familie netwerk

messy church

Gespreksnotas van die Familie Netwerk byeenkoms gehou op 25 Julie 2019 aan die hand van twee hoofstukke uit die boek “Messy Togetherness” deur Martin Payne. 

Messy Church Liturgie

Die konsep “messy church” is ‘n poging om ‘n alternatiewe intergenerasionele ruimte te skep waar mense opnuut kerk kan beleef. “Messy Church” herinner ons dat alles uiteindelik afhang van die geloofsreis waarop mense is, wat gevier word rondom ‘n spoeg-en-plak tafel. Dit is leer terwyl jy speel vir beide volwassenes en kinders.

G.K. Chesterton: “The true object of life is play. Earth is a task garden. Heaven is a playground.”

Al wat nodig is vir “Messy Church” is entoesiasme, geduld, kreatiwiteit en verbeelding, mededeelsaamheid en aanpasbaarheid – want niemand weet hoe die verskillende aktiwiteite deur verskillende volwassenes of kinders verstaan of aangepak gaan word nie! (Watter fees is/was dit nie!)

Kyk hier na ‘n kort Messy Church video.

‘n Paar wenke om te onthou:

  • Die leier van die aktiwiteit moet entoesiasties wees.
  • Maak seker dat die groep van “scratch” af moet begin – moenie dit vereenvoudig deur die werk self klaar te doen nie!
  • Moenie ‘n ‘perfekte’ idee van die eindproduk in jou kop hê nie.
  • Wees inklusief – gee vir almal iets om te doen (as ‘n dogtertjie pienk glitter op die rooi Ferrari wil sit, laat haar dit doen!)
  • Onthou dat die aktiwiteit ‘n Bybelstorie of les moet vertel! Laat die teks toe om die aktiwiteit te bepaal.
  • Onthou dat die tyd wat dit vat om goed saam te doen en te maak deel van die leerproses is. Dit is uiteindelik die preek!
  • Eet is ‘n belangrike deel van “Messy Church” en die ‘erediens’ eindig eers wanneer die skottelgoed klaar gewas is en daar afgesluit is!
  • Moenie jaag nie – “Messy Church” vat tyd!
  • Die mense wat “Messy Church” gaan bywoon gaan waarskynlik nie gereelde erediens bywoners wees nie.
  • Jou gereelde erediens bywoners is die personeel vir “Messy Church.”

Hier volg ‘n voorbeeld liturgie vir ‘n “Messy Church” geleentheid aan die hand van Handelinge 2:43-47.

*Dit is belangrik dat duidelike “instruksies” op die tafels is, sodat daar nie elke keer ‘aangekondig’ hoef te word nie.

  1. Aankomstyd is oop (bv. kom 17:30 vir 18:00)
  2. Elke persoon (oud en jonk) kry ‘n badge wat ‘n spesifieke taak gee vir die dag (bv. help met kos voorbereiding, was skottelgoed, vee die vloere, pak die aktiwiteite uit ens.) Met die aankoms van die mense word badges of plakkers uitgedeel en almal beweeg na die ruimte waar hulle help.
  3. Daar kan vooraf op ‘n ysbreker besluit word, wat deur die loop van die dag gespeel kan word. Dink aan iets wat mense aanmoedig om bewus te wees van wat rondom hulle aangaan. Byvoorbeeld: plak ‘n papier op elke persoon se rug. Sodra jy ‘n positiewe eienskap van iemand raaksien dan skryf jy dit op hulle rug (bv. vriendelik, gaaf, behulpsaam, geduldig). Die aktiwiteit vind heeldag plaas en daar is nie ‘n amptelike afsluiting nie. Die papier op elkeen se rug is vir hulle self bedoel.
  4. Kies ‘n lied wat lekker sing wat gesing kan word op pad na die tafels toe vir die aktiwiteit en dan uiteindelik by die tafels ook. Kyk na Flam 166 of Liedboek 302.
  5. Omgee: Bedien iets lig vir voorgereg, bv. ‘n breadstick en gee elkeen ‘n kans om die vraag te antwoord: “Wat bring jy na die tafel toe?” (Wat is sleg, wat is goed, wat is messy) Maak ‘n reël dat die jongste persoon aan tafel moet begin.
  6. Leer: Sit om die tafels. Lees die teks rondom die tafels met ‘n vraag of twee. Handelinge 2:43-47 (*ouers moet help om die vrae hier vir verskillende ouderdom kinders te vereenvoudig!*)
    1. Wat verras jou in hierdie teks?
    2. Wat sê God vir ons deur hierdie teks? (Is daar dalk een deel wat vir jou uitstaan wat God vir jou wil sê?)
  7. Doen die aktiwiteit rondom die tafels, aan die hand van die teks. Daar kan verskillende ‘tafels’ wees en elke gesin of groep kan al 4 doen, of by een vashaak – dit moet juis “messy” wees.

    Aktiwiteit 1 met instruksies:
    Ongedrukte koerant oor tafel met kryte/koki’s/penne – teken jou gemeenskap. Terwyl julle teken, inkleur, spoeg en plak, gesels oor die vrae:
    wie is daar?
    waar woon julle?
    waar werk julle?
    Antwoord dan die volgende vrae: Wie is jou gemeenskap? Wie kan jy nooi vir ete? Wie sluit jy dalk uit?

    Aktiwiteit 2 met instruksies: Daar is vir elke persoon ‘n papiersakkie met lekkers in. Party het 2 of 3 in, ander het 4 of 5 in. Party sakkies het dieselfde soort lekkers, ander het ’n verskeidenheid. Kyk of jy teen die einde van die dag 4 verskillende lekkers (een van elk) kan kry. Jy sal moet deel, onderhandel, weggee of uitruil…Wanneer julle besig is om die lekkers te probeer versprei, gesels oor hoe help dit ons dink aan vandag se teks? (Soms het ons te veel en ons moet weggee, ander keer het ons te min en ons moet ontvang. Ander kere kan ons uitruil – dit is nodig dat die kerk dit leer, sodat ons ‘n beter samelewing kan bou.)

    Aktiwiteit 3 met instruksies: Die mense in Handelinge 2 het gereeld saamgeëet. Dink aan die kos wat jy gewoonlik eet. Watter kos kan jy met mense deel soos wat die eerste kerk gedoen het? Maak dit met klei en sit dit in die middel van die tafel neer.

    Aktiwiteit 4 met instruksies: Speel Oom Sarel sê/Simon says – almal moet saamspeel – met baie energie! Wat is die probleem met die stelling “maak soos ek sê, moenie maak soos ek maak nie”? Ons moet leer om ‘n voorbeeld te wees en dit nie net te vertel nie. Ons moet ook werk aan ons luistervaardighede – hoor ons wat mense vir ons sê? Gee vir verskillende mense kans om Oom Sarel te wees.

    Aktiwiteit 5 met instruksies: Druk verskillende padtekens uit op karton, met die antwoorde agterop. Sit hulle plat neer en gee vir elkeen ‘n kans om ‘n padteken te trek en te identifiseer. As jy dit reg het, kan jy dit hou. As dit verkeerd is, sit dit terug. Gesels saam: Wat is die tekens van ons geloof?

  8. Bid saam: Bid vir mekaar rondom die tafel. Vra of daar gebedsversoeke is en gee vir almal wat gemaklik is kans om te bid. (Hier kan jy dalk ook as tafel saam ‘n tafelgebed skryf vir die ete.)
  9. Lied voor ete: Flam 333 Om die tafel van my Heer
  10. Bid saam: die Onse Vader (dit kan dalk uitgedruk op die tafels wees)
  11. Nagmaal instelling: alles wat ons eet en alles wat ons drink moet ons herinner aan God
  12. Eet saam: laat almal self gaan opskep en aan tafel gaan sit en saameet, kuier, lag en stories deel.
  13. Werk saam: Was saam skottelgoed, ruim op en maak skoon.
  14. Afsluiting: Lied 222 as seën oor mekaar. Dit sal goed wees om hier op ‘n ander plek bymekaar te kom en in ‘n kring rondom ‘n kers te staan. Laat iemand die kers aansteek.

12 Wenke om oud en jonk aan mekaar te verbind in jou gemeente

Hoe kan huidige ruimtes of geleenthede anders ingerig word om verskillende mense en generasies aan mekaar te verbind?  

Hier is 12 wenke:

  1. Kampe is ‘n wonderlike geleentheid om inter-ouderdom spasies te skep waar verskillende generasies kan “connect” aan mekaar, maar dan moet almal deelneem (daar moenie deelnemers en toeskouers wees nie). Skep rolle vir allerlei mense (nie net kategete nie, maar ook studente, middeljariges en ouer mense) en gee vir almal verantwoordelikhede, sodat almal met ‘n doel gaan.
  2. Kinder vakansie programme kan ook só aangebied word sodat kinders, tieners en volwassenes betrek word en beide tieners én volwassenes die kinders dien. Om saam te werk na ‘n gemeenskaplike doel bind mense saam.
  3. #imagine is ‘n ideale geleentheid om ‘n hele gemeente te betrek om saam te gaan kamp en verhoudings te bou. Skep ‘n gesamentlike doel soos om te help by die gebedstasies (#imagine se “encounter stations”).
  4. Betrek gesinne / huishoudings by huidige diensprojekte of uitreike sodat hulle leer om ook saam ‘n verskil te maak bv. om families te nooi om saam broodjies te kom smeer vir ‘n plaaslike sopkombuis of ouers saam te nooi op ‘n jeug uitreik.
  5. Betrek die hele familie as eredienswerkers of om mense by die deure te verwelkom. Gee vir hulle toerusting sodat hulle byvoorbeeld ook leer om kinders te groet (byvoorbeeld met ‘n “high five” of “fist pump”).
  6. Laat kinders saam met ouers die nagmaaltekens uitdeel.
  7. Benader tradisionele gemeente sang op ‘n heel ander manier. “Blended worship” is ‘n uitdaging, maar tog kan ‘n mens nie net die erediens laat besit deur sekere ouderdom mense nie. Een styl kan nie oorheers nie. As dit ons kerk begrip is dat ons álmal wil verwelkom en tuiskom in die erediens, moet ons ook bereid wees om nuut te dink oor die keuse, styl en samestelling van die liedere.
  8. Betrek kinders en tieners by die begeleidingsgroep.
  9. Reël ‘n  inter-ouderdom staptoer of uitstappie waar volwassenes jongmense op ‘n ander manier kon leer ken en wedersydse verhoudings gebou kon word.
  10. Gebruik en bevestig tieners as leiers in die gemeente bv. as kerkraasdslede of op kommissies of as jeug leierspan. Dit gee vir hulle ook ‘n stem en deurdat hulle diensbaar is en verantwoordelikheid neem, groei hulle ook. Dit is egter belangrik om met dié tiener leiers tyd te spandeer en verhoudings te bou en hulle nie net alleen te laat nie.
  11. Nooi volwassenes wat nie by die kategese betrokke is nie, om die kategese groep te kom besoek. Hulle kan byvoorbeeld hulle ervaring of stories (ook stories van gebrokenheid of foute) te deel met die tieners. Op só manier kan tieners ook verhoudings met ander volwassenes bou.
  12. Gebruik tieners as leiers (of hulpleiers) by die kategese en by kampe. so kan hulle reeds vroeg leer dien en lei.

Saamgestel deur die Familie Netwerk, ‘n inisiatief van die Taakspan Jeug en Familie van die Sinode van Wes-Kaapland.

Is familiebediening ‘n afdeling van gemeente-wees of is ‘n gemeente een groot familie?

Gespreksnotas van die Familie Netwerk byeenkoms gehou op 19 Julie 2018 aan die hand van ‘n hoofstuk “Congregations as Family” in die boek “Passing on the Faith. A Radical New Model For Youth and Family Ministry” deur Merton P. Strommen en Richard A. Hardel.

 Familiebediening is beide‘n afdeling van gemeente-wees én die gemeente is ook een groot familie. Daarom beteken familiebediening dat ons twee dinge doen:

(more…)

Holistiese Familiebediening Deel 3 – ‘n holistiese benadering van sorg

’n Gemeente wat graag holisties na hulle families wil omsien, kan selde die hele spektrum van sorg dek. Gemeentes het gewoonlik reeds inisiatiewe, maar die behoeftes vir families is gewoonlik ook wyer as die gemeente se bediening. Die gemeente moet dus eerstens seker wees oor wat hulle aan families bied en dan bewus wees van die “gate” waar behoeftes is.

(more…)

Holistiese Familiebediening Deel 1 – Lidmaatbemagtiging is die sleutel

Die grense van “familie” bediening lê so wyd dat ‘n predikant of jeugwerker maklik verlam kan voel. Wanneer lidmate egter bemagtig word om leiding te neem bring dit nuwe moontlikhede en hoop. Die Here gee aan elke gemeente die nodige gawes om hul roeping uit te leef. Die kerk se taak is om lidmate te help om hul gawes en roeping te ontvang terwyl hul dien en dit verder uit te bou.

(more…)

DIEN SAAM

DIEN SAAM - Hoe kan geleenthede skep waar alle generasies (ouderdomme) saam kan dien? (Gedagtes oor inter-generasionele bediening deel 2) 
Anriëtte de Ridder

Hierdie is deel van ‘n reeks artikels geskryf na aanleiding van die Familie Netwerk gesprek gehou in November 2017 met John Roberto se artikel “Becoming Intentionally Intergenerational” as agtergrond.

Diensbaarheid

Hoe kan diensgeleenthede werklik alle generasies (ouderdomme) saam betrek eerder as wat groepe net apart diensbaar is?

 Beginsels om te onthou

  • Diensbaarheid behels diensbare dade maar ook om dinge eenvoudige saam te doen.
  • Dis makliker om “doen dinge” inter-generasioneel aan te pak as enige ander tipe aktiwiteit of byeenkoms bv leer geleentheid of aanbidding geleentheid.
  • Diversiteit van opsies vir mense is belangrik.
  • “Doen dinge” kan ook avontuur geleenthede insluit waar jy uit jou gemaksone verkeer.
  • Diensbare dade kan ook pret wees vir alle ouderdomme.
  • Wanneer mense van verskillende ouderdomme saam dinge doen of saam diensbaar is, word ervarings gedeel – ervaringsleer beginsels geld dus hier.
  • “Mentoring” is belangrik – mense wat iets reeds gedoen het kan gee raad of help lei.
  • Daar is min geleenthede in die kerk (buiten basaar en eredienste) vir volwassenes om ook saam met ander volwassenes van verskillende ouderdomme iets saam te doen. Diens geleenthede help om sulke platforms te skep.
  • Toerusting vir diens en uitreik is belangrik sodat almal weet wat om te verwag en toegerus is vir dit wat van hulle verwag word.
  • Kinders en ouer mense kan bymekaar leer.
  • Dit is in meeste gemeentes vir gesinne ‘n uitdaging om ‘n geleenthede te vind waar hulle iewers saam kan uitreik, diensbaar wees of ‘n verskil kan maak – gemeentes moet intensioneel sulke saam-dien geleenthede skep.
  • Dit is ook ‘n uitdaging om ruimtes te skep waar gesinne uit verskillende ekonomiese agtergronde met mekaar kan “connect” – ons kan meer hieroor dink en meer intensioneel hieroor wees sodat “diens” nie altyd net eenrigting noodverligting is nie.

Stories

‘n Predikant vertel van gesinne (of kinders saam met ander volwassenes) wat saam uitreik na straatmense met die doel om omgee gesprekke met hulle te hê. By een so ‘n geleentheid het ‘n oupa en kleinseun saam dit gedoen en dit het baie vir hulle beteken om só ‘n ervaring te deel.

Een gemeente gee gesprek kaartjies vir tieners wat die ouetehuis besoek. Kaartjies het eenvoudige kenmekaar vrae op soos “Waar het jy groot geword?”, Watter stories hou jy van?” ens. hierdie vrae help die gesprekke om makliker te vloei. Hul ervaar dat tieners en bejaardes só met mekaar connect dat hulle aan die einde spontaan nommers uit ruil of reël vir ‘n opvolg besoek.

Een persoon vertel van die “Laserus projek – ek hoop / glo / vertrou” waar hulle maandeliks kos aanry na 16 gesinne in die gemeente en kinders saamneem wanneer hulle dit doen.

Een predikant vertel van jongmense wat sy saamgeneem het na ‘n ouetehuis om daar musiek te maak. Dit was ‘n nie-bedreigende manier van konneksie maak met hulle.

Een gemeente hou een maal ‘n jaar n familie Steak ete waar mense eet en verskillende ouderdomme saam skottelgoed was aan die einde.

Iemand vertel van die Embrace projek waar ‘n swanger ma en ouer ma aan mekaar verbind word om saam ‘n pad te stap.

Die Echo huise se saameet geleenthede bring verskillende ouderdomme en ekonomiese groepe bymekaar vir saam eet, kuier asook diens doen.

Nog ‘n storie word vertel van ‘n ete wat gereël is deur ‘n gemeente, waar tieners die bediening gedoen het en mense vanaf die straat genooi is vir ‘n heerlike bederf. Die mense het straatmense, karwagte en werkloses ingesluit.

Nog ‘n storie is vertel van ‘n tiener wat spontaan met die straatmense in sy omgewing connect. Hy ken hulle elkeen se naam en storie, nooi hul kerk toe en gee om vir hulle. Sy storie het ander (ook ouer) persone aangeraak.

Nog Idees

  • Vier (almal saam) dit wat reeds gedoen word in die gemeente in byvoorbeeld die erediens.
  • Sê dankie vir mense wat leiers is in die gemeente of mense wat deurlopend diensbaar is – mense word só aan mekaar verbind en/of sien wat die ander ouderdomsgroepe mee besig is.
  • Hulp by die nagmaal – laat tieners en volwassenes saam help met nagmaal voorbereiding.
  • Gee vir gesinne diensbeurte saam bv. kollekte, nagmaal voorberei of uitdeel, verwelkoming by die deure ensovoorts.
  • Die lof en aanbiddings groep kan uit verskillende generasie musikante en sangers saamgestel word.
  • Gee vir 2 mense in verskillende ouderdomme saam ‘n taak of verantwoordelikheid byvoorbeeld om kategese te lei of ‘n uitreik te reël.
  • Laat jonk en oud saam bedien bv. by die teetuin of deur te verwelkom by die erediens.
  • Tieners kan saam met grootmense die speletjies aanbied by die basaar of saam potjiekos maak.

Lees gerus die hele artikel van John Roberto by http://www.intergenerationalfaith.com/uploads/5/1/6/4/5164069/becoming_intentionally_intergenerational_-_roberto.pdf

 

___________________________________________________________________________