Kinderoomblik

Biddag vir Jeug en Kategese (Handelinge 2:1-18 Jesus het alle kulture en tale lief)

Biddag vir Jeug en Kategese

Preekriglyn en kinderoomblik

 

Tema:             Jesus het alle kinders van alle kulture en tale lief!

 

Teks:              Handelinge 2: 1-18 (fokus teks vers 4)

 

Liedere:          God hou van kindertjies (Soekie en die Radikids)

Weet jy nie jy’s ‘n tempel (Jan de Wet en die Loflaaities)

Ek is ‘n huis (Soekie en die Radikids))

Die Gees Laat ons bely (Laat U Ryk Kom) F579

Hoor jy die volke F469

Hier is U kerk F387

Skepper Gees F58

 

Inleiding:       Ons het onlangs (vier vandag) Pinkster gevier asook die geboorte van die kerk  – ‘n tuiste vir alle volke, tale, kulture, geslagte en ouderdomme.

Draai na mekaar en gesels met mekaar oor die vraag –

Wat het Pinkster gebeur? Herinner mekaar aan die storie van die uitstorting van die Gees en die geboorte van die kerk.

Ritueel:           Vandag is dit die Biddag vir Jeug en Kategese in die kerk.

Kom ons steek ‘n kers aan as simbool van die Gees se teenwoordigheid by alle mense, ook ons kinders en tieners.  (reël vooraf dat ‘n kind dit kom aansteek)

Seën:               Kom ons groet en seën mekaar met die woorde: (almal neem deel hieraan, ook die kinders)

Die Gees woon binne in jou

Die Gees werk deur jou

Die Gees is altyd by jou

 

Die Gees gee jou krag

Die Gees gee jou woorde

Die Gees gee jou wysheid

 

Die Gees is ALTYD by jou!

Amen

 

Kinderoomblik:

Raai hoeveel verskillende tale daar in die wêreld is? (6500) Hoeveel tale kan hierdie gemeente praat (kry terugvoer van die erediensgangers).

Kom ons hoor hoe klink dit om iemand anders te groet in verskillende tale: (laat almal telkens eers raai watter taal dit is, daarna kan hulle mekaar groet deur die woorde te herhaal).

Hallo!              (Afrikaans)

Dumelang       (Sotho)

Bonjour!          (Frans)

Marhaban       (Arabies)

Hola!               (Spaans)

Molweni!        (isiXhosa)

Guten Tag       (Duits)

Ciao                 (Italiaans)

Hoe sê ‘n mens God is lief vir jou in al hierdie tale?

God is lief vir jou         (Afrikaans)

Al Rabb yu-hebbuk      (Arabies)

Dios te ama                (Spaans)

Modimo ea urata        (Sotho)

Gott liebt dich             (Duits)

Uthixo uyakuthanda    (isiXhosa)

Dio ti ama                   (Italiaans)

Dieu t’aime                 (Frans)

 

Videogreep:               https://www.youtube.com/watch?v=UXskDOjEnDQ

 

Preek punte: (Handelinge 2: 1-18)

  1. Die Gees onderskei nie– Hy kom woon en werk deur mans en vroue, bejaardes en kinders, leiers en dienaars, belangrik en onbelangrik; mense van alle tale en culture. God het jou lief en kies om deur jou te werk.
  2. God praat ons taal– Hy besluit om die goeie nuus verstaanbaar te maak, Hy kom na ons omstandighede en konteks. God kies om ons te ontmoet in die chaos van tale, kulture, gebruike en gewoontes. Dit is goeie nuus sowaar!
  3. Die Gees gee vir ons ander tale om te praat(letterlik en figuurlik). Hy help ons om met mense van ander kulture die goeie nuus te deel. Hy help ons ook om na ander uit te reik, brûe te bou, na ander te luister, ander te dien, te versorg, te vergewe en te bemoedig.
  4. Die Gees help ons om te getuig. Die Gees het die eerste gelowiges (oud en jonk) gehelp om met ander volke en tale te gesels. Net so word ons geroep en toegerus om die goeie nuus met ander te deel en hulle te dien.

 

Gespreksvrae vir gesinne:

  • Watter kulture of groepe is in jou skool en dorp verteenwoordig?
  • Hoeveel maatjies het jy wat ook ‘n ander taal praat?
  • Kan jy dink aan iemand wat jy ken wat heeltemal anders is as jy? Wat het jy en daardie persoon in gemeen? (dink aan ‘n paar dinge)
  • Op watter verskillende maniere kan jy vir iemand sê/wys God het hulle lief?

 

Gebed idees:

  • Bid vir die kinders van Suid-Afrika wat 11 en meer tale praat. Deel vooraf papiertjies uit met die 11 landstale uit (voeg dalk Gebaretaal by):

Engels

Afrikaans

Zoeloe

Xhosa

Noord-Sotho

Suid-Sotho

Tswana

Venda

Tsonga

Ndebele

SiSwati

 

  • Bid vir mense wat kinders moet beskerm, leer, help, genees en liefhê soos onderwysers, skoolhoofde, ouers, grootouers, maatskaplike werkers, jeugwerkers, die regering, mediese personeel, ens.
  • Bid vir ruimtes waar kinders van julle gemeenskap die goeie nuus kan hoor soos huise, gemeentes, kategese, Kix groepe, uitreik projekte, #imagine kidz, koshuise ens.

 

Gebede wat kinders kan voorlees:

Here, dankie vir my vriend. Dankie dat ons nie dieselfde is nie. Dankie dat ons bymekaar kan leer oor ons elkeen se taal en kultuur. Dankie dat ons vir mekaar kan vertrou en saam kan lag. Help my om ‘n goeie vriend te wees. Amen

Here, dankie vir die tannie wat vir ons Bybelstories vertel. Dankie dat sy lief is vir Jesus. Dankie dat sy elke week vir ons wag met ‘n glimlag. Dankie dat ek vir haar moeilike vrae kan vra. Dankie dat sy my verjaarsdag onthou en my bel as ek siek is. Help haar om vir baie kinders God se liefde te gee. Amen

Here, dankie vir my skool waar ek elke dag nuwe dinge kan leer. Dankie dat ons elkeen talente het wat Jesus vir ons gegee het.  Dankie vir pouse tyd waar ons kan speel. Dankie vir sport, musiek en kuns. Dankie vir my juffrouens en menere wat my feite leer oor baie dinge en my wiskunde somme laat doen. Help hulle om vriendelik en geduldig te wees. Amen

 

________________________________________

Kinderoomblik: Dinge wat ons vashou

Dinge wat ons Vashou

Teks: Markus 1:21-28

Kry ‘n vrywilliger uit die kinders.

Bind hulle arms vas aan hulle lyf met sagte toue/bande. Vra hulle om ‘n omgedopte glasie van die grond af op te tel en neer te sit op ‘n tafel met die balletjie wat daaronder lê binne-in.

Maak die kind nou los en vra hulle om dieselfde te doen met ‘n tweede glasie en balletjie.

Vra watter keer makliker was.  Hoekom?  Wat het jy nodig gehad om dit te kan doen?  Het jy dit dan nie?

Ons het almal dinge in ons lewens wat ons vashou soos wat hierdie toue hulle arms vasgehou het. Ons is geskape deur God om te lewe as sy kinders, maar daar’s dinge wat ons vashou en ons keer om so te kan lewe. Net Jesus het die mag en die gesag om ons te bevry van al hierdie dinge wat ons vashou en ons keer om te leef as Christene in die wêreld.

Kinderoomblik: God is groter as wat ons kan sien (Numeri 13)

God is groter as wat ons kan sien

Teks: Numeri 13:1-14:24

Wat sien julle in hierdie prentjie?kinderoomblik1

Daar is drie verskillende dinge wat mens kan sien wanneer jy na hierdie prent kyk, maar is dit steeds dieselfde prent?  Ja!  Ons kyk almal na dieselfde prent, maar ek sien ‘n bejaarde oom en tannie, jy sien twee Meksikaanse kitaarspelers, en iemand anders sien ‘n blompot.

Dit was presies wat gebeur het met die 12 verkenners in ons storie vandag. Daar was 12 verkenners – een uit elke stam van Israel – en hulle het almal saam die hele land Kanaän gaan verken soos wat die Here hulle opdrag gegee het deur sy boodskapper Moses, maar hulle almal het nie dieselfde storie aan die volk vertel nie.

Al die verkenners het teruggekom met lieflike vrugte en het vertel hoe wonderlik en vrugbaar hierdie land is, maar 10 van hierdie verkenners het gesê dat dit nie regtig saak maak nie, want die mense wat daar woon is reuse en hulle is sterk.  Hulle het vir die volk gesê dat hulle eerder hierdie hele ding maar moet los, omdat hulle bang was vir die reuse in hierdie land…  Maar 2 van die verkenners het nie so oor die saak gevoel nie.  Kaleb het opgestaan en vir die volk gesê: “Ons moet beslis optrek en die land in besit neem, want ons kán dit doen.”