kategete

Kategete ‘toolbox’: 10 wenke vir elke leier

‘n Veilige ruimte vir omgee en deel vorm ‘n basiese behoefte vir enige kleingroep. Wees toegerus en voorbereid deur seker te maak die basiese dinge is alles in plek. Hier is ‘n paar idees vir jou kategese toolbox.

Alles is in plek:

  1. Jy het die erediens bygewoon en self tyd gemaak vir God hierdie week.
  2. Jy het jou groepie na kategese genooi via WhatsApp.
  3. Jy’s voorbereid – jy ken die inhoud van die les en het self daaroor stiltetyd gedoen.
  4. Jy het skryfgoed, plakkers, Bybels, jou boek en benodigdhede vir die ontmoeting ingepak.
  5. Jy is gefokus op die kinders/tieners se welstand en jy is aanpasbaar.
  6. Jy weet wie opgedaag het en volg kinders/tieners persoonlik op wat nie gekom het nie.
  7. Jy vra oop vrae, gebruik aktiwiteite en skep ‘n ontspanne ruimte vir geloofsgroei.
  8. Jy het iets interessant wat die ontmoeting opkikker, hetsy ‘n speletjie, hulpmiddel, craft, lied, videogreep of simbool.
  9. Na elke ontmoeting los jy jou groepie met ‘n challenge vir die week en jy kry die volgende Sondag terugvoering daaroor.
  10. Daar is elke week tyd vir gebed – jy hou ‘n gebedslysie by en vra vir terugvoering. Jy wissel die manier af waarop daar gebid word.

Ons kan die regte ruimte skep, maar onthou – dis God se Gees wat werk!

Die boodskap wat ek verkondig, het julle oortuig nie deur geleerdheid en welsprekendheid nie, maar deur die kragtige werking van die Gees.1 Kor 2:4

Geskryf deur ds Anriëtte de Ridder (Predikant in Sinodale diens vir Jeug- en Familiebediening van die Wes-Kaapland Sinode).

Is ek ‘n mentor?

Die meeste mense beskou hulself nie as mentors nie. Miskien het die woord “mentor” vir ons te swaar geraak. Die ironie is egter dat die meeste van ons wel al ‘n mentor vir iemand anders was en ook mentors het!
Dikwels is daar egter vrese of wanindrukke wat jou verhinder om aan jouself as ‘n mentor te dink, byvoorbeeld:

Wat het ek regtig om te bied?
Miskien dink jy aan ‘n mentor as iemand wat alles al uitgesorteer het en alles reeds weet. ‘n Mentor is egter iemand wat bloot hul ervarings deel, self steeds leer, belangstel en bereid is om saam te luister en te soek.

Ek het nog nooit ‘n mentor gehad nie.
Dalk meen jy dat as jy nog nooit ‘n voorbeeld in jou lewe gesien het nie, jy self nie een kan wees nie. Die realiteit is dat alhoewel formele mentorverhoudings skaars is, ons almal mense in ons lewe gehad het wat op ‘n informele manier ons lewens beïnvloed het. Ek kan dink aan ‘n onderwyser, ‘n oom en tannie, my ouers, vriende en ‘n diensjaarleier wat ‘n impak om my lewe gehad het. Mentorskap is ook dikwels wedersyds; een persoon is nie noodwendig die mentor en die ander een die een wat gementor word nie.

Wat as ek nie ‘n goeie mentor is nie?
Die vrees om nie aan verwagtinge te voldoen nie, weerhou ons dikwels daarvan om met ander te deel en onsself bloot te stel. Mense soek egter iemand met wie hulle kan assosieer, iemand wat eg is en iemand wat self met uitdagings worstel en antwoorde soek.

Wat is die kenmerke van ‘n mentor?

  • Vriendelik en gee om – stel opreg belang
  • Opreg en deursigtig – deel ook hul eie swakhede
  • Toegewy aan God en gewillig om geestelik te groei
  • Verbind om saam met spesifieke mense te reis en lewenservaring te deel
  • Vra goeie vrae en is saam soekend na wysheid

Hoe kan ek prakties ‘n mentor raak?

  • Dink aan die mense wat reeds in jou lewe is. Vir wie kan jy ‘n mentor wees? Hoe kan jy jul verhouding so inrig?
  • Dink aan mense na wie jy opkyk of vir wie jy vertrou. Wie kan in jou lewe inbou? Maak dit ‘n prioriteit om met hulle tyd te spandeer.
  • As jy ‘n kategeet is, hoe kan julle as mede-kategete dieper in mekaar se lewens inbou? Maak tyd om een persoon te besoek en beter te leer ken.
  • Hoe kan jy ‘n mentor wees vir jou kategese groepie? Dalk sal dit beteken dat jy ander vrae vra of alleen-tyd met jou groep spandeer.

‘n Stad wat op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie… Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik. Matt 5:16

Geskryf deur ds Anriëtte de Ridder (Predikant in Sinodale diens vir Jeug- en Familiebediening van die Wes-Kaapland Sinode).

 

Gebruik “debriefing” as ‘n tegniek om geloof te vorm

Het jy gedink debriefing is net vir na kampe? Dink weer! Debriefing is ‘n belangrike stap, nie net vir kamp-opvolg nie, maar ook vir refleksie na enige aktiwiteit of uitstappie. Dit kan enige tyd en enige plek gedoen word, byvoorbeeld na ‘n kategese les, kerkdiens, uitreik of selfs ‘n koffie-afspraak. Ouers kan debriefing tegnieke sinvol daagliks toepas om verhoudings te bou in die gesin.

Debriefing is nie ‘n manier om te evalueer waar die persoon geestelik staan nie, maar ‘n manier om daardie persoon se persoonlike en geestelike groei te fasiliteer. Dit help ‘n persoon om ‘n ervaring (positief of negatief) te evalueer, te internaliseer en daardeur te groei.

Hier volg 6 stappe om ‘n debrief-sessie te lei:

  1. Hoe was die ervaring: Reflekteer gevoelens en ervarings. Het jy dit geniet, was dit lekker, was dit moeilik, het jy gesukkel met iets, wat het vir jou uitgestaan?
  2. Wat het jy geleer: Verbind dit aan regte lewensituasies. Het jy dit al ervaar in jou lewe, iets van jouself, ‘n waarheid, ‘n les/waarheid oor ‘n sekere onderwerp?
  3. Wat gaan jy toepas: Hoe gaan jy dit wat jy geleer het, prakties toepas in jou lewe? Kan jy aan soortgelyke situasies dink?
  4. Gesels oor die geestelike betekenis: Bou ’n brug tussen wat ervaar is en die persoon se geloof. Watter geestelike impak het dit op sy/haar lewe? Hoe dink hy/sy was God betrokke? Hoe versterk dit jou geloof? Ontlok dieper gesprek met oop vrae.
  5. En onthou: Luister eers! Moenie dadelik raad of antwoorde gee nie. Om self ‘n waarheid te ontdek, het ‘n veel groter impak.
  6. Soms is daar ‘n geleentheid om raad te gee, te getuig of ‘n waarheid te deel. Gebruik die geleentheid, maar hou dit kort. Moenie prekerig raak nie. Wees opreg, gee voorbeelde, vertel ‘n storie en wees bereid om jou eie tekortkominge te deel.

Om te debrief is nie nét ‘n manier om geestelik te groei nie, maar ook ‘n manier hoe ons verhoudings met mekaar verdiep en hoe ons connected bly aan die mense vir wie ons omgee.

Daar is verskillende tipes debriefing:

  • Instant debrief: Dit is ‘n goeie manier om onmiddellike persepsies en gevoelens te toets. “Het jy gesien wat ek gesien het? Hoe het jy daaroor gevoel?”
  • Daily debriefs: Neem die tyd om werklik belang te stel. “Hoe gaan dit met jou? Hoe voel jy vandag? Waarmee het jy vandag gesukkel? Waar het jy vir God gesien of beleef?”
  • Post-trip debriefs: Laat ‘n groep na ‘n gebeurtenis, ervaring of aktiwiteit hulle belewenisse, foto’s en stories met mekaar deel. Gee ook geleentheid vir dieper nabetragting en refleksie.

Jesus is ‘n goeie voorbeeld van iemand wat gereeld ge-debrief het. Toe die dissipels terug gekom het van hulle Lukas 10 uitreik, het Jesus hulle ge-debrief om sin te maak van hulle ervaring.

Hoe Jesus dit gedoen het:

  1. Die dissipels gee terugvoering van hul ervaring. “Here, selfs die bose geeste onderwerp hulle aan ons by die hoor van u Naam.”
  2. Jesus verduidelik die geestelike betekenis.“Ek het die Satan soos ‘n weerligstraal uit die hemel sien val.”
  3. Jesus sit dit in perspektief vir die dissipels se lewe. “Wees veral bly omdat julle name in die hemel opgeskryf is.”
  4. Jesus moedig sy dissipels aan. “Hoe bevoorreg is die oë wat sien wat julle sien.”

Debriefing vrae wat jy kan vra:

  • Wat was vir jou hoogte- en laagtepunte?
  • Wie het jou die meeste aangemoedig vandag?
  • Het jy jou doelwit bereik?
  • Wat het deur jou gedagtes gegaan?
  • Hoe het jy gevoel? En hoe voel jy nou?
  • Het iets (van jouself) jou teleurgestel?
  • Wat was vir jou verrassend?
  • Waaraan het dit jou laat dink?
  • Het die ervaring jou verander of beïnvloed?

 

Geskryf deur ds Anriëtte de Ridder (Predikant in Sinodale diens vir Jeug en Familiebediening van die Wes-Kaapland Sinode).

 

Twee ore en een mond: Hoe kan ek ‘n “luisterende” groepleier wees? 

Kan jy dink aan ‘n volwassene met wie jy lekker kon gesels as kind? Dalk was dit ‘n ouer, ‘n maat se ouer, ‘n familielid of selfs ‘n onderwyser? Hoekom dink jy praat kinders en tieners makliker met sekere volwassenes?

Jongmense neem ‘n risiko wanneer hulle met ‘n grootmens praat en wil weet:
• Sal die volwassene my werklik “hoor”?
• Sal die volwassene my veroordeel?
• Kan ek die volwassene vertrou om my behoeftes ernstig op te neem?

 Hoe kan ek, as groepleier, meer moeite maak om te luister?

  1. Maak tyd om te luister. Somtyds is luister al wat nodig is (raad of antwoorde word nie noodwendig gesoek nie).
  2. Stilte is jou vriend. Moenie voel jy moet die gesprek lei of “red” nie. Dikwels lei stiltes tot dieper gesprekke.
  3. Bemoediging is belangriker as raad. Versterk positiewe gedrag eerder as om op die negatiewe te fokus. Gee aanmoediging, prys hul gedrag, gee opregte komplimente, bedank hulle, ens.
  4. Praat die waarheid. Bou die kind/tiener op met waarheid uit die Skrif sodat hy/sy saam met jou God se beloftes en karakter kan ontdek.
  5. Volg op! Moenie te lank wag om verdere gesprekke te hê nie. Gebruik WhatsApp, opvolg afsprake, ensovoorts om te wys jy bly aan hom/haar dink.

Met dank aan Brendt Blanks http://youthministry360.com/training/how-to-be-a-listening-adult-for-your-students/

Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid. 1 Joh 3:18

Geskryf deur ds Anriëtte de Ridder (Predikant in Sinodale diens vir Jeug en Familiebediening van die Wes-Kaapland Sinode).

Denke oor Belydenis van Geloof (oorsigtelik)

Die Algemene Sinode het ‘n taakspan gevorm om oor die betekenis en plek van belydenis van geloof (BVG) te dink en by die volgende Algemene Sinode hieroor terugvoer te gee. Die opdrag hou verband met die nadenke oor doopviering, die problematiek van die “funksionele dubbel lidmaatskap”, asook die kindernagmaal. Anriëtte de Ridder vertel dat die term “roetemerker” telkens in dié taakspan se besinning na vore kom. Sy verduidelik dat roetemerkers verwys na ‘n geloofsmoment op jou lewensreis waar jy figuurlik gesproke anker gooi wanneer jy deur stormwaters gaan. In ‘n oorgangstyd onthou jy wie jy is (ek is gedoop), aan Wie jy behoort (Jesus Christus) en wie om jou staan en jou ondersteun (die gemeente as geloofsfamilie). Dit help jou om deur die oorgangstyd te kom en in hierdie tyd jou geloof te vorm, te versterk en te vier.  Wanneer jy ‘n ritueel hieraan koppel, noem ‘n mens dit ‘n roetemerker. BVG is só ‘n roetemerker.

Wat is belydenis van geloof nié?
Dit is nie ‘n tweede lidmaatskap nie (die doop is die enigste inlywing in die geloofsfamilie)
Dit is nie die afhandeling van kategese nie (want ons glo in lewenslange leer)
Dit is nie die toediening van heil nie
Dit is nie die verkryging van iets nie (bv. sekere regte in die kerk nie)

Wat is wel die waarde van belydenis van geloof?
Dit is ‘n geleentheid om tydens die deurgang (tans is dit die deurgang na jong volwassenheid) ‘n roetemerker neer te sit waartydens die volgende plaasvind:
Oriëntasie (waar jy vandaan kom, waar jy is en waarheen jy gaan)
Identifikasie (saam met wie jy reis)
Konfirmasie (wie jy is, watter belofte jy aan kan vashou)

Wat kan ons intussen in gemeentes doen om BVG sinvol te vier?
Ons kan BVG in die primêre plek inrig as ‘n roetemerker in ‘n oorgangstyd. Dit beteken dat ons in die eerste plek vir die persoon wat belydenis aflê herinner aan wie hulle is, aan Wie hulle behoort en dat die gemeente hulle ondersteun. Dit is belangrik om die fase waarin hulle is (‘n tyd van onsekerheid en verandering op die drumpel van jong volwassenheid) te erken en BVG te sien as ‘n geleentheid om geloof te versterk en te vorm (eerder as te toets). Dit beteken dat die gemeente die persoon bevestig (“affirm”). Dit is belangrik om BVG te koppel aan die doop. Simbole kan insluit hand in die doopvont (om te herinner aan die doop) asook handoplegging en salwing met olie (as teken van die Gees se werk in daardie persoon se lewe).

Nog roetemerkers op die geloofspad
Verder kan ‘n gemeente nog deurgangsmomente identifiseer en ‘n roetemerker daarlangs plaas. Dink dalk aan sekere lewensfases (bv. begin van skool of begin van tienerjare). Of dink aan sekere belewenisse bv. verlies, viering, toewyding en die opneem van leierskapsrolle. Hierdie sou intergenerasioneel gevier kon word.

Hoe sou dit lyk? Dit kan so eenvoudig wees soos die volgende:

  • Oriënteer – identifiseer, benoem en beskryf die oorgangstyd
    Bv. ons vier vandag die oorgangstyd van ons jongmense wat hoërskool toe gaan of ons dink vandag aan mense wat die afgelope tyd verlies beleef het en wil hulle die geleentheid gee om met die volgende roetemerker hulle geloof te bely.
  • Identifiseer – Herinner die persoon wie hulle is (hulle is gedoop), aan Wie die persoon behoort (Jesus Christus) en wie om die persoon staan (jy is deel van ons geloofsfamilie wat jou ondersteun). Die persoon kan dit ook daarna bely.
  • Konfirmeer – Bevestig hier die belofte dat God saam met hulle op die lewensreis of in die oorgangstyd is.
  • Sakrament – verbind die roetemerker aan die doop of vier dit met die nagmaal.
  • Simbool – Gebruik ‘n ritueel en simbool om dit te vier bv. handoplegging, ‘n kers aansteek of gee ‘n simboliese geskenkie.
  • Seënbede

 

‘n Taal wat ‘n verskil maak

Op Valentynsdag was die wêreld vol daarvan – blomme, harte, sjokolade, rooi en wit klere, liedjies – simbole wat die “taal van die liefde” praat. Vir een dag het hierdie dinge hopelik ‘n klomp mense se lewens opgekikker! Dit laat my dink aan die storie van die mamma-muis.

‘n Mamma-muis was vreeslik lief vir haar baba-muisies. Sy wou hulle in dapper muise verander en daarom het sy hulle gereeld op staptogte geneem. Op een van hierdie staptogte het daar skielik ‘n kat uit ‘n bos gespring en voor die mamma-muis kom staan. Dadelik het die mamma-muis die eienaardigste geluid gemaak: “Woef! Woef!” Die kat het hom byna morsdood geskrik en met ‘n vreeslike gemiaau laat spaander. Die mamma-muis het rustig na haar kinders toe gedraai en gevra: “My kinders, wat het julle hieruit geleer?” Nie een van haar kinders het geweet wat om te antwoord nie. Toe antwoord die wyse mamma-muis: “Julle moet ‘n tweede taal ken.”

Ons as volgelinge van Jesus praat ook ‘n “tweede taal.” Ons loop anders, praat anders en doen anders… Maar ons “taal” maak ‘n blywende verskil! En ons kan dit bly praat, al is ons omstandighede ook hoe moeilik en vol uitdagings.

“Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.” Galasiërs 5:22-23

Met dank aan Brenda Visser, kinderwerker by Stellenberg Gemeente

AWESOME gesprekke in ‘n japtrap!

Die verandering van Sondagskoolonderwyser na fasiliteerder in 5 stappe

Jy het al gehoor dat die rol van die kategeet verander het. Toe jy grootgeword het, het die Sondagskooljuffrou of -meneer “klas” gegee deur die les aan te bied en dan vir die groep vrae te vra. Die regte antwoorde is dan in ‘n boekie met oop spasies ingevul. Vandag weet ons dat kinders en tieners nodig het om oor geloof te gesels en vrae te vra. Hulle het ‘n veilige ruimte nodig om self antwoorde te ontdek en toepassings te maak. ‘n Kategeet is dus nou eerder ‘n mede-reisgenoot wat fasiliteer as ‘n onderwyser wat ‘n les aanbied.

Hier is 5 wenke wat jou kan help om die oorgang te maak:

 1. Herdefinieer jou eie rol
Ek wil jou challenge om minder aan jouself as ‘n onderwyser-aanbieder te dink en meer as ‘n fasiliteerder. Die verskil is subtiel, maar belangrik. Aanbieders leer en gee antwoorde (selfs al is jy interaktief). Fasiliteerders gee bloot die riglyne van die gesprek en beïnvloed die groep indirek. Fasiliteerders vra oop vrae en luister goed. Dit is ‘n moeilike, maar belangrike kopskuif om te maak!

 2. Skep ‘n veilige ruimte vir gesprekke
Elkeen moet sy/haar gedagtes kan deel sonder die vrees om deur jou of die groeplede tereggewys of verneder te word. Moenie vrae vra met regte en verkeerde antwoorde nie. Vra vrae oor elkeen se waarneming, ervaring of vrae. Begin met die woorde “Ek wonder…”.  Moenie dat een persoon of groepie die gesprek domineer nie. Help die groep om na mekaar te luister, te eggo en elkeen ‘n kans te gee.

 3. Wees aanpasbaar
Bly by die onderwerp. Dit is egter belangriker dat daar lekker gesels word as om deur ‘n aantal vrae en antwoorde te ploeg. Die les is ‘n riglyn vir ‘n reis, nie ‘n marathon om te voltooi nie. Soms kan daar van die onderwerp afgewyk word as daar byvoorbeeld iets in die week gebeur het wat die groep ontstel het.

4. Gee geleentheid om op verskillende maniere gesprek te voer
Moenie elke keer net in die sirkel om gaan nie. Gebruik ’n speletjie, musiek of ‘n storie wat die onderwerp illustreer en wat na die tyd bespreek kan word. Deel hulle twee-twee op om te gesels. Gee hulle tyd om eers hul opinies of ervarings neer te skryf of te teken. Verdeel hulle in twee of meer groepe om elk verskillende karakters in ‘n Bybelverhaal se ervaring te bespreek. Laat hulle die verhaal opvoer of oorskryf in ‘n moderne konteks. Laat hulle die verhaal (of toepassing) in ‘n lied/gedig opvoer of as koerantberig of plakkaat oorskryf of teken. Nooi ‘n besoeker om sy/haar getuienis te deel. Verander die ruimte of volgorde van die ontmoeting. Gebruik hulpmiddels of simboliek.

5. Onthou, daar niks wat gesprekke so awesome maak soos wanneer die groep jou en mekaar begin vertrou nie
Vat elkeen een-een uit vir milkshake of besoek hulle en hul gesin by die huis. Reël ‘n spanbou soos ‘n braai, DVD-aand of ‘n kamp. Stel belang in elkeen se lewe. Woon hulle sport of aktiwiteite by. Vra uit oor hulle belangstellings en hou tred met hulle nuus of leefwêreld. Deel ook van jouself.

Hierdie klink eenvoudig, want dit is. Al wat dit kos is ‘n paar doelbewuste skuiwe van jou as leier. Geniet dit!

Met dank aan Brendt Blanks, http://youthministry360.com/contributors/#brendtblanks

Terwyl hulle so gesels en gedagtes wissel, het Jesus self nader gekom en met hulle saam geloop. Luk 24:15

Geskryf deur ds Anriëtte de Ridder (Predikant in Sinodale diens vir Jeug en Familiebediening van die Wes-Kaapland Sinode).

7 Maniere om ‘n Bybelstorie te versterk

Het jy al daardie magtelose gevoel ervaar, wanneer jy ‘n Bybelstorie begin vertel (wat jy alreeds tien duisend keer vertel het) en jou kategesegroep staar jou aan asof jy ‘n vreemde taal praat?

Dit is belangrik om na afloop van ‘n Bybelstorie of -les ‘n aktiwiteit te doen wat die verhaal en die boodskap hersien, vaslê en versterk. Op hierdie wyse word die groep deel van die verhaal en onthou hulle makliker feite, name en die kernboodskap van die les.

Hier is 7 maniere om jou te help:

  1. Rollespel: Verdeel die kinders in twee groepe, gee vir elke groep ‘n kans om ‘n gedeelte van die verhaal in die vorm van ‘n klein dramatjie voor te dra. Laat hulle dit vir mekaar opvoer. Jy kan ook handpoppe gebruik om die storie vir hulle uit te beeld.
  2. Maak ‘n plakkaat: Verdeel die kinders in klein groepies. Gee vir elke groep ‘n A2 karton plakkaat. Hulle moet nou ‘n plakkaat ontwerp wat die boodskap van die les op ‘n baie duidelike manier aan ander kan oordra.
  3. Vertel vir iemand anders: Deel die kinders in twee groepe. Gee vir elkeen geleentheid om voor te berei om die belangrikste lesse wat hulle uit die les geleer het vir iemand anders te vertel. Laat een kind uit elke groep teenoor mekaar sit en vir mekaar vertel wat hulle groep besluit het die belangrikste waarheid van die les is en hoekom.
  4. Moderne vertelling: Gebruik hedendaagse karakters bv. 7de Laan, Disney karakters of maak name op en vertel die Bybelverhaal in ‘n moderne konteks.
  5. Skryf ‘n liedjie/kletsrym: Verdeel die klas in 2 groepe. Laat hulle ‘n liedjie of kletsrym (“rap”) skryf wat die storie uitbeeld en vir mekaar opvoer.
  6. Onderhoude: Voer ‘n onderhoud met die karakters van die storie en laat hulle vertel wat daar gebeur het. So plaas die kinders hulself in daardie situasie. Vra na die tyd wat elkeen daaruit geleer het.
  7. Ware verhaal: Soek ‘n eietydse storie van iemand wat die waarhede van die Bybelverhaal illustreer.

 

Met erkenning aan www.max7.org. Saamgestel deur Marinette Cilliers.

 

Die lang pad is die beter pad

Ons weet wat ons wil hê, maar is nie altyd bereid om te doen wat nodig is om dit te bereik nie. Dan kies ons soms kortpaaie, wat natuurlik nie altyd die beste paaie is nie. C.J. Langenhoven het gesê: “As die kortpad die beste was sou die hoofpad daar geloop het.”

Hierdie beginsel geld ook vir sukses, fiksheid, skoonheid, eksamens, geldmaak, vriendskap, ons huwelik, troeteldiere… ja, amper enige iets. Ook beslis vir die jeugbediening.

Ons wil graag gelowige volwasse jongmense hê wat oral en altyd ………………  (vul self die gaping in: byvoorbeeld stil sit/stilbly in die kerk, luister as ons praat, vriendelik is, dankbaarheid toon, weekliks opdaag, aktief deelneem aan gesprekke, sinvolle vrae vra, goeie besluite neem, opbouende verhoudings hê, die nagmaal /belydenisaflegging respekteer, uitreike en kampe bywoon, hul geloof uitleef, ens.)

Maar wat is die koste vir ons (goeie) wense? En is ons bereid om die lang pad met die jongmense te loop om daar uit te kom?

Kortpaaie ken ons almal – gee ‘n prekie om ‘n kind/tiener te laat skuldig voel, raas/baklei/pleit vir goeie gedrag, skinder oor ‘n kind/tiener se foute/wangedrag, blameer ouers, vind fout in die kategesesisteem, of die ergste: gee op.

Die lang pad van dissipelskap en verhoudingsbou se koste is hoog – dit vra tyd, en wysheid, en gebed, en toewyding, en vergifnis en weer probeer, en ‘n voorbeeld wees, en omgee, en opbou, en onvoorwaardelik liefhê en geduld, geduld en nogmaals geduld. Die dissipels het drie jaar saam met Jesus geleef en steeds eer gesoek, aan die slaap geraak, geweld gebruik, misverstaan, verraai, verloën en getwyfel. Jesus het egter die lang pad van die liefde gekies.

  • Hoe kan jy hierdie week die lang pad van die liefde kies?

 

Die liefde is geduldig. Die liefde is vriendelik. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.

1 Kor 13: 4a en 7

Anriëtte de Ridder (Predikant in Sinodale diens vir Jeug en Familiebediening van die Wes-Kaapland Sinode).

 

 

Wat moet ons met ‘n kategesegroep uitreik onthou?

Praktiese wenke om uitreik ‘n sinvolle belewenis te maak

Praktiese uitlewing van diensbaarheid is een van die kragtigste maniere om geloof by jongmense te vorm. Dit is ook ‘n opdrag van Jesus om ‘n verskil te maak. Maar waar begin jy nadat jy besluit het om saam met jou kategesegroep uit te reik of om ‘n diensprojek saam aan te pak?

Voorbereiding

  • Begin deur saam te bid en vra dat God Drie-Enig teenwoordig sal wees. Laat die Heilige Gees julle lei wanneer julle na die gemeenskap uitreik.
  • Soek ‘n diensorganisasie of bestaande projek wat jul kan besoek of ondersteun.
  • Maak kontak met ‘n gemeente in die gemeenskap wat jul wil besoek asook die plaaslike owerhede, maatskaplike werker en gemeenskapsleiers.
  • Verstaan God se hart en plan vir die uitreik of diensprojek.
  • Maak tyd om die behoeftes en die konteks te verstaan waarheen julle gaan.
  • Moenie net goed uitdeel of ‘n program aanbied nie. Doen eers julle huiswerk om uit te vind wat reeds gebeur en hoe julle van hulp kan wees.
  • Tree met respek op teenoor alle mense en ander kerke en organisasies.
  • Indien jul na mense van ‘n ander kultuur, taal of godsdiens gaan, doen deeglik navorsing en gesels met mense wat dit reeds gedoen het.
  • Netwerk en werk saam met bestaande diensorganisasies, NPO’s of gemeentes in die omgewing.
  • Wees passievol en diensgerig.
  • Wees voorbereid en toegerus.
  • Rig ouers in van al die reëlings en kry toestemming vir minderjariges om saam te gaan. Nooi hulle uit om betrokke te wees deur self saam te gaan of om met voorbereidings of gebed behulpsaam te wees.
  • Onthou om na die tyd te reflekteer oor elkeen se ervaring en hoe dit sy/haar geloof gevorm het.

Praktiese wenke tydens die uitreik

  • Moenie uitlokkend wees of aandag probeer trek ten opsigte van kleredrag, taalgebruik of optredes nie. Respekteer die plaaslike kultuur en gebruike. Trek eenvoudig aan en los selfone, kameras, juwele ens. eerder tuis.
  • Moenie die idee gee dat jy mense bejammer of meerderwaardig is nie. Sien elke mens se waarde raak en stel opreg belang in hulle.
  • Pasop vir te veel fisiese kontak. Wees bewus en praat vooraf oor wat aanvaarbaar is en wat nie.
  • Moenie fokus op eie belang of lui, afbrekend en ongedissiplineerd optree nie. Praat in die groep oor wat dit behels.
  • Moenie enige rassistiese of neerhalende opmerkings maak nie.
  • Moenie beloftes maak nie.
  • Moenie sekere mense of kinders voortrek nie.
  • Moenie alleen of op afgeleë plekke met kinders werk nie. Werk in klein groepies en wees altyd sigbaar.
  • Wees ferm en ken jou grense. Moenie dat enige persoon jou onder druk plaas of ongemaklik laat voel nie.
  • Luister na mense se stories, leer ken hulle name en probeer om jou in hulle skoene te plaas.
  • Onderskei waar God reeds aan die werk is en wys dit vir mense uit.
  • Help mense met dit waarmee hulle reeds besig is, sodat julle hulle inisiatiewe versterk eerder as om jul eie projekte aan te pak wat nie volhoubaar is nie.
  • Verwys situasies of persone wat hulp benodig na die regte plekke.
  • Wees bewus daarvan dat dit ontwrigtend is om grense oor te steek. Praat daaroor sodat dit ‘n geleentheid van groei kan wees.

Onthou: tydens ‘n uitreik moet God ALTYD verheerlik word en mense se waarde bevestig word deur dit wat jul sê, doen en julle gesindheid. Op dié wyse word die evangelie van hoop gedeel. Om pret te hê en vriendelik te wees steek grense oor en só word vriendskappe gebou en vertroue gevestig.

 

Geskryf deur ds Anriëtte de Ridder (Predikant in Sinodale diens vir Jeug en Familiebediening van die Wes-Kaapland Sinode).