het jy geweet #imagine maak hul eie videos vir elke fees? Hier is 3 van die 2017 #imagine fees wat handel oor die agtergrond, bekering, eienskappe en sending van Paulus. Gebruik die gerus om saam met Paulus te dink oor jou eie lewensreis. Lees Handelinge 9 en laai die GRATIS Tiener Bybelstudie boekie af On the journey oor hierdie tema.

Paul Scripture Video 1

Paul Scripture Video 2

Paul Scripture Video 3

As jy ‘n leier is kan jy ook hierdie prettige animasie videos gebruik in ‘n erediensreeks of kamp wat oor Paulus gaan.

Besoek die #imagine webtuiste

imaginemovement of volg die youtube kanaal imaginemovementsa om na meer #imagine videos te kyk!

An Hour on Sunday: Creating moments of transformation and wonder Nancy

An Hour on Sunday:  Creating moments of transformation and wonder

Nancy Beach.

” I am convinced that modern-day miracles can take place when people enter our churches.  The hour on Sunday can be a time of wonder, a time to quiet souls, spark deep emotion, and prompt turning points with eternal significance”

Hierdie boek is nie ‘n gedetailleerde sukses resepteboek nie, dit sal moontlik die meeste linkerbrein lesers frustreer met al die sketse en kantaantekeninge!  Dit is egter ‘n besondere boek vir bedieningsleiers, kunstenaars en leiers wat glo in die potensiaal van kuns in die kerk.

Nancy gesels, en dit voel soos ‘n lekker koffie kuier gesels wanneer jy die boek lees, oor 10 beginsels wat toegepas kan word om oomblikke van betekenis in die erediens te skep.

Eerlike stories, kennis en selfondersoekende vrae maak deel uit van elke hoofstuk, en die tong in die kies illustrasies help die lesers om saam te lag vir hul eie bedieningsflaters!

Ek vind my inspirasie en motivering vir Sondae daarin om gereeld deur hierdie besondere boek te blaai – mag jy dit ook so vind.

#imagine videos “On the journey… signs”

Het jy geweet dat #imagine maak unieke, oorspronklike videos vir elke fees? Die 2017 #imagine experience se tema het daaroor gegaan dat Jesus jou ontmoet op jou lewensreis (on the journey). In die proses ontdek jy hoe Hy jou kan gebruik om ‘n verskil te maak in die wêreld. Kyk na die volgende 3 videos oor 8 tieners se reis met Jesus. Hierdie kan ook vertoon word as deel van ‘n preek reeks of ‘n kamp.

#imagine Signs Part 1

Ons elkeen het unieke uitdagings op ons lewenspad ( “On the journey”)…wat jy al deurgemaak? Watter dinge glo jy oor jouself? Ontmoet Jesus by die kruis-pad en glo dat Hy jou liefhet (GLO)…

#imagine Signs Part 2

Ontdek dat Jesus saam met jou reis en dat Hy jou ‘n lewe van invloed wil gee. Hy skenk aan jou gawes en leer vir jou deur Sy Gees om ‘n verskil te maak deur ander te help…. (DOEN)

#imagine Signs Part 3

Soos wat jy glo en doen, sal God jou ook inspireer om groot drome te droom van hoe om Sy Koninkryk uit te leef en ‘n realiteit te maak…. (DROOM)

Laai die gratis tiener Bybelstudie boek af On the journey.

Besoek die #imagine webtuiste imaginemovement vir meer inligting oor hoe hierdie tiener beweging DROOM, GLO en DOEN of volg die youtube kanaal imaginemovementsa om na meer #imagine videos te kyk!

Dank en Deel: Eksodus 16:1-5; 13-21

Votum: Psalm 8

Seëngroet: Vriende ek groet julle in die naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees, wat jou liefhet en aanvaar, net soos jy is.

Kersritueel: Wie het verjaar in die afgelope week? Of wie het hulle doop herinnering gevier?

Lofsang:

Lied: Michael W Smith : Open the eyes of my heart, Lord

Lied: FLAM 66: Op vaste fondamente

Lied: Loflaaities: Dis so lekker om die Here te dien Die liefde van Jesus is wonderbaar

Dankoffer

Dankgebed

Lied: Jeugsangbundel(Groen boek) no. 9 : Ek roem U naam

Skriflesing: Eksodus 16: 1 – 5; 13-21

Preek: In Eksodus lees ons van God wat homself in die woestyn aan Israel bekend stel as Jahwe. Die Here. Maar gemeente hierdie is nie enige Here nie, maar ons God wat geïnteresseerd is in die nood van mense. God stuur Moses terug na Egipte om die nakomelinge van Jakob uit te lei uit slawerny. Dit is een van grootste gebeurtenisse in die lewe van die groepie slawe. Met hierdie ongelooflike uittog bewys God Hom as die God van die geskiedenis. Hierdie uittog speel ‘n sentrale rol in die Ou Testament, Selfs die profeet Jesaja verwys na die terugkeer uit ballingskap as ‘n “nuwe uittog”.

Nou goed dan dis wonderlik, maar wat moet ek en jy met hierdie merkwaardige uittog verhaal maak? Ek wil vandag probeer om hierdie uittog verhaal bietjie meer eenvoudig uit te pak. Ek gaan 5 punte gebruik om dit te doen:

1. Alles behoort aan God en is ‘n geskenk aan ons

2. God gee genoeg vir almal sodat ons kan deel met almal

3. Om op te gaar veroorsaak verrotting. Dit stink!

4. Om te werk is om God te help die manna te versprei en uit te deel, die belofte wat God aan almal gemaak het.

5. God gee aan os tye van rus sodat ons kan oefen waaroor die lewe werklik gaan.

Ons moet eerstens besef dat God nog altyd ‘n plan met die Israeliete gehad het. So ook met ons. Ons lees daarvan in Hosea. God wil die mensdom groot maak soos ‘n ouer ‘n kind, beskerm, lief hê en versorg. God wil die Israeliete leer om te leef as volwasse en deelnemende vennote saam met Hom. God wou hê dat die Israeliete se lewens ‘n voorbeeld aan ander kan wees. Hulle lewens moes getuig van mense wat in vrede leef, met vreugde. Hulle moet juis ‘n getuienis wees hiervan sodat ander en sodat ons wat moeg is vir verdrukking, gulsigheid en oorlog ook hierdie voorbeeld wil volg. Deur die Israeliete, en ander wat daarna gevolg het, probeer God die wêreld leer om saam met hom in vennootskap te tree. En wanneer elkeen van ons met die wete leef dat ons ‘n vennoot van God is, ‘n rentmeester, sal ons in vrede kan leef. En so begin die lewe in die woestyn, en hierdie was ‘n moeilike lewe, maar God berei die Israeliete en so ook ons voor sodat ons uiteindelike in vennootskap saam met hom kan leef.

Die woestyn word sowaar die Here se klaskamer. Die plek waar die mense sal leer om te leef soos wat God nog altyd bedoel het. So wanneer vind die eerste les in hierdie klaskamer plaas? Die oomblik toe die Israeliete begin kla en vertroue verloor. Hulle kla oor die leiers, hulle kla oor die feit dat hulle nie kos het om te eet nie en net daar is die eerste geleentheid om die Israeliete weer klaskamer toe te roep.

1. Alles behoort aan God en alles wat ons ontvang is ‘n geskenk van God af.

Vriende wanneer die Israeliete begin kla en wonder of hul nie eerder beter af was as slawe in Egipte nie., dan antwoord God hul. Hy gee aan hulle die geskenk van Manna. Hy gee die opdrag dat hulle elke dag moet Manna optel, maar slegs vir daardie dag. As jy ‘n groot gesin is tel jy meer op en as jy ‘n klein gesin is tel jy minder op en so het almal elke dag genoeg kos vir die dag gehad. Niemand het ook te veel gehad nie.

God het aan die Israeliete bewys dat Hy werklik ‘n genadige en liefdevolle versorger is. Maar meer belangrik- God het die volk opnuut bewus gemaak dat Hy werklik in beheer is. God gee aan ons alles wat ons nodig het. En niks wat God ons gee, is iets wat ons ooit sal kan verdien nie. Alles wat ons ontvang is slegs uit genade. Dis hier waar ons ook onsself moet konfronteer. Hoeveel maal het jy nie by jouself gedink, maar ek verdien hierdie verhoging, ek verdien om in ‘n mooi huis te woon met ‘n nuwe kar, ek verdien om prefek te wees of hoofseun of meisie te word. Dis waar dat ons kan hard werk en onsself kan bewys, maar alles behoort tog aan ons Here. Selfs die krag en potensiaal om te presteer is net ‘n genadige geskenk. Wat ons ontvang, ontvang ons van ‘n genadige en liefdevolle God, wat ons wil versorg.

Draai nou na mekaar en deel met die persoon langs jou, wat jy die afgelope week of maand van God ontvang het. Ek gee jul ‘n minuut.

2. God gee genoeg aan almal sodat ons kan deel met almal

Ons lees dat daar groot en klein families was, maar elke Israeliet het genoeg manna gekry om hul gesin te voed en niemand het te veel gehad nie. Ons kan vandag hieruit leer. God voorsien in ons daaglikse brood. Voedsel en ander basiese behoeftes is iets wat almal benodig. Hierdie behoeftes het ieder en elk, ongeag van status, of titel of prestasies- hierdie behoeftes is iets wat elke in gemeen het. Die realiteit is dat God genoeg aan ons skenk. Ons het oor genoeg hulpbronne, ons het oorgenoeg kos, maar ons misbruik dit, ons wat meer geld het of meer bevoorreg is kan dit dalk makliker bekom as ‘n hawelose, maar dit maak hom of haar nie minder waardig nie. God voorsien vir al sy kinders op aarde, maar ons moet leer om dit wat ons ontvang, met ander te deel.

Draai na mekaar en vertel vir die persoon langs jou, van ‘n geleentheid waar jy bekommerd was dat daar nie genoeg sou nie, maar dat daar wel genoeg was. God het voorsien. Ek gee weer so ‘n minuut.

3. Om op te gaar veroorsaak verrotting! Dit stink!

Ons lees dat party van die Israeliete te veel manna opgetel het. Hulle wou dit bere vir die volgende dag. Ongelukkig het hierdie orige manna gevrot en baie suur geruik. Jy sien die oomblik toe die Israeliete die gewoontes van hulle vorige eienaars, die Farao’s van Egipte aan geneem het, en probeer meer bymekaar maak, as wat hul benodig het, leer hul dat TE VEEL beteken nie noodwendig blydskap nie, en dat gulsigheid tot verrotting lei. Hierdie is ‘n baie belangrike les vir ons. Ons het van soveel dinge te veel. Hoeveel maal dink ons nie by onsself… as ek maar net nog in teestel kan kry wat by my nuwe plekmatjies pas, of ek kort nog net een lekker paar tekkies, want my ander paar is eintlik net vir stap. Hoeveel van ons het nie klere, of gereedskap of meubels wat ons eintlik nie in jare gebruik het nie. Hoeveel van ons het eintlik maar ook te veel van iets nie. Hoeveel van ons het nie iets in die huis wat al vrot nie!

Draai nou weer na mekaar en deel met die persoon langs jou, wat jy in jou huis het wat eintlik al verrot. Waarvan het jy te veel?

4. Om te werk, is om God te help die manna versprei en uit te deel. Die geskenk wat God aan almal belowe het.

Die Israeliete moes elke dag gaan werk en die manna optel sodat hulle daarvan kon eet. Hulle moes werk om hierdie geskenk van God te geniet, te ontvang, maar ook te deel. Hierdie les is baie belangrik! Die Here gee aan ons genadige geskenke, maar Hy vra ook van ons om deel te neem aan Sy skepping, Sy plan, die bou van sy koninkryk. Soos ons ontvang, so moet ons ook deel. Elkeen van ons is ‘n deelnemende vennoot, rentmeester en mede-skepper saam met God. Daarom is dit vir my en jou belangrik om aan te hou werk. Ongeag jou beroep- of jy nou ‘n huisvrou of man is, ‘n prokureur, ‘n onderwyser, ‘n tuinier of ‘n verpleegster, Jy werk 5 nie net vir jouself nie, maar ten gunste van die hele skepping. Ons uitdaging is om te besef dat ons werk elke dag deel is van ‘n groter prentjie, dat ons werk deelname is aan God se skepping en dat dit ons weer in staat stel om te deel. God het ons as verhouding skepsels geskape. Ons is gemaak om in verhouding met mekaar en die Here te leef, maar ook in verhouding met mekaar te deel.

Neem nou weer so minuut, draai na mekaar en noem aan die persoon langs jou, hoe jy by jou werk of met jou werk ander kan leer deel, leer rus en of leer skep.

5. God gee aan ons tye van rus sodat ons kan oefen waaroor die lewe werklik gaan.

Die laaste les wat ons in die klaskamer van die woestyn leer is die les oor die Sabbat. Die les oor rus. God wou hê dat die Israeliete, en so ook ons vandag, die geskenk van rus en ontspanning ontvang. Die geskenk van tyd, sodat ons dit waaroor die lewe werklik gaan kan geniet. Sodat ons verhoudings, vennootskap en vriendskap ,met God, mekaar en die skepping tot in die volste sin van die woord geniet!!! Selfs die Israeliete moes die 6de dag harder werk sodat hulle die sewende dag kon rus. Hulle moes die sesde dag manna optel vir twee dae. God sien rus as ‘n belangrike deel van ons lewens, en tog is dit die minste belangrik in ons oë. Die mens vandag hoef nie elke dag te werk om die geskenke, die manna van God, te ontvang en uit te deel nie. Hierdie geskenk van ekstra tyd is iets wat ons moet koester. Dis hierdie geskenk van tyd wat dit vir die mens, diere en die skepping moontlik maak om ook te rus. Die Sabbat, ‘n rus dag is juis wat dit vir ons moontlik maak om werklik die vriendskap met God, ons mede skepsels en die skepping te geniet.

Dallas willard vra die volgende vraag: “Do you think God gave you more work than you have time for today?”.

Tog sien ons selfs kerk toe gaan, as ‘n werk, ‘n taak wat ons tyd om te rus wegneem. Moet ons nie dan juis herbesin oor hoe ons ons tyd bestee nie. Is ons nie besig om so min tyd te maak vir rus, dat ons selfs ons kosbaarste oomblikke van verhouding-bou met God en ons medemens prys gee nie. God gee tog ook die geskenk van genoeg tyd…

Draai na mekaar en besluit op iets wat jy hierdie week gaan doen, sodat jy meer tyd sal maak om te rus en deel dit ,met die ander persoon.

God het dag na dag manna uitgedeel en gedroom van ‘n universele manna gemeenskap. ‘n Gemeenskap waar almal ontvang, dankbaar is en deel. God droom van ‘n wêreld waar daar geen big shots of hawelose is nie, geen arm en ryk nie, geen verdrukker en verdrukte nie, maar waar die menslike lewe in harmonie met die hele skepping leef, waar elke gedeelte leef vir die beter van die hele wêreld. God droom van vrede, ‘n geneesde wêreld. Kan ons onsself deel maak van hierdie droom. Kan ons weer leer ontvang, dank en deel. Dis die uitdaging vir elkeen van ons!

Gebed.

Slotlied: Liedboek 253: v 1+2 U het die brood gebreek

Seën: Mag die Here jou God jou seën, en mag jy tot seën van ander leef, mag ons leer om te ontvang, te deel en te rus.

Liedboek 334

Amen, amen, amen.

Geskryf deur Ds. Jana Dickison

Vir ‘n drukbare PDF weergawe, “click” hier: Familiediens Preek – Dank en Deel, Eksodus 16v1-5 & 13-21