familie

“Bid gedurig” – maar hoe, wanneer, waar…?

15 wenke om gebed deel te maak van julle gesin se alledaagse lewe

Jesus se dissipels vra hom om hulle te leer bid in Lukas 11. Hoe het jy as kind leer bid? En hoe leer jy jou kinders bid? Gebruik julle ‘n vasgestelde gebed voor ete / slapenstyd? Sien hulle jou bid in krisistye? Wat weet jou kind/tiener van jou intieme gebedslewe?

Ek wil nie my kinders grootmaak om net gebedsrympies te ken of net in sekere omstandighede na God te gryp nie. Ek wil graag hê my kinders moet eendag ‘n geïntegreerde gebedslewe hê, waar hulle enige tyd van die dag/nag en oor alles met God kan gesels. Kom ons dink saam na oor hoe ons ons kinders leer bid. Hier is ‘n paar gedagtes:

  1. Help jou kinders om gedurig deur die dag bewus te wees van God se teenwoordigheid.
  2. Bid op “snaakse” tye en oor alledaagse goed.
  3. Bid ook om God te loof en prys en dankie te sê (gebruik ook musiek en sang).
  4. Leer jou kind / tiener wat God Drie-Enig se eienskappe is.
  5. Bid op ‘n rooster vir julle gesin se uitdagings / familie / vriende / sake saans voor ete (maak bv. ‘n aansteekbord julle gebedsbord met foto’s/koerantuitknipsels).
  6. Wissel metodes van bid af. Bv. “popcorn” gebed (kort een woord/sin gebede), bid 2-2 saam, neem beurte, bid van jonk na oud, bid elkeen vir die een aan sy/haar linkerkant, ens.
  7. Vaste gebruike word geloofsgewoontes bv. bid voor etes, voor slapenstyd, in die oggend met wakker word tyd, voor julle ry, as julle mense verwelkom, ens.
  8. Bid saam wanneer julle die gewone hoogte- en laagtepunte as gesin beleef soos verjaarsdae, huweliksherdenkings, doopvieringsdae, skoolprestasies, sterftes, siektes en teleurstellings.
  9. Leer kinders en veral tieners om te bid voor hulle besluite neem.
  10. Leer kinders/tieners (uit jou eie voorbeeld) dat gebed en Bybel-lees saamgaan.
  11. Leer sekere tekste uit die Bybel as gebede.
  12. Gebed is ook om te luister na God. Moedig tieners aan om ‘n joernaal te hou van wat God vir hul sê.
  13. Gebruik uitstappies in die natuur om bewus te raak van God.
  14. Luister na musiek as ‘n vorm van gebed.
  15. Leer jou kinders om stil te raak.

Mag jou eie gebedslewe nuwe groei ervaar hierdie week en jy elke oomblik bewus wees van God se Gees se teenwoordigheid in jou lewe. “Bid gedurig.” 1 Tess 5:17

Geskryf deur ds Anriëtte de Ridder (Predikant in Sinodale diens vir Jeug en Familiebediening van die Wes-Kaapland Sinode).

Kinders kan ook deur ‘n rouproses gaan

As jy, of iemand wat jy ken, deur ‘n trauma soos egskeiding, werkverlies of die dood van ‘n geliefde gaan, is dit natuurlik om deur ‘n rouproses te gaan. ’n Mens kan maklik van kinders in dié tyd vergeet. Somtyds dink ons hulle verstaan nog nie wat gebeur nie, of ons probeer hulle teen die pyn beskerm. Hulle rou dalk anders as grootmense, maar hulle verstaan tog wat aan die gang is. Daarom is dit belangrik om hulle ook te ondersteun! Die vyf fases van rou wat deur die Kübler-Ross model beskryf word, kan ons help om beter te verstaan waardeur mense (en ook kinders) gaan en hoe ons iemand kan bystaan wat besig is om te rou.

Vyf fases van rou

Die eerste fase is ontkenning. Dit is ‘n manier om die angstigheid van die situasie te ontsnap. Dit word verwoord in terme van “dit kan nie wees nie”. Laat die persoon toe om te praat, want terwyl die persoon in dié fase is, gee dit hom/haar kans om hierdie gebeurtenis te verwerk.

Die tweede fase is woede. Die persoon is dan kwaad vir almal, bv. die hospitaal, vriende, die kerk, die dominee, God ens. Die persoon voel dan ook gefrustrueerd en nutteloos. Laat hom/haar toe om hul woede uit te spreek. Wees sensitief en help die persoon om sy/haar gevoelens te verwoord bv. teenoor God.

Die derde fase is onderhandeling. Dit is wanneer die persoon met God/die wêreld/ouers onderhandel om die situasie om te keer (al is dit vir ‘n kort tydjie). Hier moet ‘n mens versigtig wees om ‘n maklike antwoord op die persoon se vrae te gee. Ons help die meeste wanneer ons wys ons is ook gebroke mense en het nie al die antwoorde nie.

Die vierde fase is depressie. Dit is wanneer die persoon reageer teenoor die werklikheid dat hy of sy nie die situasie kan verander nie. Hier kan gelowiges ‘n belangrike rol speel en die persoon op ‘n praktiese manier ondersteun. Dit beteken die meeste vir die persoon om net vir hom/haar daar te wees en nie veel te sê nie.

Die vyfde fase is aanvaarding. Hier begin die persoon die werklikheid aanvaar en vrede maak met dit wat gebeur het. Hier speel die ondersteuning deur die familie ‘n belangrike rol en kan nuwe gewoontes gevestig word.

Elke persoon is uniek en reageer anders tydens die rouproses. Elke persoon of kind gaan nie noodwendig deur al die fases of in dieselfde volgorde nie.

So is vervul wat deur die profeet Jesaja gesê is: “Hy het ons lyding op Hom geneem, ons siektes het Hy gedra.” Matt 8:17

Nico Lochner (Predikant by NG Amsterdam in Mpumalanga)

Familiereeks van vyf weke

Familie-wees word uit vyf hoeke bekyk met die hulp van vyf videosnitte. Ouers word gehelp om verhoudings te bou en by hulle kinders ‘n geloof te kweek wat sal hou.

Met erkenning aan NG Buffeljagsrivier wat die reeks aan die hand van die boek “Ouerskap” aangebied het. Klik hier om die boek by Bybelmedia te bestel.

Die preke, kleingroepmateriaal (volwassenes sowel as kinders), asook video’s is hier beskikbaar. (more…)

Adventreeks vir gesinne: name van Jesus

Hier is ‘n adventsreeks vir gesinne oor die name van Jesus volgens Jesaja 9:5. Daar is 5 kort Bybelstudies wat gesinne saam hierdie vakansie kan doen wat elk telkens ‘n teksgedeelte, aktiwiteit, gespreksvrae en gebedswenk bevat. Dit is saamgestel deur twee predikante uit buurgemeentes in Wellington, Lettie Büchner en Annelet Slazus. Die formaat is van só aard dat dit maklik deur gemeentes gedruk en as ‘n pakket uitgedeel kan word.

Die temas is as volg:
Advent (inleiding)
1. Name het betekenis (Jesaja 9:5)
2. Wonderbare Raadsman (Johannes 3:1-21)
3. Magtige God (Johannes 6:1-15)
4. Ewige Vader (Lukas 18:15-17)
5. Vredevors (Lukas 19:1-10)

Kersfees_Kosblik_2018

Opsioneel: voeg bordkryt en ‘n teeliggie by elke gesin se pakket as hulpmiddels.

Doopjoernaal – leef jou doopbelofte

Jy wil graag jou kind se doopdag spesiaal maak, ʼn dag om te vier, ʼn dag om onthou te word. Die Doopjoernaal sal jou help om aan hierdie viering diepte te gee en jou kind te leer om sy of haar doopdag ook self te vier.

Die Doopjoernaal bied riglyne vir gesprekke, aktiwiteite en geloofsgewoontes wat ouers sal help om hulle kinders te laat ontdek dat hulle bly wees oor hulle band met Christus, om hulle kinders opgewonde te maak oor die pad waarop God hulle voete geplaas het, om hulle te laat besef dat die Gees altyd by hulle is, om ander gelowiges as hulle familie te sien – en om te weet dat hulle die wêreld ingestuur word om vanuit God se liefde vir God en ander mense te gaan leef. ʼn Boek om jou en jou kind te help om die rykdom van die doop te vier en nooit te vergeet nie.

  • Dit word gebruik saam met die boek Watermerk, wat vorm gee aan gesprekke oor die doop tussen die ouers en leraars.

R70 by Bybelmedia te koop. http://eshop.bybelmedia.org.za/product/doopjoernaal/

Kerk + huis deur Mark Holmen

Mark Holmen se boek “Kerk+ Huis. Die Beproefde formule om lewenslange geloof te bou” bied ‘n eenvoudige huisgeloof strategie vir gemeentes.

Blywende, lewenslange geloof word selde deur kerkprogramme aangeleer, maar eerder “aangesteek” deur ’n leefstyl van geloof wat by die huis uitgeleef word. Maar hoe kan jou gemeente huise toerus om (weer) die belangrikste plek te word waar geloof gevoed word? Deur ’n HuisGeloof-gemeente te word. Mark Holmen se boek Kerk + Huis bevat alles wat jy nodig het om ’n HuisGeloof-fokus in die DNS van jou geloofsgemeenskap in te weef.

Kerk + Huis bou voort op die bedieningskonsepte wat Holmen deur die vinnig groeiende, internasionale HuisGeloof-beweging verfyn het. Jy sal ontdek hoe om jou gemeentelede se huise as die belangrikste geboorteplek van geloof te hervestig deur ’n lewenskragtige, doeltreffende HuisGeloof-bediening in jou gemeente te vestig, ongeag hoe groot of klein dit is.

Jy kan die boek, in afrikaans vertaal, bestel by Bybelmedia: http://eshop.bybelmedia.org.za/product/kerkhuis/

By hierdie skakel is daar ook ‘n nuttige boekresensie deur Dr Wouter van Wyk gratis aflaaibaar.