intergeneratief

DIEN SAAM

DIEN SAAM - Hoe kan geleenthede skep waar alle generasies (ouderdomme) saam kan dien? (Gedagtes oor inter-generasionele bediening deel 2) 
Anriëtte de Ridder

Hierdie is deel van ‘n reeks artikels geskryf na aanleiding van die Familie Netwerk gesprek gehou in November 2017 met John Roberto se artikel “Becoming Intentionally Intergenerational” as agtergrond.

Diensbaarheid

Hoe kan diensgeleenthede werklik alle generasies (ouderdomme) saam betrek eerder as wat groepe net apart diensbaar is?

 Beginsels om te onthou

  • Diensbaarheid behels diensbare dade maar ook om dinge eenvoudige saam te doen.
  • Dis makliker om “doen dinge” inter-generasioneel aan te pak as enige ander tipe aktiwiteit of byeenkoms bv leer geleentheid of aanbidding geleentheid.
  • Diversiteit van opsies vir mense is belangrik.
  • “Doen dinge” kan ook avontuur geleenthede insluit waar jy uit jou gemaksone verkeer.
  • Diensbare dade kan ook pret wees vir alle ouderdomme.
  • Wanneer mense van verskillende ouderdomme saam dinge doen of saam diensbaar is, word ervarings gedeel – ervaringsleer beginsels geld dus hier.
  • “Mentoring” is belangrik – mense wat iets reeds gedoen het kan gee raad of help lei.
  • Daar is min geleenthede in die kerk (buiten basaar en eredienste) vir volwassenes om ook saam met ander volwassenes van verskillende ouderdomme iets saam te doen. Diens geleenthede help om sulke platforms te skep.
  • Toerusting vir diens en uitreik is belangrik sodat almal weet wat om te verwag en toegerus is vir dit wat van hulle verwag word.
  • Kinders en ouer mense kan bymekaar leer.
  • Dit is in meeste gemeentes vir gesinne ‘n uitdaging om ‘n geleenthede te vind waar hulle iewers saam kan uitreik, diensbaar wees of ‘n verskil kan maak – gemeentes moet intensioneel sulke saam-dien geleenthede skep.
  • Dit is ook ‘n uitdaging om ruimtes te skep waar gesinne uit verskillende ekonomiese agtergronde met mekaar kan “connect” – ons kan meer hieroor dink en meer intensioneel hieroor wees sodat “diens” nie altyd net eenrigting noodverligting is nie.

Stories

‘n Predikant vertel van gesinne (of kinders saam met ander volwassenes) wat saam uitreik na straatmense met die doel om omgee gesprekke met hulle te hê. By een so ‘n geleentheid het ‘n oupa en kleinseun saam dit gedoen en dit het baie vir hulle beteken om só ‘n ervaring te deel.

Een gemeente gee gesprek kaartjies vir tieners wat die ouetehuis besoek. Kaartjies het eenvoudige kenmekaar vrae op soos “Waar het jy groot geword?”, Watter stories hou jy van?” ens. hierdie vrae help die gesprekke om makliker te vloei. Hul ervaar dat tieners en bejaardes só met mekaar connect dat hulle aan die einde spontaan nommers uit ruil of reël vir ‘n opvolg besoek.

Een persoon vertel van die “Laserus projek – ek hoop / glo / vertrou” waar hulle maandeliks kos aanry na 16 gesinne in die gemeente en kinders saamneem wanneer hulle dit doen.

Een predikant vertel van jongmense wat sy saamgeneem het na ‘n ouetehuis om daar musiek te maak. Dit was ‘n nie-bedreigende manier van konneksie maak met hulle.

Een gemeente hou een maal ‘n jaar n familie Steak ete waar mense eet en verskillende ouderdomme saam skottelgoed was aan die einde.

Iemand vertel van die Embrace projek waar ‘n swanger ma en ouer ma aan mekaar verbind word om saam ‘n pad te stap.

Die Echo huise se saameet geleenthede bring verskillende ouderdomme en ekonomiese groepe bymekaar vir saam eet, kuier asook diens doen.

Nog ‘n storie word vertel van ‘n ete wat gereël is deur ‘n gemeente, waar tieners die bediening gedoen het en mense vanaf die straat genooi is vir ‘n heerlike bederf. Die mense het straatmense, karwagte en werkloses ingesluit.

Nog ‘n storie is vertel van ‘n tiener wat spontaan met die straatmense in sy omgewing connect. Hy ken hulle elkeen se naam en storie, nooi hul kerk toe en gee om vir hulle. Sy storie het ander (ook ouer) persone aangeraak.

Nog Idees

  • Vier (almal saam) dit wat reeds gedoen word in die gemeente in byvoorbeeld die erediens.
  • Sê dankie vir mense wat leiers is in die gemeente of mense wat deurlopend diensbaar is – mense word só aan mekaar verbind en/of sien wat die ander ouderdomsgroepe mee besig is.
  • Hulp by die nagmaal – laat tieners en volwassenes saam help met nagmaal voorbereiding.
  • Gee vir gesinne diensbeurte saam bv. kollekte, nagmaal voorberei of uitdeel, verwelkoming by die deure ensovoorts.
  • Die lof en aanbiddings groep kan uit verskillende generasie musikante en sangers saamgestel word.
  • Gee vir 2 mense in verskillende ouderdomme saam ‘n taak of verantwoordelikheid byvoorbeeld om kategese te lei of ‘n uitreik te reël.
  • Laat jonk en oud saam bedien bv. by die teetuin of deur te verwelkom by die erediens.
  • Tieners kan saam met grootmense die speletjies aanbied by die basaar of saam potjiekos maak.

Lees gerus die hele artikel van John Roberto by http://www.intergenerationalfaith.com/uploads/5/1/6/4/5164069/becoming_intentionally_intergenerational_-_roberto.pdf

 

___________________________________________________________________________

 

 

Intergenerasionele Eredienste, Kategese en Kampe

Inleiding

Vra die vraag af: hoe lyk jou gemeente se eredienste, kategese en kampe op die oomblik?

Sal die volgende mense welkom voel in hierdie ruimtes:

  • ‘n Senior lidmaat?
  • ‘n Volwassene?
  • ‘n Tiener?
  • ‘n Laerskool kind?
  • ‘n Voorskoolse kind?

Teologiese Onderleg vir Intergenerasionele Jeugbediening

Voorheen het ons gemeentes gefunksioneer volgens die herder-kudde-model van kerk-wees wat baie klem plaas op die predikant en ander “lerende leiers” in die gemeente. Die res van die gemeente se funksie was baie meer passief en hulle het onderrig ontvang – veral kinders.

Ons is egter besig op ‘n reis in ons kerk waar die liggaamsmodel van kerk-wees baie meer klem geniet en dit dwing ons om anders te dink oor die funksie van AL ons lidmate binne die gemeente – ook kinders. Die liggaamsmodel lê klem daarop dat elke persoon ‘n belangrike rol het om te speel in die gemeente en dat kinders dus volwaardige ledemate is van die liggaam – daar is immers nie ‘n junior Heilige Gees nie!

Hoe lyk eredienste, kategese en kampe binne die bogenoemde twee modelle en hoe verskil dit?

Eredienste

‘n Erediens in ‘n gemeente waar die herder-kudde-model sterk funksioneer, sal baie klem lê op sekere rolspelers (en hulle sal meestal, indien nie almal nie, volwassenes wees) en daar sal min interaksie wees tussen die mense teenwoordig. Die diens sal grotendeels afhang van ‘n predikant wat doen en ‘n gemeente wat passief luister. Die opset is een-tot-baie, mense sit in rye agtermekaar en kinders is apart of afwesig.

‘n Erediens wat gebaseer is op die liggaamsmodel van kerk-wees, sal ruimte maak vir elke persoon in die vertrek om aktief daaraan deel te neem. Daar is gelyke waarde van almal teenwoordig. Mense leer bymekaar en kyk mekaar in die oë indien moontlik. Dit is nie net ‘n een-rigting-gesprek nie, maar ‘n gesprek tussen almal teenwoordig in een of ander vorm.

Voorbeelde:

  • Eredienswerkers (span wat mense verwelkom by die deur, nagmaaltekens uitdeel en offergawes opneem) bestaan uit gesinne – dus kinders en volwassenes van alle ouderdomme.
  • Daar is ‘n geleentheid in die diens vir kinders se verjaarsdae wat gevier word en selfs ‘n ouma sin wat gereeld die diens bywoon!
  • Daar is kinderliedjies sowel as meer volwasse-gerigte liedjies. Almal staan en sing beide genres liedjies saam, maar met die kinderliedjies staan die kinders soms op die stoele en doen die bewegings ook saam.
  • Kinders kan gebruik word om simbole in te bring of te gebruik wat aanhak by die preekreeks, bv. vlae met woorde op wat gedra word of kers wat tydens Lydenstyd uitgedoof word.
  • Geleentheid vir families of lidmate om na mekaar te draai en vrae te bespreek in die diens.
  • Daar kan selfs ‘n graad-diens gehou word vir ‘n spesifieke graad waar gesinne een van die kategese-lesse saam doen en die predikant van voor af fasiliteer.

Kategese en Kampe

Die herder-kudde-model van kerk-wees laat kategese ‘n skoolklaskamer dupliseer waar daar ‘n “onderwyser” is (gewoonlik ‘n volwassene) wat net kennis oordra aan passiewe kinders wat min geleentheid het om hulle eie opinies en vrae te gee en vra. Die klem is daarop dat hulle die kennis inneem en dit netso kan weergee.

Op kampe sal die prentjie baie eenders lyk, maar net met ‘n groter groep en in ‘n ander ruimte. Daar sal moontlik tye wees op die kamp vir ander aktiwiteite as kennisoordrag, maar dit sal losstaande wees en nie noodwendig ‘n spesifieke doel dien in terme van die vorming en inlewing van die tema nie.

Wanneer die beginsel van die liggaamsmodel op kategese toegpas word, het almal wat betrokke is ‘n rol om te speel. Die onderwysers word eerder fasiliteerders van ‘n gesprek waar die tema bespreek word en hierdie gesprek waar die kinders/tieners geleentheid kry om ook deel te neem is netso belangrik en onlosmaaklik verbind aan die kennis oordrag. Die groepe is kleiner sodat gesprek makliker kan plaasvind. Kategesegroepies sit in kringe sodat almal mekaar in die oë kan kyk en nie in ‘n ry voor die onderwyser nie. Ervaringsleer is ook belangrik.

Met kampe is een oorhoofse tema belangrik waarop alles gebasseer is: kennis, gesprekke, ervaringsleer en musiekbediening. Die doel van al hierdie aspekte van die kamp is geloofsvorming in ‘n eilandsituasie eerder as nét kennisoordrag. Kampeerders word ook in kleingroepe ingedeel met fasiliteerders en almal wat gaan kamp het ‘n rol, bv. kleingroepleiers, band, bidders, beraders, ens.

Ouervergaderings

Ouervergaderings in die herder-kudde-model lyk ook baie eenders as eredienste in hierdie model: die predikant van vooraf praat, ouers wat in rye sit en kinders wat afwesig is.

In die liggaamsmodel sal ‘n ouervergadering die kinders ook insluit, kinders sal saam met hulle ouers in kleingroepe sit en daar sal geleentheid wees vir hulle om ook met mekaar te kommunikeer oor dit wat van voor af met hulle gedeel word.

Wenke om ruimtes meer intergenerasioneel-vriendelik te maak

  • Handwerk (crafts) wat almal saam moet doen of elkeen individueel en dan met mekaar deel.
  • Oop vrae: Dit is belangrik dat die vra wawt gevra word deur ‘n 4-jarige sowel as ‘n 30-jarige beantwoord kan word.
  • Stories: Alle ouderdomme het stories om te vertel, maar ons het min tye om te luister na mekaar.
  • Getuienisse
  • Simboliek: Dit is iets waaraan ons almal kan deelneem.
  • Speletjies: Gesamentlike ervaringsleer of speletjies gebaseer op ‘n sekere tema of preek-/kategese-reeks wat huis toe geneem kan word om in huisgeloof tyd te speel.

Slot

Dink terug oor jou beskrywing van die ruimtes in julle gemeente aan die begin. Hoe kan jy net een ding in elke ruimte verander of toevoeg om dit meer intergenerasioneel te maak?

Moenie oorhaastig alles verander nie! Fasiliteer geloofsgroei met klein veranderinge.

Elzanne van der Westhuizen

Erediens en Musiek

Sommer ’n paar nota’s oor ‘Intergenerational ministry’ en
die rol wat dit in geloofsvorming speel – met spesifieke
fokus op die erediens en musiek

Meeste groter gemeentes het deesdae ’n verskeidenheid van eredienste.
Groepe word van mekaar geskei hetsy op grond van ouderdom of
spiritualiteitsvoorkeure.
Hoekom doen ons dit? Sommige meen dis a.g.v. die Verligting van die 18de
eeu toe meer klem begin lê is op die rede en onderrig. Aanbidding het toe
verander van ‘deelname aan geloof’ na ‘leer van geloof’.
Wanneer jy kinders vra waarom hulle kerk toe kom, wat is die standaard
antwoord? “Om meer van die Here te leer”. Ons het hulle dit mooi geleer,
nè.
Die verskil is tussen doksologie – om reg te aanbid – en dogmatiek – om reg
te glo. So, as ons glo dat aanbidding gaan oor reg glo – en kinders se
kognitiewe vermoëns is minder ontwikkeld as volwassenes s’n – dan maak dit
sin dat ons bedieningspraktyk sal wees om kinders eers te leer om reg te glo
– voordat hulle ons in aanbidding kan kom ‘join’.
Aanbidding gaan egter mos nie net oor reg glo nie…
’n Tweede moontlike rede – dalk ’n groter rede – is ons verbruikersmentaliteit.
Ons het ‘target marketing’ begin doen en ons glo dat deur ’n verskeidenheid
van bedieningsopsies te gee, bereik ons meer potensiële lidmate. Die vraag
is of ons nie juis in die proses meer en meer jong lidmate van ons vervreem
nie.
Die goeie nuus vir kleiner gemeentes is dat studies aantoon dat gemeentes
wat dit regkry om kinders en volwassenes saam in aanbidding te betrek,
klaarblyklik regtig groei.

Die res van die artikel kan jy hier aflaai: Aanbieding Intergenerationonal Erediens

Geloofsbelydenis aangepas uit Efesiërs 4: 1-7

 

Geloofsbelydenis aangepas uit Efesiërs 4: 1-7

Liturg:

Ek druk julle dit op die hart: Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het. Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde.

Gemeente:     

Daar is net één liggaam

en net één Gees.

Liturg:

soos daar net één hoop is waartoe God julle geroep het.

Gemeente      

Daar is net één Here, één geloof, één doop,

Liturg:

Daar is net één God en Vader van almal.

Gemeente:

Hy wat oor almal is, deur almal werk en in almal woon.

Liturg:

Aan elkeen van ons is ‘n genadegawe gegee volgens die mate waarin Christus die gawes uitgedeel het.

Gemeente:

Kom ons gebruik ons gawes om mekaar te dien in liefde.

Liturg:

Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe.

Gemeente:

Amen

Eenvoudige Familiediens interaktiewe seëngroet

Eenvoudige Familiediens interaktiewe seëngroet

Gee vooraf die agtergrond vir hierdie groet:

“SAWABONA” is a common greeting among the tribes of northern Natal in South Africa and it literally means “I SEE YOU” As to say, “I respect and acknowledge you for who you are” In return people say “SIKBONA” which literally means “I AM HERE” as to say “When you see me you bring me into existence”.
http://tarbeyah.wordpress.com/2012/02/15/sawabona-seeing-as-a-dialogue/

Verwelkoming

Ons groet mekaar in Zulu– Sawabona – (ek sien jou!)

En ons antwoord – Sikbona – (ek is hier!)

Interaktiewe seëngroet

Ons groet mekaar (herhaal agter liturg)

 “jy is die kerk

hierdie is jou tuiste.

God woon in jou,

jy is welkom.

Ons is lief vir jou.

God is lief vir jou”

Dit kan ook later in die diens (byvoorbeeld aan die einde), herhaal word as ‘n geloofsbelydenis…

“Ons is die kerk

hierdie is ons tuiste.

God woon in ons,

almal is welkom.

Ons is lief vir mekaar en die wêreld.

God is lief vir ons.”