fases van geloof

Die 4 fases van geestelike groei volgens Morgan Scott Peck

Wat is die verskillende fases van geestelike groei en in watter fase bevind jy tans jouself, jou gesinslede of die lede van jou kategese-groep?

Dit is belangrik dat wanneer ons hieroor dink, ons moet onthou dat daar nie verskillende “vlakke van geloof” is nie. Wanneer ons van “geloofsfases” praat, is dit dus nie ‘n meet-instrument om jouself met ander te vergelyk nie, maar bloot ‘n manier om te verstaan hoe ons geloof ontwikkel kan word.

Volgens Morgan Scott Peck (1936-2005), sielkundige en outeur van die bekende boek “The Road Less Travelled”, kan geestelike groei in 4 fases beskryf word. Elke mens gaan deur hierdie fases, maar nie noodwendig op dieselfde manier of net eenmalig nie. Jy kan ook tussen die fases heen en weer beweeg of jouself gelyktydig in meer as een fase bevind.

  1. Fase van chaos – In hierdie fase bestaan geloof uit ‘n klomp los gedagtes en oortuigings wat nie noodwendig logies sin maak nie. Dis gewoonlik “’n bietjie van alles” en ‘n ondeurdagte samestelling van ‘n verskeidenheid geloofsoortuigings. In hierdie fase is ‘n mens ego-sentries, het ‘n mens min empatie vir ander en sal jy nie maklik toegee nie. Klein kinders se geloof kan so beskryf word, maar sommige mense skuif nooit uit hierdie fase nie.
  2. Fundamentalistiese fase – In hierdie fase word die basis van jou geloof gevorm (ook genoem die institusionele fase). Dit is hier waar jy jou beginsels bou, jou geloof in kompartemente verdeel en logies beredeneer. Hierdie fase bied standvastigheid. In hierdie fase is jy gehoorsaam aan jou geloof “reëls” en respekteer jy geloofleiers.
  3. Kritiese fase – In hierdie fase begin jy geloofskwessies te bevraagteken sonder om noodwendig jou beginsels te verloën. Hierdie fase kom veral voor in tye van swaarkry of teleurstellings wanneer jou geloofsoortuigings “nie meer sin maak nie”. Sommige mense bly in hierdie fase van skeptisisme en beweeg weg van godsdiens.
  4. Fase van misterie – In hierdie fase aanvaar jy dat daar nie vir alle vrae antwoorde is nie en dat geloof nie altyd logies of verklaarbaar is nie. Maar jy begin die wonder en misterie van die skepping en die menslike bestaan bewonder. ‘n Groter begrip en behoefte aan waardegedrewe etiek, genade, empatie, liefde en geregtigheid ontwikkel.

Hierdie uiteensetting kan gebruik word om jou eie geloofsreis beter te verstaan. Dit verduidelik ook hoekom dit partykeer so moeilik vir Christene is om mekaar te verstaan – byvoorbeeld iemand wat in ‘n fundamentalistiese fase is sal moeilik kan saamleef met iemand in die misterie-fase. En as jy jou tans in die kritiese fase bevind, is dit goed om te gesels met iemand in die misterie-fase eerder as die chaos-fase. Iemand wat onlangs trauma beleef het, kan dalk terugkeer na die fase van chaos of die fundamentalistiese fase.

Rituele en kennis van God en godsdiens kan jou egter slegs die skaduwee van God wys – nie die werklike diepte van ons multidimensionele God nie. Dit is waarom ‘n lewendige en persoonlike verhouding met God so belangrik is. Dit is eers in verhouding met Hom dat jou geloof kan groei.

Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe. Hy is immers die hoof, en uit Hom groei die hele liggaam. Efesiërs 4: 15-16a

Saamgestel deur ds Anriëtte de Ridder (Predikant in Sinodale Diens vir Jeug en Familiebediening, Wes-Kaapland Sinode)