hofuitspraak

DIE 2017 HOFUITSPRAAK OOR GODSDIENS IN SKOLE

Wat is die praktiese implikasies?

INLEIDEND

Regter Willem van der Linde het namens ʼn volbank regters in die Suid-Gautengse Hooggeregshof uitspraak gelewer in die saak van die Organisasie vir Godsdienste-onderrig en Demokrasie versus ses skole.

Hierdie toetssaak het sy oorsprong in 2014 toe die Organisasie vir Godsdienste-onderrig en Demokrasie die hof versoek het om dit ongrondwetlik te verklaar dat sekere godsdienspraktyke in skole voorkeur bo ander geniet.

Die hof het beslis dat ʼn openbare skool nie een spesifieke godsdiens ten koste van ander mag bevorder nie.

Dié beslissing roep baie vrae en vrese op. Daarom is volledige en gebalanseerde inligting nodig.

Hierdie inligtingstuk steun swaar op die ervaring en perspektiewe van Mnr Paul Colditz, die hoof uitvoerende beampte van FEDSAS (Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole), wat die Ring van Bellville en die Sinodale Taakspan vir Leer- en Aktuele Sake op 4 September 2017 hieroor toegespreek het. Dit sluit ook aan by die interpretasie van Dr Gustav Claassen, die Algemene Sekretaris van die NG Kerk.

Uit die staanspoor moet die essensiële punt onderstreep word dat ʼn  openbare skool aan die onmiddellike gemeenskap waarbinne die skool geleë is behoort. Die hofuitspraak bevestig dat die beheerliggaam, wat verteenwoordigend is van die skoolgemeenskap, die gesag het om besluite te neem oor godsdiens by die skool. Die skool sal wettig optree solank die reëls van die beheerliggaam nagekom word.

Hierin moet die beheerliggaam optree ooreenkomstig die Grondwet (Artikel 15(2)) en die Skolewet (Artikel 7).

Dit beteken dat godsdiensbeoefening op ʼn billike grondslag moet geskied en dat deelname vry en vrywillig moet wees.

“Die hof het die plek van godsdiens in die Suid-Afrikaanse publieke sfeer bevestig.”

Mnr Paul Colditz

“Die NG Kerk was van die begin af ten gunste van vrywillige godsdiensbeoefening. Vanuit ʼn kerklike oogpunt gesien, is daar dus geen spanning ten opsigte van die uitspraak nie.”

Dr Gustav Claassen, Algemene Sekretaris van die NG Kerk

ONDERSKEI GOED

In die Nasionale Beleid oor Godsdiens en Onderwys van 2003 word vier aspekte onderskei:

  1. Godsdiensonderrig

Onderrig in die leerstellinge en oortuigings van ʼn spesifieke geloof met die doel om te oortuig, of aanhang van die geloof te versterk.

  1. Godsdienste-onderrig

Onderrig oor die bestaan, geskiedenis, gebruike, geskrifte en rituele van verskillende godsdienste, soos ingesluit in die kurrikulum vandag. Hierdie onderrig is nie bedoel om te oortuig nie, maar om respek te kweek.

  1. Godsdiensbeoefening

Rituele en gebruike van ʼn godsdiens soos byvoorbeeld Skriflesing, ʼn boodskap, gebed en sang.

  1. Godsdienstige oriëntasie of etos

Lewens- en wêreldbeskoulike uitgangspunt, waarvan godsdienstige oortuigings deel is, en wat inherent deel is van die wese van die mens en samelewingsverbande, ook van ʼn skool.

GRONDWET EN SKOLEWET

Die Grondwet bepaal in Artikel 15(2) dat Godsdiensbeoefening by staats- of staatsondersteunde instellings mag geskied, mits

  • daardie beoefening reëls nakom wat deur die tersaaklike openbare gesag gemaak is;
  • dit op billike grondslag geskied; en 
  • bywoning daarvan vry en vrywillig is.

Die Skolewet Artikel 7 gebruik die uitdrukking “vryheid van gewete en godsdiens in openbare skole”:

Behoudens die Grondwet en enige toepaslike provinsiale wet kan godsdiensbeoefening by ‘n openbare skool gehou word ingevolge reëls wat deur die beheerliggaam uitgevaardig is, indien sodanige beoefening op ‘n billike wyse geskied en bywoning daarvan deur leerders en personeellede vry en vrywillig is.

Die Grondwet art 15(1) bepaal “elkeen” het die reg op vryheid van gewete, godsdiens, denke, oortuiging en mening. Volgens art 8(4) is die “elkeen” waarna verwys word ook ‘n “regspersoon”, dus ook ʼn skool.

Die Skolewet Artikel 5, wat handel oor die toelatingsbeleid van ʼn openbare skool bepaal dat ʼn skool nie aan ʼn leerder inskrywing mag weier omdat die leerder nie met die skool se missiestelling saamstem nie. Die kind moet wel die skool se gedragskode nakom.

DIE STAATSORDE

Suid-Afrika se leuse is “Eenheid in diversiteit”.

Die beleid van Christelik Nasionale Onderwys wat sedert 1948 afgedwing is, het min ruimte gebied vir ander. Die Staat het met ander woorde ʼn bepaalde godsdienstige oriëntasie afgedwing. ʼn Staat kan egter nie vir mense sê hoe hulle oor God en die lewe moet dink nie.

Die Suid-Afrikaanse staat beskerm godsdiensvryheid. Elk het die reg om te glo of nie te glo nie, om nie gedwing te word om te glo of nie te glo nie, om geloof te behou of te verander en om geloof te manifesteer en te beoefen, in privaat sowel as openbaar.

Ons het nie staatskole in Suid-Afrika nie. Ons het openbare skole in ʼn gedifferensieerde regstaat. Skole is gemeenskapsinstellings, met ʼn eie godsdienstige oriëntasie of etos. Die staat kan nie hierdie eie etos voorskryf nie. Indien dit die geval was, het ons te make gehad met ʼn totalitêre staat.

Suid-Afrika is ook nie ʼn sekulêre staat nie. Staat en godsdiens word nie absoluut geskei soos byvoorbeeld in die VSA nie. Die klem is eerder op godsdienstige verdraagsaamheid en diversiteit. Die regering moet die ruimte hiervoor skep.

 

DIE HOFSAAK

Ses skole en twee ministers is oënskynlik uit die bloute geteiken.

In die hof was:

  • Die Applikant (Organisasie vir Godsdienste-onderrig en Demokrasie);
  • Nege respondente (Ses skole, Minister van BO, Minister van Justisie en NASGB);
  • Vyf Vriende van die Hof (Cause for Justice, Council for Religious Rights and Freedom, CASAC, AfriForum, Solidariteit).

20 advokate was betrokke in die hof vir drie dae. Die hofstukke self het ongeveer 4000 bladsye beslaan.

Twee belangrike aanvalle is geloods, naamlik teen die skole se

  • godsdienstige oriëntasie of etos

6 verklarende bevele is gevra en 2 is toegestaan

  • godsdiensbeoefening en praktyke.

71 interdikte is gevra en almal is van die hand gewys.

 

DIE GESKILPUNTE

Die hof het 3 basiese geskilpunte tussen die partye geïdentifiseer:

  1. Of ʼn openbare skool hom as ʼn Christelike skool mag uitgee, en indien wel, in watter mate.
  2. Of ʼn openbare skool self godsdiens mag beoefen, en in watter mate dit godsdiensspesifiek mag wees.
  3. Of ʼn leerder gevra mag word om aan te dui dat hy/sy ʼn bepaalde (godsdienstige) geloof aanhang of nie.

Die hof het ten gunste van die skole beslis wat betref geskilpunte 2 en 3.

DIE BEVEL

It is declared that it offends section 7 of the Schools Act for a public school

  • (i) To promote or allow its staff to promote that it, as a public school, adheres to only one or predominantly only one religion to the exclusion of others; and
  • (ii) To hold out that it promotes the interests of any one religion in favour of others.

Die hof het dus nie vir skole gesê: “Julle mag nie Christelik wees nie”. Openbare skole mag hulleself wel nie adverteer as Christelik nie, want dit sluit ander uit.

 

WAT BETEKEN DIE UITSPRAAK PRAKTIES?

  • Moenie paniekerig raak nie. Niks het verander nie.
  • Respekteer die samelewing se diversiteit, en veral minderhede.
  • Verwyder uitwaartse tekens van godsdienstige bande van webtuistes, visie- of missieverklarings.

Skole kan steeds open deur uit die Bybel te lees en te bid, lofprysing- en aanbiddingsgeleenthede reël, “Ma’s wat Omgee” byeenkomste hou, die Gideons toelaat om Bybels uit te deel, bid voor en na sport, Bybelstudiegroepe of kringe hou. Die beginsel wat geld, is vrywilligheid.

Wat van die skoolwapen en leuse? Die skoolwapen en leuse mag nie eksplisiet na een godsdiens verwys ter uitsluiting van ander nie. Spesifieke Christelike tekens moet dus verwyder word.

ʼn Skoolhoof en onderwysers kan eerlik wees oor wat hulle glo as individue. Hulle moet egter seker maak dat billikheid en gelykheid geskied ten opsigte van formele godsdiensbeoefening in die skool.

 

WAT HET DIE HOF NIE GESÊ NIE?

Een belangrike smeekbede wat van die hand gewys is, is: 

[It is unconstitutional for any public school to] align or associate itself with any particular religion;

Die hof het nie godsdiens of godsdiensbeoefening in skole verban nie.

Die hof het steeds ouers, leerders en onderwysers se reg erken om hulle godsdiens in privaat en openbaar te beleef en te beoefen.

Saalbyeenkomste mag met Bybellees geopen word, MITS die reg van ander gerespekteer word en alternatiewe geleentheid vir ander wat nie wil nie, geskep word. Dit word reeds in vele Wes-Kaap skole suksesvol gedoen

Skole kan die Imam nooi vir die Moslem-kinders wat in die Christelike skool is.

WAT BEHOORT ONS TE DOEN?

Ons behoort uit ons pad te gaan om respek te betoon teenoor mense met ander geloofsoortuigings. Hierdie respek is deel van ons getuienis teenoor hulle.

Ons behoort te let op ons taal, ook teenoor mense wat ons vyandiggesind is, veral op sosiale media. Ons mag nie kwaad met kwaad vergeld nie. Ons is nie verdoemend teenoor ander nie. Ons val nie persone aan of probeer mense verkleineer nie. Die Bybel vra dat ons ons vervolgers seën en nie vervloek nie.

Ons moet onthou wat dit is wat mense oorspronklik na die kerk van Christus toe aangetrek het. Mense het na die lewe en optrede van Christene gekyk en gesê: “Ons wil ook graag hê wat julle het.”

Twee riglyne staan dus duidelik vir ons uit:

(1) Die grondwetlike reg tot godsdiensbeoefening in skole, mits dit vrywillig is.

(2) ʼn Gees van verdraagsaamheid, dit wil sê geen outoritêre godsdiensdwang, geestelike uitbuiting en manipulasie nie.

 

WAAR KRY ONS HULP AS ONS VASHAAK?

FEDSAS (www.fedsas.org.za) help skole om reg te maak waar daar geregverdigde kritiek is in terme van hierdie uitspraak. Daar is gewoonlik net ʼn klein verstellinkie nodig.