jeugwerk

Project School’s se mentorskap program

Project School’s se mentorskap program

Kinders en tieners is baie meer by die skool as by die kerk – dus bly die skool ‘n belangrike ruimte vir invloed. In die Mentorskap program van Project Schools gebruik hul jongmense wat in die skool was en plaas hulle in hul eerste jaar na skool terug in die skool. Hulle staan dan bekend as jeug “mentors”. Hulle is nie jeugwerkers nie, maar dien eerder die oë en ore van die jeugwerker. Die jeugmentors verwys dan tieners wat gesprek nodig het na die jeugwerkers/ predikante / beraders wat by die skool betrokke is.

Sleutel sukses elemente:

  1. Opleiding – jy sit iemand in die skool sonder opleiding en met lae salaris. Hy/sy word egter deurgaans ge-mentor deur die predikante. Verwag van hom/haar om iets te swot deur die jaar.
  2. Hy/sy moet self ook die mentorskap uitleef soos wat hy self ge-mentor word. Dissipelskap is baie belangrik.
  3. Spanbenadering – kry verskillende denominasies se inkoop en saamwerk aan die projek. Die jeugmentors verbind dus jongmense aan die tieners se eie denominasie en nie aan een denominasie of gemeente nie.
  4. Mentors bly weg van dogmatiek of kerk-spesifieke teologie. Die Bybel en geloof is sentraal, maar dit is ruim genoeg dat ander gelowe ook veilig voel. Die fokus bly life-coaching en vriendskap.
  5. Daar is uitdagings met die jong mentors. Hulle is pas self uit hoërskool en hulle “coolness” faktor oorskadu soms die bedingingsfaktor. Hy/sy is soms te cool vir “nie-cool” kinders om veilig te voel en hom/haar te nader. Hou aan om mentors diensbaarheid en toeganklikheid te leer.
  6. Daar moet ‘n formele werksonderhoud en proses wees ‘n met kontrak, verlofdae en spesifieke verantwoordelikhede.
  7. Die jeugmentors is ook betrokke by hul spesifieke gemeente waar hul ook diensbaar is. Ander kerke kan ook hul nader vir hulp.

Vir meer inligting oor Projectschools besoek hul webblad www.projectsschools.co.za of vind hul op facebook.

Hierdie was deel van die energiegesprek oor skolebediening in 2016. Vicus Kruger (jeugwerker) het verduidelik hoe Project Schools te werk gaan in die skole van die Bellville omgewing.

Godsbeeld

Woorde is wat ons het om dinge te beskryf. Ons gebruik woorde om kos, mense, ʼn ervaring en God te beskryf. Maar ons woordeskat bepaal hoe goed of hoe in diepte dit beskryf kan word. Jeugwerkers gebruik ook woorde, maar nie net om môre of welkom te sê vir die tieners van die gemeente nie, maar om diepgaande gesprekke te hê oor besondere lewensvrae en kwessies. Die belangrikste area waar Jeugwerkers woorde gebruik is om ʼn beskrywing van God aan tieners oor te dra.

Maar dink gou aan jou eie woordeskat, aan die woorde wat jy gebruik om God in jou stiltetyd vir jouself te beskryf. Hierdie woorde is beperk tot jou eie ervaring van God en die lewe. Jou idee van God en jou woorde is iets eie aan jou. Dit is woorde wat vir jou iets beteken, wat ʼn wêreld skep waarin jy kan veilig voel. Maar hierdie woorde is nie die enigste woorde wat gebruik word om God te beskryf nie. En dit is hier waar Jeugwerkers versigtig moet wees.

Die Jeugwerker se idee van God is nie die enigste idee nie, soos daar verskillende tieners voor mens sit by ʼn byeenkoms, net so verskillend is die idees van God. Sommige gebruik dalk sport-woorde, ander dans-woorde en sommige musiek-woorde. Die verskillende woorde skep verskillende prentjies van God, en indien hierdie realiteit nie in ag geneem word wanneer daar met tieners gewerk word nie, kan dit probleme veroorsaak. Hiermee probeer ek sê dat nie een van ons die kapitaal/kopiereg op ʼn Godsbeeld het nie. Daarom moet ons so versigtig wees om nie slegs een beeld van God te verkondig nie – die een waarmee ons die gemaklikste is nie. Soms moet ons spasie gee om te hoor wat ander se beeld van God is, dit te respekteer en daaroor te gesels. God word soms so maklik en vinnig vasgevang in mense se woorde, en op die einde is dit al God wat sommige ooit sal ken – ʼn mensgemaakte God.

Voorbeelde van maklike beelde van God wat sonder om twee keer te dink oorgedra word: God is Koning, God is ‘n Herder, God is ʼn Pa (Vader), God is ʼn Heerser en God is ‘n Hy (manlik). Sommige van hierdie beelde is ook nie meer bekend in ons konteks nie.

Van hierdie is goeie beelde, maar mens moet altyd kyk na wat die gevolge van ʼn spesifieke beeld is. Bv. God is ʼn hy (manlik) – as die enigste hy’s (mans) wat jy ken jou seer maak en mishandel, hoe goed kan hierdie God dan wees?

Soms is dit nodig om te hoor wat die spesifieke tiener se omstandighede is en wat veroorsaak dat hy/sy nie God op ʼn spesifieke manier kan sien nie, en volgens dit die beeld van God te beskryf. Jeugwerkers moet party keer verkleurmannetjie speel en aanpas by spesifieke situasies en woorde gebruik wat eie aan die tiener is om God ‘verstaanbaar’ te maak binne die wêreld van die tiener.

Dit beteken ook dat Jeugwerkers moet oplet na wanneer ons eie beeld van God, ons eie woorde die enigste woorde raak. Onthou dat God nie vasgevang kan word deur ons woorde nie, maar dat ons woorde wel ander se realiteit vorm. Gebruik die woorde om God te beskryf versigtig en laat altyd spasie vir nog woorde. Ons dien ‘n God wat nie vasgevang mag word in ons woorde nie.

Geskryf deur Liesel Nieuwenhuizen