luister

Twee ore en een mond: Hoe kan ek ‘n “luisterende” groepleier wees? 

Kan jy dink aan ‘n volwassene met wie jy lekker kon gesels as kind? Dalk was dit ‘n ouer, ‘n maat se ouer, ‘n familielid of selfs ‘n onderwyser? Hoekom dink jy praat kinders en tieners makliker met sekere volwassenes?

Jongmense neem ‘n risiko wanneer hulle met ‘n grootmens praat en wil weet:
• Sal die volwassene my werklik “hoor”?
• Sal die volwassene my veroordeel?
• Kan ek die volwassene vertrou om my behoeftes ernstig op te neem?

 Hoe kan ek, as groepleier, meer moeite maak om te luister?

  1. Maak tyd om te luister. Somtyds is luister al wat nodig is (raad of antwoorde word nie noodwendig gesoek nie).
  2. Stilte is jou vriend. Moenie voel jy moet die gesprek lei of “red” nie. Dikwels lei stiltes tot dieper gesprekke.
  3. Bemoediging is belangriker as raad. Versterk positiewe gedrag eerder as om op die negatiewe te fokus. Gee aanmoediging, prys hul gedrag, gee opregte komplimente, bedank hulle, ens.
  4. Praat die waarheid. Bou die kind/tiener op met waarheid uit die Skrif sodat hy/sy saam met jou God se beloftes en karakter kan ontdek.
  5. Volg op! Moenie te lank wag om verdere gesprekke te hê nie. Gebruik WhatsApp, opvolg afsprake, ensovoorts om te wys jy bly aan hom/haar dink.

Met dank aan Brendt Blanks http://youthministry360.com/training/how-to-be-a-listening-adult-for-your-students/

Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid. 1 Joh 3:18

Geskryf deur ds Anriëtte de Ridder (Predikant in Sinodale diens vir Jeug en Familiebediening van die Wes-Kaapland Sinode).

Om te luister

#DIepdink

Jy ken daai gevoel. Daai gevoel dat iemand nie mooi geluister het na wat jy sê nie. Wanneer dit met my gebeur is sommer dadelik kwaad, want die ander persoon gee dan nie regtig aandag aan my nie en dit laat my onbelangrik voel en ook dat my verhouding met die persoon nie belangrik is nie. Die meeste van ons doen dit, sonder dat ons dit besef. Steven Covey beweer dat ons in ons luister-proses baie kere meer besig is om ons eie reaksie te formuleer as om regtig te luister na wat iemand sê.

Wanneer ons met iemand stry kom dit nog beter na vore en baie kere ontaard die stryery in ’n “shouting match” want ons voel dat wanneer ons die volume hoër maak, ons die punt beter sal kan dryf en op daardie manier gehoor sal word.

Om regtig na mense te luister is een van die maklikste maniere om menswaardigheid aan mense te betoon. Maar, om regtig te luister vat tyd en dit kos energie, want ons moet in iemand anders se skoene inklim. Die storie van Jesus en die pa wie se kind demoon-besete was (Markus 9:14-29) wys vir ons dat Jesus gehoor het wat aan die gebeur was, maar dat hy ook geluister het. Die manier waarop Jesus geluister het, het waarskynlik netsoveel beteken as die feit dat Jesus die seun gesond gemaak het.

Pete Scazzero[1] help ons met ’n paar praktiese punte om na mense te luister (en daarvan raak sigbaar in Jesus se optrede):

  1. Plaas jou eie agenda op die agtergrond. Jou eie agenda maak dat jy net wil hoor wat jy wil hoor, mis wat jy nie wil hoor nie en daarom nie luister nie.
  2. Laat die persoon praat tot hulle die hele gedagte afgehandel het. Wanneer ons “inchip” maak dit die omgewing vir hulle onveilig en in plaas van deel, word hulle dan verdedigend.
  3. Probeer dit wat die persoon gesê het in jou eie woorde herhaal en laat die persoon toe om jou te korrigeer, indien nodig. Dit sê vir die persoon, jy het geluister en dat jy moeite doen om te verstaan wat hy/sy probeer sê.
  4. As dit lyk of die persoon klaar gepraat het, maak eers seker of hy/sy klaar is. Dit maak dit moontlik vir die persoon om alles af te pak, sodat hulle kan voel hulle is gehoor.

Mag ons werklik na mense luister. Mag ons op hierdie eenvoudige manier mense help om menswaardig te voel. Mag mense op hierdie manier Jesus se genade deur ons beleef.

*Hierdie het voorheen in NG Kenridge se Vrydag Nuus verskyn.

[1] Peter Scazzero, 2006, Emotionally Healthy Spirituality, Zondervan