jong werkendes

Nadenke oor jong volwassenes en die NG Kerk

Saamgestel deur die Jong Volwassene Leer Gemeenskap (JVLG)

November 2017

Inleiding

Hierdie artikel is saamgestel deur die groep meestal jong predikante in die Wes Kaap Sinode wat getaak is om vir die volgende twee jaar saam te dink en droom oor die bediening aan en deur die jong volwassenes. Hierdie groep noem hulself die Jong Volwassene Leer Gemeenskap (JVLG).  Die eerste drie dag gesprek is gevoer vanuit 3 perspektiewe, naamlik die Amerikaanse navorsing van David Kinnaman van die Barna Institute, opgesom in sy boek “You Lost Me: Why Young Christians Are Leaving Church and Rethinking Faith”, Suid-Afrikaanse navorsing opgesom in die boek “Skokkend Positief – Insigte vanuit nuwe navorsing oor aktiewe Afrikaanse jeug” (redakteurs Malan Nel & Zander van der Westhuizen) en laastens ook die perspektiewe en ervaring van die deelnemers se eie belewenisse en gemeente kontekste.

Wie is die Jong Volwassenes waarvan ons praat?

Ons het tydens die gesprek die jong volwassenes opgedeel in drie verskillende groepe.

GROEP 1: Jong Volwassenes wat die NG Kerk verlaat en nie deel word van ander kerke nie (sien Addendum A)

Volgens die Barna Institute se Amerikaanse navorsing is hierdie groep 60% in die VSA. Dié navorsing dui ook aan dat anders as in die verlede hierdie groep nie weer terugkeer na die kerk sodra hulle hul kinders doop nie. Die JVLG meen hierdie persentasie sal laer wees in Suid Afrika maar dat die tendense soortgelyk is.

Die redes waarom hulle die kerk verlaat val kan as volg opgesom word:

  • Rede 1: Gebrek aan konneksie (gebrek aan diepgaande verhoudings, mentorskap, dissipelskap en geloof belewenisse en groei)
  • Rede 2: Die kerk help nie om my geloof en lewe (roeping) te verbind aan mekaar nie
  • Rede 3: Ek glo nie meer nie as gevolg van my rede (wetenskaplike of teoretiese oorwegings) of as gevolg van my ervaring (seerkry in die kerk)

Let Wel dat indien rede 1 of 2 ter sprake is, persone hul steeds identifiseer as christene, al staan hulle los van die kerk.

GROEP 2: Jong volwassenes wat die NG Kerk verlaat maar in ander denominasies tuiskom (sien Addendum B)

Sommige jong volwassenes beweeg direk na skool uit die NG Kerk na ‘n ander denominasie. Ander beland na ‘n tyd van rond beweeg tussen kerke  (“church hopping”) by ‘n ander denominasie. Daar is ook diegene wat na ‘n tydperk buite die kerk (kerklos) ‘n tuiste in ‘n ander denominasie vind.

Hiervoor is daar ook verskillende redes ter sprake by verskillende persone:

  • Rede 1: ‘n soeke na ‘n ander toelogie
  • Rede 2: ervaring in eredienste
  • Rede 3: groter konneksie (verhoudinge)
  • Rede 4: groter meelewing en diensgerigtheid
  • Rede 5: minder bagasie uit die verlede (nie die konneksie met apartheid nie)
  • Rede 6: meer diversiteit

Daar is nog ander redes ook genoem.

GROEP 3: Jong volwassenes wat bly in die NG Kerk (sien Addendum C)

  • Rede 1: gemak
  • Rede 2: tradisie en waardering vir die NG kerk
  • Rede 3: gereformeerde teologie
  • Rede 4: konneksie
  • Rede 5: geleentheid vir diens
  • Rede 6: kinders se betrokkenheid

Hierdie groep wissel egter tussen passiewe lidmate en aktiewe lidmate. Passiewe lidmate kom selde kerk toe en daar is lae vlakke van konneksie, diensbaarheid en roeping bewustheid. Die teenoorgestelde is waar van aktiewe lidmate.

 

Slot

Wanneer ons dus ‘n gesprek voer in gemeentes is dit belangrik om uit te klaar of ons praat van jong volwassenes buite die kerk, binne ‘n ander kerk of binne ons eie kerk. Geen van hierdie groepe is homogeen nie, en ons moet bewus wees daarvan dat jong volwassenes vir verskillende redes gaan of bly. Wat wel duidelik is, is die volgende tendense:

 

  • Jong volwassenes soek diepgaande, eerlike, opregte verhoudings en konneksie
  • Jong volwassenes soek ‘n ruimte om ‘n eietydse uitdrukking van geloof te vorm en uit te leef
  • Jong volwassenes soek ‘n ruimte om moeilike kwessies te kan bespreek sonder oordeel
  • Jong volwassenes wil graag lewe met ‘n doel en wil graag ‘n praktiese verskil maak

Die Jong Volwassene Leer Gemeenskap (JVLC) nooi jong volwassenes en die kerk uit om saam te dink en te gesels in die volgende twee jaar (November 2017 – November 2019) oor die bediening aan en deur jong volwassenes en saam te reis na ‘n Kerk van die Toekoms wat ook vir jong volwassenes ‘n tuiste is.

 

___________________________________________________________________________

Addendum A

GROEP 1: Jong Volwassenes wat die NG Kerk verlaat en nie deel word van ander kerke nie.

__________________________________________________

Rede 1: Gebrek aan konneksie (gebrek aan diepgaande verhoudings, mentorskap, dissipelskap en geloof belewenisse en groei).

Hierdie mense het die kerk verlaat weens ’n leemte of gebrek aan konneksie met of binne die kerk. Hulle is nie noodwendig kwaad vir die kerk, of is seergemaak deur die kerk nie, maar voel steeds nie dat kerk ’n belangrike rol in hul lewens speel nie, alhoewel hulle hulself steeds as gelowig beskou.

Konneksies en persepsies

Mense wat vir hierdie redes die kerk verlaat het, is steeds baie kere op soek na gemeenskap of konneksie op ’n manier, maar soek dit dan dikwels buite die kerk, nie binne die kerk nie.  In ons ervaring, vind mense wat om hierdie redes die kerk verlaat het, wel konneksies binne klubs, belangegroepe, familiebande, vriendekringe, werksverhoudings, of sosiale byeenkomste.

In baie gevalle, pas hulle hul geloof by hul lewens aan, eerder as om hulle lewens by hul geloof aan te pas. Kerk is iets wat dikwels in die agterkop gehou word, en eerder as ’n soort “klub” beskou wat ‘n diens aan die kliënte moet verskaf tydens lewensoorgange, soos doop, belydenis, trou of begrafnis”. Kerk en geloof is dikwels dus ook net iets wees wat net in krisistye bygewoon / geraadpleeg word.

Verbruikersmentaliteit

Vir mense wat om hierdie redes die kerk verlaat het, kom dit voor of geloof eerder gaan oor wat ‘n mens kan ontvang (sogenaamde “quick fixes” ) as wat ‘n mens kan gee.  Verbruikersmentaliteit speel ‘n groot rol. Daarom, as kerkbywoning opgeweeg word teen ’n ander aktiwiteit, soos strand, sport, hul kinders, kuiers, of vakansie, sal dit eerder wegval. Die kerk maak in die algemeen nie vir hulle sin nie, en daarom beplan hulle nie hul naweke rondom aktiwiteite wat die kerk mag aangaan nie. Die vervulling van wense of behoeftes word hoër geag as die bydra wat hulle kan lewer by ’n kerk.

In baie gevalle, word hul identiteit nie gevorm deur die kerk of hul geloof nie, maar juis deur wat hulle het, doen, of besit. Hierdie self genoegsaamheid bepaal meer hul lewensbeskouing as hul geloof. Hulle soek sin, betekenis en tevredenheid in rykdom, familie, vriende, of sosiale groepe, status, ens.

Baie mense wat hierdie diskonneksie met die kerk ervaar het, het dit alreeds begin ervaar in die tydperk van hul geloofsvorming (as kinders en tieners), en het daarom as volwassenes nie meer ’n sterk behoefte om kerk by te woon of aktief betrokke by ’n kerk te wees nie. Hulle ouers het soms ook hierdie voorbeeld gestel.

Rede 2: Die kerk help nie om my geloof en lewe (roeping) te verbind aan mekaar nie

Ons ervaring is dat daar ‘n groep jong volwassenes is wat ‘n gaping tussen geloof en daad beleef. Hierdie groep jong volwassenes het in die kerk groot geword en is steeds passievol om God te leef in hul alledaagse lewe, maar sukkel om ruimte te vind vir diens in die kerk of hulle sukkel om hul roeping (beroep) en geloof aan mekaar te verbind.

Roeping en geleenthede

Hierdie groep voel dat hulle roeping / beroep / lewe nie anders kan as om losstaande van hul kerk belewenis te funksioneer nie. Hulle Christelike agtergrond het hul nie daarop voorberei om Sondag (kerk) met Maandag tot Saterdag (werk en samelewing) te verbind nie.

Hierdie groep het ‘n bitter smaak in hul mond omdat die kerk hulle nie speelveld gee om met passie hul roeping uit te leef nie, en daarom is hulle skepties oor die kerk as instansie maar nie apaties teenoor die kerk nie.

Vir hierdie groep is dit belangrik dat hulle in hul beroep hul roeping kan uitleef. In die uitleef van hul roeping wil hulle verandering in die samelewing bring. Dit is vir hierdie groep belangrik dat daar nie ‘n skeiding tussen geloof en die alledaagse leefwêreld is nie.

Hierdie groep beleef God buite die mure van die kerk daarom voel hulle dat hulle tans ‘n groter, vinniger, effektiewer en met meer intensie impak kan maak buite die tradisionele gemeentelike strukture. Vir hulle moet geloof in die wêreld saak maak.

Geleenthede en uitdagings

Die kerk mis die geleentheid om hierdie jongmense se gawes te ontgin. Hulle is bereid om met passie saam met die span te speel, maar ruimte in die span is daar nie. Die kerk speel te stadig vir hierdie groep in die skep van geleenthede, omdat die kerk reguleer eerder as improviseer en innoveer. In die skep van ruimte sukkel die kerk om hierdie groep te help om die skakel te maak wat geloof en roeping verbind. Die kerk sukkel om hierdie groep te help om in die kultuur waarin hul leef te lewe en te dien.

Die kerk kan hierdie groep help om aktief hul roeping in hul kultuur (alledaagse) uit te leef deur spasie te skep vir dialoog en toerusting oor die uitleef van gawes. Laasgenoemde sluit “gewone” gawes, talente en belangstellings in.

As die kerk hierdie groep kan help om hul werk as gelowige aan te pak en ‘n verandering daardeur te laat plaasvind, sal hierdie groep se roeping bevestig word in ‘n geloofsgemeenskap waar hul hulself tuis vind en sal wil bly.  In hierdie sin moet die kerk jong volwassenes help om hul leef- en werk-wereld te verbind met God.

Rede 3: Ek glo nie meer nie as gevolg van my rede (wetenskaplike of teoretiese oorwegings) of as gevolg van my ervaring (seerkry in die kerk)

Sommige mense verlaat die kerk en kies om hulself daarvan en hulle geloof af te sny. Daar is verskeie redes hiervoor. Vanuit navorsing in Amerika en enkele stories van Suid-Afrikaanse jongmense wat ons al gehoor het, kon ons ‘n aantal afleidings maak oor die moontlike redes hiervoor. Hierdie redes kan op die volgende maniere uiteengesit word:

Hart-redes & Kop-redes

Meeste van die inligting waarna ons gekyk het kan ons in twee groepe plaas, naamlik mense wat emosioneel seergekry het in die kerk (dus slegte ervarings of “hart”) en mense wat hulself rasioneel nie kan vereenselwig met wat hulle hoor in die kerk of lees in die Bybel nie (dus as gevolg van hul rede of “kop”)

Van die hart-redes waaroor mense die kerk/hulle geloof agterlaat is oordeel wat hulle daarin ervaar (bv. rondom seksualiteit, morele kwessies, psigiatriese siektes ens.), slegte ervarings met ander Christene/die kerk (bv. ouers wat mishandel, geestelike leiers/mentors wat liefdeloos of sonder integriteit optree ens.) en mense wat voel dat daar nie ruimte is vir hulle in die kerk om wie hulle is uit te leef nie.

Van die kop-redes wat ons identifiseer het wat mense lei tot ‘n rasionele besluit om die kerk/geloof agter te laat is dat hulle ervaar dat die kerk anti-wetenskap is en dat Christene naïef is, dat die kerk as ‘n plek waar intellektuele (bv. filosofiese) denke nie ‘n plek het nie en dat die Bybel nie logies sin maak vir hulle nie (wat gepaard gaan met Bybel-interpretasie) en hulle dit nie kan glo nie.

“Engaged” & “Disengaged”

Vanuit verskeie stories, lyk dit vir ons asof sommige van hierdie mense hulself heeltemal afsny van die kerk/geloof vir watter rede ookal (“disengaged”) en ander mense wat kies om hulself af te sny en sê dat hulle finaal klaar is met kerk en geloof, maar tog steeds oop is vir gesprekke rondom hierdie sake.

Mense wie se storie getuig van “disengagement” is gewoonlik ook apaties teenoor die kerk en geloof (bv. as gevolg van finansieel welgesteldheid, logiese redes ens.). Daar is geen ruimte vir ‘n gesprek oor hierdie kwessies nie. Terwyl ons vind dat daar wel verhale is waar mense gekies het om te breek met kerk en geloof vir kop- of hart-redes, maar bereid is om ‘n pad te stap met ‘n geestelike mentor sonder die voorwaarde om “terug te kom” kerk toe. Hierdie mense ervaar steeds sterk emosionele wroegings as gevolg van die besluit wat hulle geneem het, en is daarom steeds weens hierdie onverwerkte emosies op ‘n indirekte manier “engaged” met die kerk/geloof. Daar is ook ander mense wat afstand doen van hulle geloof, maar hulself steeds beskryf as “spiritueel”.

Persepsies & Veralgemenings

‘n Algemene tendens in verskeie van die stories en waargenome redes is dat mense se besluit om hulself van die kerk/geloof te distansieer, dikwels gebaseer is op persepsies en veralgemenings. Christenskap en Christelike kerke word dikwels beskryf as “konserwatief” of “liberaal”, “anti-iets”, “beperkend” ens. Veralgemenings is dikwels gebaseer op die persoon se eie ervaring in die geloofsgemeenskap waarin hulle grootgeword het, terwyl persepsies gevoed word deur ander bronne. Hierdie persepsies en veralgemenings is na ons mening egter nie noodwendig waar van alle kerke of alle Christene nie.

Vanuit die bogenoemde, is dit duidelik dat daar verskeie redes is waarom mense hulself distansieer van die kerk en/of hul geloof. Dit is belangrik dat ons nie veralgemeen wanneer ons dink oor hoe om mense op hierdie plek in hulle storie te omarm as kerk nie.

___________________________________________________________________________

Addendum B

GROEP 2: Jong volwassenes wat die NG Kerk verlaat maar in ander denominasies tuiskom.

__________________________________________________

Ons elkeen ken jongmense wat in hierdie groep val. Dit is die jongmense wat in die NG kerk groot geword het, maar wat nou deel vorm van ’n ander denominasie – telkens binne die charismatiese stroom.

Sommige van die verhale van hierdie jong volwassenes sluit periodes van kerklos wees in, waarna hulle hulself opnuut toewy aan Christus in alternatiewe denominasies. Hierdie denominasies sluit Presbiteriaanse, Evangeliese, tradisioneel sowel meer gematigde Charismatiese gemeentes in. Maar hoekom gebeur dit? Wat is die redes agter jong volwassenes se skuif na ander denominasies?

Vanuit die verhale van jong volwassenes in hierdie groep, is dit duidelik dat die redes agter hul skuif nie vereenvoudig kan word tot ’n enkele faktor nie, maar dat die redes ’n komplekse web van faktore is.

Gasvryheid, ervaring en konneksie

Een van die redes wat herhaaldelik in verhale na vore kom, is die energieke en gasvrye atmosfeer van die alternatiewe denominasies. Dit bied vir baie jong volwassenes ’n ruimte om met ander Christene te “connect” op ’n wyse wat hulle nie noodwendig voorheen kon nie.

Hierdie verhoudingsaspek van kerkwees is telkens ’n prioriteit in hierdie gemeentes en daardeur skep hulle ruimtes van “belonging” deur bv. selgroepe.  Dit het veral ’n sterk impak op jong volwassenes wat moontlik voorheen binne die kerk veroordeel gevoel het of nie hulself kon vereenselwig met ’n veroordelende kultuur in sommige gemeentes nie.

Verder, vind hierdie jong volwassenes telkens dat hulle ’n meer intense ervaring met God kan hê deur alternatiewe vorme van lof en aanbidding. Hierdie “worship” word soms oorgedra na die alledaagse en word nie beperk tot die sing van liedere nie.

Teologie en diens

Die versoeking kan wees om hierdie groep af te maak tot mense wat nie hul geloof ernstig opneem nie en eerder ’n “maklike” teologie verkies. Dit is wel so dat hierdie denominasies dikwels ’n meer fundamentalistiese teologie verkondig, maar die klem val nie noodwendig op maklike teologie nie, maar eerder verstaanbare en relevante teologie wat ’n duidelike terme omskryf word. Teologiese konsepte word dikwels meer eenvoudig verpak en word oorgedra binne reekse wat hulle totale lewenstyl skuif.  Hierdeur ervaar jong volwassenes telkens ’n hernude sin van roeping wat hulle kan uitleef by geleenthede vir diens en aktivisme.

 

Die JVLG voel ernstig oor hierdie groep jong volwassenes en oor die wyse waarop hulle ons attent maak op die wyse waarop die NG kerk jong volwassenes kan vervreem. Tog voel ons dat hierdie groep nie ons enigste fokus kan wees nie aangesien hulle immers steeds deel is van die groep wat nog in die groter kerk van Christus is. Verder, wil ons ook beklemtoon dat ons nie hierdie jong volwassenes op enige manier wil reduseer nie, maar wil ons hulle ook waardeer vir die toegewydheid waarmee hulle hul plek binne God se koninkryk soek en leef.

 

___________________________________________________________________________

Addendum C

GROEP 3: Jong volwassenes wat bly in die NG Kerk

__________________________________________________

Navorsing fokus dikwels op jong volwassenes wat die kerk verlaat, maar daar is ook jong volwassenes wat in die kerk bly en dit is belangrik om te verstaan wie hulle is en hoekom hulle in NG gemeentes bly. Redes waaraan die groep kon dink sluit in gemak, tradisie, waardering vir die NG kerk, waardering vir die gereformeerde teologie, konneksie, geleentheid vir diens en ook kinders se betrokkenheid (wanneer hul kinders kry).

“Skokkend positief” se bevindinge

Uit die navorsing van die boek “skokkend positief” blyk dit dat jong volwassenes wat in die NG kerk bly redelik homogeen is. Hulle het grootgeword in huishoudings met redelike finansiële sekerheid. Hulle huisgesinne is oorwegend nukleus families (gesinne wat bestaan uit ’n pa, ma en kinders). Ouers en predikante het ook die grootste rol gespeel in hulle geloofsvorming.

“Skokkend positief” se navorsing wys verder dat die oorgrote meerderheid van jong volwassenes in die kerk voel dat die evangelie ’n ‘n betekenisvolle impak in hulle lewe het. 99% van die jong volwassenes in die studie glo dat Jesus Christus hulle persoonlike Verlosser is en 57% glo dat die kerk ’n integrale deel van hulle geloofslewens is. Hierdie jongmense voel sterk daaroor dat hulle ’n verskil moet en kan maak in die wêreld en in Suid-Afrika. 95% glo dat die jeug ’n belangrike rolspeler is in die verandering van ons land. 95% verstaan ook dat hulle lewe ’n impak het op die aarde en dat ons verantwoordelik met ons hulpbronne moet omgaan.

Teenstrydighede

Die studie bevind dat daar dikwels teenstrydighede bestaan in die lewens en denke van jong volwassenes. Alhoewel leierskap verantwoordelikhede gelyk gedeel word tussen hulle ouers in 46% van jong volwassenes se ouerhuise, glo die meerderheid (73%) in die patriargale leierskap formaat vir die gesin.  Soortgelyke teenstrydighede is bevind in jong volwassenes se idees oor versoening en kerkwees in Suid-Afrika.

Gedagtes uit ons gesprek

Vanuit die gesprek het duidelik geword dat die teenwoordige persone se ervaring van jong volwassenes nie so positief is as wat “Skokkend positief” bevind het nie. Daar is steeds jong volwassenes wat nie welkom voel in die ruimtes wat die NG-Kerk skep nie. Een van die redes hiervoor is waarskynlik die groot kontras wat hulle ervaar tussen die diversiteit van die wêreld en die homogene omgewing in die kerk. Gemeentes omarm dikwels nie diversiteit nie en vervreem mense deur ons taalgebruik en persepsies van bv. die samestelling van families. Gemeentes gebruik dikwels die Bybel om kulturele norms te bevorder. Ander gemeentes plaas andersyds klem op versoening, geregtigheid en diens wat weer sommige jong volwassenes “te veel” uitdaag omdat hul in ‘n gemaksone is.

Aktief of passief

Sommige jong volwassenes in gemeentes is aktiewe lidmate ander is weer passief (en sommige natuurlik tussen in). Ons moet dus onderskeiding maak oor wie ons praat. Die aktiewe lidmate vind in hul gemeentes ‘n ruimte om te dien, te aanbid en verhoudings te bou. Passiewe lidmate kom selde kerk toe en daar is lae vlakke van konneksie, diensbaarheid en roeping bewustheid. Die teenoorgestelde is waar van aktiewe lidmate.

Die passiewe lidmate bly deel van die kerk maar toon ooreenkomste met mense wat buite die kerk is. Passiewe jong volwasse lidmate is moontlik beïnvloed deur wat die kerk is / nie is nie of deur die verbruikersmentaliteit wat veroorsaak dat hulle die kerk gebruik wanneer hulle oordeel hulle dit nodig het. Daar is nog baie ander redes.

Idees vir die toekoms

Millennials heg baie waarde aan mentors en ouer persone se invloed, daarom het die kerk ’n geleentheid om juis op hierdie manier jong volwassenes te bedien. Deur mentor-programme en om ouers te bemagtig om hulle kinders te begelei in hulle geloofsvorming.

Die kerk het ook ’n geleentheid om jong volwassenes te begelei in die uitleef van hul geloof. In Suid-Afrika is dit veral belangrik in terme van versoening en diversiteit.

Dit is vir jong volwassenes belangrik om hul roeping uit te leef. In ons ervaring voel jongmense dat leierskapposisies nie beskikbaar is vir hulle nie. Jongmense moet spasie gegun word om hulle roeping uit te leef in gemeentes, om hulle te vertrou met verantwoordelikhede en magsposisies.

___________________________________________________________________________

18 going on… Jongvolwassene wat werk?

Millenials of millenni-mal, noem dit wat jy wil, maar jongvolwassenes is een prioriteit wat blyk om konstant geïgnoreer word. Is dit omdat ons al te lank met ons hande in ons hare sit of is dit omdat hierdie spesie (waarbinne ek self val) net te vreemd is. Ongeag die rede, niemand gaan die ouderdomsgroep tussen 18 en 35 ontglip nie en of jy gemaklik is daarmee of nie, as bedienaars moet ons bedien. Nou wat gemaak?

Na aanleiding van onlangse gesprek tussen bedienaars wat val binne hierdie ouderdom het, ons die volgende “best practices” identifiseer:

  • Bier en Bybel

NGK Bergsig in Durbanville het ʼn bediening begin vir jongmense wat kerklos geraak het. Dit het begin met ʼn groep vriende wat saam Bybel begin lees het in ʼn kroeg een keer ʼn week. Hulle het drie beginsels geïdentifiseer waarvolgens hierdie “kleingroep” funksioneer nl.:

  1. Luister as ʼn ander praat
  2. Ons mag verskil
  3. Niemand praat asof hulle meer weet as die ander nie.

Hoewel hierdie groep die verhale in die Bybel bespreek, is die raamwerk van so aard dat ongelowiges ook saam kan gesels en kuier. Die vrae word so gestel dat enige iemand daarop kan reageer. Die drie vrae wat gereeld gevra word vanuit die teks is:

  1. Wat leer ons van die karakter van God
  2. Wat leer ons van mekaar
  3. Wat leer ons van onsself?

Hierdie groep het uitgebrei na twee groepe wat elk een keer ‘n week bymekaar kom. Soms by kroeë en soms by mekaar se huise.

  • Kursus vir Jongvolwassenes

NGK Sonstraal in Durbanville het ʼn 5-weke-kursus aangebied met die doel om jongvolwassenes uit verskillende agtergronde bymekaar te bring rondom ʼn universele vraag. Die kursus is aangebied by ʼn neutrale plek – nie by die kerk nie, maar eerder ʼn koffiewinkel.

Hulle het een keer per week bymekaar gekom en ook saam geëet. Die aand was gestruktureer sodat enige iemand welkom sou voel, gelowig, ongelowig of soekend.

  • Jongwerkendes op die platteland

In Kimberley, het die NG kerke gesukkel om aparte jongwerkende bedieninge van die been af te kry. Dit het tot gevolg gehad dat ‘n paar van die kerke saamgespan het om een jongwerkende geleentheid, een keer per week saam te hou. Die idee was dat dit interdenominaal is en almal hul vriende saam nooi. Die hooffokus was op verhoudings. Daarom was daar net speletjies gespeel, saam geëet en gesels vir die eerste drie weke. Na die eerste drie weke, het elke gemeente om die beurt verantwoordelikheid geneem vir reëlings, maar steeds was die byeenkoms gesamentlik gehou en by ‘n neutrale plek.

  • Mamma-groep

NGK Bergsig in Durbanville het die behoeftes raakgesien by jong mammas om net bymekaar te kom en lewens-stories te deel. Hierdie groep bestaan uit mammas wat tuis is, sommiges steeds op kraamverlof en sommiges is werkend met flexi-ure. Hierdie groep kom een keer ‘n week bymekaar en die agenda mag verander volgens die behoefte van die groep. Somtyds is dit slegs ‘n ruimte om na mekaar te luister, soms om mekaar te dien en soms om saam te lees en te leer uit die Bybel.

Hierdie is slegs enkele voorbeelde en sal nie noodwendig in jou spesifieke konteks werk nie, maar almal moet iewers begin. Hopelik inspireer dit jou om vars te kyk na nuwe en kreatiewe bedienings moontlikhede. Millenial, milleni-mal of millenni-nou…

 

Geskryf deur Jana Dickason, jeugleraar Durbanville Gemeente na aanleiding van ‘n energiegesprek oor Jongvolwassenes gehou 20 Septemeber 2016. Hierdie energiegesprekke word gereël deur die Sinode van Wes-Kaap se Taakspan vir Jeug en Familiebediening.