kategete

Waarna soek jongmense in hul leiers?

Die Barna Instituut* het navorsing gedoen wat aandui dat studente wat aan-die-brand Christene is, ‘n paar dinge in gemeen het. Die belangrikste faktor is dat hulle lewens almal geraak is deur 3-5 volwassenes wat ‘n lewende verhouding met Jesus het. Volwassenes (leiers) se invloed in jongmense se lewens is dus kardinaal in hulle besluit om later (as volwassenes) betrokke en lewendige gelowiges te word.

Ons doel by die kategese is om geloof by kinders en jongmense te vorm wat eendag ook deel sal vorm van hulle identiteit, oortuigings en lewenswyse as volwassenes. Daarom is jy so belangrik!

Volgens die navorsing soek jongmense (en kinders) leiers wat:

  • besig is om geestelik in ‘n lewende verhouding met Jesus te groei;
  • geïnteresseerd is in hul lewens deur die inisiatief te neem om na hulle wêreld toe te gaan – deur goeie tyd met hulle te spandeer, opbouende woorde te gebruik, te glo in hulle en vir hulle te bid;
  • eg is, geduldig is en konsekwent is in hul woorde, lewe en bediening;
  • lekker kan lag (ook vir hulself), hulle eie persoonlike ervarings deel en die lewe geniet!

Dankie vir jou leierskap en die manier waarop jy moeite maak en omgee vir kinders en jongmense. Dit is vir hulle goud werd en die vrugte daarvan sal nog lank in die toekoms gesien kan word! Ons eer jou toewyding en moeite – van die kleinste gebaar van liefde en omgee tot die groot opofferings wat jy maak in jou dienswerk as leier by die jeugbediening.

Wees jy vir die gelowiges ‘n voorbeeld in woord en gedrag, in liefde, geloof en reinheid. 1 Tim 4:12b

Geskryf deur ds Anriëtte de Ridder (Predikant in Sinodale diens vir Jeug en Familiebediening van die Wes-Kaapland Sinode).

*Besoek gerus die Barna Instituut se webwerf vir meer inligting oor hulle navorsing by www.barna.com

Is kleiner kategese groepe dalk beter?

Party gemeentes het min kinders, hoe nou gemaak? Een oplossing wat soms voorgestel word, is dat ‘n mens dan minder moet bymekaarkom (bv. elke tweede week), maar dit het gewoonlik die teenoorgestelde uitwerking en die getalle raak dan nóg yler. Sommige gemeentes gooi groepies weekliks lukraak bymekaar (afhangende van watter kategeet opdaag) sodat daar darem ‘n groot groep is om voor kategese aan te bied, maar dan is daar weer min verhoudingsbou wat plaasvind.

Daar is egter waarde aan klein groepies wat nie misgekyk moet word nie. Ek was self in ‘n kategesegroep van 4: ek, 2 seuns en my pa wat ons kategeet was. Dit was nie aldag lekker nie (veral nie as die 2 seuns nie opgedaag het nie), maar dit was beslis dieper en van meer betekenis as baie ander mense se Sondagskool ervarings. Daar is nooit vir my “klas” gegee nie, ons het altyd ontspanne gesels en was vry om vrae te vra. Dit was wel lekker om soms saam met die ander groepe aktiwiteite te doen, soos om waatlemoenfees, konsert of speletjiesaande te hou. Maar die waarde van ‘n klein kategese groepie sal my altyd bybly.

Hier is 4 dinge wat kleiner groepe beter maak:

(more…)

Geloofsontwikkeling: Junior- en Middelfase

Hoe kan jy meer sinvol betrokke wees by die geloofsgroei van kinders in die junior- en middelfase? Hierdie 9 groeikante kan jou help!

Die Junior- en Middelfase begin sigbaar word tussen die ouderdom van 5 en 7 en duur gewoonlik tot in die vroeë adolessensiejare van 11 tot 13.

Saamgestel deur Bybel-Media.

Kry dit hier: Groeikante-Junior-en-Middelfase

Materiaal vir Kategete opleiding

Op die 24ste Oktober het Ringsverteenwoordigers van regoor die Wes-Kaap bymekaar gekom en gesels oor kategete opleiding. Hier is die materiaal en hulpbronne wat hulle ontvang het, dalk is daar iets wat jy in jou gemeente kan gebruik? Jy word ook aangemoedig om jou ring se jeugverteenwoordiger te kontak om in meer diepte oor hierdie materiaal en ander hulpbronne te gesels.

(more…)

Hoe kan jy jou groep inrig vir alle spiritualiteite?

Mense verskil in die manier waarop hulle vir God ervaar en aanbid. Een manier om dit te verduidelik is aan die hand van die 4 spiritualiteit tipes. Vir elkeen van die 4 tipes is daar ‘n simbool en kleur toegeken, naamlik:  

  1. kop (hulle ervaar God deur hulle intelek, rede en geloofoortuigings) (blou);
  2. hart (hulle ervaar God deur hulle emoties, warmte en persoonlike verhoudings) (rooi);
  3. hand (hulle ervaar God deur aksie te neem, hulle toewyding en diens) (groen);
  4. en vlam (hulle ervaar God deur die mistieke, die natuur, stilte en ontsag) (geel).

Hoe maak ‘n mens ruimte in ‘n kleingroep of kategese groep vir al 4 tipes spiritualiteite?

 

 

 

 

(more…)

Wat is die 4 spiritualiteit tipes?

Mense beleef God op verskillende maniere. Party mense beleef God deur iets nuut van God te verstaan of te lees. Ander beleef God deur musiek en emosies. Sommige verkies dit om iets prakties met hulle hande te doen en God só te beleef. Nog ander verkies om stil te word en God te aanbid.

(more…)

Toegerus vir die Toekoms

Die wêreld verander so vinnig en soms voel ‘n mens oorweldig deur al die uitdagings wanneer jy kinders begelei.

Die Kix-Konferensie Toegerus vir die Toekoms is ‘n ideale geleentheid vir jou en ander Kix-leiers, kategete, jeugleiers, ouers, jeugwerkers en predikante om oor die geleenthede van die toekoms na te dink. Kom luister na relevante sprekers, woon praktiese werkswinkels by, ontdek nuwe hulpbronne en netwerk met ander kinderbedieningsleiers.

Hierdie geleentheid vind op 11 en 12 September by die NG Gemeente Kuilsrivier-Suid plaas.  Vir verdere inligting kontak jeug@sun.ac.za of kry jou inskrywing en die program hier.

Werwing van Vrywilligers

Mark de Vries skryf in sy boek, Sustainable Youth Ministry[i], dat die werwing van vrywilligers een van die goed is wat leiers van enige bediening die meeste op ’n lukrake manier hanteer. Die meeste van ons plaas heel aan die begin of einde van die jaar ’n “vakature” advertensie in die gemeente se bulletin. Ons hoop om al die vakatures vir vrywilligers te vul, maar gewoonlik kry ons een of twee (soms meer, soms minder) aanmeldings op hierdie manier. Die volgende stap in die proses is gewoonlik om een of twee keer “voor in die kerk” te gaan staan en vertel hoe lekker die bediening is en dat ons mense nodig het, hoewel ek reken dat meeste mense argumenteer – as dit so lekker is, hoekom het julle mense nodig? Ek het al die desperate tegniek ook gehoor, dat op die dag van kategese indelings, die dominee voor die ouderdomsgroep en hulle ouers gaan staan en sê, “Daar is niemand wat vir Sondagskool vir julle kinders kan help nie. Julle kinders kan maar huis toe gaan.” Dan, met wrewel en/of geweldige skuldgevoel steek ’n ouer of wat hul hand op sodat hul bloedjies darem net iemand het.

De Vries skryf dat die effektiefste manier om vrywilligers vir jeugbediening te werf (asook verskeie ander bedieninge) is om individue te nader. In die geval van jeugbediening is dit, om lank voor die einde van die jaar of die bestaande groepleiers of betrokke ouers, eerstens te pols oor hul eie beskikbaarheid. Dis gewoonlik mense wat vanuit ’n roepingsbesef en/of verantwoordelikheidsbesef by die bediening betrokke is. Hulle het dus reeds op ’n manier by die bediening ingekoop. Om vroegtydig met hulle ’n doelbewuste gesprek te hê, kommunikeer in die eerste plek dat hulle werk en bydrae belangrik is en dat hulle “raakgesien” word.

Wanneer hierdie mense nie kan of wil aangaan nie, is dit belangrik om uit te vind hoekom nie. Soms is dit omdat hulle kapasiteit, kennis en vaardighede vir die bediening nie voldoende is nie. Dit beteken dat die leier van die bediening meer aandag aan versorging, mentorskap en opleiding moet gee. Wanneer een vrywilliger so voel, is daar gewoonlik ’n paar ander wat ook so voel. Wanneer die bedieningsleier hieraan aandag gee, sal so vrywilliger dalk waarskynlik kans sien om voort te gaan. Dit gebeur egter dat vrywilligers se werk of persoonlike omstandighede verander wat die eis vir hulle te hoog maak.

Wanneer ’n vrywilliger uittree of ’n ouer nie kans sien om meer gereeld betrokke te raak nie, vra vir ’n naam en kontaknommer van iemand anders wat hulle ken. Vra sommer ook die vrywilliger/ ouer om solank vooraf die kontak te waarsku, voordat jy nog kan bel.

De Vries gee ook die baie praktiese raad dat jy vir werwing-oproepe ’n “calling script” opstel. Dis ’n paar notas wat jy voor jou hou wat jou sal help om so duidelik as moontlik te kommunikeer en die persoon duidelik te laat verstaan wat dit is wat jy wil verwag. Volg die oproep op met ’n e-pos (nie ’n e-pos eerste nie!) en selfs ’n koffie afspraak.

Dit impliseer dat jy ’n duidelike taak omskrywing vir die vrywilliger ook moet kan gee. Dis letterlik ’n lysie van verwagtinge om die eis van die werk duidelik te maak. Dis so eenvoudig soos ’n “bullet point” lysie. My standaard taak omskrywing is soos volg:

Ons het (spesifiseer totale getal vrywilligers) mense nodig wat as dissipels van Jesus doelbewuste dinge weekliks saam met ‘n spesifieke groepie kinders sal doen. Ons verwag die volgende van ‘n fasiliteerder:

  • Om ’n lidmaat van X Gemeente te wees, die visie na te streef en aan die eredienste van die gemeente deel te neem
  • Om weekliks die gemeente se eredienste by te woon
  • Om die kinders te help om gefokus saam te gesels rondom die tema van die week
  • Om die name van die kinders in jou groepie te leer ken
  • Om ongeveer 30 minute per week af te staan om die kinders in jou groepie buite die kleingroepie beter te leer ken (bv. skool geleenthede by te woon, te bel of WhatsApp/SMS, gelukwensing met verjaardag, ens.)
  • Om bewus te wees van belangrike gebeure in die lewens van die kinders in jou groepie
  • Om een maal per kwartaal saam met die ander fasiliteerders te vergader ter wille van bemoediging, evaluering van die program, opleiding en gesamentlike gebed
  • Om saam te dink oor maniere om tot diens te wees van die kinders wat nie sterk verbind is aan die gemeente nie.

Die lysie kan ’n paar ander goed hê wat kontekstueel tot jou gemeente is, bv. indien julle gereeld kamp of uitreik of diensprojekte in die gemeente het, sodat die vrywilliger duidelik sal weet wat verwag word. Die kort en die lank is dat ’n vrywilliger so duidelik as moontlik prentjie moet hê van wat die bediening behels.

Moenie die advertensie in die bulletin vergeet nie, maar persoonlike kontak en doelbewuste, gefokusde werwing gaan die bediening in die langtermyn baat, wat energie en standhoudendheid betref.

 

[i] DeVries, M. (2008) Sustainable Youth Ministry. Why Most Youth Ministry Doesn’t Last and What Your Church Can Do About It. IVP.