gebrokenheid

Reis saam met jou kind na ‘n plek van gebrokenheid

‘n Plek waar niemand wil wees nie, maar wat ons almal al ‘n paar keer besoek het tydens ons lewensreis, is die plek van gebrokenheid. Dit is egter ’n ongewilde plek en word dikwels in gesprekke geïgnoreer asof dit nie (mag) bestaan nie. Daar is min ruimte vir gebrokenheid in ‘n wêreld wat gebou word op suksesse, welvaart en mag. Christene kan soms ook onder die indruk verkeer dat gebrokenheid ‘n geloofswakheid beteken. Die welvaart-teologie (dat alles met jou goed sal gaan as jy God dien, dat Hy altyd vir jou oorwinning gee en genees) asook selfhelpboeke, help ook nie eintlik om gebrokenheid ‘n gewilde bestemming onder Christene te maak nie.

Maar is gebrokenheid en geloof teenoorgesteldes? Is Christene gevrywaar van seerkry, pyn, twyfel en moedeloosheid? Is die plek van gebrokenheid iets wat ten alle koste vermy moet word?

Natuurlik nie! As ek na die Bybel kyk, dan kom ek onder die indruk dat donkerte, gebrokenheid en lyding ten diepste deel is van elke mens se lewensreis. Die Bybel is vol van verhale van mense wat deur moeilike en donker tye gaan, byvoorbeeld; Josef, Moses, Rut, Saul, Tamar, Elia, Job, die skrywer van Klaagliedere, Jeremia, Jesus, Maria, Judas, Paulus, ens.

Soms word kinders aangemoedig om vinnig verby swaarkry te gaan, moeilike gesprekke oor lyding te systap of gevoelens van hartseer te onderdruk. Dit kan skuldgevoelens tot gevolg hê (“hoekom bly ek dan hartseer in plaas van dankbaar te wees?”), onsekerheid (“hoekom hoor God dan nie my gebede nie?”) of selfs woede (“hoekom het dit met my gebeur, is God dan onregverdig en kwaad?”).

Maar die Bybelkarakters gee uitdrukking aan hulle teleurstelling, hartseer, woede en selfs klagtes teenoor God. Daar is ‘n deurlopende lyn in die Bybel wat erns maak en ‘n stem gee aan mense se lyding en die onreg in die wêreld.

In Klaagliedere sien ons hoe ons selfs God mag aankla… In Job dat ons God mag bevraagteken en in Psalms dat ons God mag verwyt. Ons kan kinders deur hulle lyding help deur vir hulle veilige ruimtes te gee om daaroor te gesels, oorgenoeg tyd te gee om te rou en toestemming te gee om kwaad te raak (ook teenoor God).

Die Bybel is ook duidelik dat die plek van gebrokenheid nie die eindpunt van ons reis is nie. In hierdie plek van gebrokenheid gebeur daar dikwels iets misterieus, iets kreatief, iets hoopvol. Seer maak plek vir groei, twyfel maak plek vir afhanklikheid en moedeloosheid maak plek vir lof. Ons weet dat God ons ook mettertyd deur lyding bring na ‘n plek van vrede en groei. Daarom hoef ons nie bekommerd te raak as kinders hierdeur gaan nie. Ons kan hulle egter slegs begelei op hierdie reis as ons self bereid is om in die “plek van gebrokenheid” te vertoef.

Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie. 2 Kor 4:7

 

Geskryf deur ds Anriëtte de Ridder (Predikant in Sinodale diens vir Jeug en Familiebediening van die Wes-Kaapland Sinode).

N.S. Wanneer kinders of tieners egter simptome van depressie of angs of uitermatige woede beleef, is dit belangrik om vir hulle hulp en ondersteuning te kry. Die South African Depression and Anxiety Group se webtuiste is www.sadag.org.