familie

messy church

Gespreksnotas van die Familie Netwerk byeenkoms gehou op 25 Julie 2019 aan die hand van twee hoofstukke uit die boek “Messy Togetherness” deur Martin Payne. 

Messy Church Liturgie

Die konsep “messy church” is ‘n poging om ‘n alternatiewe intergenerasionele ruimte te skep waar mense opnuut kerk kan beleef. “Messy Church” herinner ons dat alles uiteindelik afhang van die geloofsreis waarop mense is, wat gevier word rondom ‘n spoeg-en-plak tafel. Dit is leer terwyl jy speel vir beide volwassenes en kinders.

G.K. Chesterton: “The true object of life is play. Earth is a task garden. Heaven is a playground.”

Al wat nodig is vir “Messy Church” is entoesiasme, geduld, kreatiwiteit en verbeelding, mededeelsaamheid en aanpasbaarheid – want niemand weet hoe die verskillende aktiwiteite deur verskillende volwassenes of kinders verstaan of aangepak gaan word nie! (Watter fees is/was dit nie!)

Kyk hier na ‘n kort Messy Church video.

‘n Paar wenke om te onthou:

  • Die leier van die aktiwiteit moet entoesiasties wees.
  • Maak seker dat die groep van “scratch” af moet begin – moenie dit vereenvoudig deur die werk self klaar te doen nie!
  • Moenie ‘n ‘perfekte’ idee van die eindproduk in jou kop hê nie.
  • Wees inklusief – gee vir almal iets om te doen (as ‘n dogtertjie pienk glitter op die rooi Ferrari wil sit, laat haar dit doen!)
  • Onthou dat die aktiwiteit ‘n Bybelstorie of les moet vertel! Laat die teks toe om die aktiwiteit te bepaal.
  • Onthou dat die tyd wat dit vat om goed saam te doen en te maak deel van die leerproses is. Dit is uiteindelik die preek!
  • Eet is ‘n belangrike deel van “Messy Church” en die ‘erediens’ eindig eers wanneer die skottelgoed klaar gewas is en daar afgesluit is!
  • Moenie jaag nie – “Messy Church” vat tyd!
  • Die mense wat “Messy Church” gaan bywoon gaan waarskynlik nie gereelde erediens bywoners wees nie.
  • Jou gereelde erediens bywoners is die personeel vir “Messy Church.”

Hier volg ‘n voorbeeld liturgie vir ‘n “Messy Church” geleentheid aan die hand van Handelinge 2:43-47.

*Dit is belangrik dat duidelike “instruksies” op die tafels is, sodat daar nie elke keer ‘aangekondig’ hoef te word nie.

  1. Aankomstyd is oop (bv. kom 17:30 vir 18:00)
  2. Elke persoon (oud en jonk) kry ‘n badge wat ‘n spesifieke taak gee vir die dag (bv. help met kos voorbereiding, was skottelgoed, vee die vloere, pak die aktiwiteite uit ens.) Met die aankoms van die mense word badges of plakkers uitgedeel en almal beweeg na die ruimte waar hulle help.
  3. Daar kan vooraf op ‘n ysbreker besluit word, wat deur die loop van die dag gespeel kan word. Dink aan iets wat mense aanmoedig om bewus te wees van wat rondom hulle aangaan. Byvoorbeeld: plak ‘n papier op elke persoon se rug. Sodra jy ‘n positiewe eienskap van iemand raaksien dan skryf jy dit op hulle rug (bv. vriendelik, gaaf, behulpsaam, geduldig). Die aktiwiteit vind heeldag plaas en daar is nie ‘n amptelike afsluiting nie. Die papier op elkeen se rug is vir hulle self bedoel.
  4. Kies ‘n lied wat lekker sing wat gesing kan word op pad na die tafels toe vir die aktiwiteit en dan uiteindelik by die tafels ook. Kyk na Flam 166 of Liedboek 302.
  5. Omgee: Bedien iets lig vir voorgereg, bv. ‘n breadstick en gee elkeen ‘n kans om die vraag te antwoord: “Wat bring jy na die tafel toe?” (Wat is sleg, wat is goed, wat is messy) Maak ‘n reël dat die jongste persoon aan tafel moet begin.
  6. Leer: Sit om die tafels. Lees die teks rondom die tafels met ‘n vraag of twee. Handelinge 2:43-47 (*ouers moet help om die vrae hier vir verskillende ouderdom kinders te vereenvoudig!*)
    1. Wat verras jou in hierdie teks?
    2. Wat sê God vir ons deur hierdie teks? (Is daar dalk een deel wat vir jou uitstaan wat God vir jou wil sê?)
  7. Doen die aktiwiteit rondom die tafels, aan die hand van die teks. Daar kan verskillende ‘tafels’ wees en elke gesin of groep kan al 4 doen, of by een vashaak – dit moet juis “messy” wees.

    Aktiwiteit 1 met instruksies:
    Ongedrukte koerant oor tafel met kryte/koki’s/penne – teken jou gemeenskap. Terwyl julle teken, inkleur, spoeg en plak, gesels oor die vrae:
    wie is daar?
    waar woon julle?
    waar werk julle?
    Antwoord dan die volgende vrae: Wie is jou gemeenskap? Wie kan jy nooi vir ete? Wie sluit jy dalk uit?

    Aktiwiteit 2 met instruksies: Daar is vir elke persoon ‘n papiersakkie met lekkers in. Party het 2 of 3 in, ander het 4 of 5 in. Party sakkies het dieselfde soort lekkers, ander het ’n verskeidenheid. Kyk of jy teen die einde van die dag 4 verskillende lekkers (een van elk) kan kry. Jy sal moet deel, onderhandel, weggee of uitruil…Wanneer julle besig is om die lekkers te probeer versprei, gesels oor hoe help dit ons dink aan vandag se teks? (Soms het ons te veel en ons moet weggee, ander keer het ons te min en ons moet ontvang. Ander kere kan ons uitruil – dit is nodig dat die kerk dit leer, sodat ons ‘n beter samelewing kan bou.)

    Aktiwiteit 3 met instruksies: Die mense in Handelinge 2 het gereeld saamgeëet. Dink aan die kos wat jy gewoonlik eet. Watter kos kan jy met mense deel soos wat die eerste kerk gedoen het? Maak dit met klei en sit dit in die middel van die tafel neer.

    Aktiwiteit 4 met instruksies: Speel Oom Sarel sê/Simon says – almal moet saamspeel – met baie energie! Wat is die probleem met die stelling “maak soos ek sê, moenie maak soos ek maak nie”? Ons moet leer om ‘n voorbeeld te wees en dit nie net te vertel nie. Ons moet ook werk aan ons luistervaardighede – hoor ons wat mense vir ons sê? Gee vir verskillende mense kans om Oom Sarel te wees.

    Aktiwiteit 5 met instruksies: Druk verskillende padtekens uit op karton, met die antwoorde agterop. Sit hulle plat neer en gee vir elkeen ‘n kans om ‘n padteken te trek en te identifiseer. As jy dit reg het, kan jy dit hou. As dit verkeerd is, sit dit terug. Gesels saam: Wat is die tekens van ons geloof?

  8. Bid saam: Bid vir mekaar rondom die tafel. Vra of daar gebedsversoeke is en gee vir almal wat gemaklik is kans om te bid. (Hier kan jy dalk ook as tafel saam ‘n tafelgebed skryf vir die ete.)
  9. Lied voor ete: Flam 333 Om die tafel van my Heer
  10. Bid saam: die Onse Vader (dit kan dalk uitgedruk op die tafels wees)
  11. Nagmaal instelling: alles wat ons eet en alles wat ons drink moet ons herinner aan God
  12. Eet saam: laat almal self gaan opskep en aan tafel gaan sit en saameet, kuier, lag en stories deel.
  13. Werk saam: Was saam skottelgoed, ruim op en maak skoon.
  14. Afsluiting: Lied 222 as seën oor mekaar. Dit sal goed wees om hier op ‘n ander plek bymekaar te kom en in ‘n kring rondom ‘n kers te staan. Laat iemand die kers aansteek.

Hoe help gemeentes gesinne om tegnologie-slim te raak?

Ons begin gewoonlik die gesprek oor tegnologie by die gevare daarvan en hoe om skermtyd te beperk – en dis ‘n fout! Ons moet eerder begin om ouers die visie, die wil en vaardighede te gee om intensioneel te leef.

Daarom kan ons nie wegtrek by die praktiese moets en moenies van tegnologie nie. Dit gaan hulle uitput om by die reëls te hou en hulle gaan nie gemotiveerd wees om gedrag te verander nie. Begin eerder by God se droom – gesinne wat Sy liefde vergestalt. Verduidelik dat die doop ouers herinner aan God se belofte dat Hy deel is van ons kinders se reis en ouers help om hulle verantwoordelikheid na te kom om hulle kinders vir Hom groot te maak.

Gereelde gesprekke en ruimtes waar ouerskap in die lig hiervan bedink en bespreek kan word, is dus baie belangrik:
• Dink saam oor temas soos balans, ruimtes en ritmes.
• Gesels met ouers oor karakter en hoe om dit te vorm.
• Gesels oor mentorskap, dissipelskap en hoe om rolmodelle vir kinders en vir mekaar te wees.
• Verduidelik geloofsgewoontes, byvoorbeeld huisgelooftyd, maar gee ook baie praktiese wenke en tyd om gewoontes in te oefen (byvoorbeeld ons eet saam om ‘n tafel, ons sit om ‘n tafel en almal kry ‘n beurt om te gesels).
• Hieruit kan ‘n gesprek oor tegnologie vloei wat by b.g. waardes begin.

Die erediens kan ook gebruik word om almal te help om oor balans te dink en wat dit beteken om intensioneel te leef:
• Gebruik die liturgiese ruimte en ritmes om geloofsgewoontes te beoefen wat tuis ge-eggo kan word.
• Preek oor temas soos stilte, refleksie, dankbaarheid, verantwoordbaarheid ens.

Skep doelbewus ruimtes waar ouers mekaar kan help:
• Reël spesiale eredienste, oueraande en toerustingsgeleenthede of gebruik die tyd na die erediens of tydens kategese om ouers (wat wil) aan mekaar te verbind.
• Skep ‘n ruimte waar hulle gemaklik kan gesels, mekaar kan beïnvloed en ondersteun ten opsigte daarvan om kinders met karakter groot te maak en intensioneel te leef.
• Laat hulle die uitdagings en idees oor dissipline, skermtyd, familietyd, waardes, uitdagings, ens. deel.
• Betrek ook die wysheid van ouer mense in die groter geloofsfamilie by hierdie gesprekke.

Hierdie wenke is saamgestel deur ds Anriëtte de Ridder na aanleiding van ‘n Familie Netwerk gesprek in 2019 oor Families en Tegnologie.

Lees gerus die boek “The Tech-Wise Family: Everyday Steps for Putting Technology in Its Proper Place” deur Andy Crouch.

“Future-proof” jou kind

Na die koms van die tegnologiese era, bevind ons onsself in die informasie era – waar die wêreld so groot is soos ‘n rekenaarskerm. Ons konteks is vandag drasties anders as in die tyd toe ons grootgeword het – hoe nou gemaak met ouerskap? Daar is soveel invloede wat kinders en tieners se keuses beïnvloed en menings vorm. Die wêreld verander vinniger as ooit tevore. Jou kind weet op tien baie meer as wat jy op twintig geweet het.

“The illiterate of the 21st century will not be those who cannot read or write but those who cannot learn, unlearn and relearn”- A Toffler

Hoe kan ons wysheid oordra in vandag se konteks en ons kinders en tieners “future-proof”?

Graeme Codrington en Nikki Bush gee in hulle boek “Future-proof your child” die volgende wenke:

  1. Verhoudings: Ons jongmense is honger vir verhoudings en soek na opregte belangstelling en sinvolle kommunikasie. Belê in daaglikse kwaliteit tyd. Kommunikeer met opbouende woorde. Hierdie verhoudings sal jou kind help om in die toekoms positiewe verhoudings te bou, emosionele intelligensie te ontwikkel, self-kennis op te doen en belangrike persoonsvaardighede te oefen wat broodnodig is in ‘n vinnige, tegnologie-gerigte konteks.
  2. Fokus op Waardes: Reëls en kennis verander soos die tye verander, maar waardes staan vas en kan in verskillende kontekste jou kind bewaar en help om die regte keuses te maak. Gebruik gesprekke om onderskeiding (insig) en refleksie te oefen. Dit sal help om jou kind/tiener te leer om aanpasbaar te wees en, tussen al die boodskappe, die regte keuses in die toekoms te maak.
  3. Deelnemende Ouerskap: Outoritêre ouerskap (waar kinders gehoorsaam aan ouers se wil moet wees) en toegeeflike ouerskap (waar alles toelaatbaar, maar ook dikwels inkonsekwent is), is nie meer vandag suksesvolle ouerskapstyle nie. Outoritêre ouers kweek rebelle en toegeeflike ouers kweek onverantwoordelike of afhanklike kinders.

Deelnemende ouerskap is ‘n ouerskapstyl wat binne ‘n struktuur kinders/tieners leer om self verantwoordelikheid te neem (ouderdoms-gepas) en saam (met ouers) te leer en te groei. Binne hierdie styl oefen kinders om keuses te maak en verantwoordelikheid te neem. Dissipline word in plaas van straf ingespan. Jou kind/tiener moet eerder gehoorsaam wees aan waardes (waaraan jyself gehoorsaam moet wees) as aan jou.

Uitdagings vir die week:

  1. Maak tyd vir verhoudings: Deel elkeen ‘n soet (lekker) en suur (sleg) van jou dag (tydens aandete/voor slapenstyd).
  2. Fokus op waardes – Merk een ding waarop jy trots is en van jou kind/tiener waardeer vandag (jou tiener kan vir jou ook terugvoer gee).
  3. Deelnemende ouerskap – Hou ‘n gereelde familievergadering waar daar byvoorbeeld saam aan ‘n familie-aktiwiteit beplan word.

Dit is die Here wat wysheid gee, uit sy mond kom die kennis en die insig. Spreuke 2:6

Geskryf deur ds Anriëtte de Ridder (Predikant in Sinodale diens vir Jeug en Familiebediening van die Wes-Kaapland Sinode).

My kind se vriende

15 wenke om jou kind / tiener te help met vriende

Ek onthou baie goed hoe my ma haar oor my broer, wat 3 jaar jonger as ek is, bekommer het. Hy was op ‘n baie stil, vroeë tienerfase. My ma het gewonder – het hy vriende en watter tipe vriende is hulle? Sy het my gevra om pouse op hom te “spioeneer” om meer uit te vind…

Dit is moeilik om in te meng by jou kinders se vriendskappe. Maar aan die ander kant het ons al almal gesien hoe ‘n kind kan vereensaam of verwoes kan word as gevolg van negatiewe “vriende” of groepsdruk.

Wat kan ons as ouers doen?

  1. Skep geleenthede waar jou kinders ander vriende kan maak wat ‘n positiewe invloed op hulle kan hê. Nooi vriende oor of reël ‘n uitstappie waarheen hy/sy potensiële vriende kan nooi.
  2. Help jou kind om verhoudings in ‘n positiewe omgewing te bou. Gesels vooraf oor wat hulle kan doen of oor gesels. Help ook jou skaam kind om te ontspan.
  3. Leer jou kind om Jesus as vriend te ken en sy voorbeeld te volg om ‘n goeie vriend te wees.
  4. Leer ken jou kind se vriende en hulle gesinne. Weet wie hulle is en watter waardes hulle in hulle huise leer.
  5. Doen rolspel oor hoe om moeilike situasies en versoekings te hanteer en help hom/haar om (vooraf) self aan alternatiewe en oplossings te dink.
  6. Versterk positiewe gedrag by jou kind en sy/haar vriende.
  7. Help jou kind om te dink aan maniere om boelie-gedrag raak te sien en te hanteer.
  8. Help jou kind om self introspeksie te doen oor sy/haar eie vriendskappe en hoe hy/sy ander hanteer.
  9. Gesels met jou kind oor hoe om konflik op te los.
  10. Leer jou kind om om te gee, vriendelik te wees en empatie te hê – ook met diegene wat nie noodwendig sy/haar vriende is nie.

Kyk na jouself en doen introspeksie:

  1. Kies ek goeie vriende?
  2. Is ek ‘n goeie vriend?
  3. Hoe beïnvloed my vriende my?
  4. Luister ek met aandag en deernis as my kind/tiener oor sy/haar vriende gesels?
  5. Gesels ek ook met my kinders oor my eie kinderdae vriende – hoe ek hulle gekies het, hoe hulle was en of ons goeie/slegte keuses gemaak het?

 

“Twee vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets. As die een val, kan die ander hom ophelp. Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom op te help nie”. Prediker 4:9-10

 Geskryf deur ds Anriëtte de Ridder (Predikant in Sinodale diens vir Jeug en Familiebediening van die Wes-Kaapland Sinode).

“Tackle” die Taai Toffie Tye

Wenke vir konflikhantering in ‘n gesin

Dikwels beleef gesinne dat hulle uit mekaar dryf of mekaar gedurig verkeerd opvryf. Hoe dan gemaak?

Die beginpunt om die taai toffie tye te “tackle” is om elkeen in die gesin se unieke kommunikasie styl te leer ken, sodat elkeen waardeer kan word en jul mekaar kan ‘lees’. Vaardighede om konflik te hanteer en na mekaar te luister is ook baie belangrik.

Gesels gerus oor die volgende in die gesin:

  1. Wat dink jy doen jy of sê jy wat ander in die huis irriteer? Hoe maklik/moeilik erken ek my foute? (Moenie na mekaar vingerwys nie, gee eerder elkeen geleentheid om oor hulself te reflekteer).
  2. Vertel hoe jy wil hê die ander lede van die gesin jou moet hanteer wanneer jy kwaad/hartseer is?
  3. Konflikhantering is makliker wanneer elkeen in die huis okay voel oor hulleself. Bou julle mekaar op en gee julle opregte komplimente? Maak ‘n lys van elkeen se unieke eienskappe. (Help mekaar om dit raak te sien!)
  4. Herinner mekaar aan jul huis se waardes. (Of stel dit saam op.)
  5. Wat is die reëls in jul huis? (Laat elkeen insette gee en moenie te veel hê nie!) Dit is belangrik om duidelike grense te hê soos dat ons nie mekaar seermaak of goed breek nie.
  6. Konflikhantering begin met goeie kommunikasie. Hoe kan julle meer gesels en weet hoe dit regtig met elkeen gaan? Deel idees met mekaar.
  7. Watter roetines of gewoontes kan julle help om rustiger te wees? Dink byvoorbeeld daaraan om daagliks saam te eet om ‘n tafel, om tye te hê waar alle skerms (fone, rekenaars, tablette, ens.) afgesit word en om betyds te gaan slaap sodat almal uitgerus kan wees.
  8. Konflikhantering is makliker wanneer almal mekaar vertrou. Hoe kan julle as gesin verhoudings bou? Dink aan prettige aktiwiteite om saam tyd te spandeer. Maak ‘n vaste tyd hiervoor.
  9. Wat is ons gesin se storie? Wat is die hoogtepunte en laagtepunte daarvan? Sien raak hoe julle al in die verlede deur moeilike tye gekom het of wie/wat julle gehelp het.
  10. Hoe is God deel van ons verhaal? Dit is belangrik om ook vir mekaar te bid en God te vra om julle te help om in vrede saam te leef en uitdagings te hanteer.

Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie lief het. Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees. Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe. Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind. Kol 3:12-14

Geskryf deur ds Anriëtte de Ridder (Predikant in Sinodale diens vir Jeug en Familiebediening van die Wes-Kaapland Sinode).

“Bid gedurig” – maar hoe, wanneer, waar…?

15 wenke om gebed deel te maak van julle gesin se alledaagse lewe

Jesus se dissipels vra hom om hulle te leer bid in Lukas 11. Hoe het jy as kind leer bid? En hoe leer jy jou kinders bid? Gebruik julle ‘n vasgestelde gebed voor ete / slapenstyd? Sien hulle jou bid in krisistye? Wat weet jou kind/tiener van jou intieme gebedslewe?

Ek wil nie my kinders grootmaak om net gebedsrympies te ken of net in sekere omstandighede na God te gryp nie. Ek wil graag hê my kinders moet eendag ‘n geïntegreerde gebedslewe hê, waar hulle enige tyd van die dag/nag en oor alles met God kan gesels. Kom ons dink saam na oor hoe ons ons kinders leer bid. Hier is ‘n paar gedagtes:

  1. Help jou kinders om gedurig deur die dag bewus te wees van God se teenwoordigheid.
  2. Bid op “snaakse” tye en oor alledaagse goed.
  3. Bid ook om God te loof en prys en dankie te sê (gebruik ook musiek en sang).
  4. Leer jou kind / tiener wat God Drie-Enig se eienskappe is.
  5. Bid op ‘n rooster vir julle gesin se uitdagings / familie / vriende / sake saans voor ete (maak bv. ‘n aansteekbord julle gebedsbord met foto’s/koerantuitknipsels).
  6. Wissel metodes van bid af. Bv. “popcorn” gebed (kort een woord/sin gebede), bid 2-2 saam, neem beurte, bid van jonk na oud, bid elkeen vir die een aan sy/haar linkerkant, ens.
  7. Vaste gebruike word geloofsgewoontes bv. bid voor etes, voor slapenstyd, in die oggend met wakker word tyd, voor julle ry, as julle mense verwelkom, ens.
  8. Bid saam wanneer julle die gewone hoogte- en laagtepunte as gesin beleef soos verjaarsdae, huweliksherdenkings, doopvieringsdae, skoolprestasies, sterftes, siektes en teleurstellings.
  9. Leer kinders en veral tieners om te bid voor hulle besluite neem.
  10. Leer kinders/tieners (uit jou eie voorbeeld) dat gebed en Bybel-lees saamgaan.
  11. Leer sekere tekste uit die Bybel as gebede.
  12. Gebed is ook om te luister na God. Moedig tieners aan om ‘n joernaal te hou van wat God vir hul sê.
  13. Gebruik uitstappies in die natuur om bewus te raak van God.
  14. Luister na musiek as ‘n vorm van gebed.
  15. Leer jou kinders om stil te raak.

Mag jou eie gebedslewe nuwe groei ervaar hierdie week en jy elke oomblik bewus wees van God se Gees se teenwoordigheid in jou lewe. “Bid gedurig.” 1 Tess 5:17

Geskryf deur ds Anriëtte de Ridder (Predikant in Sinodale diens vir Jeug en Familiebediening van die Wes-Kaapland Sinode).

Kinders kan ook deur ‘n rouproses gaan

As jy, of iemand wat jy ken, deur ‘n trauma soos egskeiding, werkverlies of die dood van ‘n geliefde gaan, is dit natuurlik om deur ‘n rouproses te gaan. ’n Mens kan maklik van kinders in dié tyd vergeet. Somtyds dink ons hulle verstaan nog nie wat gebeur nie, of ons probeer hulle teen die pyn beskerm. Hulle rou dalk anders as grootmense, maar hulle verstaan tog wat aan die gang is. Daarom is dit belangrik om hulle ook te ondersteun! Die vyf fases van rou wat deur die Kübler-Ross model beskryf word, kan ons help om beter te verstaan waardeur mense (en ook kinders) gaan en hoe ons iemand kan bystaan wat besig is om te rou.

Vyf fases van rou

Die eerste fase is ontkenning. Dit is ‘n manier om die angstigheid van die situasie te ontsnap. Dit word verwoord in terme van “dit kan nie wees nie”. Laat die persoon toe om te praat, want terwyl die persoon in dié fase is, gee dit hom/haar kans om hierdie gebeurtenis te verwerk.

Die tweede fase is woede. Die persoon is dan kwaad vir almal, bv. die hospitaal, vriende, die kerk, die dominee, God ens. Die persoon voel dan ook gefrustrueerd en nutteloos. Laat hom/haar toe om hul woede uit te spreek. Wees sensitief en help die persoon om sy/haar gevoelens te verwoord bv. teenoor God.

Die derde fase is onderhandeling. Dit is wanneer die persoon met God/die wêreld/ouers onderhandel om die situasie om te keer (al is dit vir ‘n kort tydjie). Hier moet ‘n mens versigtig wees om ‘n maklike antwoord op die persoon se vrae te gee. Ons help die meeste wanneer ons wys ons is ook gebroke mense en het nie al die antwoorde nie.

Die vierde fase is depressie. Dit is wanneer die persoon reageer teenoor die werklikheid dat hy of sy nie die situasie kan verander nie. Hier kan gelowiges ‘n belangrike rol speel en die persoon op ‘n praktiese manier ondersteun. Dit beteken die meeste vir die persoon om net vir hom/haar daar te wees en nie veel te sê nie.

Die vyfde fase is aanvaarding. Hier begin die persoon die werklikheid aanvaar en vrede maak met dit wat gebeur het. Hier speel die ondersteuning deur die familie ‘n belangrike rol en kan nuwe gewoontes gevestig word.

Elke persoon is uniek en reageer anders tydens die rouproses. Elke persoon of kind gaan nie noodwendig deur al die fases of in dieselfde volgorde nie.

So is vervul wat deur die profeet Jesaja gesê is: “Hy het ons lyding op Hom geneem, ons siektes het Hy gedra.” Matt 8:17

Nico Lochner (Predikant by NG Amsterdam in Mpumalanga)

Familiereeks van vyf weke

Familie-wees word uit vyf hoeke bekyk met die hulp van vyf videosnitte. Ouers word gehelp om verhoudings te bou en by hulle kinders ‘n geloof te kweek wat sal hou.

Met erkenning aan NG Buffeljagsrivier wat die reeks aan die hand van die boek “Ouerskap” aangebied het. Klik hier om die boek by Bybelmedia te bestel.

Die preke, kleingroepmateriaal (volwassenes sowel as kinders), asook video’s is hier beskikbaar. (more…)