navorsing

Die Jong Volwasse Leer Gemeenskap se navorsing 

Wie is die JVLG?

Die Moderamen van die NG Kerk Wes-Kaapland Sinode het vir die Taakspan Jeug- en Familiebediening opdrag gegee om te kyk na die bediening aan jong volwassenes, omdat dit juis die een ouderdomsgroep is wat die kerk sukkel om te bedien en te behou. Die Jong Volwasse Leer Gemeenskap (JVLG) is einde 2017 gestig en bestaan uit predikante wat met hierdie ouderdomsgroep werk of self jonk is. Die Jong Volwasse Leer Gemeenskap doen navorsing deur te lees wat wêreldwyd oor dié groep en hul geloof en kerkbetrokkenheid bevind is, sowel as om dit te vergelyk met Suid-Afrikaanse navorsing en stories wat versamel word.

Hierdie jaar (2019) is die JVLG uitgebrei deur ‘n Gemeente Netwerk te stig in 3 sinodes, naamlik Wes-Kaapland, Natal en die Oos-Kaap. 30 gemeentes in die netwerk is tans besig om deur ‘n begeleide proses te gaan om vars “uit die boks” bedienings aan, deur en met jong volwassenes te begin wat eksperimenteer met alternatiewe vorms van “kerkwees”. Ons gaan baie by hierdie gemeentes leer oor hoe die kerk van die toekoms gaan lyk.

Wat sê die navorsingsresultate, stories en leeswerk?
Daar is ‘n groot aantal jongmense in elke gemeenskap wat in die kerk grootgeword het. Van hulle is daar ongeveer 60% wat nie meer kerk bywoon of aktief hulle geloof beoefen nie. Hulle word beskryf as jong volwassenes VERDER van die kerk. Hierdie syfer wissel in elke konteks. Dit is nie bloot ‘n fase waarin hulle is wat verby gaan sodra hulle kinders kry nie. Hierdie is die eerste generasie waarvan daar ‘n beduidende groep is wat in die kerk grootgeword het, maar nie weer gaan terugkeer nie.

Die 3 groot redes hiervoor is:

  1. Soeke na wysheid– Sommige het seergekry in die kerk of is op soek na antwoorde. Hulle soek na die toepaslikheid en sinvolheid van hulle lewe en geloof.
  2. Soeke na roeping– sommige kan nie hul geloof (en dus ook kerk en die Bybel) aan hulle werk en roeping verbind nie en dit raak dus irrelevant in hulle leefwêreld.
  3. Soeke na gemeenskap– sommige vind gemeenskap elders – kerk en geloof is dus nie ‘n prioriteit nie.

Uit die groep wat steeds aktiewe Christene is en (soms) kerk bywoon (hulle word beskryf as NADER aan die kerk), is daar ook 3 groepe geïdentifiseer:

  1. Daar is ‘n groep wat nie meer in die NG Kerk tuiskom nie, maar wel in ‘n ander denominasie ‘n heenkome gevind het. Hiervoor is verskeie redes geïdentifiseer.
  2. Daar is aktiewe lidmate wat wel in die NG Kerk bly en deelneem aan aktiwiteite. Hulle het egter steeds verskeie behoeftes wat aangespreek moet word, sodat hulle ruimte het om te groei, te aanbid en te dien.
  3. Daar is ‘n groep lidmate wat passief en onbetrokke Hiervoor is daar ook verskeie redes.

Dit is dus belangrik om nie hierdie ouderdomsgroep te veralgemeen nie. As ons die meerderheid wil bereik, sal ons nuut moet dink oor kerk-wees.

Dan is daar ook ‘n groep wat nie in die kerk grootgeword het nie, waaroor hierdie groep nie navorsing gedoen het nie. Hierdie groep behoort tot ander gelowe, is ongelowig of is nie praktiserende gelowiges nie.

Geskryf deur ds Anriëtte de Ridder (Predikant in Sinodale Diens vir Jeug- en Familiebediening van die Wes-Kaapland Sinode).

 

Hoe lyk huishoudings in Suid-Afrika?

#DIepdink

Wanneer gemeentes nadink oor jeugbediening, is dit onmoontlik om die jeugbediening los te maak van die huishoudings waaruit die jongmense kom nie. Dit is onmoontlik vir ’n jeugbediening om alleen verantwoordelikheid te neem vir die geloofsontwikkeling van kinders. Buiten dat dit onmoontlik is, lê ’n Bybelse verstaan van geloofsontwikkeling die verantwoordelikheid daarvan juis by die voete van ouers.

In 2005 het die Algemene Jeugkommissie van die NGK in samewerking met Buvton en die Hugenote Kollege in twintig gemeentes uit Gauteng en die Wes- en Suid-Kaap ‘n projek genaamd die Familie Gemeente Projek (FGP)[i] afgehandel. Een van die bevindinge van hierdie projek het gewys dat ouers gevoel het dat gemeentes hulle nie genoeg ondersteun in hul taak van geloofsontwikkeling van hul kinders nie. My opinie hieroor is dat gemeentes eerstens nie die aard van huishoudings verstaan nie en daarom ook nie altyd weet wat gesinne nodig het nie.

In 2011 het die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIR)[ii] ’n studie, getiteld First Steps to Healing the South African Family asook Solidariteit Helpende Hand (SHH)[iii] se verslag, ʼn Foto van Afrikaanse Gesinne in Suid-Afrika bekend gestel wat ten doel gehad het om ’n prentjie van huishoudings te skep.

Die SAIR het hulle prentjie van die groter Suid-Afrika opgesom deur te sê dat “In South Africa, the ‘typical’ child is raised by their mother in a single-parent household.” Hulle het die volgende statistiek daarvoor gehad:

  • 35% van alle kinders in Suid-Afrika leef saam met albei hul biologiese ouers.
  • 40% van alle kinders in Suid-Afrika leef slegs by hul biologiese ma
  • 8% van alle kinders in Suid-Afrika leef slegs by hul biologiese pa
  • 6% van alle kinders in Suid-Afrika leef glad nie by enige van hul biologiese ouers nie
  • 43% van Suid-Afrikaanse kinders tussen 0 en 4 jaar leef saam met albei ouers in die huis
  • 24% van wit kinders in stedelike gebiede woon in enkel-ouer gesinne

SHH het gefokus op spesifiek wit, Afrikaanse huishoudings en hier lyk die statistiek soos volg:

  • Ongeveer een uit drie van Afrikaanse kinders kom uit ’n gebroke gesin (geskeide ouers)
  • 66% van gebroke huishoudings se kinders leef by die ma,
  • 15% van gebroke huishoudings se kinders leef by die pa
  • 19% van gebroke huishoudings se kinders leef by ander familie of vriende
  • Huishoudings spandeer 10-12 ure per week minder saam

Hierdie prentjie help ons om dalk meer te verstaan wat die uitdagings is waarbinne gemeentes hul jeugbediening moet sien. Die groter sekularisasie van die samelewing en die post-Christendom era het reeds tot gevolg gehad dat dit glad nie meer ’n gegewe is dat kinders outomaties kerk toe kom nie. Hoewel daar steeds baie kinders gedoop word en “op die boeke” is, is dit toenemend ’n geval dat slegs ongeveer ’n derde[iv] van daardie kinders enigsins by die gemeente se jeugbediening geleenthede gaan uitkom.

Die struktuur van huishoudings wys vir ons dat van die derde wat wel kom, byna ’n kwart waarskynlik net elke tweede week die jeugbediening sal bywoon, weens ouer-toesig kwessies. Omdat huishoudings ook merkbaar minder tyd saam spandeer, kan ons bespiegel dat, veral Sondae, wanneer daar nie werk en/of skool programme is nie, ’n huishouding aktiwiteite sal kies waaraan almal saam kan deelneem en nie iets doen wat hulle generasie-gewys fragmenteer nie.

Wat hier nog nie deel van die prentjie is nie, is die die huishoudings wat wel twee ouers het, se werk samestelling. Daar is aspekte soos veral in stedelike gebiede, waar een van die ouers pendel vir werk, hetsy op ’n plaaslike vlak (bv. 2 ure in die motor), op nasionale vlak (gereelde werk in ander dele van die land) of in die buiteland (kontrak-werk, multinasionale maatskappye, ens.) Die praktiese effek daarvan is ook in der waarheid enkelouer huishoudings. Daar is ook nie na die invloed van skoolprogramme op kinders se tyd gekyk nie.

Die missionale beweging van die kerk vra dat jeugbediening al meer kreatief moet dink om jongmense te bedien in die wêreld waar hulle is. Een van die aspekte hiervan is om kinders se ouers beter toe te rus om binne-in die huishoudings geloofsvorming te fasiliteer, maar ook om ruimte en kapasiteit te skep waar huishoudings as ’n eenheid kan tuis kom in die bediening van die gemeente.

[i] Familie Navorsing Projek – A (FNP A). (n.d.). Opsomming van vraelyste. Ongepubliseerde verslag.

Familie Navorsing Projek – B (FNP B). (n.d.). Familie Navorsing: ‘n Outsider Witness Verslag oor die Opsommings van Onderhoude. Vir verdere refleksie… Ongepubliseerde verslag.

Familie Navorsing Projek – C (FNP C). (n.d.). Familie Navorsingsprojek: aan huis van Nico Simpson. Ongepubliseerde verslag.

 

[ii] Holborn, L & Eddy, G. (2011). First steps to healing the South African Family. Johannesburg: South African Institute of Race Relations.

 

[iii] Taljaard, A., & Langner, D. (2011). ‘n Foto van Afrikaanse Gesinne in Suid-Afrika. Pretoria: Solidariteit Helpende Hand.

 

[iv] SCHOEMAN, WJ. (2011). Kerkspieël – ‘n kritiese bestekopname. NED GEREF TEOLOGIESE TYDSKRIF

DEEL 52, NOMMERS 3 & 4, SEPTEMBER & DESEMBER. Wellington: CLF