kinders

Tegnologie en jou kind

10 wenke vir positiewe gebruik van tegnologie in die huis

As die woorde “tegnologie” en “jou kind” in dieselfde sin gebruik word, dink ons dadelik aan pornografie, aanlynboelies, internetverslawing ens. Vandag se tegnologie het egter beide positiewe en negatiewe aspekte.

Hier is 10 wenke vir positiewe gebruik:

  1. Volgens navorsing is ‘n vasgestelde slaappatroon baie belangrik. Spreek af op ‘n vasgestelde slaaptyd vir almal. Begin ‘n uur voor slaaptyd af te skakel en rustig te raak. Moenie met selfone langs die bed slaap of musiek in die ore nie – dit versteur slaappatrone en verhoed jou om in “diep slaap” in te gaan.
  2. Stel duidelike riglyne wanneer dit kom by tegnologiegebruik. Beperk selfoon, TV, internet en so meer tot ‘n sekere aantal ure per dag en hou daarby.
  3. Jou kind se selfbeeld is sensitief en word maklik beïnvloed. Gee komplimente, moedig sterkpunte aan en laat jou kind selfversekerd voel in sy/haar eie liggaam.
  4. Tegnologie kan kinders ontneem van die geleenthede om werklike verhoudings te bou, want dis makliker om ‘n WhatsApp te stuur. Moedig jou kind egter aan om self oor moeilike en ongemaklike situasies gesig-tot-gesig te praat en fisiese tyd saam met vriende (en julle as gesin) te spandeer.
  5. Raak deel van jou kind se tegnologiese wêreld sodat jy kan saam praat.
  6. Wees ‘n voorbeeld van gesonde en gebalanseerde tegnologiegebruik.
  7. Weerhou tegnologie van die kind se slaapkamer en hou dit sentraal in die huis. Stel wagwoorde en beperkings wat ouderdom gepas is.
  8. Weet wat die inhoud is van wat jou kind/tiener kyk of speel. Google saam die resensies daaroor en besluit vooraf (saam) wat gepas is. ‘n Handige webwerf is commonsense.com
  9. Leer jou kind waarvoor om “nee” te sê. Wanneer jy aktief betrokke is by tegnologie en self die gevare kan raaksien, sal dit makliker wees om dit vir jou kind uit te wys.
  10. Gesels openlik (ouderdomsgepas) oor die gevare van aanlynboelies, pornografie ensovoorts en maak dit duidelik dat jou kind altyd eerlik (sonder vrees vir veroordeling) kan gesels oor enige iets wat hy gekyk het of beleef het wat hom onseker, bang of skaam laat voel het.

Die basiese behoeftes van kinders, met of sonder tegnologie, bly dieselfde. Hulle soek struktuur, erkenning, aanvaarding en liefde. Hulle kan dit nou net makliker en vinniger by ander naam- en gesiglose mense kry, as by ouers en vriende.

 

“Julle is die lig vir die wêreld. ‘n Stad wat op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie;  ook steek ‘n mens nie ‘n lamp op en sit dit onder ‘n emmer nie maar op ‘n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis.  Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.” Matteus 5: 14-16

Geskryf deur ds Anriëtte de Ridder (Predikant in Sinodale diens vir Jeug en Familiebediening van die Wes-Kaapland Sinode).

My kind se vriende

15 wenke om jou kind / tiener te help met vriende

Ek onthou baie goed hoe my ma haar oor my broer, wat 3 jaar jonger as ek is, bekommer het. Hy was op ‘n baie stil, vroeë tienerfase. My ma het gewonder – het hy vriende en watter tipe vriende is hulle? Sy het my gevra om pouse op hom te “spioeneer” om meer uit te vind…

Dit is moeilik om in te meng by jou kinders se vriendskappe. Maar aan die ander kant het ons al almal gesien hoe ‘n kind kan vereensaam of verwoes kan word as gevolg van negatiewe “vriende” of groepsdruk.

Wat kan ons as ouers doen?

  1. Skep geleenthede waar jou kinders ander vriende kan maak wat ‘n positiewe invloed op hulle kan hê. Nooi vriende oor of reël ‘n uitstappie waarheen hy/sy potensiële vriende kan nooi.
  2. Help jou kind om verhoudings in ‘n positiewe omgewing te bou. Gesels vooraf oor wat hulle kan doen of oor gesels. Help ook jou skaam kind om te ontspan.
  3. Leer jou kind om Jesus as vriend te ken en sy voorbeeld te volg om ‘n goeie vriend te wees.
  4. Leer ken jou kind se vriende en hulle gesinne. Weet wie hulle is en watter waardes hulle in hulle huise leer.
  5. Doen rolspel oor hoe om moeilike situasies en versoekings te hanteer en help hom/haar om (vooraf) self aan alternatiewe en oplossings te dink.
  6. Versterk positiewe gedrag by jou kind en sy/haar vriende.
  7. Help jou kind om te dink aan maniere om boelie-gedrag raak te sien en te hanteer.
  8. Help jou kind om self introspeksie te doen oor sy/haar eie vriendskappe en hoe hy/sy ander hanteer.
  9. Gesels met jou kind oor hoe om konflik op te los.
  10. Leer jou kind om om te gee, vriendelik te wees en empatie te hê – ook met diegene wat nie noodwendig sy/haar vriende is nie.

Kyk na jouself en doen introspeksie:

  1. Kies ek goeie vriende?
  2. Is ek ‘n goeie vriend?
  3. Hoe beïnvloed my vriende my?
  4. Luister ek met aandag en deernis as my kind/tiener oor sy/haar vriende gesels?
  5. Gesels ek ook met my kinders oor my eie kinderdae vriende – hoe ek hulle gekies het, hoe hulle was en of ons goeie/slegte keuses gemaak het?

 

“Twee vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets. As die een val, kan die ander hom ophelp. Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom op te help nie”. Prediker 4:9-10

 Geskryf deur ds Anriëtte de Ridder (Predikant in Sinodale diens vir Jeug en Familiebediening van die Wes-Kaapland Sinode).

‘n Groeiende geloof

5 wenke om jou kind se geloof te koester

“Lees jou Bybel, bid elke dag…want jy sal groei, GROEI, GROEI.” Dis nie net ‘n kinderliedjie wat ons sing nie, maar ‘n waarheid om in ons lewens toe te pas. Vir kinders moet daar geleenthede geskep word om God op ‘n persoonlike, dinamiese en opwindende manier te leer ken. Kinders was en is vir God van die begin af spesiaal. Jesus verwag van ons, as leiers, om kinders te ondersteun en te lei in hul groeiende geloof.

Hier is ‘n paar wenke om jou kind se geloof te koester

  1. Bybel-gebaseerde geloof

Die kennis van God se Woord is ‘n vaste fondament waarop ‘n kind sy geloof bou. Herontdek Bybel-lees as ‘n gesinsaktiwiteit.

  1. ‘n Kind se geloof kan gebou of vernietig word

Kinders se (kinderlike) geloof moet deur ons aangemoedig en ondersteun word. Ongevoelige optredes en woorde in kinders se teenwoordigheid kan nadelig wees. Wees bedag oor hoe jy jou kind se geloof en ervarings koester en aanmoedig.

  1. Kinders se geloof het geen grense nie

Skep positiewe ervarings vir kinders en raak saam bewus van God se teenwoordigheid in die alledaagse lewe. Kyk met hulle oë na die wêreld om jou.

  1. Versterk geloof deur verhoudings

Verhoudings met ouers, kategese leiers, vriende en ouer mense by die kerk is ‘n integrale deel van geloofsgroei. Kinders moenie gekeer word om by ouer mense te leer nie en andersom. Die verhouding tussen kinders en volwassenes is baie belangrik. Dit vorm ‘n kind se persepsie van God en Christenskap.

  1. ‘n Geloofsavontuur

Gee kinders die geleentheid om te groei deur geloof vir hulself te ontdek. Moedig kinders aan om vrae te vra, al ken jy nie altyd die antwoorde nie. Daag hulle ook uit om self te wonder en te soek.

 

“Maar Jesus het gesê: Laat staan die kindertjies en moet hulle nie verhinder om na My toe te kom nie, want die koninkryk van die hemel is juis vir mense soos hulle.”
Mat 19:14

Geskryf deur ds Anriëtte de Ridder (Predikant in Sinodale diens vir Jeug en Familiebediening van die Wes-Kaapland Sinode).

“Bid gedurig” – maar hoe, wanneer, waar…?

15 wenke om gebed deel te maak van julle gesin se alledaagse lewe

Jesus se dissipels vra hom om hulle te leer bid in Lukas 11. Hoe het jy as kind leer bid? En hoe leer jy jou kinders bid? Gebruik julle ‘n vasgestelde gebed voor ete / slapenstyd? Sien hulle jou bid in krisistye? Wat weet jou kind/tiener van jou intieme gebedslewe?

Ek wil nie my kinders grootmaak om net gebedsrympies te ken of net in sekere omstandighede na God te gryp nie. Ek wil graag hê my kinders moet eendag ‘n geïntegreerde gebedslewe hê, waar hulle enige tyd van die dag/nag en oor alles met God kan gesels. Kom ons dink saam na oor hoe ons ons kinders leer bid. Hier is ‘n paar gedagtes:

  1. Help jou kinders om gedurig deur die dag bewus te wees van God se teenwoordigheid.
  2. Bid op “snaakse” tye en oor alledaagse goed.
  3. Bid ook om God te loof en prys en dankie te sê (gebruik ook musiek en sang).
  4. Leer jou kind / tiener wat God Drie-Enig se eienskappe is.
  5. Bid op ‘n rooster vir julle gesin se uitdagings / familie / vriende / sake saans voor ete (maak bv. ‘n aansteekbord julle gebedsbord met foto’s/koerantuitknipsels).
  6. Wissel metodes van bid af. Bv. “popcorn” gebed (kort een woord/sin gebede), bid 2-2 saam, neem beurte, bid van jonk na oud, bid elkeen vir die een aan sy/haar linkerkant, ens.
  7. Vaste gebruike word geloofsgewoontes bv. bid voor etes, voor slapenstyd, in die oggend met wakker word tyd, voor julle ry, as julle mense verwelkom, ens.
  8. Bid saam wanneer julle die gewone hoogte- en laagtepunte as gesin beleef soos verjaarsdae, huweliksherdenkings, doopvieringsdae, skoolprestasies, sterftes, siektes en teleurstellings.
  9. Leer kinders en veral tieners om te bid voor hulle besluite neem.
  10. Leer kinders/tieners (uit jou eie voorbeeld) dat gebed en Bybel-lees saamgaan.
  11. Leer sekere tekste uit die Bybel as gebede.
  12. Gebed is ook om te luister na God. Moedig tieners aan om ‘n joernaal te hou van wat God vir hul sê.
  13. Gebruik uitstappies in die natuur om bewus te raak van God.
  14. Luister na musiek as ‘n vorm van gebed.
  15. Leer jou kinders om stil te raak.

Mag jou eie gebedslewe nuwe groei ervaar hierdie week en jy elke oomblik bewus wees van God se Gees se teenwoordigheid in jou lewe. “Bid gedurig.” 1 Tess 5:17

Geskryf deur ds Anriëtte de Ridder (Predikant in Sinodale diens vir Jeug en Familiebediening van die Wes-Kaapland Sinode).

Kinders kan ook deur ‘n rouproses gaan

As jy, of iemand wat jy ken, deur ‘n trauma soos egskeiding, werkverlies of die dood van ‘n geliefde gaan, is dit natuurlik om deur ‘n rouproses te gaan. ’n Mens kan maklik van kinders in dié tyd vergeet. Somtyds dink ons hulle verstaan nog nie wat gebeur nie, of ons probeer hulle teen die pyn beskerm. Hulle rou dalk anders as grootmense, maar hulle verstaan tog wat aan die gang is. Daarom is dit belangrik om hulle ook te ondersteun! Die vyf fases van rou wat deur die Kübler-Ross model beskryf word, kan ons help om beter te verstaan waardeur mense (en ook kinders) gaan en hoe ons iemand kan bystaan wat besig is om te rou.

Vyf fases van rou

Die eerste fase is ontkenning. Dit is ‘n manier om die angstigheid van die situasie te ontsnap. Dit word verwoord in terme van “dit kan nie wees nie”. Laat die persoon toe om te praat, want terwyl die persoon in dié fase is, gee dit hom/haar kans om hierdie gebeurtenis te verwerk.

Die tweede fase is woede. Die persoon is dan kwaad vir almal, bv. die hospitaal, vriende, die kerk, die dominee, God ens. Die persoon voel dan ook gefrustrueerd en nutteloos. Laat hom/haar toe om hul woede uit te spreek. Wees sensitief en help die persoon om sy/haar gevoelens te verwoord bv. teenoor God.

Die derde fase is onderhandeling. Dit is wanneer die persoon met God/die wêreld/ouers onderhandel om die situasie om te keer (al is dit vir ‘n kort tydjie). Hier moet ‘n mens versigtig wees om ‘n maklike antwoord op die persoon se vrae te gee. Ons help die meeste wanneer ons wys ons is ook gebroke mense en het nie al die antwoorde nie.

Die vierde fase is depressie. Dit is wanneer die persoon reageer teenoor die werklikheid dat hy of sy nie die situasie kan verander nie. Hier kan gelowiges ‘n belangrike rol speel en die persoon op ‘n praktiese manier ondersteun. Dit beteken die meeste vir die persoon om net vir hom/haar daar te wees en nie veel te sê nie.

Die vyfde fase is aanvaarding. Hier begin die persoon die werklikheid aanvaar en vrede maak met dit wat gebeur het. Hier speel die ondersteuning deur die familie ‘n belangrike rol en kan nuwe gewoontes gevestig word.

Elke persoon is uniek en reageer anders tydens die rouproses. Elke persoon of kind gaan nie noodwendig deur al die fases of in dieselfde volgorde nie.

So is vervul wat deur die profeet Jesaja gesê is: “Hy het ons lyding op Hom geneem, ons siektes het Hy gedra.” Matt 8:17

Nico Lochner (Predikant by NG Amsterdam in Mpumalanga)

Om te kamp, of nie te kamp nie – dit is die vraag…

10 wenke om jou kind aan te moedig om te gaan kamp

Om vir die eerste keer jou kind uit die huis te stuur op ‘n kerkkamp is ‘n groot gebeurtenis (vir beide ouer en die kind). Dis nie net vir slaapsak afstof en snoepiegeld gee nie, maar om werklik te dink oor die waarde van ‘n geestelike kamp en hoe dit in jou kind se lewe gaan inbou.

Dit was wonderlik om te sien hoe elke jongmens op ‘n kerkkamp sy eie waarde in Christus ontdek en verhoudings gebou word met ander groeplede. Elke kind of tiener ervaar God ook op verskillende maniere op ‘n kamp bv. tydens die lof en aanbidding, die stiltetye, die groepsbesprekings of die gebedstasies.

Ek het na die afgelope #imagine fees weer opnuut die waarde van ‘n kamp besef en hoe dit ‘n jongmens se lewe verander! Ons het beleef hoe:

  • jongmense ‘n oorgawe vir Jesus maak
  • die Gees genesing en vergifnis bewerkstellig
  • jongmense in hulle verstaan van God en die Bybel groei
  • verhoudings tussen tieners en leiers (volwassenes) versterk word
  • verhoudings tussen tieners van verskillende kulture, tale, rasse en kerke gevorm word
  • jongmense leer om Bybelstudie te doen en te bid
  • jongmense leer om mekaar te bedien, vir mekaar te bid en vir mekaar om te gee
  • jongmense ‘n droom ontvang om in Suid-Afrika ‘n verskil te maak
  • almal toegerus word om diensbaar te wees in hulle gemeentes en gemeenskap

Wat kan ek doen om my kind/tiener aan te moedig om te gaan kamp?

  1. Moedig jou kind/tiener aan om te gaan kamp wanneer sy die geleentheid kry.
  2. Gesels met jou kind oor hoekom hy moet gaan kamp en wat dit vir hom kan beteken.
  3. Reël dat ‘n vriend saamgaan dat hy nie alleen voel nie.
  4. Help haar om voor te berei en alles te pak wat nodig is.
  5. Gesels vooraf met haar oor haar vrese, onsekerhede of verwagtinge.
  6. Maak seker jy weet wie die aanbieders en leiers is, wat die toesig- en veiligheidsmaatreëls is en wat die doel en inhoud van die kamp is.
  7. Die beste en veiligste opsie is altyd om as ouer/voog saam te gaan kamp en die ervaring te deel (al help jy net agter die skerms).
  8. Kry terugvoer oor hulle ervarings en gesels lekker saam na die tyd. Kyk na die foto’s en vra oop vrae.
  9. Uitdagings soos min slaap, ‘n slegte ervaring of om in ‘n tent te slaap moet ook ”debrief” word.
  10. Gesels ook oor wat hy geleer het, hoe dit sy geloof versterk het en waar hy God beleef het. Bevestig jou kind se ervaring en vier dit saam!

 

“Jesus het sy arms om die kindertjies gesit, hulle die hande opgelê en hulle geseën.” Markus 10:16

 

Geskryf deur ds Anriëtte de Ridder (Predikant in Sinodale diens vir Jeug en Familiebediening van die Wes-Kaapland Sinode).

Waarna soek jongmense in hul leiers?

Die Barna Instituut* het navorsing gedoen wat aandui dat studente wat aan-die-brand Christene is, ‘n paar dinge in gemeen het. Die belangrikste faktor is dat hulle lewens almal geraak is deur 3-5 volwassenes wat ‘n lewende verhouding met Jesus het. Volwassenes (leiers) se invloed in jongmense se lewens is dus kardinaal in hulle besluit om later (as volwassenes) betrokke en lewendige gelowiges te word.

Ons doel by die kategese is om geloof by kinders en jongmense te vorm wat eendag ook deel sal vorm van hulle identiteit, oortuigings en lewenswyse as volwassenes. Daarom is jy so belangrik!

Volgens die navorsing soek jongmense (en kinders) leiers wat:

  • besig is om geestelik in ‘n lewende verhouding met Jesus te groei;
  • geïnteresseerd is in hul lewens deur die inisiatief te neem om na hulle wêreld toe te gaan – deur goeie tyd met hulle te spandeer, opbouende woorde te gebruik, te glo in hulle en vir hulle te bid;
  • eg is, geduldig is en konsekwent is in hul woorde, lewe en bediening;
  • lekker kan lag (ook vir hulself), hulle eie persoonlike ervarings deel en die lewe geniet!

Dankie vir jou leierskap en die manier waarop jy moeite maak en omgee vir kinders en jongmense. Dit is vir hulle goud werd en die vrugte daarvan sal nog lank in die toekoms gesien kan word! Ons eer jou toewyding en moeite – van die kleinste gebaar van liefde en omgee tot die groot opofferings wat jy maak in jou dienswerk as leier by die jeugbediening.

Wees jy vir die gelowiges ‘n voorbeeld in woord en gedrag, in liefde, geloof en reinheid. 1 Tim 4:12b

Geskryf deur ds Anriëtte de Ridder (Predikant in Sinodale diens vir Jeug en Familiebediening van die Wes-Kaapland Sinode).

*Besoek gerus die Barna Instituut se webwerf vir meer inligting oor hulle navorsing by www.barna.com

Doolhof van gebed

Idee vir ‘n erediens of kleingroep

Gebruik hierdie doolhof om gesinne te help om saam te bid:

  • Tydens die erediens
  • Tydens kleingroepe
  • Tydens huisgeloof

 

Gebruik die verskillende simbole om te dink oor verskillende temas. Elke simbool het nie ʼn spesifieke betekenis nie, om elkeen ruimte te gee om te dink oor wat God nou besig is om te doen in hulle lewe – “Waarvan maak God my nou bewus?”

Daar is wel ʼn antwoord vir die doolhof. Gesinne kry kans om saam te speel terwyl hulle bid. As hulle ʼn simbool mis, kan hulle na die tyd teruggaan om daaroor te bid en kyk of hulle nog ʼn antwoord daarvoor kan kry.

Doolhof van Gebed

Doolhof oplossing