ouerleiding

Webwerf oor depressie

Webwerf oor depressie: depressie101

Hierdie is ‘n baie handige webwerf vir mense wat inligting benodig oor depressie, angs en selfmoord. Daar is ‘n afdeling met inligting sowel as ‘n afdeling wat raad gee oor hoe ‘n mens die siekte van depressie bestuur in jou lewe. Daar is ‘n maandelikse nuusbrief met nuttige inligting, sowel as kontakbesonderhede van instansies wat hulp kan verleen. Hierdie organisasie doen ook opvoedkundige toneelopvoerings by skole en kerke en lewer praatjies vir tieners of ouers.

http://depressie101.co.za/

Huisgeloof – ‘n gesprek oor die Heilige Gees

WIND

Staan in die wind of voor ‘n waaier. haal ook diep asem terwyl jou hand ‘n entjie voor jou (oop) mond hou. gesels oor hoe ‘n mens nie die Heilige Gees kan sien nie en nie altyd bewus is van die Gees nie. tog is Hy soos die wind of suurstof altyd om ons en in ons aan die werk. soms kan jy hom voel of sy werk sien.

STERRE

Staan buite in die nag en kyk na sterre. Gesels oor die sterre oor hoe wonderlik hulle is. Praat dan oor hoe helder elkeen brand en lig maak. gesels oor hoe die Heilige Gees ons help om lig te maak en te skyn deur hoe ons getuienis.

KERSE

Skakel al die ligte af en steek ‘n kers aan en kyk na hoe dit brand. gesels oor hoe die Heilige Gees ons troos en lei in moeilike (donker) tye.

SPIEEL

Staan voor ‘n spieel. hoe help die Heilige Gees ons om meer soos Jesus te lyk en op te tree? Hoe help hy ons om goeie besluite te neem.

KLEI

Speel met die klei. jul kan iets van jouself uitbeeld. gesels oor hoe die Heilige Gees ons vorm deur ons aan Jesus (en sy woorde) te herinner. Hoe verander / vorm die Gees ‘n mens?

TUIN

Plant saam saadjies of werk in die tuin / groentetuin. gesels oor hoe die Heilige Gees ons help om te groei. hoe is ons soos saad? Hoe gee Hy vir ons kos en water? Hoe snoei hy ons? Watter vrugte dra ons as die Gees deur ons werk?

ALARM

Stel almal ‘n wekker of horlosie of selfoon vir die tyd wanneer julle wil gesels. wanneer die alarms / wekkers afgaan gesels oor hoe die Heilige Gees ons herinner. Hy help ons onthou. Hy herinner ons aan Jesus se beloftes.

WATER

gaan stap langs water (‘n dam, swembad of waterpoel). gesels oor hoe belangrik water is vir die mens. wat beteken dit dat die Heilige Gees soos ‘n fontein in ons binneste is? wat beteken dit dat die Heilige Gees ons dors wil les en ons wil vul met lewende water?

Vir meer inligting, Bybelstudies of idees oor die Heilige Gees, besoek www.onsglo.co.za of laai die onsglo app af in die google playstore of in die appstore.

 

Huisgeloof doopviering

Huisgeloof – idees om die doop te vier in gesinne

  • Vind uit wanneer elkeen in die gesin se doopdatum is. Stoor dit op julle fone se kalenders en vier elke jaar op daardie dae ‘n “doop-verjaarsdag” saam met daardie gesinslid om hulle te herinner dat hulle God se kind is.
  • Vertel vir jou kinders van hul doopdag – kyk na fotos, vertel stories, lees weer saam die teksgedeelte. Vertel wat dit vir jou beteken het as ouer om jou kind te laat doop.
  • Vul ‘n bakkie met water en sit dit op julle etenstafel. Voor julle saam eet, gebruik ‘n oomblik om jul doop te vier. Julle kan byvoorbeeld elkeen ‘n vinger in die water doop en dan hardop bid: “Dankie Jesus dat ek gedoop is. Dankie dat U vir my lief is en altyd by my is.”

Vir ‘n Bybelstudie oor die tema “doop” besoek http://www.onsglo.co.za/2017/02/06/doop/

Die “onsglo” toep is ook gratis beskikbaar om af te laai vanaf die google playstore en die appstore.

Huisgeloof nagmaal gesprek

Idees om oor nagmaal saam te gesels in gesinne

  • Lees en bespreek die verhaal van die eerste nagmaal in Matteus 26: 26-30
  • Hoe sal jy die Nagmaal verduidelik aan iemand wat dit vir die eerste keer gaan gebruik?
  • Maak ‘n plakkaat met ten minste 5 verskillende woorde wat Nagmaal beskryf.
  • Vind uit wanneer julle volgende Nagmaal-Sondag by die gemeente is. Hoe kan jul as gesin daar dien? Bv. help met die brood sny, die tekens uitdeel, opwas na die tyd ens.
  • Bak brood saam as familie. Terwyl julle die brood bak gesels oor julle eerste Nagmaal ervaring of wat die Nagmaal beteken.

Om meer te lees oor nagmaal of ‘n Bybelstudie oor die tema saam te doen, besoek: http://www.onsglo.co.za/2017/02/06/nagmaal/

Die “onsglo” toep is ook gratis beskikbaar om af te laai vanaf die google playstore en die appstore.

Huisgeloof gesprek oor belydenis van geloof

Gesels as gesin oor Belydenis van Geloof

  • Teken ‘n tydlyn van die hoofstukke van jou lewe. Vul die hoogtepunte en laagtepunte in. Watter spesiale oomblikke wat jy wil onthou en vier? Hoekom was hierdie oomblikke spesiaal in jou lewe? Hoe was God teenwoordig in al die verskillende hoofstukke?
  • Maak ‘n lys van ‘n paar oomblikke in jul as gesin (of elkeen apart) se lewe waar jy ‘n spesiale ervaring van God gehad het.
  • Ouers kan deel wat dit vir hulle beteken dat hulle belydenis van geloof afgelê het. Watter betekenis hou dit vir hulle vandag in?
  • Vra iemand in jou familie of iemand wat jul ken wat reeds belydenis van geloof afgelê het, om te vertel van hul ervaring en wat dit vir hulle beteken het. 
  • Gesels oor hoe Belydenisaflegging ‘n “antwoord op jou doop” is.

 

Vir ‘n Bybelstudie oor die tema “belydenis van geloof” besoek www.onsglo.co.za/2017/02/06/belydenis-van-geloof/

Die “onsglo” toep is ook gratis beskikbaar om af te laai vanaf die google playstore en die appstore.

 

Doopgesprek

Wil jy met ouers gesels oor die doop? Of met ‘n Belydenisklas? Wil jy dalk ‘n doopherinnering doen?

Ds Tinus van Zyl verduidelik die 5 basiese betekenisse van die doop in die volgende artikel:  http://www.onsglo.co.za/2017/02/06/doop/

Indien jy ‘n preek wil doen hieroor, of ‘n gesprek wil fasiliteer, volg ook dieselfde skakel vir ‘n teks, gespreksvrae, praktiese aktiwiteit en ‘n gebedswenk.

Boelies

…En sê nou daar’s ‘n boelie...-

‘n Rukkie gelede, oppad na KIX by een van ons skole, kom ek af op ‘n huilende kind, een van ons KIX-ers. Sy wou nie sê wat haar so ongelukkig maak nie. Toe ek haar ma die aand bel, kom die storie uit. Sy word geboelie, al lankal al, deur ‘n graad 3 dogtertjie en haar twee trawante wat ‘n terreurveldtog op die skoolterrein voer. In dieselfde week vertel iemand my van ‘n seuntjie van die ander skool. Soggens het hy maagpyn of gooi selfs op. Hy is te bang om skool toe te gaan, want hy word geboelie.

Baie mense voel dit is maar deel van grootword dinge. Maar só eenvoudig is dit nie. Boelies is ‘n universele verskynsel wat in elke land, kultuur, ouderdomsgroep en geslag plaasvind. Dit is ‘n probleem wat vir almal hoofbrekens besorg, ook vir kinderwerkers. Kom ons bekyk die verskynsel van boelies ‘n slag van naderby. Kom ons help en bemagtig mekaar om sodoende kinders, ouers en onderwysers te help wat hiermee te doen het.

Wat is ‘n boelie?

Dit is iemand wat beheer wil verkry oor ‘n meer weerlose of kwesbare persoon óf oor sy vriendekring[1] deur fisiese of verbale aggressie [2]. Seuns en dogters kan boelies wees.[3] Navorsing het bevind dat die verskynsel van boelies, baie dikwels in skole voorkom.[4]

Wat is tipiese boelie gedrag?[5]

  • Boelies is geneig om te boelie wanneer daar nie gesagsfigure naby is nie, byvoorbeeld op die speelgrond, in die kleedkamers of in die skool se gange.
  • Boelies het gewoonlik een of twee trawante wat altyd saam met hulle is en hul help om ‘n kind te intimideer.
  • ‘n Slagoffer kan geterg word, name genoem word, afgepers word of fisies seergemaak word.
  • Boelies kan stories of leuens oor die slagoffer versprei.
  • Boelies kan poog om almal teen die slagoffer te laat draai – om hom / haar ‘n uitgeworpene te maak.
  • Boelies kan die slagoffer se besittings wegsteek, beskadig of afvat.
  • Boelies kan slagoffers totaal ignoreer en ander sover kry om dieselfde te doen, die “silent treatment.”
  • Boelies kan die slagoffer dreig dat sy vriende of familie ook ge”kry” sal word.
  • Boelie gedrag doen nie net die slagoffer skade aan nie, maar ook aan die boelie self.[6]

Wat moet mens weet van boelies[7]

  • Hulle hou daarvan om mense te verkleineer, skaam of seer te maak.
  • Boelies het nie baie selfvertroue nie; daarom pik hulle op ander.
  • Hulle is dikwels ongelukkige mense met probleme.
  • Boelies voel beter oor hulleself as hulle ander kan laat sleg voel.
  • Baie kenners is dit eens dat boelies boelie, omdat hulleself geboelie is, miskien tuis, elders of by die skool. (NB Maar selfs al word iemand geboelie, het hy / sy ‘n keuse. Hy hoef nie ‘n boelie te word nie!)
  • Sommiges help die boelie om te boelie, om te verhoed dat hulleself geboelie word.
  • Boelies werk dikwels in groepe, want dit help hulle om verskonings te hê wanneer hulle uitgevang word, bv. “…Ek het dit nie begin nie… Ek was net daar naby… Hy [die slagoffer] het dit begin en ek het net my vriend gehelp…”
  • ONTHOU: ‘n Boelie kan alleenlik suksesvol wees indien niemand iets daaromtrent doen nie!
  • Boelies se ouers neig om inkonsekwent dissipline toe te pas en dikwels is daar min warmte of liefde in sulke gesinne.[8]
  • Gewoonlik is boelies nie model studente nie, presteer nie goed op skool nie en kom nie oor die weg met hul onderwysers nie.[9]
  • Boelies is nie gewild onder hul portuurgroep nie.[10]

Hoe lyk die boelie se tipiese slagoffer?[11]

  • ‘n Slagoffer kan enigiemand wees wat toevallig op die verkeerde tyd, op die verkeerde plek is.
  • Mense wat op enige wyse dalk “anders” is.
  • Enigiemand wat lyk asof hy / sy ‘n maklike teiken is (maklik om bang te maak).
  • Iemand wat kleiner of jonger as die boelie is.
  • Mense wat sensitief is, wat maklik huil of ontsteld word.
  • Mense wat nie baie vriende het nie, byvoorbeeld nuwe kinders.

Wat is die gevolge vir die slagoffer?[12]

  • Om geboelie te word is baie stresvol vir die slagoffer.
  • Kinders mag ‘n teësin ontwikkel vir skool.
  • Slagoffers begin alle lede van die portuurgroep wantrou en sukkel om vriende te maak.
  • Ekstreme slagoffers kan depressie of ‘n fisiese siekte ontwikkel.
  • Meeste slagoffers presteer goed op skool en is in staat om te begin vriende maak soos hulle ouer word.
  • Meeste slagoffers (veral die wat deur volwassenes ondersteun word) oorleef die boelie ondervinding sonder langtermyn newe-effekte.

Hoe hanteer mens ‘n boelie?[13]

  • Leer ‘n kind om ALTYD oplettend te wees en voortdurend op die uitkyk te wees vir ‘n moontlike boelie situasie.
  • Vermy ‘n boelie situasie. Weet wanneer om weg te loop.
  • Gebruik humor om ‘n boelie te ontlont. Maak ‘n grap wanneer ‘n boelie begin aanmerkings maak of begin om te terg. Daardeur kry die boelie nie die gewenste reaksie van die “slagoffer” nie. Laat die kind dit vooraf inoefen met rollespel. Gee vir die kind grappies / grappige sinsnedes wat hy / sy moontlik kan gebruik vir die boelie.
  • Tree self-handhawend (assertive) op. Sê DUIDELIK vir die boelie om te skoert of “GAAN WEG!” en stap dan self weg van die situasie. Laat die kind dit vooraf oefen in die spieël en deur rollespel.
  • Maak ‘n nuwe vriend(e).
  • Bly voortdurend tussen ‘n groep kinders. Boelies pik op kinders wat alleen is.
  • Soek vriendelike kinders se geselskap op en begin bou aan vriendskap met hulle.
  • Kry hulp by ‘n volwassene. Moedig die kind aan om as hy geboelie word, te gaan praat met ‘n onderwyser, sy ouers of ander volwassenes.[14]
  • Beskerm die kind se gevoelens teen “name-calling” deur hulle te leer om hulself te beskerm teen beledigings. Leer die kind dat om die boelie terug te beledig, die situasie net sal vererger.
  • Om die krag en seermaak uit woorde weg te neem, kan die beledigende woorde hardop gesê word deur die kind. Laat die kind dan die woorde “weggooi”. ‘n Mens kan die kind laat oefen om die woorde in ‘n vullisblik te gooi. Laat die kind daarna iets positiefs oor homself sê wat hy weer kan inneem. Byvoorbeeld: “Niemand hou van jou nie.” Ek gooi die woorde weg en sê “Ek hou van my.”
  • Leer die kind om nie dadelik tou op te gooi as ander kinders hom nie by ‘n speletjie insluit nie. Help die kind om vol te hou om te vra om saam te speel. (Laat die kind vooraf oefen om nie aggressief of kermend te klink as hy met hulle praat nie. Help hom om te oefen om positief en vriendelik te lyk. Oefen gesigsuitdrukkings in die spieël.)[15]
  • As ‘n laaste uitweg, (volgens sommige kenners) leer die kind selfverdediging, vir geval hy fisies seergemaak gaan word en hy nie van die situasie kan ontsnap of hulp kan kry nie.

Wat kan skole doen om boelies stop te sit?[16]

  • Moenie boelie gedrag ignoreer nie – spreek dit aan! ONTHOU: ‘n Boelie kan alleenlik suksesvol wees indien niemand iets daaromtrent doen nie!
  • Gaan doen deeglike “huiswerk”. Stel akkuraat vas wat die omvang van die probleem is.
  • Sorg dat volwassenes meer sigbaar is oral op die skoolterrein, maar veral die areas wat die boelie probleem voorkom, bv. kleedkamers, speelgrond, die nasorg lokale, gange, ens. Sorg vir beter toesighouding, veral tydens pouses.
  • Maak dit teen die reëls om iemand anders te boelie. Wees konsekwent om alle boelie gedrag te dissiplineer.
  • Praat ernstig met boelies. Laat hulle verstaan dat jy bewus is van wat hulle doen en dat jy dit nie gaan duld nie.
  • Help die boelies om hulp te kry. Boelies is mense wat self probleme het.

[1] Carol E. Watkins, M.D. (Northern County Psychiatric Associates, Lutherville and Monkton, Baltimore County, Maryland) – Dealing with Bullies and how not to be one (www.ncpamd.com)

[2] Laura DeHaan, Ph.D (Assistant Professor of Child Development, North Dakota State University) – Bullies, February 1997. (www.ag.ndsu.edu)

[3] Hara Estroff Marano – Big bad bully. Psychology Today Magazine, Sept / Oct 1995.

[4] Ibid.

[5] Bullying – being unkind to others (Kids’ Health: Children, Youth and Women’s Health Service, South Australia, 8 April 2008.)

[6] Carol E. Watkins, M.D. (Northern County Psychiatric Associates, Lutherville and Monkton, Baltimore County, Maryland) – Dealing with Bullies and how not to be one (www.ncpamd.com)

[7] Bullying – being unkind to others (Kids’ Health: Children, Youth and Women’s Health Service, South Australia, 8 April 2008.)

[8] Laura DeHaan, Ph.D (Assistant Professor of Child Development, North Dakota State University) – Bullies, February 1997. (www.ag.ndsu.edu)

[9] Ibid.

[10] Ibid.

[11] Bullying – being unkind to others (Kids’ Health: Children, Youth and Women’s Health Service, South Australia, 8 April 2008.)

[12] Laura DeHaan, Ph.D (Assistant Professor of Child Development, North Dakota State University) – Bullies, February 1997. (www.ag.ndsu.edu)

[13] Hara Estroff Marano – Big bad bully. Psychology Today Magazine, Sept / Oct 1995.

[14] Personal safety and self defense for children, teens and adults: Face bullying with confidence. KIDPOWER – webtuiste.

[15] Ibid.

[16] Laura DeHaan, Ph.D (Assistant Professor of Child Development, North Dakota State University) – Bullies, February 1997. (www.ag.ndsu.edu)

 

Gedagtes oor verhoudings, vryheid en lewe

#DIepdink

Cars- ja, die Disney fliek, met Lightning McQueen, Mater en Doc Hudson. Ten spyte daarvan dat albei my kinders dogtertjies is, speel Cars byna op “repeat” in die DVD masjien. Afgesien daarvan dat ek die storie letterlik honderde al gekyk het, het ek onlangs eers besef dat dit ’n storie oor vryheid is.

Aan die begin sien ons hoe McQueen se kuipe-span bedank, want McQueen is skynbaar ’n one-man-show. Hy wil nie gebind wees aan ander wat vir hom sê wanneer hy bande, of brandstof nodig het nie. Verhoudings is vir hom ’n struikelblok wat hom gevange hou en keer om sy doelwit te bereik, naamlik om wenner van die Piston Cup te wees. Dit is sy droom, maar meer, hy koppel sy hele identiteit aan die gedagte dat hy ’n renmotor is, wat moet kompeteer en wen.

Op pad na die wedren, wat die finale wenner sal bepaal, beland hy deur ’n snaakse sameloop van omstandighede as “gevangene” van Radiator Springs. Hy is gevonnis tot gemeenskapsdiens, om die hoofstraat te herstel. In die loop van die paar dae daar ontwikkel hy verhoudings met karre, waarmee hy nooit andersins sou nie. Hy leer dat sukses en prestasies as doelwitte leeg is.

Dit het vir my ’n treffende beeld geword van ons lewe saam met Jesus. Baie mense van ons wêreld is baie prestasie gedrewe en in die proses word verhoudings kettings wat ons gevange hou. Die cliché is egter dat wanneer die doelwitte behaal word, is dit leeg wanneer daar niemand is om die vreugde mee te deel nie.

Ek verstaan die storie van die Bybel dat Jesus nie teenprestasie is nie. Hy is nie teen die gedagte dat ons ontwikkel en uitnemend leef nie, maar Jesus is beslis eerste vir verhoudings. Ons is gemaak om God se liefde te ontvang en ander mense lief te hê. Wanneer ons uitnemendheid en sukses gekoppel word aan verhoudings, het dit ’n groei-effek op ander mense.

Aan die einde van Cars wen McQueen nie die Piston Cup nie. Hy kom derde en dus laaste, maar skielik is hy deel van verhoudings wat die eerste plek baie relatief maak. Hy ontdek dat die verhoudings baie meer vryheid gee as sukses en bekendheid.

Wanneer ons uitnemend lief het en verhoudings bou ontdek ons vryheid, want prestasies alleen is koue selle waarin ons opgesluit word. Saam met ander mense is daar vryheid en die lewe in oorvloed waarvan Jesus praat (Joh. 10).

*Hierdie het voorheen in NG Kenridge se Vrydag Nuus verskyn.

Om te luister

#DIepdink

Jy ken daai gevoel. Daai gevoel dat iemand nie mooi geluister het na wat jy sê nie. Wanneer dit met my gebeur is sommer dadelik kwaad, want die ander persoon gee dan nie regtig aandag aan my nie en dit laat my onbelangrik voel en ook dat my verhouding met die persoon nie belangrik is nie. Die meeste van ons doen dit, sonder dat ons dit besef. Steven Covey beweer dat ons in ons luister-proses baie kere meer besig is om ons eie reaksie te formuleer as om regtig te luister na wat iemand sê.

Wanneer ons met iemand stry kom dit nog beter na vore en baie kere ontaard die stryery in ’n “shouting match” want ons voel dat wanneer ons die volume hoër maak, ons die punt beter sal kan dryf en op daardie manier gehoor sal word.

Om regtig na mense te luister is een van die maklikste maniere om menswaardigheid aan mense te betoon. Maar, om regtig te luister vat tyd en dit kos energie, want ons moet in iemand anders se skoene inklim. Die storie van Jesus en die pa wie se kind demoon-besete was (Markus 9:14-29) wys vir ons dat Jesus gehoor het wat aan die gebeur was, maar dat hy ook geluister het. Die manier waarop Jesus geluister het, het waarskynlik netsoveel beteken as die feit dat Jesus die seun gesond gemaak het.

Pete Scazzero[1] help ons met ’n paar praktiese punte om na mense te luister (en daarvan raak sigbaar in Jesus se optrede):

  1. Plaas jou eie agenda op die agtergrond. Jou eie agenda maak dat jy net wil hoor wat jy wil hoor, mis wat jy nie wil hoor nie en daarom nie luister nie.
  2. Laat die persoon praat tot hulle die hele gedagte afgehandel het. Wanneer ons “inchip” maak dit die omgewing vir hulle onveilig en in plaas van deel, word hulle dan verdedigend.
  3. Probeer dit wat die persoon gesê het in jou eie woorde herhaal en laat die persoon toe om jou te korrigeer, indien nodig. Dit sê vir die persoon, jy het geluister en dat jy moeite doen om te verstaan wat hy/sy probeer sê.
  4. As dit lyk of die persoon klaar gepraat het, maak eers seker of hy/sy klaar is. Dit maak dit moontlik vir die persoon om alles af te pak, sodat hulle kan voel hulle is gehoor.

Mag ons werklik na mense luister. Mag ons op hierdie eenvoudige manier mense help om menswaardig te voel. Mag mense op hierdie manier Jesus se genade deur ons beleef.

*Hierdie het voorheen in NG Kenridge se Vrydag Nuus verskyn.

[1] Peter Scazzero, 2006, Emotionally Healthy Spirituality, Zondervan

Soos jy bid, so glo jy, so leef jy.

#DIepdink

’n Paar jaar gelede het ’n skoolvriendin se man het binne ’n kwessie van enkele dae van blakend gesond beweeg, na onophoudelike hoofpyn, na ’n diagnose van ’n gewas op sy brein, na intensiewe sorg in die hospitaal, na dood. Deur die tyd het ek, saam met ’n klomp ander vriende en familie met groot hoop en verwagting gebid dat God die jong man sal genees, sodat hy kon voortgaan om vir sy pragtige jong gesin te sorg.

Hoe swakker dit gegaan het, hoe meer het ek gebid, tot my gebede meer die kleur van kerm en neul aangeneem het. Na sy dood was ek vies vir God en gefrustreerd met die Bybel en woedend vir Christene. Ek was vies omdat God nie ek en my vriendin se gebede verhoor het, soos ons wou nie. Ek was gefrustreerd met die Bybel, want dit belowe die opstandingskrag van Jesus, dat ons kan vra wat ons wil in sy Naam en hy sal gee en selfs dat ons nog groter werke sou doen as Jesus, maar helaas – geeneen van daardie beloftes het hier gegeld nie. Ek was woedend vir Christene wat vooraf groot stellings soos “Spreek net lewe” gemaak het en na sy dood self doodstil was.

Ek is steeds bietjie vies vir God, want my vriendin is nou ’n weduwee met twee seuns, waarvan een nooit sy eie pa sal ken nie. Ek weet nie hoe lyk God se pad nou met haar nie, maar hy het weer vir my een ding oor my lewe saam met Hom in gebed, geloof en lewe kom wys.

In Lukas 11:1-11 vra die dissipels vir Jesus om hulle te leer bid, waarna hy vir hulle die Onse Vader leer, die gewilde soek, klop en vra uitspraak maak. Heel aan die einde sê hy egter die volgende:

“As julle wat sleg is, dan weet om goeie geskenke aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die Hemelse Vader die Heilige Gees gee vir hulle wat Hom vra.”

Ek het geleer dat ons enige iets in gebed vir God kan vra. Ek het uit Lukas 11 geleer dat in gebed, ons God se volle, onverdeelde aandag kry, deur sy Gees. Ek het geleer, dat God nie altyd vir ons gee wat ons wil hê nie, maar Hy gee homself. Ek het dus geleer dat om aanhoudend te bid, aanhoudend my geloof versterk deur die Heilige Gees se teenwoordigheid te verseker en dat ek uit sy teenwoordigheid kan leef met die troos dat niks, nie eers die dood, my van Hom kan skei nie.

*Hierdie het voorheen in NG Kenridge se Vrydag Nuus verskyn.

Gerat om jongmense te begelei: Groeipyne

groeipyne

OPENING (5 minute):

Gebed  en verwelkoming.

Inligting

Die jeug is NOU al reeds deel van die kerk. Hulle is juis ‘n belangrike deel van die kerk, want hulle het die potensiaal om die kerk vorentoe te neem waar die vorige geslagte dit nooit kon neem nie.

As ‘n kategeet is jy in die bevoorregte posisie om n groot verskil in die jongmense in jou klas se geloofslewe te maak, maar om dit effektief te kan doen, moet ons verstaan met wie ons werk, want nie almal wat “jeug” is, is op dieselfde vlak nie.

Hierdie handleiding wil u as n kategeet help om te verstaan dat daar verskillende fases in die kind se lewe is, wat beteken daar is ook verskillende vlakke in hulle geloofslewe.

Daar is ook inligting om lesse en byeenkomste beter te benader, sodat dit werklik tot die kind deurdring.

ONTKNOPING (5 minute):

  • Laat almal in groepe verdeel (5-10 in ‘n groep) en die volgende vraag bespreek:
  • Verstaan jy werklik die kinders wat in jou klas is?
  • Kry terugvoer in die groep en in die grootgroep.

LERING (30 minute):

Video

Kyk die derde videoskyf oor Groeipyne.

Gesprekspunte na die video:

Laat almal in groepe oor die volgende praat en kry terugvoer in die grootgroep. Groepe kan ingedeel word volgens die ouderdomme van die kinders vir wie als gegee word. Groepe kan die verskillende fases dan bespreek.

  1. Hoe verskil ‘n graad 1 tot 3 kind van ‘n grad 4 tot 6 kind?
  2. Wat wil ‘n laerskool in die klas doen en wat wil hulle nie doen nie?
  3. Kan ‘n graad 2 seun abstrakte konsepte bespreek?
  4. Wat verander om en by die ouderdom van 13?
  5. Hoe ver is ‘n tiener se kognitiewe ontwikkeling?
  6. Is dit normaal vir ‘n tiener om te rebelleer en vrae te vra? Doen alle tieners dit?

AFLSUITING (2 minute):

Gebed

Here God Almagtig, U het ons as kategeet geroep om ’n rol te kom speel in jongmense se lewens. Here elke kind wat voor ons sit word gekonfronteer met verskillende goed in die lewe, en daarom Here wil ons vra dat U ons as kategeet sal toerus met die nodige wysheid, kalmte en geduld wanneer die jongmense begin vrae vra. Mag ons ’n oor he om te luister en as ons oor die kennis beskik, mag ons hulle so goed as moontlik antwoord. Here mag hulle U ook al hoe beter leer ken deur al hulle vrae.

Amen

EKSTRA INLIGTING:

Audio clips

Temas wat op die CD verskyn is:

  1. Balaans
  2. Jongmense se vriende
  3. Nie almal ontwikkel ewe vinnig nie
  4. Soektog na identiteit
  5. Stereotipering
  6. Uniek tog eenders
  7. Verhouding met ouers

ONTWIKKELINGSFASES

Hierdie is ‘n baie basiese kykie na die ontwikkelingsfases van kinders / jongmense in die kerk. Soveel meer kan nog gesê word op elkeen van die ontwikkelings-fases. Mag dit jou prikkel om verder te lees en te ontdek. Paulus het gesê: “Vir almal het ek alles geword om in elk geval sommige te red. – 1 Kor 9:22”[1]. Na die mate wat ons verstaan wie die jongmens is wat voor ons sit, sal ons in staat wees om ons metodes aan te pas en die inhoud van die geloof tuis te bring.

Baba’s ouderdom 0-2 jaar

  • ‘n Baba is uitgelewer aan sy emosies – basiese sekuriteit is belangrik.
  • Die wete dat sy primêre versorger sal kom wanneer hy huil / roep sal later die mees basiese boustene van geloof word.
  • In die kerk moet ma of pa die ene wees wat hom haar vashou en versorg.
  • Dis wonderlik as ‘n kerk ‘n ruimte kan skep waar doeke omgeruil kan word, en ouers iets van die diens kan beleef terwyl hulle hul ouerlike take verrig.

Kleuters ouderdom 2-6 jaar

  • Beweging en aksie is belangrik in hierdie fase: dis die tyd van groot – motoriese ontwikkeling: hulle wil swaai, skopfiets ry, op die gras speel.
  • Hulle kan al ‘n eenvoudige Bybelles inneem, maar kan slegs in kort grepe konsentreer: rofweg 1 minuut vir elke jaar oud. Voorwerpe en sigbare lesse maak die inneem-proses soveel makliker.
  • Die hele kind se ontwikkeling is belangrik: intellektueel, sosiaal, emosioneel, geestelike, fisies. Om te leer ‘n beker vashou, is so belangrik soos ‘n loflied.
  • Klein groepies werk beter op hierdie ouderdom vir beter sorg.
  • Meestal kan hulle nie op hierdie ouderdom met maatjies speel nie, maar langs maatjies speel. Kerk is ‘n goeie plek waar hy kan leer om te sosialiseer.
  • Kleuters is basies selfsugtig, kan nog nie weg van homself dink nie. Sy onmiddellike behoeftes moet nou bevredig word.

Kinders ouderdom 6-9 jaar

  • Op hierdie ouderdom is stories baie belangrik: die stories gee die rou data vir ons verstaan van God – Wie is God? Hoe magtig is God? Waarvan hou God? Wat maak Hom kwaad? Hoe moet God se mense optree?
  • Hulle is baie lyflik: as kind se voete nie grond raak nie kan hy nie stil sit nie. Die help as ‘n kerk ‘n speelplek het waar hierdie behoefte uitgeleef kan word.
  • Hulle kan slegs konkrete begrippe verstaan: om te glo is ‘n reeks aksies word ons uitvoer: ons gehoorsaam ons ouers, ons lees en bid elke aand, ens.
  • Vermy simboliese taal, bv. om Jesus in jou hart in te nooi.
  • Hierdie is die “age of believe” – hulle wil glo. Om te glo in wonderwerke, en die bo-natuurlike mag van God kom maklik.
  • Beelde en simbole kan deur middel van stories oorgedra word, soos die storie van jou doop, en die storie van nagmaal.

Die oorgangsjare van ouderdom 10-14 jaar

  • Hierdie is ‘n belangrike oorgangsfase, nl. puberteit, en vir party kom dit vroeër as ander.
  • Dit verander hul totale menswees:

=  intellektuele ontwikkeling – Hulle begin kritiese denke ontwikkel: hoekom sê my pa een ding, maar doen ‘n ander ding? Hulle Bybelvers-memorisering is optimaal in hierdie fase. Hulle vra vrae oor die oorsprong van God, die dinosourusse in Genesis, en “ as God so magtig is, hoekom ….” Hulle leef in ‘n tydperk van tegnologiese ontwikkeling waar hulle alle inligting kan bekom met ‘n paar knoppies – die kerk kan dit positief aanwend.

= fisiese ontwikkeling: Seuns se stemme raak dieper, baard begin groei, en meisies ontdek hul skoonheid. Party is onbeholpe en val oor hul eie voete. Hul seksualiteit ontwikkel en saam met dit kom vrae, ontdekking  en eksperimentalisme.

= Sosiale ontwikkeling: Hul maats raak baie belangrik: ander se opinie, om aanvaar te word, deel van ‘n vriendekring te wes, is alles van kardinale belang. Hulle toets verskeie identiteite: Wil ek ‘n jock wees, of ‘n geek, of ‘n rocker, of emo? Ouers word effe op die agtergrond geskuif, maar het nog steeds ‘n kragtige inspraak op hul ontwikkeling. Hulle begin “ander” mense in hul wêreld raaksien: armes en minderbevoorregtes. Dis ‘n goue tyd vir die kerk om hulle te leer hoe om diensbaar te wees.

= Emosionele ontwikkeling: Hulle is buierig. Hulle beleef sterk emosies en is soms uitgelewer hieraan. Help hulle om hulself uit te druk en die gevoelens in woorde oor te plaas. Dis belangrik dat die mense van die kerk onvoorwaardelike liefde toon: al kom hulle met watter emosies by die klas aan.

= Geestelike ontwikkeling: Hulle is in staat om die hele verlossingsleer te verstaan, te ken en te kommunikeer aan ander. Hulle is fyngevoelig vir skyn-heiligheid. Die stories en voorbeelde van ander geestelike volwassenes by die kerk, kan dien as belangrike rolmodelle. Hulle moet betrokke gemaak word by diens-aksies.

Jong volwassenes van ouderdom 15-18 jaar

  • Die media en ons Westerse kultuur wil hierdie ouderdom jongmens in die kategorie van “adolessent” indeel: nog vis, nog vlees: nie kind nie, nie volwasse nie en geen verantwoordelikheid nie. Neurologiese navorsing bewys egter dat hulle breins werk soos enige volwassene s’n – maar soos volwassenes sonder lewenservaring. So, hanteer hulle so: op gelyke voet en met dieselfde waarde as ander volwassenes, maar met die behoefte van goeie rolmodelle en mentors wat hulle gidse kan wees.
  • intellektueel: Hulle het ‘n behoefte om die data van geloof te integreer in hul daaglikse lewens, en sal dikwels gesprekke voer oor die waarde van gebed, die sinloosheid van die lewe, tradisie-vastheid van die kerk en verskillende vorme van geestelikheid. Hulle daag bestaande strukture uit en dink nuut oor baie dinge. Hulle kan sterk oortuiginge ontwikkel wat selfs tot ‘n duidelike lewens-roeping kan lei. Hier moet hulle finale eienaarskap vir hul geestelike lewe neem, en dit moet in die finalejaar-katkisasie ‘n fokus wees.
  • fisies: Daar vind baie brein-ontwikkeling plaas in hierdie tyd, en daarom is hulle konstant moeg. Vroeë oggend-aktiwiteite werk nie vir hulle nie. Hul behoefte aan fisiese kontak met hul ouers neem af.
  • sosiaal: vriendskap en romanse blom al hoe meer. Hulle vind hul waarde in die interaksie met ander van hul ouderdom. Hulle eksperimenteer met risiko-gedrag om te sien of daar iets in is vir hulle of nie. Juis daarom is dit so belangrik dat hulle ‘n goeie waarde-sisteem reeds in plek moet hê wat hulle beskerm teen die gevare hiervan.
  • Emosioneel: Hulle is op ‘n paadjie na onafhanklikheid. Na die mate wat hulle hul emosies kan verwoord, kan hulle dit verwerk. Hulle begin vooruit kyk na die lewe en leefstyl wat vir hulle voorlê as volwassenes.

 

 

Geneem uit: Gerat om jongmense te begelei – Toerusting vir kategete en jeugleiers (Jeugfokus 2012)

 

Bestel die volledige reeks by Bybelmedia: 0860 26 33 42, bestel@bmedia.co.za of groeipynehttp://eshop.bybelmedia.org.za/product/gerat-om-jongmense-te-begelei/

[1] Die Bybel Nuwe Vertaling. 1998 (electronic ed.) (1 Co 9:22). Cape Town, South Africa: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.

Ons huis se reis na Kersfees

img_2313Wellington Moedergemeente het ‘n “kosblik” gepak vir huisgesinne wat saam wil dink oor die dieper betekenis van Kersfees.  Die kosblikke is genoem “ons huis se reis na kersfees”. Elke kosblik bevat 4 lekker saamgesels kaarte, 4 simbole en aktiwiteit idees vir gesinne (oud en jonk) om saam te doen tydens advent of gedurende die vakansie. Enige een is welkom om die uitdeelstuk en idees te gebruik. Die kosblikke en items kos ongeveer R10 elk as ‘n gemeente dit sou wou saamstel vir families.
Die kaartjies moet uitgedruk word en een van elk in die kosblik gepak word. Voorop kan “ons huis se reis na Kersfees” kaartjie geplak word wat op kleurkarton uitgedruk word. Dit sluit die 4 saamgesels Bybelstudies en vrae in.  Die volgende simbole word ook dan in die kosblik ingepak: ‘n klippie as simbool van die familie se saamwees, ‘n pakkie saad vir week 1 (simbool vir hoop) en ‘n ballon vir week 2 (simbool vir vreugde). Daar is reeds aktiwiteit vir week 3 (vrede) en week 4 (liefde) ingesluit in die kaartjies.

Laai die kaartjies hieronder af in PDF formaat:

kersfees_kosblik1

kersfees_kosblik-binne-ilovepdf-compressed