idees

Is familiebediening ‘n afdeling van gemeente-wees of is ‘n gemeente een groot familie?

Gespreksnotas van die Familie Netwerk byeenkoms gehou op 19 Julie 2018 aan die hand van ‘n hoofstuk “Congregations as Family” in die boek “Passing on the Faith. A Radical New Model For Youth and Family Ministry” deur Merton P. Strommen en Richard A. Hardel.

 Familiebediening is beide‘n afdeling van gemeente-wees én die gemeente is ook een groot familie. Daarom beteken familiebediening dat ons twee dinge doen:

(more…)

Laerskool Kamp oor verskillende spiritualiteite

Mense ontdek God op verskillende maniere en dit is belangrik dat ons kinders bloot stel aan ‘n verskeidenheid van spiriritualiteitstyle. Wat is die 4 tipe spiritualiteite? In kort is daar mense wat hoofsaaklik groei deur kennis (kop spiritualiteit), ander ervaar God deur interaksie en emosie (hart spiritualiteit), ander ontmoet God deur iets diensbaar te doen (hand spiritualiteit) en ander ontdek weer God deur simboliek en nadenke (vlam spiritualiteit). Kinders is nog te jonk om te onderskei wat hulle voorkeur is. Hulle is ook te jonk om die teorie daarvan werklik te verstaan, dus is die praktyk belangriker as die teorie.  Spiritualiteite is ook nie ‘n verskoning om God net op een manier te aanbid nie – dikwels groei on sook wanneer ons buite ons gemaksone is.  Dit is dus belangriker dat jy hulle aan al 4 spiritualiteits tipes blootstel sodat hulle self kan ervaar hoe ‘n mens God op verskillende maniere kan aanbid. Terselfdetyd sal die volwasse leiers bewus raak van hulle eie voorkeure en kan hulle juis opnuut fokus om tyd vir al 4 te maak tydens ‘n kamp (of tydens kategese).

Laai HIER ‘n riglyn af van hoe só ‘n kamp saamgestel kan word. Dit is saamgestel deur ds Marietjie Steyn (van Bloubergstrand Gemeente)

Vinnig gedink oor Kamp menu’s

Heelwat Kamptereine bied deesdae spyseniering aan saam met hulle verblyf, maar dit is nie altyd bekostigbaar nie.  Elke gemeente het ook nie altyd ‘n “kostannie” wat kans sien om saam te gaan kamp om die kos te maak nie.

Om die honger skares te voed is nie so moeilik soos wat dit soms klink nie, en dit is moontlik om lekker te eet vir min geld.  Hier volg ‘n paar idees oor Spyskaarte wat kan help.

  • Hou die ouderdom en geslagsverdeling in gedagte met die beplanning van die spyskaart. Laerskool kinders eet nie so baie nie en hoërskool seuns raak nooit vol nie!  ‘n Bak vrugte wat op ‘n tafel staan vir ‘n tussen in knibbel is altyd ‘n goeie idee.  Ons vra altyd dat kampers ‘n sak vrugte of pakkie koekies saambring vir die kombuis, en ons gebruik dit vir tussen in happies.
  • Beplan die spyskaart so dat die een ete se oorskiet deel van die volgende ete se bykosse kan word. Vrydag aand se oorskiet worsies kan in ‘n volgende ontbyt se roereier opgesny word, terwyl ekstra broodrolletjies knoffel en botter kan kry vir ‘n bykos vir Spaghetti Bolognaise.  Oorskiet Spaghetti Bolognaise maak heerlike ontbyt broodjies.
  • Jongmense hou daarvan as die tema van die kamp weerspieël word in die kos wat geëet word. Tydens ‘n kamp wat gehandel het oor die vervolgde kerk, is Midde Oosterse kos(pitabroodjies met frikadelle) vir middagete voorgesit, en groenterys met hoender vir aandete, met Chinese stokkies om mee te eet in plaas van messe en vurke.
  • ‘n Naweek is net ‘n naweek, en jongmense verkies “gemorskos” op ‘n naweek bo gebalanseerde etes, so jy hoef nie baie bekommerd te wees as elke ete stysel bevat nie. (hou net tred met jongmense wat allergiëe het)
  • Idees vir laerskool kampe
  • Koffie vir laerskool kinders is eintlik onnodig, maar as jy koffie wil gee, gee dit net soggens. Ek maak altyd ‘n kan koffie met melk in, en kinders kan hul eie suiker ingooi.
  • Weens gesondheidsredes word die drink van energiedrankies ontmoedig, asook gaskoeldrank laatmiddag en saans.
  • Laerskool kinders hou van kompetisies, en dit werk lekker om die kinders in groepe te laat tafels dek vir ‘n ete, of te help voorberei deur bv hul eie nagereg in groepe te maak.
  • Laerskool kinders hou baie daarvan om hul eie stokbrood of roosterkoek te maak vir ete
  • Idees vir hoërskool kampe
  • Potjiekos/masterchef kompetisies tussen groepe
  • Kampers kan help met die voorbereiding en opruiming
  • Ete voorbereiding kan gekoppel word aan ‘n diensaksie, waar kos voorberei word om uitgedeel te word in ‘n gemeenskap
  • Maklike ete idees

Worsbroodjies, Eenskottel rys, maalvleis en groente gereg, Spaghetti Bolognaise, Gebraaide wors of hoender, Aartappelslaai, wortelslaai, Mengelslaai, Roosterkoek, gevulde vetkoek

 

Kampe bly ‘n effektiewe manier van bediening, en is al die beplanning en voorbereiding werd!

18 going on… Jongvolwassene wat werk?

Millenials of millenni-mal, noem dit wat jy wil, maar jongvolwassenes is een prioriteit wat blyk om konstant geïgnoreer word. Is dit omdat ons al te lank met ons hande in ons hare sit of is dit omdat hierdie spesie (waarbinne ek self val) net te vreemd is. Ongeag die rede, niemand gaan die ouderdomsgroep tussen 18 en 35 ontglip nie en of jy gemaklik is daarmee of nie, as bedienaars moet ons bedien. Nou wat gemaak?

Na aanleiding van onlangse gesprek tussen bedienaars wat val binne hierdie ouderdom het, ons die volgende “best practices” identifiseer:

  • Bier en Bybel

NGK Bergsig in Durbanville het ʼn bediening begin vir jongmense wat kerklos geraak het. Dit het begin met ʼn groep vriende wat saam Bybel begin lees het in ʼn kroeg een keer ʼn week. Hulle het drie beginsels geïdentifiseer waarvolgens hierdie “kleingroep” funksioneer nl.:

  1. Luister as ʼn ander praat
  2. Ons mag verskil
  3. Niemand praat asof hulle meer weet as die ander nie.

Hoewel hierdie groep die verhale in die Bybel bespreek, is die raamwerk van so aard dat ongelowiges ook saam kan gesels en kuier. Die vrae word so gestel dat enige iemand daarop kan reageer. Die drie vrae wat gereeld gevra word vanuit die teks is:

  1. Wat leer ons van die karakter van God
  2. Wat leer ons van mekaar
  3. Wat leer ons van onsself?

Hierdie groep het uitgebrei na twee groepe wat elk een keer ‘n week bymekaar kom. Soms by kroeë en soms by mekaar se huise.

  • Kursus vir Jongvolwassenes

NGK Sonstraal in Durbanville het ʼn 5-weke-kursus aangebied met die doel om jongvolwassenes uit verskillende agtergronde bymekaar te bring rondom ʼn universele vraag. Die kursus is aangebied by ʼn neutrale plek – nie by die kerk nie, maar eerder ʼn koffiewinkel.

Hulle het een keer per week bymekaar gekom en ook saam geëet. Die aand was gestruktureer sodat enige iemand welkom sou voel, gelowig, ongelowig of soekend.

  • Jongwerkendes op die platteland

In Kimberley, het die NG kerke gesukkel om aparte jongwerkende bedieninge van die been af te kry. Dit het tot gevolg gehad dat ‘n paar van die kerke saamgespan het om een jongwerkende geleentheid, een keer per week saam te hou. Die idee was dat dit interdenominaal is en almal hul vriende saam nooi. Die hooffokus was op verhoudings. Daarom was daar net speletjies gespeel, saam geëet en gesels vir die eerste drie weke. Na die eerste drie weke, het elke gemeente om die beurt verantwoordelikheid geneem vir reëlings, maar steeds was die byeenkoms gesamentlik gehou en by ‘n neutrale plek.

  • Mamma-groep

NGK Bergsig in Durbanville het die behoeftes raakgesien by jong mammas om net bymekaar te kom en lewens-stories te deel. Hierdie groep bestaan uit mammas wat tuis is, sommiges steeds op kraamverlof en sommiges is werkend met flexi-ure. Hierdie groep kom een keer ‘n week bymekaar en die agenda mag verander volgens die behoefte van die groep. Somtyds is dit slegs ‘n ruimte om na mekaar te luister, soms om mekaar te dien en soms om saam te lees en te leer uit die Bybel.

Hierdie is slegs enkele voorbeelde en sal nie noodwendig in jou spesifieke konteks werk nie, maar almal moet iewers begin. Hopelik inspireer dit jou om vars te kyk na nuwe en kreatiewe bedienings moontlikhede. Millenial, milleni-mal of millenni-nou…

 

Geskryf deur Jana Dickason, jeugleraar Durbanville Gemeente na aanleiding van ‘n energiegesprek oor Jongvolwassenes gehou 20 Septemeber 2016. Hierdie energiegesprekke word gereël deur die Sinode van Wes-Kaap se Taakspan vir Jeug en Familiebediening.

Kix – gratis kinderbediening lesse

Gratis kinder lesse
Benodig jy praktiese lesse vir jou kinderbediening of uitreikprogram?
Kix bied volledige lesplanne en uitdeelstukke gratis aan op hul webwerf www.kixkinders.co.za.
Gaan na die hofie aan die bokant van die tuisblad “laai materiaal af” om toepaslike ontmoetings uit die argief af te laai. Geskik vir laerskool kinders. #DinkJeug

Huisgeloof nagmaal gesprek

Idees om oor nagmaal saam te gesels in gesinne

  • Lees en bespreek die verhaal van die eerste nagmaal in Matteus 26: 26-30
  • Hoe sal jy die Nagmaal verduidelik aan iemand wat dit vir die eerste keer gaan gebruik?
  • Maak ‘n plakkaat met ten minste 5 verskillende woorde wat Nagmaal beskryf.
  • Vind uit wanneer julle volgende Nagmaal-Sondag by die gemeente is. Hoe kan jul as gesin daar dien? Bv. help met die brood sny, die tekens uitdeel, opwas na die tyd ens.
  • Bak brood saam as familie. Terwyl julle die brood bak gesels oor julle eerste Nagmaal ervaring of wat die Nagmaal beteken.

Om meer te lees oor nagmaal of ‘n Bybelstudie oor die tema saam te doen, besoek: http://www.onsglo.co.za/2017/02/06/nagmaal/

Die “onsglo” toep is ook gratis beskikbaar om af te laai vanaf die google playstore en die appstore.

Jana Dickason vertel van Detensie Bediening in Durbanville

www-gazillionthanks-com-5Jana Dickason (Durbanville Moeder Gemeente) en Wynand Breytenbach (Durbanville Bergsig Gemeente) het hul plaaslike Hoërskool genader en aangebied om die detensie tyd op ‘n Vrydagmiddag weekliks te fasiliteer. Hulle wil graag in hierdie tyd die tieners help om na te dink oor hul keuses en identiteit en positief te groei. Hulle doen dit deur veral te luister na hulle stories.  Hulle leuse is – Ons is hier om te luister, te fluister en te groei.

Hoe benader ‘n mens só ‘n bediening?

Begin deur stories te vertel, ook jou eie. Wees vulnerable. Maak duidelik jy is nie van die skool nie, maar van buite. Beklemtoon dat dit `n veilige ruimte is en dat jongmense nie veroordeel sal word nie. Soms neem dit lank vir jongmense om te begin oopmaak.  Hulle sukkel aan die begin om te deel en raak soms aanvallend.

Watter temas behandel hulle?

Hulle behandel 4 vrae, 1 vraag per week

  1. Wie is jy? (“body mapping”) Help hulle om hulle stories te vertel deur die prente wat hulle teken. Trek elkeen se hele liggaam af op groot velle papier. Elkeen kry die opdrag om binne in hulle prent te teken/skryf wie hy/sy tans is en buite om te teken/skryf waarheen hy/sy oppad is of /wie hy/sy wil wees OF wat hulle drome is. Bespreek dan die vraag – Wat verhoed jou vandag (dinge aan die binnekant) om te kom waar jy wil wees (aan die buitekant).
  2. Waarvoor staan jy? (Beskryf jou beste vriend – dan sien jy wat jy hoog ag, moenie laat ander se labels jou define nie, hoekom is dit nie so in die wêreld nie? Onreg) hier word gesprekskaarte gebruik.
  3. Wie het jou seer gemaak? (vul in op verskillende kaartjies – wêreld, geloof, ek, familie, skool; en maak ‘n tydlyn – hoogtepunte, laagtepunte ens, antwoord self ook die vrae)
  4. Waarheen is jy op pad? Weer body mapping, kyk nou of dit anders lyk as tydens die eerste week.

Soms kom daar dinge uit ‘n gesprek wat volgens wet gerapporteer moet word en dan neem die skool se maatskaplike werker dit gewoonlik verder.

Artikel samegestel deur Nicola Alberts na ‘n energiepunt gesprek oor skolebediening waar Jana Dickason bogenoemde storie vertel het van hul plaaslike “detensie bediening”.

Anton Duvenhage – Sport bediening in skole

www-gazillionthanks-com-4Anton gebruik die “Let’s play” inisiatief om sy plaaslike Hoërskool in Hermanus te bedien.

Uitdagings soos verskillende denominasies wat “kompeteer” by ‘n skool, kan uitgeskakel word as denominasies saamwerk en deur sport as voertuig saam ‘n skool bedien.  Dit is ook ‘n uitstekende manier om verhoudings te bou. “Kinders het nie altyd vervoer om by ‘n kerkgebou uit te kom nie, so jy moet kerk gaan wees by hulle”, verduidelik Anton.

Dit kan ook vanuit ‘n gemeente gedoen word. Vorm byvoorbeeld `n netbal en sokker span vanuit jou gemeente se jongmense en gaan speel dan saam met die kinders van ‘n ander woonbuurt of kultuur.

Artikel samegestel deur Nicola Alberts en Anriëtte de Ridder na aanleiding van ‘n gesprek oor skole bediening gebou op 4 Augustus 2016. Deelnemers aan die gesprek, soos Anton Duvenhage, het stories vertel van hoe skole bedien word in elkeen se eie konteks.

Anthonette Bridge: Ontmoet vir Huh en Ah-ha

jeugwerkersmosselbaaiGESPREK MET ANTHONETTE BRIDGE – JEUGWERKER – MOSSELBAAI AGS

Anthonette Bridge vertel dat die kinderbediening in die gemeente waar sy werksaam is, plaasvind tydens die twee oggend eredienste (dit word herhaal). Daar is eers ‘n groot groep byeenkoms vir Voorskool tot 6 saam en daarna is daar ‘n toepassing,aktiwiteit en omgee wat in klein groepies plaasvind. Sy ontwikkel die materiaal vir die lesse, sodat die temas aansluit by die preek reekse van die volwassenes. Dit is ‘n uitdaging om dit volhoubaar te doen, want dit neem baie tyd en dit verg baie kreatiwiteit om die temas steeds relevant en eenvoudig vir kinders te hou.

Haar groot uitdaging is dat Voorskool tot Graad 6 in een groep sit en dat die boodskap dus vir ‘n breë groep verstaanbaar en van toepassing moet wees. Hulle het egter ‘n kreatiewe oplossing gevind: sy en een van hul pastore trek aan soos twee karaktertjies en dra die boodskap oor deur middel van ‘n rollespel.. Sy sê hierdie twee karaktertjies het eintlik maar net spontaan ontwikkel.  Die twee karaktertjies se name is “Huh” en “Aha”. “Huh” is die “dom” karaktertjie met ʼn pienk pruik op, wat altyd die vrae vra en “Kaptein Aha” is weer die een wat verduidelik en meer antwoorde gee.

Sy vind dat die kleiner kinders veral met “Huh” se karakter identifiseer, terwyl die ouer kinders met “Aha” identifiseer, maar eintlik geniet almal die twee se manewales. Sy vind dat hierdie deurlopende karakters help ook om die weke se temas aan mekaar te verbind vir kontinuïteit.

DINKJEUG vra:

  • Is daar nog gemeentes wat met “karakters” werk in kinderbediening?
  • Is daar nog gemeentes wat deurlopend materiaal ontwikkel wat by die groter gemeente se preek temas aansluit?

 

Laat weet ons, sodat ons kan saamdink en deel.