gesprek

Hoekom is die HELE Bybel nodig?

‘n Jongmens vra “hoekom moet ons die hele Bybel lees en nie net die Nuwe Testament nie?”

Die Bybel is oos ‘n fliek

‘n Maklike manier om dit vir ‘n tiener te verduidelik is om die Bybel te vergelyk met ‘n fliek. Om die laaste (en belangrike deel) van die fliek te verstaan, help dit as jy die eerste deel van die storie gekyk het. As jy die fliek in die middel begin kyk, dan verstaan ‘n mens nie al die gebeure of karakters nie. Die impak van die fliek is dan minder. Dieselfde geld met die Bybel. Dit is ‘n versameling stories wat vertel van God se reis met die mens oor ‘n baie lang tyd. Jesus se koms het ‘n nuwe tydperk ingelei en daarom volg ons nie meer die wette of offerdiens of praktyke van die `Ou Testament nie. Maar deur die Ou Testament te lees verstaan ons die grootheid van Jesus se koms en die gawe van Sy genade soveel beter.

Die jongmens vra verder “maar hoekom is sekere dele so vreemd”?

Die Bybel is soos Netflix

Die Bybel is ‘n versameling stories soos Netflix ‘n biblioteek van flieks en programme is. As jy die dag ‘n fliek wil kies om te kyk, dan moet jy eers besluit watter kategorie of genre fliek jy wil kyk… Aksie? Drama? Comedy? Series? Science-fiction? Jy gaan met ‘n verskillende ingesteldheid na elkeen kyk. Sommige flieks gaan jou laat lag, ander gaan jou iets leer? Soms gaan ‘n fliek jou laat ontspan, ander kere gaan dit jou uitdaag.  Dieselfde geld met die verskillende Bybel-boeke. Genesis en Psalms is verskillende tipe boeke en klink verskillend. ‘n Mens kan nie Jesaja en Johannes op dieselfde manier lees nie. Filippense en Openbaring is nie met dieselfde doel geskryf nie.

Wenke wanneer jy Bybel lees

  • Ken die groot gebeure (storielyn) van die Bybel.
  • As jy ‘n boek lees, vra jouself af waar in die storielyn dit inpas.
  • Kyk of die tema van die teksgedeelte iets is wat deurlopend in die Bybel belangrik is, of net in daardie tydperk van die storie (bv. offers, slawerny, oorlog, kerk, genade, die Gees).
  • Probeer om ‘n hele boek (bv. Lukas) deur te lees oor tyd (en nie net los tekste nie.
  • Vind meer uit oor die agtergrond en karakters in die verhaal.
  • Laat die Gees jou lei om die waarheid in die verhaal te ontdek sodat die verhaal jou raak en vorm.

Hoekom doop ons?

‘n Gesprek met ‘n tiener deur Gielie Loubser

Waar begin God se pad met die mens:

Adam – die terme van die eerste verbond – jy moet dit en dat doen Ek sal dan dit en dat doen

Gevolg :Sondeval en sondvloed

Noag die enigste regverdige  Die verbond se terme staan steeds ( ook hy val en sondig en alles verval tot chaos)

Gevolg: Toring van Babel – ’n tweede einde

’n Derde en laaste begin – met Abraham ( word daarom ook die vader van die gelowiges genoem)

Lees Gen. 15:1-18

Die Here sluit ’n nuwe verbond met Abraham, wat nuwe terme en kondisies het. Die eerste verbond met Adam en Noag het misluk omdat die Here verwag het dat die mens sy kant van die verbond moet nakom dan eers sal God Sy kant nakom.

Die nuwe verbond se terme is dat God twee keer tussen die stukke vleis deurloop ( vers 17) en daarom beide kante van die ooreenkoms se verantwoordelikheid dra.

Dit gebeur dan dat die volk nie hulle ooreenkoms hou nie, en nou moet die oordeel van die verbond voltrek word ( soos die stukke vleis in twee geskeur word) maar God staan ook daarvoor in en stuur Sy enigste seun om aan die kruis in twee geskeur te word.

Voor Jesus gebore is word egter Johannes die doper gebore. Sy opdrag is om die pad vir die Here gelyk te maak. Hy is die eerste mens op aarde wat met die gebruik van die doop te begin, hy doop mense in die Jordaan. Hy bedien ’n egter bekeringsdoop, die Johannes-doop: Bekeer julle van julle slegte wee en maak die pad vir die Messias gelyk. Hy self sê hy doop net met water maar Jesus wat an hom kom, sal met die Gees en vuur doop. (Matt3:11)

Jesus word egter ook deur Johannes gedoop maar dis nie omdat Jesus dit nodig het nie, Hy is tog nie sondig nie en dis daarom nie nodig dat Hy Hom moet nie bekeer nie. Dis egter net die identifisering met die mens en juis die sondigheid van die mens sodat Hy ons sonde op Hom kan neem met die kruisiging.

Ons hoef ons nie ook te laat doop met ’n Johannes-doop of bekerings-doop nie. Dit was net ’n voorbereidingstyd vir Jesus se koms. Selfs Paulus sê later dat die Johannes-doop gekom en gegaan het. (Hand 19:3-5) Die Christelike doop wat ons ontvang het, is in die naam van die Vader Seun en Gees.

Met die groot opdrag in Matt. 28:19 staan daar: “maak die mense my dissipels en doop hulle in die naam van die Vader Seun en Gees.  Die volgorde van eers dissipels word en dan doop dui vir sommige mense daarop dat jy nie kinders moet doop nie, maar net gelowiges wat hulle eers bekeer het.

Dis egter belangrik om te verstaan dat dit die groot sending opdrag is. Gaan na alle nasies toe. Dis omdat dit in ’n sending konteks of tyd geskryf. Ook die boek Handelinge wat die meeste skryf oor die doop praktyke is in ’n sending konteks geskryf want die boek se naam is die Handelinge van die Apostels. Ons kan ook sê die sendingwerk van die Apostels. Dis daarom logies dat die volgorde in die sendingveld of konteks eers bekering dan doop sal wees. Jy kan tog nie na ’n persoon toe gaan en sê ek wil vir jou van Jesus vertel maar ek gaan jou eers net doop nie, jy sal later alles verstaan nie. Geen mens sal dit toelaat nie. Nee in ’n sending konteks maak jy eers dissipels en doop dan.

Maar is daar wel tekste wat vertel van kinders wat gedoop word? Daar is baie tekste wat vertel van grootmense wat gedoop word. LW Weereens is dit die feit dat Handelinge van eerste geslag gelowiges praat , ‘n sending konteks. Daar is egter ’n paar verhale wat vertel van die hele huisgesin wat gedoop is Hand 16:15 vertel van Lidia en haar hele huis wat gedoop is – op grond van Lidia se geloof en so ook Hand 16:33 wat vertel van die tronkbewaarder. Al kan ons nie bewys dat daar babatjies in die huis was nie ( en dis heel moontlik want families het as clans saam in huise gebly) kan ons seker weet daar was kinders en sien ons dat op grond van die volwassenes se geloof die huisgesin gedoop is. ( LW daar is baie gelowiges wat dink jy moet ook na jou bekering ook nog met die Heilige Gees gedoop word en dat dit alleen sal gebeur met ‘n handoplegging tydens n aparte ritueel wat hulle noem, die doop met die Heilige Gees. Daar is egter geen formule in die Bybel oor hoe jy die Gees ontvang het nie. Hand 10:44 vertel dat sommige sommer onder ’n preek die Gees ontvang het. Dit was weereens in ’n sending konteks waar die Gees nog nie orals op aarde uitgestort was nie. Ons word in die naam van die Gees gedoop en ontvang die Gees met ons doop)

Die belangrikste egter is om weer terug te gaan na die verbond wat steeds geldend is, God noem dit ’n blywende verbond met Abraham ons Vader. Hoe werk die terme en kondisies van hierdie blywende verbond! As ons eers ons moet bekeer voor ons gedoop kan word, is ons eintlik by die terme van die eerste verbond.

Die doop is iets wat God aan ons doen voordat ons kon kies kon vra!  Die doop is ’n aksie van God aan ons. In die doop is ons passiewe ontvangers van die bevestiging van God se liefde. Net soos Abraham geslaap het! Daarom die doop aan kinders te bedien wat nie weet of kan onthou nie, verander niks aan die waarde of geldigheid of betekenis van die doop nie. Dis juis die mooi daarvan dat God Homself aan ons verbind deur die doop en ons van die begin af insluit in hierdie genade verbond ( net soos met die besnydenis van 8 dae oue babatjies)

Die doop is een van 2 sakramente en en sakramente is heilige goed wat God vir en aan ons doen om ons geloof te verstrek. Sakramente is nie iets wat ons doen om ons geloof te bely of ons liefde aan God te wys nie. Nee dis iets wat ons net ontvang om ons geloof mee te verstrek. Dis soos ’n anker vir ons pad.

Die een sakrament is eenmalig en dis die doop. Die ander een is herhalend en dis die nagmaal. As ons die eenmalige sakrament wil herhaal deur ons te laat weer doop of herdoop is ons besig om vir God te sê dat ons Hom nie op Sy woord kan neem nie. Ons kan Hom eintlik nie glo nie en daarom moet Hy dit weer doen.  Mens kan seker sê ja maar ek onthou niks daarvan nie, maar dis waarom die ouers vir die kind van sy/haar doop moet vertel en dit herdenk. Daarom word net die kinders van gelowige ouers gedoop en moet die ouers met die doop weer hulle geloof bely!

Die tweede probleem met herdoop is dat jy jou anker verloor. As jy met die doop vir God en ander iets wil sê is dit so goed soos dat jy die anker vat en op jou eie dek van jou boot gooi. Dan bied dit vir jou geen vastigheid nie. Ankers moet buite ons wees. Buite ons ervaringsveld of gemoedstoestande of ons ervaring van ons vlakke van heiligheid of geloof. Die doop is die moeder van alle” bottomlines” in jou lewe. Jy hoef nooit aan jou doop te twyfel nie, want dis iets wat God aan jou gedoen het!

Net so is ook die nagmaal daar om ons te help glo! Moenie ’n sakrament gebruik om iets te doen nie. Dis nie jou aksie nie, nee sakramente is iets wat God aan jou doen. As jy jou geloof wil bely met die doop is dit so goed soos jy vat ’n skroewedraaier om ’n brief te skryf. Jy het verkeerde instrument beet!

Die doop is egter nie ’n “magic” aksie wat jou red nie. Nee dis net ’n bevestiging van God se onvoorwaardelike en onfeilbare liefde. Dis so goed soos jou geboortesertifikaat wat bewys dat jy wel deel is van die familie. Maar dit beteken nie jy wil deel van die gesin wees nie. As jy nooit huis toe kom nie as jy nooit jou identiteit opneem nie behoort jy ook nie aan die gesin nie. Maar die doop troos jou as jy wel dink jy is nie goed genoeg vir die huisgesin van God nie, dit versterk jou geloof en is daarom ’n teken en seël van God se liefde vir jou.

Leef daarom uit jou doop. Leef uit die wete dat God jou gekies het. Dis al geloofsekerheid wat daar bestaan. Ons sekerheid lê nie in onsself of in hoe goed ons is op probeer wees nie. Ons sekerheid lê in die karakter van God. Ons sekerheid lê in die liefde en genade van God. Of ek altyd glo weet ek nie, maar ek weet in WIE ek glo.

Ek glo in die een wat weet dat Hy twee keer deur die stukke vleis moes gaan om met ons ’n blywende verhouding te kon hê. Wat ook ons skuld moes dra. Daarvan is die doop ’n teken en seël. Leef uit jou identiteit as geliefde van die Here. Aanvaar die identiteit as geliefde van God, deel van die huisgesin van God. Bekering daarom is net die aanvaarding van ons dieper identiteit. Bekering is die ophou stry teen ons diepste aard, dis die terugkom na God, die gaan rus in Sy arms wat red en vertroos. Daaraan herinner die doop ons. Of jy dit nou wil weet of nie. Maar die wat dit weet kan rus vind kom, kom terug huis toe en word ’n kind van God genoem.

#Versoening video insetsels

Bouwer Bosch gesels met Phindile Dhlameni oor die verlede, die invloed van apartheid asook versoening. Uitstekende video om te gebruik om ‘n gesprek met naskoolse jongmense hieroor te hê. Die video is gemaak met die doel om luister gesprekke tussen mense uit verskillende agtergronde en kontekste aan te moedig. Dalk iets om te oorweeg om intensioneel in die gemeente / gemeenskap te doen.

Kyk hier na die videogreep https://www.youtube.com/watch?v=xEvKX1-F4W4

Hier is die verduideliking hoekom hy dit gemaak het https://www.youtube.com/watch?v=5VlRfPuVJb0.

Hier is nog ‘n #versoening liefde wen video waar Bouwer gesels met Simon Witbooi (Hemelbesem)https://www.youtube.com/watch?v=N748Y20EKJk

Huisgeloof gesprek oor belydenis van geloof

Gesels as gesin oor Belydenis van Geloof

  • Teken ‘n tydlyn van die hoofstukke van jou lewe. Vul die hoogtepunte en laagtepunte in. Watter spesiale oomblikke wat jy wil onthou en vier? Hoekom was hierdie oomblikke spesiaal in jou lewe? Hoe was God teenwoordig in al die verskillende hoofstukke?
  • Maak ‘n lys van ‘n paar oomblikke in jul as gesin (of elkeen apart) se lewe waar jy ‘n spesiale ervaring van God gehad het.
  • Ouers kan deel wat dit vir hulle beteken dat hulle belydenis van geloof afgelê het. Watter betekenis hou dit vir hulle vandag in?
  • Vra iemand in jou familie of iemand wat jul ken wat reeds belydenis van geloof afgelê het, om te vertel van hul ervaring en wat dit vir hulle beteken het. 
  • Gesels oor hoe Belydenisaflegging ‘n “antwoord op jou doop” is.

 

Vir ‘n Bybelstudie oor die tema “belydenis van geloof” besoek www.onsglo.co.za/2017/02/06/belydenis-van-geloof/

Die “onsglo” toep is ook gratis beskikbaar om af te laai vanaf die google playstore en die appstore.

 

VARS! Gespreksnotas oor millennials

Twee weke gelede het ‘n groep van 18 predikante en jeugbedienaars saam met Anriëtte de Ridder en Gielie Loubser by Communitas bymekaar gekom om te gesels oor vars en alternatiewe bedieningsmodelle aan naskoolse jongmense en millennium ouers. Die gesprek is gevoer na aanleiding van die boek “You Lost Me – Why Young Christians Are Leaving Church… and Rethinking Faith” van David Kinnaman oor sy navorsing oor buitekerklike jongmense (met ‘n voorheen kerklike agtergrond).

Hier is 2 video grepe oor sy boek:

You Lost me

Prodigals, Nomads & Exiles

Volg hierdie skakel vir die gespreksnotas van die VARS byeenkoms:  VARS gesprek oor millennials

 

Vriendelike groete

Anriëtte

 

VBO: VARS – ‘n gesprek oor Millennials Mei 2017


Alternatiewe kerkwees vir Millennials
“Millennials” vra ’n nuwe manier van kerkwees. Vind uit wie “Millennials” is en hoe hulle dink en leef, wat die nuutste navorsing oor hierdie groep se unieke geloofsgewoontes en behoeftes leer en hoe gemeentes hier nuwe bedieningsgeleenthede kan raaksien en ontgin.
Kom dink en praat op 3 en 4 Mei by Communitas saam oor die uitdaging wat “Millennials” vir ons stel om relevant te bedien.

Vir meer inligting, gebruik hierdie skakel: https://kaapkerk.co.za/wp-content/uploads/2017/04/Alternatiewe-bedieningsmodelle.pdf