kinders

Hoe help jy kinders en tieners om van die wêreld ’n beter plek te maak?

1.    Ondersteun en bemoedig

Skep geleenthede waar kinders bv. kan uitreik na die personeel van publieke dienste (soos die brandweer, polisie, hospitale).

2.   Bewus maak

Help kinders om plakkate te maak met wenke hoe om water te bespaar of bemagtig tieners om ’n herwinnings- of dierebeskermingsprojek te dryf.

3.   Insameling

Stel jou jeug in staat om klere en skoene vir ’n bepaalde uitreik in te samel of help hulle om geld in te samel vir ’n instansie wat besig is met natuurbewaring.

4.   Hulp

Skep geleenthede waar ouer jongmense jonger kinders help met huiswerk of speletjies aanbied by die nasorg of ’n les aanbied by ’n kinderhuis

5.   Aktiveer / Protes

Moedig kinders aan om pienk of rooi strikkies te dra op spesiale dae of om die ‘Thursdays in black’ beweging te steun deur op Donderdae te protesteer teen die geweld in die wêreld.  Reël ’n protesoptog deur die strate teen bv. die dwelmkultuur.

6.   Skoonmaak / Opruim

Reël ’n werksdag by die plaaslike creche of polisiekantoor of reël dat hulle die vullis langs die rivier of in die park optel.

7.   Uitdeel

Organiseer ’n geleentheid waar jou jeug die kos uitdeel by ’n sopkombuis of deel kerspakkies uit onder behoeftiges

8.   Ander?

Het jy dalk ander idees – iets wat julle dalk doen wat werk?  Deel dit gerus en stuur dit sommer saam met ’n paar foto’s aan ons!

Onsigbare magte in ’n kleingroep: Leerstyle

Wanneer ’n kleingroepleier met kinders werk in ’n kleingroep situasie is daar ’n paar onsigbare magte, buiten die Heilige Gees, aan die werk. Dit is, magte wat, sonder aandag, maklik bose magte kan word, maar met die regte aandag lewenskrag in jongmense se geloofsvorming kan wees. Hierdie magte is leerstyle.

Elke mens het ’n voorkeur vir ’n kombinasie van leerstyle. Dit is die manier waarop die mens die maklikste inligting, kennis en vaardighede aanleer en vaslê. Daar is baie variasies op die tema waarvan Peter Honey[1] se beskrywings soos volg is:

Activists” is hoofsaaklik doeners. Hulle leer deur

  • Nuwe leer-ervarings, aktiwiteite en geleenthede
  • Kort hier-en-nou aktiwiteite soos speletjies, kompeterende take en rolspel
  • Aktiwiteite waar hulle aandag kry en in die kollig kan wees.
  • As hulle in die diepkant ingegooi word met ’n uitdagende aktiwiteit

Jongmense met hierdie leerstyl floreer wanneer daar gereeld iets nuut gebeur en hulle is oop vir nuwe ervarings. Hulle sukkel egter met die volgende:

  • Hulle is geneig om nie sommer oor meer as logiese voor die hand liggende oplossings of antwoorde te dink nie.
  • Hulle het die geneigdheid om te veel self te probeer doen
  • Hulle pak take gejaagd aan sonder om mooi te beplan
  • Raak maklik verveeld.

Reflectors” reflekteer graag oor inligting. Hulle leer die maklikste wanneer hulle

  • Iets moet ondersoek of oordink
  • kans kry om oor ’n saak te dink voordat hulle moet reageer
  • kans kry om te reflekteer oor wat hulle gesien of geleer het.
  • Tyd het om tot ’n gevolgtrekking te kom
  • Kan terugstaan om te observeer
  • Inligting kan versamel en integreer om tot ’n nuwe gevolgtrekking te kom.

Jongmense wat op hierdie manier leer vat gewoonlik bietjie langer omdat hulle op ’n metodiese manier inligting versamel en organiseer, voordat hulle gevolgtrekkings maak. Die uitdaging met jongmense met hierdie leerstyl is dat:

  • Dit lyk of hulle nie belangstel nie en passief is
  • Hulle kan lank vat om besluite te neem en tot ’n gevolgtrekking te kom
  • Hulle nie sommer deelneem aan groepgesprekke nie.

“Theorists” wil gevolgtrekkinge en uitkomste bepaal. Hulle leer die lekkerste wanneer:

  • inligting metodies kan oordink en gevolgtrekkings en verbande met sake kan trek.
  • In gestruktureerde omgewings met ’n duidelike uitkoms.
  • Wanneer hulle die kans kry om basiese metodes en motiverings agter sake kan bevraagteken en ondersoek.
  • Hulle intellektueel uitgedaag kan word.
  • Waar rasionele en objektiewe denke verwelkom word.
  • Hulle teenstrydighede kan saamgooi in ’n verstaanbare geheel

Jongmense wat op hierdie manier leer funksioneer goed in ’n omgewing waar ’n model of metode hulle kan help om ’n spesifieke uitkoms te bereik. Hulle is oor die algemeen baie gedissiplineerd, maar hulle sukkel wanneer:

  • Hulle buite die boks moet dink nie
  • Die uitkoms of proses onseker of deurmekaar is
  • Subjektiewe menings en perspektiewe – waar daar nie ’n definitiewe duidelike antwoord is nie
  • Vol moets en moenies

“Pragmatists” werk prakties volgens planne en tegnieke en hulle leer die maklikste  in omstandighede waar

  • Daar ’n duidelike verband tussen die inligting en ’n probleem of kwessie is.
  • Hulle tegnieke kan aanleer wat ’n duidelike toepassing vir hul leefwêreld het.
  • Hulle nuwe metodes en tegnieke kan inoefen met positiewe terugvoer.
  • Hulle kan fokus op praktiese aspekte
  • Teorie en informasie in praktiese situasies toegepas word
  • Hulle kan eksperimenteer met verskillende benaderinge

Hierdie jongmense is op die man af en duidelik en wil by die punt uitkom sodat hulle kan weet wat om te doen. Dit raak dus vir hulle moeilik om te leer wanneer:

  • Daar nie ’n duidelike praktiese toepassing is nie
  • Baie klem op teorie en basiese beginsels is
  • Hulle reeds ’n oplossing het

Wanneer ’n jongmens in ’n kleingroep situasie nie met een van sy dominante leerstyle gestimuleer word nie, raak hulle gewoonlik of heeltemal passief en onttrek of hulle raak ontwrigtend. Omdat ons nie altyd bewus is van jongmense se leerstyle nie interpreteer ons die gedrag slegs as ’n dissipline probleem.

Kleingroepleiers is geneig om self die kleingroep in te rig volgens hulle eie dominante leerstyl. Die ding wat dan ingedagte gehou moet word wanneer jongmense ontwrigtend is of nie deelneem nie, is of die jongmense dalk verveeld is omdat hulle nie in hul leerstyl akkommodeer word nie.

[1] How To Become A More Effective Learner

Berei jou kinders voor vir die nagmaal

Die Nagmaal versterk nie net ons geloof nie, dit leer en vorm ons ook. Elke kind kan aanvoel dat die Nagmaal spesiaal is en met respek behandel moet word, maar soms sukkel ons almal om te verstaan hoekom ons nou juis die Nagmaal vier. Somerstrand Gemeente gebruik hierdie boekie die week voor hulle nagmaal vier om as gesin saam te gesels oor wat nagmaal beteken en hoe ons dit vier. Laai hulle boekie hier af en gebruik dit gerus vir inspirasie.

Laai die boekie hier af: Nagmaal Kinders

Kinders hou ‘n tee vir bejaardes

Liezl Williams, kinderwerker by Wellington Moederkerk, vertel wat gebeur het einde 2016 in hul gemeente:

Ons Kinderkerk het besluit om ‘n spesiale oggend saam met die ouetehuis & bejaarde instansies van ons dorp te reel.

Die saamkuier van oud en jonk was belangrik, die neem van verantwoordelikheid en uitreik na mense wat dit nodig het.

Daar is plakkate gemaak en ons het van ons Kinderkerk meisies gebruik as gasvrouens vir ‘n tafel van 10. Hulle moes die tafel self dek en mooi maak en sorg dat die oumas en oupas gemaklik is en tee en ‘n eetdingetjie het. Hulle het hul rol omtrent ernstig opgeneem . Dit was te dierbaar om te sien hoe smeer hul skons vir die ou mensies!

Ons het uit die gemeente gevra vir donasies vir die bak van skons en dit het weer gelei daarna dat ons die gemeente betrek het.

Kinders het gesing en gediggies wat hul self gekies het, voorgedra tydens die oggend

Dit was ‘n lieflike samekoms vir oud en jonk. Die kinders het dit vreeslik geniet om gasvrouens te wees en hulle het die mammas letterlik weggejaag omdat hul dit self wil doen. Vir die bejaarde persone was dit net so lekker om drukkies te kry. Ons het besluit dat dit beslis ‘n jaarlikse instelling op ons kalender sal word.

 

Dinkjeug skryf: Hierdie is ‘n wonderlike en praktiese idee om verskillende generasies bymekaar uit te bring. Dit is ook ‘n goeie idee vir ‘n diensgeleentheid vir die laerskool kategese, of vir ‘n lentedag geleentheid of vir ‘n jaarafsluiting.

Kix – gratis kinderbediening lesse

Gratis kinder lesse
Benodig jy praktiese lesse vir jou kinderbediening of uitreikprogram?
Kix bied volledige lesplanne en uitdeelstukke gratis aan op hul webwerf www.kixkinders.co.za.
Gaan na die hofie aan die bokant van die tuisblad “laai materiaal af” om toepaslike ontmoetings uit die argief af te laai. Geskik vir laerskool kinders. #DinkJeug

kindermoment – Oupa Abie video clips

Kindermoment – Oupa Abie video clips
Nuttige skakel met ‘n weeklikse poppekas episode:

www.facebook.com/AbieOupa

“Oupa Abie” se facebook blad bied elke week ‘n gratis 4-5 min poppekas video om te gebruik in eredienste of kategese. Die pop “Oupa Abie” gesels gewoonlik met een van sy kleinkinders oor die leesrooster teks van daardie week. Handig om te gebruik as ‘n kinderoomblik of as ‘n huisgeloof hulpmiddel om deur gesinne tuis te kyk en te bespreek. LW al is hierdie ‘n poppekas is dit gerig op die vlak van ‘n Graad 5-7 laerskool kind. Daar is ook gespreksvrae onder aan die youtube skakel.
In hierdie episode gesels Oupa Abie met Carlo oor God, Jesus en die Heilige Gees (1 Korintiërs 13: 11-13)

Kinders en die internet

10 wenke om hul veilig te hou!

deur Anriëtte de Ridder

  1. Lees meer oor internet veiligheid en die invloed van skermtyd sodat jy ‘n ingeligte ouer kan wees wat verantwoordelike besluite neem. www.commonsensemedia.org/cell-phone-parenting antwoord ‘n hele paar vrae hieroor en gee praktiese wenke.
  2. Stel ‘n wagwoord op jou rekenaar, foon en tablet sodat jy weet wanneer jou kind dit wil gebruik. Moenie dat jou kinders na willekeur op die internet kan gaan of videos kan kyk of toeps kan aflaai nie. Stel jou “parenting controls” op al die verskillende toestelle in die huis (rekenaars, tv, selfone ens). https://www.internetmatters.org/parental-controls/
  3. Wees altyd by as jou kind die internet gebruik. Gebruik ook ‘n veiliger soekenjin wat vir kinders ontwerp is soos byvoorbeeld Kiddle http://www.kiddle.co/ of Kids search http://www.kids-search.com/ of http://www.swiggle.org.uk/. Google het ook ‘n “safe search” funksie wat aangeskakel kan word en eksplisiete resultate uithou. So ook youtube  – lees meer daaroor hierhttp://parentalcontrols-on.org/YouTube. Daar is ook spesifieke apps wat help met navorsing vir take. Tieners moet verkieslik in oop, gemeenskaplike areas in die huis die internet gebruik.
  4. Sit jou foon of tablet op “flight mode” wanneer hul fotos wil kyk of speletjies wil speel sodat hulle nie per ongeluk internet toegang verkry nie.
  5. Stel “location settings” af. Stel jou “privacy settings” hoog by al jou sosiale media profiele.
  6. Maak seker jou foon  / tablet het ouderdomsbeperkinge en kontroles op! Dit verhoed sekere webtuistes om oop te maak sonder ‘n wagwoord of jou kind om nuwe apps af te laai, ens. Maak seker jy ken al die veiligheidstellings.  Lees meer hieroorhttps://www.commonsensemedia.org/cell-phone-parenting/how-do-i-set-parental-controls-on-the-iphone
  7. Gaan uit en sit af – Maak jou foon se apps toe wanneer jy dit nie gebruik nie. Gaan uit die internet wanneer jy nie jou rekenaar gebruik nie. Sit jou rekenaar/ foon af as jy dit nie gebruik nie.
  8. Wees self ‘n voorbeeld! Jou kind of tiener sal gou agterkom waarvoor jy die internet gebruik. Asook of jy afhanklik is van skermtyd.
  9. Gesels met jou kind oor die waarde asook die gevare van die internet, sodat hy/sy ook verantwoordelikheid kan neem by maats se huise.
  10. Stel saam as gesin reëls op oor internet gebruik (waarvoor, hoe, wanneer), skermtyd (wat, hoe lank), en sosiale media (hoe, wat, wanneer, met wie). Maak saam ‘n plakkaat en plak dit op waar almal dit kan sien.

Nog nuttige skakels:

https://www.internetmatters.org/advice/6-10/

https://www.commonsensemedia.org/cell-phone-parenting

https://www.commonsensemedia.org/videos/5-internet-safety-tips-for-kids

Kinderbedieningskonferensie Mei 2017 Hoëveld Sinode

Registrasie vanaf 8:00 te Northfield Metodiste kerk, Aerodrome rylaan, Northmead, Benoni.
8:30 Opening
9:00 Algemene sessie 1 Johan Smith Onderwerp: Dieper in Gesinne
9:45 Wegbreeksessie 1:
Sessie 1/1 Janco Mocke Lofprysing en aanbidding vir kinders
Sessie 1/2 Paul du Toit Hoe kinders die Bybel ontdek
Sessie 1/3 Jaco Schoeman Mylpaal bediening (Vibrant Faith)
Sessie 1/4 Verskeie sprekers Kinderkerk/Kategese materiaal
11:45 Algemene sessie 2 Wynand Coertzen Onderwerp: Wyer in skole
13:30 Wegbreeksessie 2
Sessie 2/1 Kenny Killian Hoe om ʼn Kinderkerk aan te bied.
Sessie 2/2 Hayley Walker Protective behaviours
Sessie 2/3 Transforming kids Hoe bereik ons skole?
Sessie 2/4 Hano Jacobs Bediening wyer deur Sosiale media
Sessie 2/5 Netta vd Walt Gebruik van praktiese hulpmiddels
15:00 Algemene sessie 3 Dirkie van der Spuy Onderwerp: Dieper en Wyer in leiers
16:15 Afsluiting

Saamwees vir Paasfees Paaspakkie

Maak jou eie Paaspakkie vir jou gesin of gemeente vir die Paasvakansie deur als bymekaar te kry op die lys hieronder. Daar is 17 saam lees, dink en doen Huisgeloofgeleenthede wat jonk en oud kan doen om saam te dink oor Lydenstyd en Paasfees.

Lys van benodighede:

  • Boksies of sakkies om al die kaartjies en voorwerpe van die pakkie in te sit.
  • 1 Uitgedrukte kopie van die “Paaspakkie –template” per pakkie. Verkieslik uitgedruk in kleur en op karton.
    Onthou om jou drukker double sided, flip on short edge te stel voor jy hierdie stukke uitdruk, sodat die regte beskrywing by die regte prentjie is.
    Elke bladsy bevat 4 poskaart grootte kaartjies. Sy elke bladsy dus in kwart om al die kaartjies te kry. Daar is 17 kaartjies, 1 resep, 1 voorblad en 1 lees meer kaartjie.
  • Hier volg ‘n lys van die 17 kaartjies plus wat saam met elke kaartjie gegee kan word. Sit elke kaartjie saam met die bypassende voorwerp in ‘n sakkie om alles netjies en bymekaar te hou.
    1. Lydenstyd: 1 Swartsak
    2. Geheuespeletjie: Dobbelsteen
    3. Feesmaal: 6 Plekmatjies (die dokument “Plekmatjies” kan hiervoor gebruik word)
    4. Lof: ‘n Plakker met die woord “dankbaar” op en stukkies gekleurde karton om op te kan skryf
    5. Onderstebo: 2 Teesakkies
    6. Gereed: 2 Tea lights
    7. Dankie’s: Klippie
    8. Vrae speletjie: Slegs die kaartjie
    9. Belofte: 6 Hakspelde, krale/lint om dit mee te versier
    10. Diensbaar: “Geroep om te dien” plakaat(die dokument “Diensbaar” kan hiervoor gebruik word)
    11. Onthou: ‘n Pakkie gis en die resep op bladsy 9 van die “Paaspakie template” dokument.
    12. Bid: Boksie smarties
    13. Getuig: Bordkryt
    14. Kruisiging: Rooi tou en ‘n spyker
    15. Oomblikke: Slegs die kaartjie
    16. Hoop: Saadjies en ‘n klein potjie
    17. Uitstuur: Goue sterretjies en ‘n inkleur wêreld kaart (die dokument “Wêreldkaart” kan hiervoor gebruik word)
    18. Die Voorblad op bladsy 9 van die “Paaspakie template” dokument kan bo-op die paaspakkie boks/sakkie gesit word.
    19. Delf Dieper opsie: Op bladsy 9 van die “Paaspakie template” dokument is daar ‘n kaartjie getiteld “Delf dieper”. Op die kaartjie word daar verduidelik van die webtuiste/toep “Ons Glo” waar individue/gesinne dieper kan gaan delf oor party van die onderwerpe wat in die Paaspakkie is. Sit gerus die kaartjie onder in die boks.

Vir ‘n hierdie instruksies in PDF formaat “click” hier: Maak jou eie Paaspakkie instruksies

Vir die Paaspakkie templaat “click” hier: Paaspakkie -template (A4)

Vir die Plekmatjies “click” hier: Plekmatjies (A3)

Vir diensbaar plakaat “click” hier: Diensbaar (A3)

Vir die Wêreldkaart “click” hier: Wêreldkaart (A3)

Boelies

…En sê nou daar’s ‘n boelie...-

‘n Rukkie gelede, oppad na KIX by een van ons skole, kom ek af op ‘n huilende kind, een van ons KIX-ers. Sy wou nie sê wat haar so ongelukkig maak nie. Toe ek haar ma die aand bel, kom die storie uit. Sy word geboelie, al lankal al, deur ‘n graad 3 dogtertjie en haar twee trawante wat ‘n terreurveldtog op die skoolterrein voer. In dieselfde week vertel iemand my van ‘n seuntjie van die ander skool. Soggens het hy maagpyn of gooi selfs op. Hy is te bang om skool toe te gaan, want hy word geboelie.

Baie mense voel dit is maar deel van grootword dinge. Maar só eenvoudig is dit nie. Boelies is ‘n universele verskynsel wat in elke land, kultuur, ouderdomsgroep en geslag plaasvind. Dit is ‘n probleem wat vir almal hoofbrekens besorg, ook vir kinderwerkers. Kom ons bekyk die verskynsel van boelies ‘n slag van naderby. Kom ons help en bemagtig mekaar om sodoende kinders, ouers en onderwysers te help wat hiermee te doen het.

Wat is ‘n boelie?

Dit is iemand wat beheer wil verkry oor ‘n meer weerlose of kwesbare persoon óf oor sy vriendekring[1] deur fisiese of verbale aggressie [2]. Seuns en dogters kan boelies wees.[3] Navorsing het bevind dat die verskynsel van boelies, baie dikwels in skole voorkom.[4]

Wat is tipiese boelie gedrag?[5]

  • Boelies is geneig om te boelie wanneer daar nie gesagsfigure naby is nie, byvoorbeeld op die speelgrond, in die kleedkamers of in die skool se gange.
  • Boelies het gewoonlik een of twee trawante wat altyd saam met hulle is en hul help om ‘n kind te intimideer.
  • ‘n Slagoffer kan geterg word, name genoem word, afgepers word of fisies seergemaak word.
  • Boelies kan stories of leuens oor die slagoffer versprei.
  • Boelies kan poog om almal teen die slagoffer te laat draai – om hom / haar ‘n uitgeworpene te maak.
  • Boelies kan die slagoffer se besittings wegsteek, beskadig of afvat.
  • Boelies kan slagoffers totaal ignoreer en ander sover kry om dieselfde te doen, die “silent treatment.”
  • Boelies kan die slagoffer dreig dat sy vriende of familie ook ge”kry” sal word.
  • Boelie gedrag doen nie net die slagoffer skade aan nie, maar ook aan die boelie self.[6]

Wat moet mens weet van boelies[7]

  • Hulle hou daarvan om mense te verkleineer, skaam of seer te maak.
  • Boelies het nie baie selfvertroue nie; daarom pik hulle op ander.
  • Hulle is dikwels ongelukkige mense met probleme.
  • Boelies voel beter oor hulleself as hulle ander kan laat sleg voel.
  • Baie kenners is dit eens dat boelies boelie, omdat hulleself geboelie is, miskien tuis, elders of by die skool. (NB Maar selfs al word iemand geboelie, het hy / sy ‘n keuse. Hy hoef nie ‘n boelie te word nie!)
  • Sommiges help die boelie om te boelie, om te verhoed dat hulleself geboelie word.
  • Boelies werk dikwels in groepe, want dit help hulle om verskonings te hê wanneer hulle uitgevang word, bv. “…Ek het dit nie begin nie… Ek was net daar naby… Hy [die slagoffer] het dit begin en ek het net my vriend gehelp…”
  • ONTHOU: ‘n Boelie kan alleenlik suksesvol wees indien niemand iets daaromtrent doen nie!
  • Boelies se ouers neig om inkonsekwent dissipline toe te pas en dikwels is daar min warmte of liefde in sulke gesinne.[8]
  • Gewoonlik is boelies nie model studente nie, presteer nie goed op skool nie en kom nie oor die weg met hul onderwysers nie.[9]
  • Boelies is nie gewild onder hul portuurgroep nie.[10]

Hoe lyk die boelie se tipiese slagoffer?[11]

  • ‘n Slagoffer kan enigiemand wees wat toevallig op die verkeerde tyd, op die verkeerde plek is.
  • Mense wat op enige wyse dalk “anders” is.
  • Enigiemand wat lyk asof hy / sy ‘n maklike teiken is (maklik om bang te maak).
  • Iemand wat kleiner of jonger as die boelie is.
  • Mense wat sensitief is, wat maklik huil of ontsteld word.
  • Mense wat nie baie vriende het nie, byvoorbeeld nuwe kinders.

Wat is die gevolge vir die slagoffer?[12]

  • Om geboelie te word is baie stresvol vir die slagoffer.
  • Kinders mag ‘n teësin ontwikkel vir skool.
  • Slagoffers begin alle lede van die portuurgroep wantrou en sukkel om vriende te maak.
  • Ekstreme slagoffers kan depressie of ‘n fisiese siekte ontwikkel.
  • Meeste slagoffers presteer goed op skool en is in staat om te begin vriende maak soos hulle ouer word.
  • Meeste slagoffers (veral die wat deur volwassenes ondersteun word) oorleef die boelie ondervinding sonder langtermyn newe-effekte.

Hoe hanteer mens ‘n boelie?[13]

  • Leer ‘n kind om ALTYD oplettend te wees en voortdurend op die uitkyk te wees vir ‘n moontlike boelie situasie.
  • Vermy ‘n boelie situasie. Weet wanneer om weg te loop.
  • Gebruik humor om ‘n boelie te ontlont. Maak ‘n grap wanneer ‘n boelie begin aanmerkings maak of begin om te terg. Daardeur kry die boelie nie die gewenste reaksie van die “slagoffer” nie. Laat die kind dit vooraf inoefen met rollespel. Gee vir die kind grappies / grappige sinsnedes wat hy / sy moontlik kan gebruik vir die boelie.
  • Tree self-handhawend (assertive) op. Sê DUIDELIK vir die boelie om te skoert of “GAAN WEG!” en stap dan self weg van die situasie. Laat die kind dit vooraf oefen in die spieël en deur rollespel.
  • Maak ‘n nuwe vriend(e).
  • Bly voortdurend tussen ‘n groep kinders. Boelies pik op kinders wat alleen is.
  • Soek vriendelike kinders se geselskap op en begin bou aan vriendskap met hulle.
  • Kry hulp by ‘n volwassene. Moedig die kind aan om as hy geboelie word, te gaan praat met ‘n onderwyser, sy ouers of ander volwassenes.[14]
  • Beskerm die kind se gevoelens teen “name-calling” deur hulle te leer om hulself te beskerm teen beledigings. Leer die kind dat om die boelie terug te beledig, die situasie net sal vererger.
  • Om die krag en seermaak uit woorde weg te neem, kan die beledigende woorde hardop gesê word deur die kind. Laat die kind dan die woorde “weggooi”. ‘n Mens kan die kind laat oefen om die woorde in ‘n vullisblik te gooi. Laat die kind daarna iets positiefs oor homself sê wat hy weer kan inneem. Byvoorbeeld: “Niemand hou van jou nie.” Ek gooi die woorde weg en sê “Ek hou van my.”
  • Leer die kind om nie dadelik tou op te gooi as ander kinders hom nie by ‘n speletjie insluit nie. Help die kind om vol te hou om te vra om saam te speel. (Laat die kind vooraf oefen om nie aggressief of kermend te klink as hy met hulle praat nie. Help hom om te oefen om positief en vriendelik te lyk. Oefen gesigsuitdrukkings in die spieël.)[15]
  • As ‘n laaste uitweg, (volgens sommige kenners) leer die kind selfverdediging, vir geval hy fisies seergemaak gaan word en hy nie van die situasie kan ontsnap of hulp kan kry nie.

Wat kan skole doen om boelies stop te sit?[16]

  • Moenie boelie gedrag ignoreer nie – spreek dit aan! ONTHOU: ‘n Boelie kan alleenlik suksesvol wees indien niemand iets daaromtrent doen nie!
  • Gaan doen deeglike “huiswerk”. Stel akkuraat vas wat die omvang van die probleem is.
  • Sorg dat volwassenes meer sigbaar is oral op die skoolterrein, maar veral die areas wat die boelie probleem voorkom, bv. kleedkamers, speelgrond, die nasorg lokale, gange, ens. Sorg vir beter toesighouding, veral tydens pouses.
  • Maak dit teen die reëls om iemand anders te boelie. Wees konsekwent om alle boelie gedrag te dissiplineer.
  • Praat ernstig met boelies. Laat hulle verstaan dat jy bewus is van wat hulle doen en dat jy dit nie gaan duld nie.
  • Help die boelies om hulp te kry. Boelies is mense wat self probleme het.

[1] Carol E. Watkins, M.D. (Northern County Psychiatric Associates, Lutherville and Monkton, Baltimore County, Maryland) – Dealing with Bullies and how not to be one (www.ncpamd.com)

[2] Laura DeHaan, Ph.D (Assistant Professor of Child Development, North Dakota State University) – Bullies, February 1997. (www.ag.ndsu.edu)

[3] Hara Estroff Marano – Big bad bully. Psychology Today Magazine, Sept / Oct 1995.

[4] Ibid.

[5] Bullying – being unkind to others (Kids’ Health: Children, Youth and Women’s Health Service, South Australia, 8 April 2008.)

[6] Carol E. Watkins, M.D. (Northern County Psychiatric Associates, Lutherville and Monkton, Baltimore County, Maryland) – Dealing with Bullies and how not to be one (www.ncpamd.com)

[7] Bullying – being unkind to others (Kids’ Health: Children, Youth and Women’s Health Service, South Australia, 8 April 2008.)

[8] Laura DeHaan, Ph.D (Assistant Professor of Child Development, North Dakota State University) – Bullies, February 1997. (www.ag.ndsu.edu)

[9] Ibid.

[10] Ibid.

[11] Bullying – being unkind to others (Kids’ Health: Children, Youth and Women’s Health Service, South Australia, 8 April 2008.)

[12] Laura DeHaan, Ph.D (Assistant Professor of Child Development, North Dakota State University) – Bullies, February 1997. (www.ag.ndsu.edu)

[13] Hara Estroff Marano – Big bad bully. Psychology Today Magazine, Sept / Oct 1995.

[14] Personal safety and self defense for children, teens and adults: Face bullying with confidence. KIDPOWER – webtuiste.

[15] Ibid.

[16] Laura DeHaan, Ph.D (Assistant Professor of Child Development, North Dakota State University) – Bullies, February 1997. (www.ag.ndsu.edu)