geloof

Geloofsgroei van kinders en tieners

Is “geloof” te moeilik vir kinders?

Ek onthou hoe my tweejarige seuntjie, Daniël, vir my gevra het, “ Waar is Jesus?”. My antwoord, dat Hy hier is al kan ons hom nie sien nie, was vir Daniël skreeusnaaks. Ek het probeer verduidelik dat Hy in ons woon en altyd naby ons is, maar dit het maar gesukkel. Uiteindelik het ek Jesus vergelyk met ons asem – ons het “asem” nodig en dis in ons en om ons. Ons kan ons asem “voel”, maar ons kan dit nie sien nie. Dié verduideliking het so bietjie beter gewerk. Dit het nou ‘n ritueel geword dat ons saans, as ons bid, ook na ons asemhaling luister en dit “voel” as ons dit uitblaas.

Dalk is jy ook al “vasgevra” deur ‘n kind of tiener oor ‘n vraag wat jy verstaan, maar waarvoor daar by hom/haar maar min begrip is. Hoe, waar en wanneer vrae oor God is algemeen by kinders (Bv. hoe kan God hier wees én in Amerika? Hoe kan Jesus na almal se gebede gelyk luister?). Tieners worstel weer met vrae soos wat is die sin van die lewe, hoe hoor ek God se stem en waarom is daar soveel seer en onregverdigheid in die wêreld.

Somtyds voel ons hulpeloos om ons geloof aan ons kinders of tieners te verwoord. Dan is dit belangrik om te onthou dat geloof iets is wat ontwikkel soos kinders ouer word. Volwasse geloof neem dus tyd om te groei en te ontwikkel. Alhoewel kinders nog nie werklik abstrakte geloof kan verstaan nie, is geloof egter iets wat van kleintyd af (toepaslik) gevestig moet word. Aanvanklik word geloof gedeel deur (Bybel) stories te vertel en saam met kinders gewoontes aan te leer (soos sing, bid, Bybellees, kerk toe gaan en omgee vir ander). Maar later is dit juis hierdie basis wat nodig is vir tieners om hulle geloof verder te ontwikkel.

Die geloofsgroei en denke van kinders na tieners kan as volg opgesom word:

  • Konkreet na abstrak: Konkrete feite en Bybelstories is vir kleintjies toepaslik eerder as gelykenisse. Hulle kan nog nie die denkspronge maak om metafore of simbole te verstaan soos tieners nie.
  • Van groep na individu (selfkonsep): Die tyd waar kinders gewoonlik vir Jesus “self aanvaar” is eers rondom Gr.6 – 8. Klein kinders wil deel wees van die groep. Die behoefte aan ‘n eie identiteit (en dus keuses) vorm eers later.
  • Van stories na refleksie: Tieners kan makliker as kinders die waarde of beginsel agter die verhaal insien terwyl kinders bloot die feite van die storie kan verstaan.
  • Van speel na ervaar: Pret, kuns en saamdoen aktiwiteite is belangrik by kinders terwyl ervaringsleer soos kampe, uitreike en diensprojekte treffers is by tieners.
  • Van onthou na internaliseer: Kinders onthou bloot die feite, maar ouer kinders en tieners kan daaroor reflekteer, gesels, dit internaliseer en toepas.
  • Van absolute aanvaarding na vrye keuse: Kinders volg die opinies van die volwassenes wat hulle liefhet en respekteer, terwyl tieners geloofskwessies kan bevraagteken en opinies kan vergelyk.

Geniet elke oomblik van jou kind/tiener se geloofsreis. Laat toe dat God jou ook vorm deur hulle ervarings en vrae. Gesels baie oor God en maak geloofsgewoontes ‘n alledaagse deel van julle as gesin se lewe saam.

Soos pasgebore kindertjies smag na melk, moet julle smag na die suiwer geestelike melk, sodat julle daardeur kan opgroei en die saligheid verkry. 1 Pet 2:2

Geskryf deur ds Anriëtte de Ridder (Predikant in Sinodale diens vir Jeug en Familiebediening van die Wes-Kaapland Sinode)

 

Die 4 fases van geestelike groei volgens Morgan Scott Peck

Wat is die verskillende fases van geestelike groei en in watter fase bevind jy tans jouself, jou gesinslede of die lede van jou kategese-groep?

Dit is belangrik dat wanneer ons hieroor dink, ons moet onthou dat daar nie verskillende “vlakke van geloof” is nie. Wanneer ons van “geloofsfases” praat, is dit dus nie ‘n meet-instrument om jouself met ander te vergelyk nie, maar bloot ‘n manier om te verstaan hoe ons geloof ontwikkel kan word.

Volgens Morgan Scott Peck (1936-2005), sielkundige en outeur van die bekende boek “The Road Less Travelled”, kan geestelike groei in 4 fases beskryf word. Elke mens gaan deur hierdie fases, maar nie noodwendig op dieselfde manier of net eenmalig nie. Jy kan ook tussen die fases heen en weer beweeg of jouself gelyktydig in meer as een fase bevind.

  1. Fase van chaos – In hierdie fase bestaan geloof uit ‘n klomp los gedagtes en oortuigings wat nie noodwendig logies sin maak nie. Dis gewoonlik “’n bietjie van alles” en ‘n ondeurdagte samestelling van ‘n verskeidenheid geloofsoortuigings. In hierdie fase is ‘n mens ego-sentries, het ‘n mens min empatie vir ander en sal jy nie maklik toegee nie. Klein kinders se geloof kan so beskryf word, maar sommige mense skuif nooit uit hierdie fase nie.
  2. Fundamentalistiese fase – In hierdie fase word die basis van jou geloof gevorm (ook genoem die institusionele fase). Dit is hier waar jy jou beginsels bou, jou geloof in kompartemente verdeel en logies beredeneer. Hierdie fase bied standvastigheid. In hierdie fase is jy gehoorsaam aan jou geloof “reëls” en respekteer jy geloofleiers.
  3. Kritiese fase – In hierdie fase begin jy geloofskwessies te bevraagteken sonder om noodwendig jou beginsels te verloën. Hierdie fase kom veral voor in tye van swaarkry of teleurstellings wanneer jou geloofsoortuigings “nie meer sin maak nie”. Sommige mense bly in hierdie fase van skeptisisme en beweeg weg van godsdiens.
  4. Fase van misterie – In hierdie fase aanvaar jy dat daar nie vir alle vrae antwoorde is nie en dat geloof nie altyd logies of verklaarbaar is nie. Maar jy begin die wonder en misterie van die skepping en die menslike bestaan bewonder. ‘n Groter begrip en behoefte aan waardegedrewe etiek, genade, empatie, liefde en geregtigheid ontwikkel.

Hierdie uiteensetting kan gebruik word om jou eie geloofsreis beter te verstaan. Dit verduidelik ook hoekom dit partykeer so moeilik vir Christene is om mekaar te verstaan – byvoorbeeld iemand wat in ‘n fundamentalistiese fase is sal moeilik kan saamleef met iemand in die misterie-fase. En as jy jou tans in die kritiese fase bevind, is dit goed om te gesels met iemand in die misterie-fase eerder as die chaos-fase. Iemand wat onlangs trauma beleef het, kan dalk terugkeer na die fase van chaos of die fundamentalistiese fase.

Rituele en kennis van God en godsdiens kan jou egter slegs die skaduwee van God wys – nie die werklike diepte van ons multidimensionele God nie. Dit is waarom ‘n lewendige en persoonlike verhouding met God so belangrik is. Dit is eers in verhouding met Hom dat jou geloof kan groei.

Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe. Hy is immers die hoof, en uit Hom groei die hele liggaam. Efesiërs 4: 15-16a

Saamgestel deur ds Anriëtte de Ridder (Predikant in Sinodale Diens vir Jeug en Familiebediening, Wes-Kaapland Sinode)

 

 

Geloof is soos tande borsel

12 wenke om geloof deel van elke dag te maak

Geloofsgewoontes is gewoontes wat jou deurlopend help om geestelik te groei. Net soos die gewoontes van tande borsel, bad en drie etes per dag ons help om skoon te leef en gesond te wees, is dit belangrik om ook alledaagse geloofsgewoontes te hê wat jou en jou kinders geestelik voed. Deur elke dag geloof te “oefen”, versterk ons dit en groei ons saam!

Kan jy dink aan enige gewoontes of rituele in julle gesin wat julle reeds in plek het bv. Bybelstories lees, voor ete bid, kerk toe gaan ens.? Gesels saam oor watter nuwe gewoontes julle kan deel maak van julle gesinslewe. Hier is ‘n paar voorstelle:

  1. Maak elke week na kategese en kerk tyd om saam oor die boodskap te gesels.
  2. Skryf die teks of boodskap van die week iewers sigbaar neer.
  3. Kinders kan dit ook teken / opsoek in hul Kinderbybels.
  4. Tieners kan agtergrond inligting of die teks in ander vertalings saam met ouers op die internet soek.
  5. Lees saam as gesin ten minste een maal per week die Bybel/Kinderbybel en bespreek die verhaal/teks. Gee gereeld vir jou kinders ‘n bemoedigende teks in hul kosblik of SMS jou tiener/eggenoot.
  6. Maak tyd om sekere vaste etes saam te eet en gesels dan oor elkeen se hoogte- en laagtepunte van die dag.
  7. Maak ‘n gebedsbord waar foto’s van familie/vriende of koerantartikels geplak kan word. Kies by elke ete een persoon/saak om voor te bid.
  8. Bid deur die loop van die dag, nie net saans nie. Bid onmiddellik saam vir ‘n saak sodat gebed natuurlik deel vorm van julle saamwees.
  9. Gebruik tyd in die motor om te dink waarvoor jul dankbaar is of saam na geestelike musiek te luister/te sing.
  10. Vertel gereeld vir mekaar Bybelstories en verbind dit aan jul eie stories.
  11. Seën mekaar soggens, voor julle vertrek, as julle by die huis kom en saans.
  12. Gebruik simbole in jul huis om julle te herinner aan die kerkjaar (bv. vir Hemelvaart, Pinkster, Advent, Kersfees ens.)

 

Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly. Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan. Jy moet dit as herinneringsteken vasbind aan jou hande, en dit moet ‘n merk op jou voorkop wees. Skryf dit op jou deurkosyne en op jou stadspoorte. Deut 6: 6-9

Geskryf deur ds Anriëtte de Ridder (Predikant in Sinodale diens vir Jeug en Familiebediening van die Wes-Kaapland Sinode)

‘n Groeiende geloof

5 wenke om jou kind se geloof te koester

“Lees jou Bybel, bid elke dag…want jy sal groei, GROEI, GROEI.” Dis nie net ‘n kinderliedjie wat ons sing nie, maar ‘n waarheid om in ons lewens toe te pas. Vir kinders moet daar geleenthede geskep word om God op ‘n persoonlike, dinamiese en opwindende manier te leer ken. Kinders was en is vir God van die begin af spesiaal. Jesus verwag van ons, as leiers, om kinders te ondersteun en te lei in hul groeiende geloof.

Hier is ‘n paar wenke om jou kind se geloof te koester

  1. Bybel-gebaseerde geloof

Die kennis van God se Woord is ‘n vaste fondament waarop ‘n kind sy geloof bou. Herontdek Bybel-lees as ‘n gesinsaktiwiteit.

  1. ‘n Kind se geloof kan gebou of vernietig word

Kinders se (kinderlike) geloof moet deur ons aangemoedig en ondersteun word. Ongevoelige optredes en woorde in kinders se teenwoordigheid kan nadelig wees. Wees bedag oor hoe jy jou kind se geloof en ervarings koester en aanmoedig.

  1. Kinders se geloof het geen grense nie

Skep positiewe ervarings vir kinders en raak saam bewus van God se teenwoordigheid in die alledaagse lewe. Kyk met hulle oë na die wêreld om jou.

  1. Versterk geloof deur verhoudings

Verhoudings met ouers, kategese leiers, vriende en ouer mense by die kerk is ‘n integrale deel van geloofsgroei. Kinders moenie gekeer word om by ouer mense te leer nie en andersom. Die verhouding tussen kinders en volwassenes is baie belangrik. Dit vorm ‘n kind se persepsie van God en Christenskap.

  1. ‘n Geloofsavontuur

Gee kinders die geleentheid om te groei deur geloof vir hulself te ontdek. Moedig kinders aan om vrae te vra, al ken jy nie altyd die antwoorde nie. Daag hulle ook uit om self te wonder en te soek.

 

“Maar Jesus het gesê: Laat staan die kindertjies en moet hulle nie verhinder om na My toe te kom nie, want die koninkryk van die hemel is juis vir mense soos hulle.”
Mat 19:14

Geskryf deur ds Anriëtte de Ridder (Predikant in Sinodale diens vir Jeug en Familiebediening van die Wes-Kaapland Sinode).