families

Wat is die impak van Tegnologie op Kinders?

Toegerus vir die Toekoms

Tegnologie kan positief wees om verskeie redes, onder andere:

  • Kinders en jongmense het a.g.v. tegnologie toegang tot soveel meer informasie en is daarom ook beter ingelig en meer kreatief.
  • Tegnologie kan verhoudings versterk en konneksie verhoog.
  • Dit kan ‘n hulpmiddel wees, byvoorbeeld vir kinders met spesiale behoeftes.

(more…)

Intergenerasionele Eredienste, Kategese en Kampe

Inleiding

Vra die vraag af: hoe lyk jou gemeente se eredienste, kategese en kampe op die oomblik?

Sal die volgende mense welkom voel in hierdie ruimtes:

  • ‘n Senior lidmaat?
  • ‘n Volwassene?
  • ‘n Tiener?
  • ‘n Laerskool kind?
  • ‘n Voorskoolse kind?

Teologiese Onderleg vir Intergenerasionele Jeugbediening

Voorheen het ons gemeentes gefunksioneer volgens die herder-kudde-model van kerk-wees wat baie klem plaas op die predikant en ander “lerende leiers” in die gemeente. Die res van die gemeente se funksie was baie meer passief en hulle het onderrig ontvang – veral kinders.

Ons is egter besig op ‘n reis in ons kerk waar die liggaamsmodel van kerk-wees baie meer klem geniet en dit dwing ons om anders te dink oor die funksie van AL ons lidmate binne die gemeente – ook kinders. Die liggaamsmodel lê klem daarop dat elke persoon ‘n belangrike rol het om te speel in die gemeente en dat kinders dus volwaardige ledemate is van die liggaam – daar is immers nie ‘n junior Heilige Gees nie!

Hoe lyk eredienste, kategese en kampe binne die bogenoemde twee modelle en hoe verskil dit?

Eredienste

‘n Erediens in ‘n gemeente waar die herder-kudde-model sterk funksioneer, sal baie klem lê op sekere rolspelers (en hulle sal meestal, indien nie almal nie, volwassenes wees) en daar sal min interaksie wees tussen die mense teenwoordig. Die diens sal grotendeels afhang van ‘n predikant wat doen en ‘n gemeente wat passief luister. Die opset is een-tot-baie, mense sit in rye agtermekaar en kinders is apart of afwesig.

‘n Erediens wat gebaseer is op die liggaamsmodel van kerk-wees, sal ruimte maak vir elke persoon in die vertrek om aktief daaraan deel te neem. Daar is gelyke waarde van almal teenwoordig. Mense leer bymekaar en kyk mekaar in die oë indien moontlik. Dit is nie net ‘n een-rigting-gesprek nie, maar ‘n gesprek tussen almal teenwoordig in een of ander vorm.

Voorbeelde:

  • Eredienswerkers (span wat mense verwelkom by die deur, nagmaaltekens uitdeel en offergawes opneem) bestaan uit gesinne – dus kinders en volwassenes van alle ouderdomme.
  • Daar is ‘n geleentheid in die diens vir kinders se verjaarsdae wat gevier word en selfs ‘n ouma sin wat gereeld die diens bywoon!
  • Daar is kinderliedjies sowel as meer volwasse-gerigte liedjies. Almal staan en sing beide genres liedjies saam, maar met die kinderliedjies staan die kinders soms op die stoele en doen die bewegings ook saam.
  • Kinders kan gebruik word om simbole in te bring of te gebruik wat aanhak by die preekreeks, bv. vlae met woorde op wat gedra word of kers wat tydens Lydenstyd uitgedoof word.
  • Geleentheid vir families of lidmate om na mekaar te draai en vrae te bespreek in die diens.
  • Daar kan selfs ‘n graad-diens gehou word vir ‘n spesifieke graad waar gesinne een van die kategese-lesse saam doen en die predikant van voor af fasiliteer.

Kategese en Kampe

Die herder-kudde-model van kerk-wees laat kategese ‘n skoolklaskamer dupliseer waar daar ‘n “onderwyser” is (gewoonlik ‘n volwassene) wat net kennis oordra aan passiewe kinders wat min geleentheid het om hulle eie opinies en vrae te gee en vra. Die klem is daarop dat hulle die kennis inneem en dit netso kan weergee.

Op kampe sal die prentjie baie eenders lyk, maar net met ‘n groter groep en in ‘n ander ruimte. Daar sal moontlik tye wees op die kamp vir ander aktiwiteite as kennisoordrag, maar dit sal losstaande wees en nie noodwendig ‘n spesifieke doel dien in terme van die vorming en inlewing van die tema nie.

Wanneer die beginsel van die liggaamsmodel op kategese toegpas word, het almal wat betrokke is ‘n rol om te speel. Die onderwysers word eerder fasiliteerders van ‘n gesprek waar die tema bespreek word en hierdie gesprek waar die kinders/tieners geleentheid kry om ook deel te neem is netso belangrik en onlosmaaklik verbind aan die kennis oordrag. Die groepe is kleiner sodat gesprek makliker kan plaasvind. Kategesegroepies sit in kringe sodat almal mekaar in die oë kan kyk en nie in ‘n ry voor die onderwyser nie. Ervaringsleer is ook belangrik.

Met kampe is een oorhoofse tema belangrik waarop alles gebasseer is: kennis, gesprekke, ervaringsleer en musiekbediening. Die doel van al hierdie aspekte van die kamp is geloofsvorming in ‘n eilandsituasie eerder as nét kennisoordrag. Kampeerders word ook in kleingroepe ingedeel met fasiliteerders en almal wat gaan kamp het ‘n rol, bv. kleingroepleiers, band, bidders, beraders, ens.

Ouervergaderings

Ouervergaderings in die herder-kudde-model lyk ook baie eenders as eredienste in hierdie model: die predikant van vooraf praat, ouers wat in rye sit en kinders wat afwesig is.

In die liggaamsmodel sal ‘n ouervergadering die kinders ook insluit, kinders sal saam met hulle ouers in kleingroepe sit en daar sal geleentheid wees vir hulle om ook met mekaar te kommunikeer oor dit wat van voor af met hulle gedeel word.

Wenke om ruimtes meer intergenerasioneel-vriendelik te maak

  • Handwerk (crafts) wat almal saam moet doen of elkeen individueel en dan met mekaar deel.
  • Oop vrae: Dit is belangrik dat die vra wawt gevra word deur ‘n 4-jarige sowel as ‘n 30-jarige beantwoord kan word.
  • Stories: Alle ouderdomme het stories om te vertel, maar ons het min tye om te luister na mekaar.
  • Getuienisse
  • Simboliek: Dit is iets waaraan ons almal kan deelneem.
  • Speletjies: Gesamentlike ervaringsleer of speletjies gebaseer op ‘n sekere tema of preek-/kategese-reeks wat huis toe geneem kan word om in huisgeloof tyd te speel.

Slot

Dink terug oor jou beskrywing van die ruimtes in julle gemeente aan die begin. Hoe kan jy net een ding in elke ruimte verander of toevoeg om dit meer intergenerasioneel te maak?

Moenie oorhaastig alles verander nie! Fasiliteer geloofsgroei met klein veranderinge.

Elzanne van der Westhuizen

kindermoment – Oupa Abie video clips

Kindermoment – Oupa Abie video clips
Nuttige skakel met ‘n weeklikse poppekas episode:

www.facebook.com/AbieOupa

“Oupa Abie” se facebook blad bied elke week ‘n gratis 4-5 min poppekas video om te gebruik in eredienste of kategese. Die pop “Oupa Abie” gesels gewoonlik met een van sy kleinkinders oor die leesrooster teks van daardie week. Handig om te gebruik as ‘n kinderoomblik of as ‘n huisgeloof hulpmiddel om deur gesinne tuis te kyk en te bespreek. LW al is hierdie ‘n poppekas is dit gerig op die vlak van ‘n Graad 5-7 laerskool kind. Daar is ook gespreksvrae onder aan die youtube skakel.
In hierdie episode gesels Oupa Abie met Carlo oor God, Jesus en die Heilige Gees (1 Korintiërs 13: 11-13)

Huisgeloof – ‘n gesprek oor die Heilige Gees

WIND

Staan in die wind of voor ‘n waaier. haal ook diep asem terwyl jou hand ‘n entjie voor jou (oop) mond hou. gesels oor hoe ‘n mens nie die Heilige Gees kan sien nie en nie altyd bewus is van die Gees nie. tog is Hy soos die wind of suurstof altyd om ons en in ons aan die werk. soms kan jy hom voel of sy werk sien.

STERRE

Staan buite in die nag en kyk na sterre. Gesels oor die sterre oor hoe wonderlik hulle is. Praat dan oor hoe helder elkeen brand en lig maak. gesels oor hoe die Heilige Gees ons help om lig te maak en te skyn deur hoe ons getuienis.

KERSE

Skakel al die ligte af en steek ‘n kers aan en kyk na hoe dit brand. gesels oor hoe die Heilige Gees ons troos en lei in moeilike (donker) tye.

SPIEEL

Staan voor ‘n spieel. hoe help die Heilige Gees ons om meer soos Jesus te lyk en op te tree? Hoe help hy ons om goeie besluite te neem.

KLEI

Speel met die klei. jul kan iets van jouself uitbeeld. gesels oor hoe die Heilige Gees ons vorm deur ons aan Jesus (en sy woorde) te herinner. Hoe verander / vorm die Gees ‘n mens?

TUIN

Plant saam saadjies of werk in die tuin / groentetuin. gesels oor hoe die Heilige Gees ons help om te groei. hoe is ons soos saad? Hoe gee Hy vir ons kos en water? Hoe snoei hy ons? Watter vrugte dra ons as die Gees deur ons werk?

ALARM

Stel almal ‘n wekker of horlosie of selfoon vir die tyd wanneer julle wil gesels. wanneer die alarms / wekkers afgaan gesels oor hoe die Heilige Gees ons herinner. Hy help ons onthou. Hy herinner ons aan Jesus se beloftes.

WATER

gaan stap langs water (‘n dam, swembad of waterpoel). gesels oor hoe belangrik water is vir die mens. wat beteken dit dat die Heilige Gees soos ‘n fontein in ons binneste is? wat beteken dit dat die Heilige Gees ons dors wil les en ons wil vul met lewende water?

Vir meer inligting, Bybelstudies of idees oor die Heilige Gees, besoek www.onsglo.co.za of laai die onsglo app af in die google playstore of in die appstore.

 

Paaspakkies vir families: Saamwees in Paasfees Maart 2017

Paaspakkie

Die Jeug en Familie bediening van die Wes-Kaap Sinode bied hierdie jaar ‘n Paasfees pakkie vir families wat hulle oor die 17 dae van die April vakansie saam die hele gesin (selfs oupa en ouma) kan doen.

Hierdie pakkie fokus op die groot Lydensweek en die betekenis van Paasfees met tekse, besprekings en aktiwiteite vir elke dag. Elke dag het ‘n kaartjie met ‘n spesifieke teks en aktiwiteitsverduideliking  op, sowel as ‘n spesiale item wat in aktiwiteit gebruik kan word.

Gemeentes kan hierdie pakkie teen R50 per pakkie bestel deur die sinodale Jeugkantoor te kontak by jeug@sun.ac.za. Daar is slegs 500 pakkies beskikbaar en bestellings en betalings moet teen Vrydag 17 Maart 2017 in wees. Alle pakkies moet Vrydag 24 Maart by Communitas in Stellenbosch afgehaal word.

Die pakkie se drukstukke sal ook gratis elektronies beskikbaar wees op dinkjeug.ngkerk.net  teen Vrydag  17 Maart vir gemeentes wat ver is en dalk die pakkies self vir hul gesinne bymekaar wil stel.

Vir enige navrae kontak José by die sinodale Jeugkantoor deur ‘n e-poste stuur aan jeug@sun.ac.za.

Ons huis se reis na Kersfees

img_2313Wellington Moedergemeente het ‘n “kosblik” gepak vir huisgesinne wat saam wil dink oor die dieper betekenis van Kersfees.  Die kosblikke is genoem “ons huis se reis na kersfees”. Elke kosblik bevat 4 lekker saamgesels kaarte, 4 simbole en aktiwiteit idees vir gesinne (oud en jonk) om saam te doen tydens advent of gedurende die vakansie. Enige een is welkom om die uitdeelstuk en idees te gebruik. Die kosblikke en items kos ongeveer R10 elk as ‘n gemeente dit sou wou saamstel vir families.
Die kaartjies moet uitgedruk word en een van elk in die kosblik gepak word. Voorop kan “ons huis se reis na Kersfees” kaartjie geplak word wat op kleurkarton uitgedruk word. Dit sluit die 4 saamgesels Bybelstudies en vrae in.  Die volgende simbole word ook dan in die kosblik ingepak: ‘n klippie as simbool van die familie se saamwees, ‘n pakkie saad vir week 1 (simbool vir hoop) en ‘n ballon vir week 2 (simbool vir vreugde). Daar is reeds aktiwiteit vir week 3 (vrede) en week 4 (liefde) ingesluit in die kaartjies.

Laai die kaartjies hieronder af in PDF formaat:

kersfees_kosblik1

kersfees_kosblik-binne-ilovepdf-compressed