gebed

15 Gebed idees vir jeug en kinderbediening

  1. Uit die boks gebede in verskillende style byvoorbeeld een woord gebede of gebede wat hardop gelees word as groep
  2. Gebede met verskillende liggaamshoudings byvoorbeeld om te kniel of deur palms na bo / onder te draai
  3. Antieke gebede
  4. Geskryfde gebede uit b.v. die handboek vir die erediens of die gebedeboek
  5. Laat kinders of tieners gebede skryf en iemand lees voor / dit word opgeplak vir verskillende aktuele onderwerpe
  6. Interaktiewe gebedstasies waar kinders of tieners deelneem bv tydens lydenstyd word stasies uitgepak vir kategese of die erediens. Nog ‘n voorbeeld is die “encounter stations” van #imagine
  7. Gebed met hulpmiddels soos ‘n gebedsbord, gebedsklippies, ‘n kunus, gebedsrooste ens. voorbeelde is op dinkjeug.co.za beskikbaar.
  8. Gebed deur kuns of crafts te gebruik bv fotos of klei of krale wat gebruik word om ‘n gebed uit te beeld.
  9. Bid vir mekaar – geleenthede word geskep vir jongmense om vir mekaar te bid of ander met gebed te bedien. Dit werk goed as jongmense eers “oefen” of dat die woorde vir hulle gegee word tot hul gemaklik word daarmee, byvoorbeeld op ‘n kamp of gebede vir bejaardes by ‘n ouetehuis.
  10. Gebed deur musiek – speel of sing ‘n lied as ‘n gebed.
  11. Gebed deur teks – gebruik die Onse Vader of psalms of ander tekste as gebede
  12. Gebed met simbole – soos klippies vir toewyding, of water in die doopvont as doopherinnering
  13. Gebed speletjies soos gebedsblokkie, gebedsmarties, gebed stokkies ens waar verskillende tipe gebede of onderwerpe aan verskillende kleure of nommers geheg word
  14. Gebed met fotos – jongmense skeur prente uit tydskrifte, koerante waarvoor hul wil bid
  15. Gebed met selfoon fotos- jongmense neem ‘n foto om iets uit te beeld waarvoor hul wil bid bv ‘n eienskap van God

Besoek dinkjeug op Pinterest vir lekker praktiese idees.

Uitreik Bybelstudies

Neem jy ‘n groep op ‘n uitreik hierdie vakansie? Benodig jy Bybelstudies om saam te doen?

Laat elke tiener, kategeet en ouers die gratis toep “onsglo” aflaai op hul selfone (op die appstore en google play store beskikbaar)

https://play.google.com/store/apps/details?id=za.co.onsglo&hl=en

https://itunes.apple.com/za/app/ons-glo/id1220885509?mt=8

Die inhoud is ook op die webtuiste www.onsglo.co.za beskikbaar.

Gebruik dan die Bybelstudies en “lees meer” gedeeltes onder elkeen van die onderstaande temas. Die Bybelstudeis kan alleen of in ‘n groep gedoen word. Daar is ook telkens ‘n aktiwiteit, gebedswenk en tiener fokus by elke onderwerp. Ouers kan aangemoedig word om saam met die tieners die onderwerpe tuis te volg.

1. Diensbaarheid

Jesus was die voete van sy dissipels

Johannes 13:1-17

http://www.onsglo.co.za/2017/03/06/3-diensbaarheid/

2. Dankbaarheid

Die arm weduwee se gawe

Markus 12:41-44

http://www.onsglo.co.za/2017/03/06/4-dankbaarheid/

3. Getuienis

Jesus en die Samaritaanse vrou

Johannes 4: 1-42

http://www.onsglo.co.za/2017/03/06/5-getuienis/

4. Gebed

In die tronk in Filippi

Handelinge 16:16-40

http://www.onsglo.co.za/2017/03/06/3-gebed/

5. Koninkryk

Die gelykenis van die onkruid tussen die koring

Matteus 13:24-30 en 36-43

http://www.onsglo.co.za/2017/03/06/5-koninkryk/

 

Gebed vir moedersdag

Here God, U wat ons ware Ouer is, ons Vader en ons Moeder, ons bid:

Vir hulle wat vanjaar geboorte geskenk het aan hul eerste kind – ons vier dit saam met hulle.

Vir hulle wat vanjaar ‘n kind verloor het – ons rou saam met hulle.

Vir hulle wat in die loopgrawe met klein kindertjies is, met vlekke op hul klere en sakkies onder hul oë – ons waardeer hulle.

Vir hulle wat verliese beleef het deur miskrame, mislukte aannemings of kinders wat weggeloop het – ons treur saam met hulle.

Vir hulle wat die moeilike pad loop van infertiliteit, deur al die toetse, prosedures, moeilike besluite, hoop en teleurstelling – ons loop saam met hulle. Vergewe ons as ons dwase opmerkings maak wat hulle pad nog moeiliker maak as wat dit reeds is.

Vir hulle wat pleegouers, mentor-ouers, ouma’s op kinderdiens is, ons het hulle broodnodig.

Vir hulle wat hul kinders omvou met liefde en sorg – ons sê dankie vir hulle.

Vir hulle wat teleurstelling, hartseer en verwerping van hul kinders beleef – ons dra hulle aan U op.

Vir hulle wat vanjaar hulle moeder verloor het – ons rou saam met hulle.

Vir hulle wat mishandel is deur hul moeder – ons bid vir herstel en genesing.

Vir hulle wat reeds deur al die toetse van ouerskap is en wie se kinders nou uit die huis is – ons is dankbaar vir hulle en slaan ons arms om hulle.

Vir hulle wat deur die trauma van ‘n aborsie is – ons bid dat U hulle weer sal heel maak.

Vir hulle wat enkel is en graag ‘n ouer sou wou wees – mag daar onverwagse vreugdes in hulle lewe na vore kom.

Vir hulle wat stiefouers is – help hulle om daardie komplekse verhoudings na die beste van hul vermoë te hanteer.

Vir hulle wie se droom van kleinkinders nooit bewaarheid is nie, of wie se kleinkinders oorsee bly – sal U hulle troos.

Vir hulle wat hul kinders laat plaas vir aanneming – ons eer hulle selfloosheid en onthou dat hulle daardie kind in hulle hart vashou.

En vir hulle wat swanger is met nuwe lewe – ons staan in afwagting saam met hulle.

Hierdie Moedersdag bid ons vir hulle almal. Ons onthou hulle almal en ons eer hulle. Ons deel in hulle vreugdes en hulle pyn.

Here God, U wat ons ware Ouer is, ons Vader en ons Moeder, wees by ons almal. Amen

(Gebaseer op The wide spectrum of mothering deur Amy Young: http://messymiddle.com )

Soos jy bid, so glo jy, so leef jy.

#DIepdink

’n Paar jaar gelede het ’n skoolvriendin se man het binne ’n kwessie van enkele dae van blakend gesond beweeg, na onophoudelike hoofpyn, na ’n diagnose van ’n gewas op sy brein, na intensiewe sorg in die hospitaal, na dood. Deur die tyd het ek, saam met ’n klomp ander vriende en familie met groot hoop en verwagting gebid dat God die jong man sal genees, sodat hy kon voortgaan om vir sy pragtige jong gesin te sorg.

Hoe swakker dit gegaan het, hoe meer het ek gebid, tot my gebede meer die kleur van kerm en neul aangeneem het. Na sy dood was ek vies vir God en gefrustreerd met die Bybel en woedend vir Christene. Ek was vies omdat God nie ek en my vriendin se gebede verhoor het, soos ons wou nie. Ek was gefrustreerd met die Bybel, want dit belowe die opstandingskrag van Jesus, dat ons kan vra wat ons wil in sy Naam en hy sal gee en selfs dat ons nog groter werke sou doen as Jesus, maar helaas – geeneen van daardie beloftes het hier gegeld nie. Ek was woedend vir Christene wat vooraf groot stellings soos “Spreek net lewe” gemaak het en na sy dood self doodstil was.

Ek is steeds bietjie vies vir God, want my vriendin is nou ’n weduwee met twee seuns, waarvan een nooit sy eie pa sal ken nie. Ek weet nie hoe lyk God se pad nou met haar nie, maar hy het weer vir my een ding oor my lewe saam met Hom in gebed, geloof en lewe kom wys.

In Lukas 11:1-11 vra die dissipels vir Jesus om hulle te leer bid, waarna hy vir hulle die Onse Vader leer, die gewilde soek, klop en vra uitspraak maak. Heel aan die einde sê hy egter die volgende:

“As julle wat sleg is, dan weet om goeie geskenke aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die Hemelse Vader die Heilige Gees gee vir hulle wat Hom vra.”

Ek het geleer dat ons enige iets in gebed vir God kan vra. Ek het uit Lukas 11 geleer dat in gebed, ons God se volle, onverdeelde aandag kry, deur sy Gees. Ek het geleer, dat God nie altyd vir ons gee wat ons wil hê nie, maar Hy gee homself. Ek het dus geleer dat om aanhoudend te bid, aanhoudend my geloof versterk deur die Heilige Gees se teenwoordigheid te verseker en dat ek uit sy teenwoordigheid kan leef met die troos dat niks, nie eers die dood, my van Hom kan skei nie.

*Hierdie het voorheen in NG Kenridge se Vrydag Nuus verskyn.

Wêreldonderwysersdag Oktober jaarliks

dinkjeug-cartoon27UNESCO (United Nations Educational, Scientific and Cultural Organization) het 5 Oktober as jaarlikse Wêreldonderwysersdag verklaar.
Hierdie dag is ‘n besondere poging tot bewusmaking, begrip en waardering vir die onmisbare bydrae wat onderwysers wêreldwyd ten opsigte van opvoeding en ontwikkeling lewer. Enigeen wat net ‘n effense mate van insig in onderwysers se program en verantwoordelikhede het, sal hardop en met oorgawe wil sê: “Hoor, hoor!”
Wanneer laas het jy vir die onderwysers in jou gemeente/gemeenskap gebid? Dalk is ‘n oproep en woord van waardering net wat hulle nodig het om die laaste kwartaal van die jaar met nuwe moed en geloof aan te pak. Meneer en Juffrou, ons salueer julle vir elke ekstra myl wat julle loop. Mag die Here julle seën met wysheid en onderskeidingsvermoë om elke dag aan te hou om ‘n verskil te maak.
As jy jou hiermee vereenselwig, lees die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) se mediaverklaring ter ondersteuning van die projek.