millenials

Hoe kan ons millennials beter verstaan? Deel 1: Modulariteit

Wat is modulariteit?

Die Jong Volwasse Leer Gemeenskap het ‘n paar beginsels raakgelees en dit bespreek, waarvan een daarvan modulariteit (“modularity”) is. Modulariteit verwys na iets wat uit verskillende komponente bestaan, byvoorbeeld wanneer geboue uit vaste komponente saamgestel kan word. Modulariteit verwys ook na die vermoë van iets om verander na gelang van behoeftes, soos ‘n meubelstuk wat eers ‘n kot is en wat later in ‘n bed of bank verander kan word soos wat behoeftes in ‘n gesin verander. Moduleriteit kan gesien word in dinge soos hoe mense self wil kies hoe hulle selfoon kontrakte opgebou word en hulle wil dit ook kan verander. Nog ‘n voorbeeld is waar mense flexityd kan werk en self kies hoe hulle hulle tyd “blokkies” van oefening, rekenaar werk, vergaderings, internet tyd en familietyd in hulle dag kan inpas. Nog voorbeelde is hoe mense hulle selfone bou deur self hulle toeps te kies of waar mense self kies watter t.v. programme kies (Netflix, Showmax ens). Modulariteit hou verband met verbruikerswese maar gaan meer as net oor die vervulling van behoeftes. Dit gaan ook oor die vermoë van mense (en dit wat hulle gebruik) om aanpasbaar te wees. Dit gaan oor die moderne mens se behoefte aan verhoogde eienaarskap asook die erkenning daarvan dat mense en hulle behoeftes (asook omstandighede) uniek en veranderlik is. Modulariteit is ‘n algemene teken van die tyd, maar is veral belangrik en deel van die millennials se leefwêreld.

Hoe impakteer modulariteit die kerk?

Ons sien reeds die groei van modulariteit in die kerk. ‘n voorbeeld is ruimtes wat vir meer as een doel gebruik kan word byvoorbeeld vergaderings en jeug byeenkomste, deur die meubels rond te skuif. Nog ‘n voorbeeld is ‘n preekstoele op wiele wat weggeskuif kan word in informele eredienste om ruimte te maak vir die begeleidingsgroep. Gemeentes wat verskillende erediens tipes aanbied is ook ‘n voorbeeld sowel as wanneer liturgieë in ‘n erediens week na week verskil omdat die predikant dit self “opbou” uit opsionele verskillende “blokkies”. Kategese kurrikulums wat tematies is en kwartaalliks gekies kan word in die volgorde wat die gemeente pas, is nog ‘n verskynsel hiervan. ‘n Ander vorm hiervan is waar ouers van klein kinders die opsie het om net ‘n gedeelte van die diens by te woon en die diens so ingerig word dat hulle iets ontvang maar gemaklik die diens kan verlaat op ‘n bepaalde tyd.

Hoe help dit ons om te dink oor millennials se belewenis van kerk?

Millennials sou moontlik kerk as een (opsionele) blokkie kan sien in hulle lewe wat hulle kan inpas na gelang van behoefte, prioriteit en tyd. Millennials sou ook moontlik kerkaktiwiteite kan sien as ‘n spyskaart van opsies of blokkies waarvan hulle kan kies en inpas in hul lewe na gelang van behoefte. Dit kan veroorsaak dat “kerk” verskraal kan word en verbruikerskultuur aangemoedig word, waarin millennials sou kon dink dat hulle kerk toe kom of deel is van die kerk om net iets te ontvang.  Maar aan die ander kant kan dit deelname en toewyding bevorder as die millennial voel hulle kan self kies en dat die opsies sekere behoeftes vervul. Die Jong Volwasse Leer Gemeenskap meen egter dat kerk ‘n groter rol te speel het as bloot om opsies uit te dink (meer blokkies te skep) of te wedywer met ander “blokkies” om ‘n groter rol te speel. Kerk as geloofsgemeenskap is die ruimte waar millennials perspektief kry oor AL die blokkies van hul lewens. Die kerk kan ‘n ruimte vir refleksie en nadenke wees oor al die aspekte van sy/haar lewe sodat alle blokkies geleef kan word vanuit ‘n koninkryk perspektief.

Die moderne mens raak al meer modulêr. Die vraag is nie of dit goed of sleg is nie, maar hoe dit millennials se ervaring en denke oor die kerk beïnvloed en hoe die kerk hierdie as ‘n geleentheid benut, maar ook die uitdagings daarvan herken en bestuur.

Gespreksnotas saamgestel deur Anriëtte de Ridder na aanleiding van die Jong Volwasse Leer Gemeenskap byeenkoms gehou Februarie 2018.