skakels

kindermoment – Oupa Abie video clips

Kindermoment – Oupa Abie video clips
Nuttige skakel met ‘n weeklikse poppekas episode:

www.facebook.com/AbieOupa

“Oupa Abie” se facebook blad bied elke week ‘n gratis 4-5 min poppekas video om te gebruik in eredienste of kategese. Die pop “Oupa Abie” gesels gewoonlik met een van sy kleinkinders oor die leesrooster teks van daardie week. Handig om te gebruik as ‘n kinderoomblik of as ‘n huisgeloof hulpmiddel om deur gesinne tuis te kyk en te bespreek. LW al is hierdie ‘n poppekas is dit gerig op die vlak van ‘n Graad 5-7 laerskool kind. Daar is ook gespreksvrae onder aan die youtube skakel.
In hierdie episode gesels Oupa Abie met Carlo oor God, Jesus en die Heilige Gees (1 Korintiërs 13: 11-13)

Gawes

GAWES

Agtergrond:

Gawes is geskenke van God wat deur die Gees aan gelowiges gegee word om hulle toe te rus om mekaar te dien en ‘n verskil te maak in die wêreld. Hierdie gawes kan talente of natuurlike eienskappe insluit of sterkpunte wees wat oor tyd ontwikkel. Jou voorkeure en ervarings kan ook jou gawes vorm. Sommige gawes lyk in vandag se tyd meer alledaags soos gasvryheid of diensbaarheid en ander voel vir ons meer besonders of uitsonderlik soos profesie en praat in tale. Maar elke gawe is ewe belangrik en geen gawe kan uit eie verdienste verkry word nie.

Die gebeure in die boek Korintiërs wys vir ons op die gevare van die misbruik van gawes soos wanneer ons dit ‘n teken wil maak van mense se “geesvervuldheid” of as die gebruik daarvan verdeeldheid bring. Maar die teks herinner ons ook aan die krag van gawes, wanneer ons dit in liefde gebruik om mekaar te bemoedig en te versterk. Die maklikste manier om jou gawes te “ontdek” is om eenvoudig diensbaar te raak!

Vir meer hieroor volg die skakel: http://www.onsglo.co.za/2017/02/06/gawes/

Bespreking

Lees en gesels saam oor die verhaal van Debora in Rigters 4:1-10

  • Dit is uitsonderlik om ‘n vroue leier (rigter), profetes en bevelvoerder van Israel te ontmoet. Wat sê haar verhaal vir jou?
  • Watter gawes het Debora? Kan jy aan iemand dink wat ook hierdie gawes het?
  • Dink jy ‘n mens kan verskillende gawes in verskillende omstandighede hê?
  • Vertel van ‘n geleentheid waar jy iemand bemoedig het of met wysheid bedien het.

Uitdaging

Kyk of jy ‘n reuse lang lys van gawes kan maak. Gebruik tekste soos 1 Korintiërs 12:1-11, Romeine 12:4-8, Efesiërs 4:11-13, 1 Petrus 4:8-11, Eksodus 28:1-3,11 en Eksodus 31:1-6. Dink ook aan mense in die Bybel en watter van hulle eienskappe God gebruik het. Kyk of jy meer as 50 gawes op jou lys kan kry. Vra vir iemand om die gawes op jou lys te omkring wat hul tans in jou lewe raaksien. 

Laai die onsglo app af in die google playstore of die appstore

of besoek die webtuiste: www.onsglo.co.za.

VARS! Gespreksnotas oor millennials

Twee weke gelede het ‘n groep van 18 predikante en jeugbedienaars saam met Anriëtte de Ridder en Gielie Loubser by Communitas bymekaar gekom om te gesels oor vars en alternatiewe bedieningsmodelle aan naskoolse jongmense en millennium ouers. Die gesprek is gevoer na aanleiding van die boek “You Lost Me – Why Young Christians Are Leaving Church… and Rethinking Faith” van David Kinnaman oor sy navorsing oor buitekerklike jongmense (met ‘n voorheen kerklike agtergrond).

Hier is 2 video grepe oor sy boek:

You Lost me

Prodigals, Nomads & Exiles

Volg hierdie skakel vir die gespreksnotas van die VARS byeenkoms:  VARS gesprek oor millennials

 

Vriendelike groete

Anriëtte

 

Gebed vir moedersdag

Here God, U wat ons ware Ouer is, ons Vader en ons Moeder, ons bid:

Vir hulle wat vanjaar geboorte geskenk het aan hul eerste kind – ons vier dit saam met hulle.

Vir hulle wat vanjaar ‘n kind verloor het – ons rou saam met hulle.

Vir hulle wat in die loopgrawe met klein kindertjies is, met vlekke op hul klere en sakkies onder hul oë – ons waardeer hulle.

Vir hulle wat verliese beleef het deur miskrame, mislukte aannemings of kinders wat weggeloop het – ons treur saam met hulle.

Vir hulle wat die moeilike pad loop van infertiliteit, deur al die toetse, prosedures, moeilike besluite, hoop en teleurstelling – ons loop saam met hulle. Vergewe ons as ons dwase opmerkings maak wat hulle pad nog moeiliker maak as wat dit reeds is.

Vir hulle wat pleegouers, mentor-ouers, ouma’s op kinderdiens is, ons het hulle broodnodig.

Vir hulle wat hul kinders omvou met liefde en sorg – ons sê dankie vir hulle.

Vir hulle wat teleurstelling, hartseer en verwerping van hul kinders beleef – ons dra hulle aan U op.

Vir hulle wat vanjaar hulle moeder verloor het – ons rou saam met hulle.

Vir hulle wat mishandel is deur hul moeder – ons bid vir herstel en genesing.

Vir hulle wat reeds deur al die toetse van ouerskap is en wie se kinders nou uit die huis is – ons is dankbaar vir hulle en slaan ons arms om hulle.

Vir hulle wat deur die trauma van ‘n aborsie is – ons bid dat U hulle weer sal heel maak.

Vir hulle wat enkel is en graag ‘n ouer sou wou wees – mag daar onverwagse vreugdes in hulle lewe na vore kom.

Vir hulle wat stiefouers is – help hulle om daardie komplekse verhoudings na die beste van hul vermoë te hanteer.

Vir hulle wie se droom van kleinkinders nooit bewaarheid is nie, of wie se kleinkinders oorsee bly – sal U hulle troos.

Vir hulle wat hul kinders laat plaas vir aanneming – ons eer hulle selfloosheid en onthou dat hulle daardie kind in hulle hart vashou.

En vir hulle wat swanger is met nuwe lewe – ons staan in afwagting saam met hulle.

Hierdie Moedersdag bid ons vir hulle almal. Ons onthou hulle almal en ons eer hulle. Ons deel in hulle vreugdes en hulle pyn.

Here God, U wat ons ware Ouer is, ons Vader en ons Moeder, wees by ons almal. Amen

(Gebaseer op The wide spectrum of mothering deur Amy Young: http://messymiddle.com )

Hoe lyk huishoudings in Suid-Afrika?

#DIepdink

Wanneer gemeentes nadink oor jeugbediening, is dit onmoontlik om die jeugbediening los te maak van die huishoudings waaruit die jongmense kom nie. Dit is onmoontlik vir ’n jeugbediening om alleen verantwoordelikheid te neem vir die geloofsontwikkeling van kinders. Buiten dat dit onmoontlik is, lê ’n Bybelse verstaan van geloofsontwikkeling die verantwoordelikheid daarvan juis by die voete van ouers.

In 2005 het die Algemene Jeugkommissie van die NGK in samewerking met Buvton en die Hugenote Kollege in twintig gemeentes uit Gauteng en die Wes- en Suid-Kaap ‘n projek genaamd die Familie Gemeente Projek (FGP)[i] afgehandel. Een van die bevindinge van hierdie projek het gewys dat ouers gevoel het dat gemeentes hulle nie genoeg ondersteun in hul taak van geloofsontwikkeling van hul kinders nie. My opinie hieroor is dat gemeentes eerstens nie die aard van huishoudings verstaan nie en daarom ook nie altyd weet wat gesinne nodig het nie.

In 2011 het die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIR)[ii] ’n studie, getiteld First Steps to Healing the South African Family asook Solidariteit Helpende Hand (SHH)[iii] se verslag, ʼn Foto van Afrikaanse Gesinne in Suid-Afrika bekend gestel wat ten doel gehad het om ’n prentjie van huishoudings te skep.

Die SAIR het hulle prentjie van die groter Suid-Afrika opgesom deur te sê dat “In South Africa, the ‘typical’ child is raised by their mother in a single-parent household.” Hulle het die volgende statistiek daarvoor gehad:

  • 35% van alle kinders in Suid-Afrika leef saam met albei hul biologiese ouers.
  • 40% van alle kinders in Suid-Afrika leef slegs by hul biologiese ma
  • 8% van alle kinders in Suid-Afrika leef slegs by hul biologiese pa
  • 6% van alle kinders in Suid-Afrika leef glad nie by enige van hul biologiese ouers nie
  • 43% van Suid-Afrikaanse kinders tussen 0 en 4 jaar leef saam met albei ouers in die huis
  • 24% van wit kinders in stedelike gebiede woon in enkel-ouer gesinne

SHH het gefokus op spesifiek wit, Afrikaanse huishoudings en hier lyk die statistiek soos volg:

  • Ongeveer een uit drie van Afrikaanse kinders kom uit ’n gebroke gesin (geskeide ouers)
  • 66% van gebroke huishoudings se kinders leef by die ma,
  • 15% van gebroke huishoudings se kinders leef by die pa
  • 19% van gebroke huishoudings se kinders leef by ander familie of vriende
  • Huishoudings spandeer 10-12 ure per week minder saam

Hierdie prentjie help ons om dalk meer te verstaan wat die uitdagings is waarbinne gemeentes hul jeugbediening moet sien. Die groter sekularisasie van die samelewing en die post-Christendom era het reeds tot gevolg gehad dat dit glad nie meer ’n gegewe is dat kinders outomaties kerk toe kom nie. Hoewel daar steeds baie kinders gedoop word en “op die boeke” is, is dit toenemend ’n geval dat slegs ongeveer ’n derde[iv] van daardie kinders enigsins by die gemeente se jeugbediening geleenthede gaan uitkom.

Die struktuur van huishoudings wys vir ons dat van die derde wat wel kom, byna ’n kwart waarskynlik net elke tweede week die jeugbediening sal bywoon, weens ouer-toesig kwessies. Omdat huishoudings ook merkbaar minder tyd saam spandeer, kan ons bespiegel dat, veral Sondae, wanneer daar nie werk en/of skool programme is nie, ’n huishouding aktiwiteite sal kies waaraan almal saam kan deelneem en nie iets doen wat hulle generasie-gewys fragmenteer nie.

Wat hier nog nie deel van die prentjie is nie, is die die huishoudings wat wel twee ouers het, se werk samestelling. Daar is aspekte soos veral in stedelike gebiede, waar een van die ouers pendel vir werk, hetsy op ’n plaaslike vlak (bv. 2 ure in die motor), op nasionale vlak (gereelde werk in ander dele van die land) of in die buiteland (kontrak-werk, multinasionale maatskappye, ens.) Die praktiese effek daarvan is ook in der waarheid enkelouer huishoudings. Daar is ook nie na die invloed van skoolprogramme op kinders se tyd gekyk nie.

Die missionale beweging van die kerk vra dat jeugbediening al meer kreatief moet dink om jongmense te bedien in die wêreld waar hulle is. Een van die aspekte hiervan is om kinders se ouers beter toe te rus om binne-in die huishoudings geloofsvorming te fasiliteer, maar ook om ruimte en kapasiteit te skep waar huishoudings as ’n eenheid kan tuis kom in die bediening van die gemeente.

[i] Familie Navorsing Projek – A (FNP A). (n.d.). Opsomming van vraelyste. Ongepubliseerde verslag.

Familie Navorsing Projek – B (FNP B). (n.d.). Familie Navorsing: ‘n Outsider Witness Verslag oor die Opsommings van Onderhoude. Vir verdere refleksie… Ongepubliseerde verslag.

Familie Navorsing Projek – C (FNP C). (n.d.). Familie Navorsingsprojek: aan huis van Nico Simpson. Ongepubliseerde verslag.

 

[ii] Holborn, L & Eddy, G. (2011). First steps to healing the South African Family. Johannesburg: South African Institute of Race Relations.

 

[iii] Taljaard, A., & Langner, D. (2011). ‘n Foto van Afrikaanse Gesinne in Suid-Afrika. Pretoria: Solidariteit Helpende Hand.

 

[iv] SCHOEMAN, WJ. (2011). Kerkspieël – ‘n kritiese bestekopname. NED GEREF TEOLOGIESE TYDSKRIF

DEEL 52, NOMMERS 3 & 4, SEPTEMBER & DESEMBER. Wellington: CLF

Boelies

…En sê nou daar’s ‘n boelie...-

‘n Rukkie gelede, oppad na KIX by een van ons skole, kom ek af op ‘n huilende kind, een van ons KIX-ers. Sy wou nie sê wat haar so ongelukkig maak nie. Toe ek haar ma die aand bel, kom die storie uit. Sy word geboelie, al lankal al, deur ‘n graad 3 dogtertjie en haar twee trawante wat ‘n terreurveldtog op die skoolterrein voer. In dieselfde week vertel iemand my van ‘n seuntjie van die ander skool. Soggens het hy maagpyn of gooi selfs op. Hy is te bang om skool toe te gaan, want hy word geboelie.

Baie mense voel dit is maar deel van grootword dinge. Maar só eenvoudig is dit nie. Boelies is ‘n universele verskynsel wat in elke land, kultuur, ouderdomsgroep en geslag plaasvind. Dit is ‘n probleem wat vir almal hoofbrekens besorg, ook vir kinderwerkers. Kom ons bekyk die verskynsel van boelies ‘n slag van naderby. Kom ons help en bemagtig mekaar om sodoende kinders, ouers en onderwysers te help wat hiermee te doen het.

Wat is ‘n boelie?

Dit is iemand wat beheer wil verkry oor ‘n meer weerlose of kwesbare persoon óf oor sy vriendekring[1] deur fisiese of verbale aggressie [2]. Seuns en dogters kan boelies wees.[3] Navorsing het bevind dat die verskynsel van boelies, baie dikwels in skole voorkom.[4]

Wat is tipiese boelie gedrag?[5]

  • Boelies is geneig om te boelie wanneer daar nie gesagsfigure naby is nie, byvoorbeeld op die speelgrond, in die kleedkamers of in die skool se gange.
  • Boelies het gewoonlik een of twee trawante wat altyd saam met hulle is en hul help om ‘n kind te intimideer.
  • ‘n Slagoffer kan geterg word, name genoem word, afgepers word of fisies seergemaak word.
  • Boelies kan stories of leuens oor die slagoffer versprei.
  • Boelies kan poog om almal teen die slagoffer te laat draai – om hom / haar ‘n uitgeworpene te maak.
  • Boelies kan die slagoffer se besittings wegsteek, beskadig of afvat.
  • Boelies kan slagoffers totaal ignoreer en ander sover kry om dieselfde te doen, die “silent treatment.”
  • Boelies kan die slagoffer dreig dat sy vriende of familie ook ge”kry” sal word.
  • Boelie gedrag doen nie net die slagoffer skade aan nie, maar ook aan die boelie self.[6]

Wat moet mens weet van boelies[7]

  • Hulle hou daarvan om mense te verkleineer, skaam of seer te maak.
  • Boelies het nie baie selfvertroue nie; daarom pik hulle op ander.
  • Hulle is dikwels ongelukkige mense met probleme.
  • Boelies voel beter oor hulleself as hulle ander kan laat sleg voel.
  • Baie kenners is dit eens dat boelies boelie, omdat hulleself geboelie is, miskien tuis, elders of by die skool. (NB Maar selfs al word iemand geboelie, het hy / sy ‘n keuse. Hy hoef nie ‘n boelie te word nie!)
  • Sommiges help die boelie om te boelie, om te verhoed dat hulleself geboelie word.
  • Boelies werk dikwels in groepe, want dit help hulle om verskonings te hê wanneer hulle uitgevang word, bv. “…Ek het dit nie begin nie… Ek was net daar naby… Hy [die slagoffer] het dit begin en ek het net my vriend gehelp…”
  • ONTHOU: ‘n Boelie kan alleenlik suksesvol wees indien niemand iets daaromtrent doen nie!
  • Boelies se ouers neig om inkonsekwent dissipline toe te pas en dikwels is daar min warmte of liefde in sulke gesinne.[8]
  • Gewoonlik is boelies nie model studente nie, presteer nie goed op skool nie en kom nie oor die weg met hul onderwysers nie.[9]
  • Boelies is nie gewild onder hul portuurgroep nie.[10]

Hoe lyk die boelie se tipiese slagoffer?[11]

  • ‘n Slagoffer kan enigiemand wees wat toevallig op die verkeerde tyd, op die verkeerde plek is.
  • Mense wat op enige wyse dalk “anders” is.
  • Enigiemand wat lyk asof hy / sy ‘n maklike teiken is (maklik om bang te maak).
  • Iemand wat kleiner of jonger as die boelie is.
  • Mense wat sensitief is, wat maklik huil of ontsteld word.
  • Mense wat nie baie vriende het nie, byvoorbeeld nuwe kinders.

Wat is die gevolge vir die slagoffer?[12]

  • Om geboelie te word is baie stresvol vir die slagoffer.
  • Kinders mag ‘n teësin ontwikkel vir skool.
  • Slagoffers begin alle lede van die portuurgroep wantrou en sukkel om vriende te maak.
  • Ekstreme slagoffers kan depressie of ‘n fisiese siekte ontwikkel.
  • Meeste slagoffers presteer goed op skool en is in staat om te begin vriende maak soos hulle ouer word.
  • Meeste slagoffers (veral die wat deur volwassenes ondersteun word) oorleef die boelie ondervinding sonder langtermyn newe-effekte.

Hoe hanteer mens ‘n boelie?[13]

  • Leer ‘n kind om ALTYD oplettend te wees en voortdurend op die uitkyk te wees vir ‘n moontlike boelie situasie.
  • Vermy ‘n boelie situasie. Weet wanneer om weg te loop.
  • Gebruik humor om ‘n boelie te ontlont. Maak ‘n grap wanneer ‘n boelie begin aanmerkings maak of begin om te terg. Daardeur kry die boelie nie die gewenste reaksie van die “slagoffer” nie. Laat die kind dit vooraf inoefen met rollespel. Gee vir die kind grappies / grappige sinsnedes wat hy / sy moontlik kan gebruik vir die boelie.
  • Tree self-handhawend (assertive) op. Sê DUIDELIK vir die boelie om te skoert of “GAAN WEG!” en stap dan self weg van die situasie. Laat die kind dit vooraf oefen in die spieël en deur rollespel.
  • Maak ‘n nuwe vriend(e).
  • Bly voortdurend tussen ‘n groep kinders. Boelies pik op kinders wat alleen is.
  • Soek vriendelike kinders se geselskap op en begin bou aan vriendskap met hulle.
  • Kry hulp by ‘n volwassene. Moedig die kind aan om as hy geboelie word, te gaan praat met ‘n onderwyser, sy ouers of ander volwassenes.[14]
  • Beskerm die kind se gevoelens teen “name-calling” deur hulle te leer om hulself te beskerm teen beledigings. Leer die kind dat om die boelie terug te beledig, die situasie net sal vererger.
  • Om die krag en seermaak uit woorde weg te neem, kan die beledigende woorde hardop gesê word deur die kind. Laat die kind dan die woorde “weggooi”. ‘n Mens kan die kind laat oefen om die woorde in ‘n vullisblik te gooi. Laat die kind daarna iets positiefs oor homself sê wat hy weer kan inneem. Byvoorbeeld: “Niemand hou van jou nie.” Ek gooi die woorde weg en sê “Ek hou van my.”
  • Leer die kind om nie dadelik tou op te gooi as ander kinders hom nie by ‘n speletjie insluit nie. Help die kind om vol te hou om te vra om saam te speel. (Laat die kind vooraf oefen om nie aggressief of kermend te klink as hy met hulle praat nie. Help hom om te oefen om positief en vriendelik te lyk. Oefen gesigsuitdrukkings in die spieël.)[15]
  • As ‘n laaste uitweg, (volgens sommige kenners) leer die kind selfverdediging, vir geval hy fisies seergemaak gaan word en hy nie van die situasie kan ontsnap of hulp kan kry nie.

Wat kan skole doen om boelies stop te sit?[16]

  • Moenie boelie gedrag ignoreer nie – spreek dit aan! ONTHOU: ‘n Boelie kan alleenlik suksesvol wees indien niemand iets daaromtrent doen nie!
  • Gaan doen deeglike “huiswerk”. Stel akkuraat vas wat die omvang van die probleem is.
  • Sorg dat volwassenes meer sigbaar is oral op die skoolterrein, maar veral die areas wat die boelie probleem voorkom, bv. kleedkamers, speelgrond, die nasorg lokale, gange, ens. Sorg vir beter toesighouding, veral tydens pouses.
  • Maak dit teen die reëls om iemand anders te boelie. Wees konsekwent om alle boelie gedrag te dissiplineer.
  • Praat ernstig met boelies. Laat hulle verstaan dat jy bewus is van wat hulle doen en dat jy dit nie gaan duld nie.
  • Help die boelies om hulp te kry. Boelies is mense wat self probleme het.

[1] Carol E. Watkins, M.D. (Northern County Psychiatric Associates, Lutherville and Monkton, Baltimore County, Maryland) – Dealing with Bullies and how not to be one (www.ncpamd.com)

[2] Laura DeHaan, Ph.D (Assistant Professor of Child Development, North Dakota State University) – Bullies, February 1997. (www.ag.ndsu.edu)

[3] Hara Estroff Marano – Big bad bully. Psychology Today Magazine, Sept / Oct 1995.

[4] Ibid.

[5] Bullying – being unkind to others (Kids’ Health: Children, Youth and Women’s Health Service, South Australia, 8 April 2008.)

[6] Carol E. Watkins, M.D. (Northern County Psychiatric Associates, Lutherville and Monkton, Baltimore County, Maryland) – Dealing with Bullies and how not to be one (www.ncpamd.com)

[7] Bullying – being unkind to others (Kids’ Health: Children, Youth and Women’s Health Service, South Australia, 8 April 2008.)

[8] Laura DeHaan, Ph.D (Assistant Professor of Child Development, North Dakota State University) – Bullies, February 1997. (www.ag.ndsu.edu)

[9] Ibid.

[10] Ibid.

[11] Bullying – being unkind to others (Kids’ Health: Children, Youth and Women’s Health Service, South Australia, 8 April 2008.)

[12] Laura DeHaan, Ph.D (Assistant Professor of Child Development, North Dakota State University) – Bullies, February 1997. (www.ag.ndsu.edu)

[13] Hara Estroff Marano – Big bad bully. Psychology Today Magazine, Sept / Oct 1995.

[14] Personal safety and self defense for children, teens and adults: Face bullying with confidence. KIDPOWER – webtuiste.

[15] Ibid.

[16] Laura DeHaan, Ph.D (Assistant Professor of Child Development, North Dakota State University) – Bullies, February 1997. (www.ag.ndsu.edu)

 

‘n Lys van Internet Hulpbronne

'n lys van internet hulpbronne •••Hierdie lys word gereeld opgedateer uit die ondervinding van jeugwerkers, predikante, jeugbedienaars ens. As jy dalk op ‘n nuttige webtuiste afgekom het vir jeugbediening in jou konteks, laat ons gerus weet sodat ons dit met ander kan deel.

Gratis Prente en fotos

http://canva.com – As jy nie toegang het tot ‘n “graphic designer” nie.

https://www.pexels.com/

https://pixabay.com/

https://openclipart.org/

Eksegese

http://textweek.com – Vir Sondag se eksegese

Video materiaal

http://exploregod.com – Videos vir goeie vrae en oordenking

http://thebibleproject.com – vir videos wat die konteks van die Bybel verduidelik

http://dinkjeug.ngkerk.net – videos onder preek temas verdeel

https://www.youtube.com – Bybelmedia se youtube channel

Gratis lesse of hulpmiddels

www.kixkinders.co.za – gratis lesse (sommige met videogrepe) vir kinderbediening

www.clf.co.za – gratis pamflette oor ‘n verskeidenheid geestelike en maatskaplike onderwerpe (ook vir kinders en tieners)

www.thebibleproject.com – gratis beeldmateriaal oor die Bybel (in die vorm van tekeninge)

 

Jeugbediening

www.ministrytoyouth.com – lesse en speletjies vir jeugbediening (sommige daarvan gratis aflaaibaar)

www.imaginemovement.co.za

 

Ander

www.depressie101.co.za – webwerf met inligting en hulp oor depressie, angs, selfmoord ens

 

 

splinternuwe #imagine webtuiste

 

15259603_694650427379903_8576923638044969516_o#imagine het ‘n splinternuwe webtuiste! Gaan besoek dit gerus vir al die nuutste inligting, stories en fotos! Die datum van die #imagine experience is 18-20 Maart 2017. Die feesnaweek begin Saterdag 18 Maart om 6nm en maak na die aandprogram op Maandag 20 Maart klaar. jy kan egter daar bly tot Maandg 21 Maart (dan slaap jy 3 nagte). onthou dat alle tieners met ‘n groepleier begelei moet word (maks 10 tieners per leier). jy kan ook as ‘n volunteer kom dien as jy ‘n naskoolse jongmens, ouer, vrywilliger ens is.

Meer oor Scripture Union – organisasie wat werk in Engelse skole

www-gazillionthanks-com-2Mark Krastin van Scripture Union het verduidelik hoe Scripture Union bediening in skole benader. Hulle bedien op verskillende maniere in skole op grond van die konteks: in sommige skole is dit deur middel van ‘n “life skills” program en in ander skole vestig hulle ‘n christen vereniging met kleingroepe. Hulle het nie `n oorhoofse struktuur wat oral geld nie, maar verhoudings is vir hulle baie belangrik. Die strukture gaan afhang van die konteks.

Hoe werk hulle?

Die personeel van Scripture Union werk self in skole en ondersteun op verskillende maniere dié skole. Soms rig hul sport af, soms bied hul ‘n geestelike sessie aan, ens.  Na mate daar ‘n goeie verhouding gevestig is, sal hul SU groepies stig onder die leerders.  Hulle ontwikkel self materiaal. “Gather” is die materiaal wat gebruik word vir hoërskool groepe.

Hulle aanbevelings vir skole bediening:

  • Wees strategies met wat jy doen. Dink daaroor na met ‘n groep mense.
  • Hou by jou area.
  • Gebruik jou netwerke, verhoudings is belangrik
  • Vra vir die skoolhoof hoe jy betrokke kan raak en wees diensbaar
  • Wees doelgerig – Jy moet weet waarheen jy op pad is, voor jy begin, wil jy groot groepe trek of kleiner groepe vestig? Wil jy binne ‘n struktuur werk of meer organies funksioneer?
  • Dit gaan nie oor die getalle nie, maar gaan oor hoe effektief jy is met wat jy doen!

Besoek ook www.su.org.za

Hierdie artikel is opgestel deur Nicola Alberts vanuit ‘n gesprek oor skole bediening gehou op 4 Augustus 2016 by Communitas op Stellenbosch met ‘n groep predikante en jeugwerkers. Die gesprek is gehou deur die Taakspan vir Jeug en Familiebediening van die Wes Kaap NG Kerk Sinode.

Eenvoudige Familiediens interaktiewe seëngroet

Eenvoudige Familiediens interaktiewe seëngroet

Gee vooraf die agtergrond vir hierdie groet:

“SAWABONA” is a common greeting among the tribes of northern Natal in South Africa and it literally means “I SEE YOU” As to say, “I respect and acknowledge you for who you are” In return people say “SIKBONA” which literally means “I AM HERE” as to say “When you see me you bring me into existence”.
http://tarbeyah.wordpress.com/2012/02/15/sawabona-seeing-as-a-dialogue/

Verwelkoming

Ons groet mekaar in Zulu– Sawabona – (ek sien jou!)

En ons antwoord – Sikbona – (ek is hier!)

Interaktiewe seëngroet

Ons groet mekaar (herhaal agter liturg)

 “jy is die kerk

hierdie is jou tuiste.

God woon in jou,

jy is welkom.

Ons is lief vir jou.

God is lief vir jou”

Dit kan ook later in die diens (byvoorbeeld aan die einde), herhaal word as ‘n geloofsbelydenis…

“Ons is die kerk

hierdie is ons tuiste.

God woon in ons,

almal is welkom.

Ons is lief vir mekaar en die wêreld.

God is lief vir ons.”