nuus

Taizé in Kaapstad

25 – 29 September 2019

‘n Ekumeniese byeenkoms in Kaapstad vir jongmense tussen die ouderdom van 18-35 jaar oud om egte gemeenskap te bou en om hul hoop in Christus te versterk. ‘n Deel van die program is gesamentlike, multitalige aanbidding asook werkswinkels oor hoe om ‘n verskil in die wêreld te maak. Gemeentes wat 45 min of minder vanaf Kaapstad middestad geleë is, kan as gasgemeentes aanmeld om jongmense te huisves en ook blootstelling aan hulle eie gemeente en projekte te gee.

Meer inligting by capetown@taize.fr of https://www.taize.fr/en_article23846.html

Klik hier om die pamlet af te laai.

 

GEOPENDE DEURE: Aanbiedings vir kinders, jeug en studente

Die kinder-, jeug- en studentebediening van Geopende Deure Suider-Afrika strewe daarna om die plaaslike Kerk te bedien en om, sodoende, ook die vervolgde Kerk wêreldwyd op ʼn effektiewe wyse te bemoedig en te versterk. Ons is in staat om insiggewende multimedia-aanbiedings te gee, asook verskeie getuienisse uit die vervolgde Kerk, by skole, gemeentes en jeuggroepe. Ons jeugbediening fokus graag op diegene tussen die ouderdom van ses tot 21 jaar oud.

Ons programme word aangepas om in die behoeftes van die spesifieke gehoor te voldoen, asook die ouderdomme van die kinders en jongmense teenwoordig.
Ons aanbiedings kan omskryf word as aanbiedings by kleingroepe, skoolsaalopeninge, godsdiensperiodes, sendingweke, gebedsgroepe, Sondagskool- of Kinderkerkbyeenkomste, jeugkerkdienste, ens.
Die doel van hierdie aanbiedings is om die kinders en jeug in te lig oor die vervolgde Kerk, asook die werk van Geopende Deure in geslote lande reg om die wêreld.

Nooi ons gerus na jou gemeente of jeuggroep om te kom vertel van ons vervolgde broers en susters in Jesus Christus – húlle wat in ons geloof deel, maar nie ons vryheid nie! Kontak gerus ons Jeugkoördineerder, Natasja, vir meer besonderhede deur ʼn e-pos te stuur aan: youthsa@od.org of besoek gerus ons webblad vir meer inligting.

Geopende Deure – Diens aan vervolgde Christene wêreldwyd!

Gotta Love Millennials

Die Jong Volwasse Leer Gemeenskap stel ‘n uitdaging aan gemeentes om in ‘n erediens gesprekke met naskoolse jongmense in en buite die kerk aan te knoop. Die rede hiervoor is dat jongmense dikwels ervaar dat daar nie vir hulle ruimte geskep word in die kerk nie, en dat hulle graag na geluister wil word. As aanknopingspunt word ‘n plakker met een van die volgende uitdagings vir elke gemeentelid uitgedeel:

  1. Gaan eet ‘n Wacky Wednesday burger by Steers saam met ‘n Millennial
  2. Gee vir ‘n Millennial ‘n spreekbeurt in die erediens
  3. Doen ‘n buitelug aktiwiteit saam met ‘n Millennial
  4. Speel ‘n bordspeletjie saam met ‘n Millennial
  5. Maak kos saam met Millennials
  6. Koop data vir ‘n Millennial

Die plakkers kan hier afgelaai word: Millennial Plakkers
Die jpg formaat kan by jeug@sun.ac.za aangevra word.

 

 

Die Jong Volwasse Leer Gemeenskap se vraag

Die Jong Volwasse Leer Gemeenskap (JVLG) het ‘n vraag formuleer om…

  • eerstens hul navorsing op te som tot dusver;
  • tweedens om die crux van die uitdaging te formuleer;
  • en derdens ‘n vraag te vind wat almal op alle vlakke van kerkwees kan help om na te dink oor jong volwassenes, die kerk en die toekoms

Die vraag is…

Wat kan ons volhoubaar anders doen sodat jong volwassenes vanuit egte gemeenskap ten volle (“fully alive”) kan leef met geloof, wysheid en roepingsbewustheid?

Hoekom dié vraag?

(more…)

Toegerus vir die Toekoms

Die wêreld verander so vinnig en soms voel ‘n mens oorweldig deur al die uitdagings wanneer jy kinders begelei.

Die Kix-Konferensie Toegerus vir die Toekoms is ‘n ideale geleentheid vir jou en ander Kix-leiers, kategete, jeugleiers, ouers, jeugwerkers en predikante om oor die geleenthede van die toekoms na te dink. Kom luister na relevante sprekers, woon praktiese werkswinkels by, ontdek nuwe hulpbronne en netwerk met ander kinderbedieningsleiers.

Hierdie geleentheid vind op 11 en 12 September by die NG Gemeente Kuilsrivier-Suid plaas.  Vir verdere inligting kontak jeug@sun.ac.za of kry jou inskrywing en die program hier.

5 VBO Kursusse vir 2017

www-gazillionthanks-comKursusse Jeug- en familiebediening


Padlangs ouerskap

Jan van Zyl en Johann Winterbach

14-16 Februarie 2017

Die doel van die kursus is om ouers te begelei in deelnemende positiewe ouerskap.

Ouers word toegerus met gereedskap om hulle te help om ʼn veilige ruimte te skep waar elkeen in die gesin die geleentheid kry om sy/haar volle potensiaal te ontwikkel.

Kinders word ook geleer om self verantwoordelikheid vir hulle gedrag te neem. In die proses waar kinders geleer word om keuses te maak, leer hulle selfstandigheid. Die einddoel is ʼn plek waar almal in die gesin gelukkig en tevrede is.

Deelnemers ontvang die volgende vaardighede en gereedskap:

  • om die belangrikheid van kwaliteit-tyd te besef;
  • hoe om empaties te wees – verskeie kommunikasie-vaardighede word aangeleer soos om te eggo, refleksiewe luister, edm;
  • positiewe geloofwaardige terugvoer;
  • nie-bedreigende kommunikasie;
  • ek-boodskappe;
  • dissipline en
  • hoe om ʼn huisvergadering in te rig.

Hierdie kursus word spesifiek so ingerig dat deelnemers toegerus word om die kursus self te gaan aanbied.


VARS! Alternatiewe bedieningsmodelle aan naskoolse jongmense en millennium ouers

Anriëtte de Ridder en Gielie Loubser

3-4 Mei 2017

Benut die geleentheid om vars perspektiewe te kry en ‘n relevante bedieningsmodel te ondersoek vir jou konteks.

  • Wie is “Millennials” en hoe dink en leef hulle?
  • Wat wys die nuutste navorsing vir ons oor hierdie groep se unieke geloofsgewoontes en behoeftes?
  • Hoe kan gemeentes nuwe bedieningsgeleenthede raaksien en ontgin?
  • Wat leer voorbeelde en stories hiervan vir ons oor nuwe moontlikhede en vars metodes?
  • Hoe word ons eie perspektiewe oor kerkwees in die proses uitgedaag en vernuwe?

Millennials vra verseker ’n nuwe manier van kerkwees.  Wat hierdie nuwe vorme kan kerk alles kan wees word hoofsaaklik bepaal deur die konteks. Tog is dit nodig om ’n verbeelding te ontwikkel van wat alles moontlik is.

Kom dink en praat saam oor die uitdaging wat millennials vir ons stel om relevant te bedien.


Speltegnieke in jeugbediening

Siegfried Louw

27-28 Junie 2017

Hierdie is ʼn kursus vir eenvoudige spelterapie-tegnieke met skoolgaande kinders (tieners ingesluit)

  • Gemeentes wil betrokke raak by die broses in die samelewing, maar sukkel soms met die wêreld van ʼn kind. Kinders geniet nie “praat-terapie” nie, want hulle abstrakte denke is nog nie daar nie (die jongeres).
  • Speltegnieke gee aan ons die instrument om kinders se lewensvordering te fasiliteer, indien ʼn paar basiese beginsels gevolg word.
  • Gestalt speltegnieke word gebruik om kinders te bemagtig met selfstandigheid, verantwoordelikheid en volledige menswaardigheid. Die kind bly in beheer van sy/haar eie proses.

Na die kursus

  • Sal jy weet hoe om basiese speltegnieke in berading te benut.
  • Sal jy praktiese speltegnieke vir emosionele ontlonting kan gebruik. ʼn Verskeidenheid van mediums word gedek.
  • Die basiese teoretiese vertrekpunte van Gestalt speltegnieke sal deel van jou kennisvaardighede wees.
  • Ons verwagting is dat jy van die kursus sal wegstap met ʼn gevoel dat jy iets konkreet kan gaan doen in jou omgewing.

SAAM! Intergenerasionele jeugbediening

Anriëtte de Ridder e.a.

6-7 September 2017

Benut die krag van saamwees en ondersoek moontlikhede om binne in jou gemeente ruimte te skep vir intergenerasionele bediening.

  • Wat is intergenerasionele bediening?
  • Wat wys die nuutste navorsing vir ons oor geloofsvorming wat ʼn impak het oor hoe ons dink oor jeugwerk?
  • Wat is die basiese uitgangspunte en kern sleutels van ʼn intergenerasionele strategie?
  • Hoe verander die beginsels van intergenerasionele jeugbediening tradisionele ruimtes soos die erediens, kategese, feeste, die bediening van sakramente, ens.?
  • Watter praktiese voorstelle en kontekstuele voorbeelde is daar?

Daar is ruimtes in ons gemeentes wat aan volwassenes behoort (“adult centred spaces”) en dan is daar ruimtes waar daar op kinders gefokus word (“child centred spaces”). In eersgenoemde word die styl, taal en gewoontes deur die volwasse lidmate bepaal en is hulle behoeftes die fokuspunt (dink maar aan ʼn erediens). In laasgenoemde werk dit net mooi anders om en is kinders se geloofsontwikkeling en lewensfases weer die uitgangspunt en volwassenes is daarop gefokus (dink maar aan kategese).

ʼn Intergenerasionele bediening skep ruimtes waar generasies SAAM bedien kan word, almal verwelkom word, almal die ruimte beïnvloed en almal mekaar kan beïnvloed. Hierdie kursus ondersoek die teorie en praktyk van intergenerasionele jeugbediening en hoe dit prakties in verskillende fasette van gemeentebediening (erediens, kategese, kampe, uitreike, feeste, ens) asook huisgeloof geïntegreer kan word.


Kategese vir die volgende generasie

Anriëtte de Ridder e.a.

24-26 Oktober 2017

Die geloofsvorming raamwerk, die nuutste navorsing en kontekstuele nadenke bied ʼn padkaart om kategese te herontwerp vir die volgende generasie!

  • Teologiese grondbeginsels en Bybelse perspektief vir geloofsvorming
  • Die uitdagings vir kategese en geloofsvorming vandag
  • Leidrade wat die nuutste navorsing vir ons gee
  • Kategese as deel van ʼn groter jeugbediening-strategie
  • Kontekstuele toepassing
  • Nadenke oor belydenisaflegging
  • Die proses van dissipelskap en mentorskap
  • Kategese materiaal keuse
  • Ouers se betrokkenheid en rol
  • Huisgeloof en familiebediening

Tydens die kursus sal daar gekyk word na die teologiese raamwerk vir geloofsvorming en hoe kategese steeds ʼn belangrike deel daarvan vorm.  Ons gaan ook saam dink oor hoe kategese in ʼn nuwe konteks en generasie ʼn nuwe vorm aanneem. Die nuutste navorsing gee vir ons perspektief oor hoe ons vars uitdrukking aan antieke beginsels kan gee. Verskillende kontekstuele benaderings (byvoorbeeld stad, platteland, klein, medium en makro gemeentes) sal ook aandag geniet. Die Kategese taakspan van die Algemene Sinode se boekie “Geloofsvorming herontwerp” beskryf 12 bakens vir geloofsvorming wat as subtemas vir die gesprekke sal dien. Daar sal ook deurgaans saam gesoek word na “best practices” wat jou gemeente kan help om effektiewe geloofsvorming te fasiliteer.

LW Hierdie is ‘n herhaling van die kategese kursus wat in Oktober 2016 aangebied is.

Meer oor Gateway Youth Foundation– ‘n organisasie wat werk in skole

www-gazillionthanks-com-9Die ou model (van ‘n jeugwerker in elke skool plaas) werk nie, volgens Willie Roos van Gateway Youth Foundation. Dit was duur om te onderhou en jeugwerkers was baie jonk en het nie lank gebly in ‘n skool nie.  Die model wat Gateway dus volg plaas nie jeugwerkers in ‘n skool nie, maar eerder ‘n mentor langs ‘n skool wat die skool ondersteun / bemagtig om `n christelike vereniging te bou in die skool.

Dit bestaan uit 5 bene wat die mentor vestig

  1. ‘n Aksie span wat bestaan uit onderwysers, jeugwerkers, ouers ens wat die proses in die skool saam bestuur
  2. Dissipelskapgroepe
  3. Gebedspan – wat ‘n gebedskultuur in die skool vestig
  4. Projekte – uitreike of waarderingsprojekte wat gereël word
  5. Media

Sleutel elemente:

  • Gateway stel ‘n mentor aan wat hierdie proses met 5 komponente dryf. Gateway as organisasie lei hierdie mentor op en is verantwoordelik vir hom/haar.
  • Die mentor is tipies verantwoordelik vir ‘n paar skole. Die mentor is egter nooit alleen verantwoordelik nie. Hy/sy moet in samewerking met die kinders en volwassenes werk.
  • Hoe meer eienaarskap en inisiatief kinders het met hierdie model, hoe vinniger groei dit.
  • Die mentor het dan ervaring van verskillende skole.
  • Sy/haar salaris word deur 5 skole gedeel (dit is dus ‘n meer leefbare salaris, maar een skool/kerk word nie alleen daarmee “belas” nie).
  • Daar kan dus ook meer ervare mense aangestel word as mentors, wat belangrik is vir die samewerking met die strukture (beheerliggame, kerke ens).
  • Hierdie is ‘n spanbenadering, waarin almal buiten die mentor vrywilligers is. Dit kweek ook selfstandigheid.
  • Die model en struktuur werk nie sonder goeie verhoudings nie.

Kyk ook na www.gateway.co.za

Gateway is meestal in die noorde van Suid-Afrika by skole betrokke.

Artikel saamgestel deur Nicola Alberts en Anriëtte de Ridder vanuit die energiepunt gesprek oor skolebediening.