toerusting

Millennials – energie en kreatiwiteit

Millennials is ‘n onuitputlike bron van energie en kreatiwiteit. Jy sal verras wees oor die palet van kleur wat hulle jou aanbied. Gryp die geleentheid aan!

Communitas se Predikantebegeleiding bied ‘n dagkonferensie/gesprek aan saam met prof Jaco Hamman van die VANDERBILT Teologiese Skool in Nashville, VSA. Hy is professor in Teologie, Sielkunde en Kultuur.

Sy boek, “The Millennial Narrative” handel oor die vraag: hoe kan die kerk mense bereik wat as ‘spiritual but not religious’ identifiseer?

6 VBO punte is te verdien, ‘n lekker middagete is deel daarvan, jy is saam met vriende en kollegas en bo alles word jy deur die dag begelei deur ‘n belese, berese, goed-ingeligte en dinamiese gespreksleier. Kom verruim jou en julle gemeente se bediening.

Die kursus op Maandag, 6 Augustus sal vanaf 9h30 – 15h30 plaasvind in die Hofmeyrsaal by die Fakulteit Teologie in Stellenbosch.

Kontak Adrienne Bester vir inskrywings by bestera@sun.ac.za /021 808 3382

Toegerus vir die Toekoms

Die wêreld verander so vinnig en soms voel ‘n mens oorweldig deur al die uitdagings wanneer jy kinders begelei.

Die Kix-Konferensie Toegerus vir die Toekoms is ‘n ideale geleentheid vir jou en ander Kix-leiers, kategete, jeugleiers, ouers, jeugwerkers en predikante om oor die geleenthede van die toekoms na te dink. Kom luister na relevante sprekers, woon praktiese werkswinkels by, ontdek nuwe hulpbronne en netwerk met ander kinderbedieningsleiers.

Hierdie geleentheid vind op 11 en 12 September by die NG Gemeente Kuilsrivier-Suid plaas.  Vir verdere inligting kontak jeug@sun.ac.za of kry jou inskrywing en die program hier.

‘n Vars Perspektief tot Berading aan Tieners

Die boek “Dansend met die Lewe” deur Kobus Anthonissen dien as raamwerk vir hierdie kursus. Die boek gebruik deurgaans die beeld van ‘n danser as metafoor om ‘n alternatiewe mens- en God-beskouing voor te hou. Dit kan mense ondersteun om ‘n gelukkige, vervulde lewe te leef te midde van gebrokenheid en lyding. Die kursus dek temas en vrae wat in tipiese beradingsgesprekke, met veral tieners, na vore kom.  (more…)

3 Goed waarmee tiener kleingroepleiers sukkel

Die meeste tienerbedienings maak staat op vrywilligers as groepleiers vir hul kleingroepe. Hierdie vrywilligers is ook gewoonlik ywerige mense wat kom aanmeld omdat hulle op ’n manier oortuig is deur die Here dat hulle die gemeente op hierdie manier moet dien. Dit is selde mense met opleiding of fasiliteringsvaardighede of meer ervaring as hul eie “Sondagskool” of CSV.

Die meeste kategese materiaal is ook afhanklik van gesprek en interaktiewe aktiwiteite wat deel vorm van groter gefasiliteerde proses. Wanneer jeugwerkers of predikante dan verby ’n groep stap, is dit gewoonlik die kleingroepleier wat met die kinders gesels… en ’n paar minute later steeds die kleingroepleier wat gesels… en paar minute later het die graad 9 seuns of aan die slaap geraak of mekaar met papierballetjies gegooi.

Die rede hiervoor is dat kleingroepleiers sukkel met ’n paar goed.

1.  Proses

Kleingroepleiers is nie altyd bewus van die groter proses van geloofsvorming nie. In die verlede was die klem sterk groot op kennis oordrag en die doelwit was om Bybelkennis onder die knie te kry (onthou jy Sondagskool eksamens?) Vandag volg ons groter prosesse wat soms eenmalig verduidelik word en daarna geïmpliseer word. Dis belangrik om kleingroepleiers gereeld te herinner aan die groter proses en hoekom dit interaktief en gespreksgedrewe bly.

Wat doen jy daaraan?

Kommunikeer by alle opleiding geleenthede die proses. Hoekom doen julle gemeente wat julle doen op die manier wat julle dit doen? Moet nooit aannames maak dat die kleingroepleiers dit sal onthou en implementeer nie.

2.  Leerstyle en persoonlikheid

Kleingroepleiers funksioneer gewoonlik uit hul eie leerstyle en persoonlikheidstipe en sukkel soms om te onthou dat daar soveel kombinasies van leerstyle en persoonlikheid is as wat daar jongmense in jou groep is. Tradisionele kennis oordrag was baie gestruktureerd en logies, wat daarom mense wat gestruktureerd en logies dink en funksioneer trek – daarom is dit baie kere maklik vir so persoon om net logies en gestruktureerd die inhoud oor te dra. Verskillende leerstyle en persoonlikheidstipes vereis verskillende benaderings om leer en geloofsvorming optimaal te funksioneer.

Wat doen jy daaraan?

Gebruik een volle opleidingsessie om ’n persoonlikheidstoets met die kleingroepleiers te doen en rollespel oor hoe verskillende persoonlikheidstipe en leerstyle in groepe funksioneer. Dis gewoonlik ook ’n goeie spanbou geleentheid. ’n Webtuiste soos https://www.16personalities.com/ het ’n eenvoudige, gratis toets met eenvoudige, duidelike verduidelikings. (Gebruik professionele en kundige mense in jou gemeente hiervoor as jy kan.)

3.  Stilte

Ons is oor die algemeen ongemaklik met enige stilte, selfs vir mense wat stilte verkies. In ’n groep opset veroorsaak stilte, veral by meer ekstrovert persoonlikhede, baie ongemak. Wanneer jongmense onseker is, is hulle geneig om stil te bly en gewoonlik spring die kleingroepleier in met die antwoord. Wanneer dit herhaaldelik gebeur begin die jongmense net wag sodat die groepleier op die ou end die “regte” antwoord gee.

Wat doen jy daaraan?

Spandeer gereeld tyd aan gespreksvaardighede, veral die kuns van oop vraagstelling en konstruktiewe stilte. Hierdie is vaardighede wat gedemonstreer en ingeoefen moet word.

Omdat vrywilligers gewoonlik beperkte ervaring het, is dit nodig om meer as een maal per jaar ’n opleiding sessie te hou. Voorbeeld en oefening help vrywilligers om die vaardighede te ontwikkel en te internaliseer, sodat hulle deelnemers word aan jongmense se geloofsvorming en nie bloot kennis-oordrag doen nie.

Christi Thirion (NG Kenridge)

Onsigbare magte in ’n kleingroep: Leerstyle

Wanneer ’n kleingroepleier met kinders werk in ’n kleingroep situasie is daar ’n paar onsigbare magte, buiten die Heilige Gees, aan die werk. Dit is, magte wat, sonder aandag, maklik bose magte kan word, maar met die regte aandag lewenskrag in jongmense se geloofsvorming kan wees. Hierdie magte is leerstyle.

Elke mens het ’n voorkeur vir ’n kombinasie van leerstyle. Dit is die manier waarop die mens die maklikste inligting, kennis en vaardighede aanleer en vaslê. Daar is baie variasies op die tema waarvan Peter Honey[1] se beskrywings soos volg is:

Activists” is hoofsaaklik doeners. Hulle leer deur

  • Nuwe leer-ervarings, aktiwiteite en geleenthede
  • Kort hier-en-nou aktiwiteite soos speletjies, kompeterende take en rolspel
  • Aktiwiteite waar hulle aandag kry en in die kollig kan wees.
  • As hulle in die diepkant ingegooi word met ’n uitdagende aktiwiteit

Jongmense met hierdie leerstyl floreer wanneer daar gereeld iets nuut gebeur en hulle is oop vir nuwe ervarings. Hulle sukkel egter met die volgende:

  • Hulle is geneig om nie sommer oor meer as logiese voor die hand liggende oplossings of antwoorde te dink nie.
  • Hulle het die geneigdheid om te veel self te probeer doen
  • Hulle pak take gejaagd aan sonder om mooi te beplan
  • Raak maklik verveeld.

Reflectors” reflekteer graag oor inligting. Hulle leer die maklikste wanneer hulle

  • Iets moet ondersoek of oordink
  • kans kry om oor ’n saak te dink voordat hulle moet reageer
  • kans kry om te reflekteer oor wat hulle gesien of geleer het.
  • Tyd het om tot ’n gevolgtrekking te kom
  • Kan terugstaan om te observeer
  • Inligting kan versamel en integreer om tot ’n nuwe gevolgtrekking te kom.

Jongmense wat op hierdie manier leer vat gewoonlik bietjie langer omdat hulle op ’n metodiese manier inligting versamel en organiseer, voordat hulle gevolgtrekkings maak. Die uitdaging met jongmense met hierdie leerstyl is dat:

  • Dit lyk of hulle nie belangstel nie en passief is
  • Hulle kan lank vat om besluite te neem en tot ’n gevolgtrekking te kom
  • Hulle nie sommer deelneem aan groepgesprekke nie.

“Theorists” wil gevolgtrekkinge en uitkomste bepaal. Hulle leer die lekkerste wanneer:

  • inligting metodies kan oordink en gevolgtrekkings en verbande met sake kan trek.
  • In gestruktureerde omgewings met ’n duidelike uitkoms.
  • Wanneer hulle die kans kry om basiese metodes en motiverings agter sake kan bevraagteken en ondersoek.
  • Hulle intellektueel uitgedaag kan word.
  • Waar rasionele en objektiewe denke verwelkom word.
  • Hulle teenstrydighede kan saamgooi in ’n verstaanbare geheel

Jongmense wat op hierdie manier leer funksioneer goed in ’n omgewing waar ’n model of metode hulle kan help om ’n spesifieke uitkoms te bereik. Hulle is oor die algemeen baie gedissiplineerd, maar hulle sukkel wanneer:

  • Hulle buite die boks moet dink nie
  • Die uitkoms of proses onseker of deurmekaar is
  • Subjektiewe menings en perspektiewe – waar daar nie ’n definitiewe duidelike antwoord is nie
  • Vol moets en moenies

“Pragmatists” werk prakties volgens planne en tegnieke en hulle leer die maklikste  in omstandighede waar

  • Daar ’n duidelike verband tussen die inligting en ’n probleem of kwessie is.
  • Hulle tegnieke kan aanleer wat ’n duidelike toepassing vir hul leefwêreld het.
  • Hulle nuwe metodes en tegnieke kan inoefen met positiewe terugvoer.
  • Hulle kan fokus op praktiese aspekte
  • Teorie en informasie in praktiese situasies toegepas word
  • Hulle kan eksperimenteer met verskillende benaderinge

Hierdie jongmense is op die man af en duidelik en wil by die punt uitkom sodat hulle kan weet wat om te doen. Dit raak dus vir hulle moeilik om te leer wanneer:

  • Daar nie ’n duidelike praktiese toepassing is nie
  • Baie klem op teorie en basiese beginsels is
  • Hulle reeds ’n oplossing het

Wanneer ’n jongmens in ’n kleingroep situasie nie met een van sy dominante leerstyle gestimuleer word nie, raak hulle gewoonlik of heeltemal passief en onttrek of hulle raak ontwrigtend. Omdat ons nie altyd bewus is van jongmense se leerstyle nie interpreteer ons die gedrag slegs as ’n dissipline probleem.

Kleingroepleiers is geneig om self die kleingroep in te rig volgens hulle eie dominante leerstyl. Die ding wat dan ingedagte gehou moet word wanneer jongmense ontwrigtend is of nie deelneem nie, is of die jongmense dalk verveeld is omdat hulle nie in hul leerstyl akkommodeer word nie.

[1] How To Become A More Effective Learner

VBO kursusse vir die 3de Kwartaal

Ons wys jou graag op ʼn paar kursusse wat in die volgende weke plaasvind:

ʼn Eendag-konferensie spesiaal vir vroue in die bediening (waarmee jy VBO-punte kan verdien),

2 VBO-kursusse – een oor Menswaardigheid en vriendskappe oor grense; en ʼn ander oor die bediening van verskillendende generasies in EEN ruimte;

asook 2 retraites … :

10 Aug 2017 vanaf 09h00 Vroue in die Bediening eendag-konferensie Alle vroulike jeugwerkers, proponente, dosente en predikante van die NG Wes-Kaapland sinode en VGK Kaapland sinode:

Kom geniet ‘n dag van netwerk en toerusting ter viering van Reformasie 500.

Waar?  Hofmeyrsaal, Stellenbosch Moeder

Koste?  R150

Sluitingsdatum: 7 Augustus 2017

Kontakpersoon:  Ankia du Plooy byngkvroue@sun.ac.za

 

 

 

VBO-punte word aangevra

23 – 24 Aug Loop Saam Hierdie kursus is spesifiek ontwikkel vir die reis op pad na heling tussen die vier kerke as deel van die Seisoen van Menswaardigheid se strategie om die herstel van menswaardigheid in Suider-Afrika te bevorder. Die doel van die kursus is om mekaar te help in die ontwikkeling van volhoubare vriendskappe oor grense.

Skryf in voor 16 Aug.

Aanbieders: Colin Goeiman en Hannes Theron

 

 

 

VBO-punte: 20

6-7 Sep Intergenerasionele jeugbediening Daar is ruimtes in ons gemeentes wat aan volwassenes behoort (“adult centred spaces”) en dan is daar ruimtes waar daar op kinders gefokus word (“child centred spaces”).  ʼn Intergenerasionele bediening skep ruimtes waar generasies SAAM bedien kan word, almal verwelkom word, almal die ruimte beïnvloed en almal mekaar kan beïnvloed…

Aangebied deur Anriëtte de Ridder e.a.

Skryf in voor 30 Aug.

 

 

 

VBO-punte: 20

Dan is daar ook 2 retraites wat deur die Sentrum vir Geloofsvorming plaasvind, wat ons namens hulle onder jou aandag bring.

Jy kan Annie Roux  kontak – tel 078 668 0815/ info@geloofsvorming.co.za  vir meer inligting of om in te skryf. (Jy kan wel ook hiervoor VBO-punte verdien.)

21-24 Aug Geloofsreis 3 : Die Innerlike Reis Selfkennis is van kardinale belang vir Geloofsvorming…
18-21 Sep Geloofsreis: Verdere Reis 2 Hierdie retraite se titel is In die oomblik en word aangebied deur Willem Nicol. In die oomblik is ook die titel van Willem se nuutste boek…

Kategete toerusting: verskillende “tipes” kinders

Junior of senior kategese leiers

Tema: Geroep om elke “tipe” kind / tiener te bedien

Tydsduur: 45min – 90min

Gebruik die artikel van Stephen Altrogge as vertrekpunt of die videogreep (skakels onderaan). Beide die artikel en die videogreep poog om verskillende “tipes” kinders te beskryf wat hul jeuggroep bywoon. Hierdie kan ‘n lekker pret aktiwiteit wees om te doen met ‘n kategete toerusting. Wees net versigtig dat kinders / tieners nie negatief geëtiketteer word nie, maar dat die fokus van die oefening is om die kinders / jongmense wat kategese bywoon beter te verstaan. Dit sal juis sinvol wees om na só ‘n oefening, weer ‘n rondte saam te dink oor hoe ‘n mens elkeen van hierdie “tipe” jongmense bedien.

Rig die toerusting as volg in:

Deel die artikel uit of som dit op (noem dalk net ‘n paar “tipes”, sodat die kategete self ook kan uitdink). Hou dit lig en humoristies. Gebruik die laaste paar vrae om meer ernstig saam te dink oor die hantering van verskillende persoonlikhede binne die kategese groep. Onthou om die kategete te herinner dat die oefening oor “tipes” juis ons wil herinner

Laat die kategete dan in groepe werk met die volgende vrae:

  • Beskryf die tipes kinders / tieners in ‘n tipiese kategese groep
  • Gee vir elke “tipe” ‘n naam. “Tipes” kan ook geteken word met kryte op blaaibordvelle!
  • Gee terugvoer aan die groter groep.

Dink nou weer saam in kleine groepe (jy kan as fasiliteerder ook telkens ‘n inset gee of terugvoer kry)

  • Wat is die beste manier om met elke “tipe” verhouding te bou?
  • Wat sou elke “tipe” se manier wees wat sy/haar geloof gevorm word?
  • Wat sou die uitdagings wees om met elke “tipe” te werk?
  • Wat sou die bydrae wees wat elke “tipe” lewer of kon lewer tot die groep?

 

Skep ‘n tyd vir selfondersoek

  • Hoe hanteer ek as kategeet verskillende kinders?
  • Het ek voorkeur “tipes”?
  • Is daar kinders wie se uniekheid en persoonlikheid ek beter moet leer waardeer en hanteer?

Lees Psalm 139: 1-18, 23-24

Sluit af met gebed

  • Vra God om jul liefde vir ELKE tipe kind / tiener te gee.
  • Dank Hom dat Hy elke mens uniek gemaak het.
  • Vra Hom om jou as kategeet te gebruik in elkeen se lewe.

 

Artikel om te gebruik:

The 14 Kids You Find In Every Church Youth Group

http://foreverymom.com/faith/the-14-kids-you-find-in-every-church-youth-group-stephen-altrogge/

Videogreep: https://www.youtube.com/watch?v=_fIoNYbHnAw

 

deur ds Anriëtte de Ridder

VARS! Gespreksnotas oor millennials

Twee weke gelede het ‘n groep van 18 predikante en jeugbedienaars saam met Anriëtte de Ridder en Gielie Loubser by Communitas bymekaar gekom om te gesels oor vars en alternatiewe bedieningsmodelle aan naskoolse jongmense en millennium ouers. Die gesprek is gevoer na aanleiding van die boek “You Lost Me – Why Young Christians Are Leaving Church… and Rethinking Faith” van David Kinnaman oor sy navorsing oor buitekerklike jongmense (met ‘n voorheen kerklike agtergrond).

Hier is 2 video grepe oor sy boek:

You Lost me

Prodigals, Nomads & Exiles

Volg hierdie skakel vir die gespreksnotas van die VARS byeenkoms:  VARS gesprek oor millennials

 

Vriendelike groete

Anriëtte

 

VBO: VARS – ‘n gesprek oor Millennials Mei 2017


Alternatiewe kerkwees vir Millennials
“Millennials” vra ’n nuwe manier van kerkwees. Vind uit wie “Millennials” is en hoe hulle dink en leef, wat die nuutste navorsing oor hierdie groep se unieke geloofsgewoontes en behoeftes leer en hoe gemeentes hier nuwe bedieningsgeleenthede kan raaksien en ontgin.
Kom dink en praat op 3 en 4 Mei by Communitas saam oor die uitdaging wat “Millennials” vir ons stel om relevant te bedien.

Vir meer inligting, gebruik hierdie skakel: https://kaapkerk.co.za/wp-content/uploads/2017/04/Alternatiewe-bedieningsmodelle.pdf

 

Godsbeeld

Woorde is wat ons het om dinge te beskryf. Ons gebruik woorde om kos, mense, ʼn ervaring en God te beskryf. Maar ons woordeskat bepaal hoe goed of hoe in diepte dit beskryf kan word. Jeugwerkers gebruik ook woorde, maar nie net om môre of welkom te sê vir die tieners van die gemeente nie, maar om diepgaande gesprekke te hê oor besondere lewensvrae en kwessies. Die belangrikste area waar Jeugwerkers woorde gebruik is om ʼn beskrywing van God aan tieners oor te dra.

Maar dink gou aan jou eie woordeskat, aan die woorde wat jy gebruik om God in jou stiltetyd vir jouself te beskryf. Hierdie woorde is beperk tot jou eie ervaring van God en die lewe. Jou idee van God en jou woorde is iets eie aan jou. Dit is woorde wat vir jou iets beteken, wat ʼn wêreld skep waarin jy kan veilig voel. Maar hierdie woorde is nie die enigste woorde wat gebruik word om God te beskryf nie. En dit is hier waar Jeugwerkers versigtig moet wees.

Die Jeugwerker se idee van God is nie die enigste idee nie, soos daar verskillende tieners voor mens sit by ʼn byeenkoms, net so verskillend is die idees van God. Sommige gebruik dalk sport-woorde, ander dans-woorde en sommige musiek-woorde. Die verskillende woorde skep verskillende prentjies van God, en indien hierdie realiteit nie in ag geneem word wanneer daar met tieners gewerk word nie, kan dit probleme veroorsaak. Hiermee probeer ek sê dat nie een van ons die kapitaal/kopiereg op ʼn Godsbeeld het nie. Daarom moet ons so versigtig wees om nie slegs een beeld van God te verkondig nie – die een waarmee ons die gemaklikste is nie. Soms moet ons spasie gee om te hoor wat ander se beeld van God is, dit te respekteer en daaroor te gesels. God word soms so maklik en vinnig vasgevang in mense se woorde, en op die einde is dit al God wat sommige ooit sal ken – ʼn mensgemaakte God.

Voorbeelde van maklike beelde van God wat sonder om twee keer te dink oorgedra word: God is Koning, God is ‘n Herder, God is ʼn Pa (Vader), God is ʼn Heerser en God is ‘n Hy (manlik). Sommige van hierdie beelde is ook nie meer bekend in ons konteks nie.

Van hierdie is goeie beelde, maar mens moet altyd kyk na wat die gevolge van ʼn spesifieke beeld is. Bv. God is ʼn hy (manlik) – as die enigste hy’s (mans) wat jy ken jou seer maak en mishandel, hoe goed kan hierdie God dan wees?

Soms is dit nodig om te hoor wat die spesifieke tiener se omstandighede is en wat veroorsaak dat hy/sy nie God op ʼn spesifieke manier kan sien nie, en volgens dit die beeld van God te beskryf. Jeugwerkers moet party keer verkleurmannetjie speel en aanpas by spesifieke situasies en woorde gebruik wat eie aan die tiener is om God ‘verstaanbaar’ te maak binne die wêreld van die tiener.

Dit beteken ook dat Jeugwerkers moet oplet na wanneer ons eie beeld van God, ons eie woorde die enigste woorde raak. Onthou dat God nie vasgevang kan word deur ons woorde nie, maar dat ons woorde wel ander se realiteit vorm. Gebruik die woorde om God te beskryf versigtig en laat altyd spasie vir nog woorde. Ons dien ‘n God wat nie vasgevang mag word in ons woorde nie.

Geskryf deur Liesel Nieuwenhuizen

Hoe lyk geloofsvorming in jul jeugbediening?

toerusting

Gebruik die volgende gespreksvrae en 100 vraag vraelys om na te dink oor waar jul gemeente staan ten opsigte van die 4 dele van geloofsvorming in jul jeugbediening: Moderamen voorstelle geloofsvorming voorstelle
Laai die geloofsvorming boekie hier af: geloofsvorming boekie
Laai die “powerpoint” hier af: geloofsvorming aanbieding

Boelies

…En sê nou daar’s ‘n boelie...-

‘n Rukkie gelede, oppad na KIX by een van ons skole, kom ek af op ‘n huilende kind, een van ons KIX-ers. Sy wou nie sê wat haar so ongelukkig maak nie. Toe ek haar ma die aand bel, kom die storie uit. Sy word geboelie, al lankal al, deur ‘n graad 3 dogtertjie en haar twee trawante wat ‘n terreurveldtog op die skoolterrein voer. In dieselfde week vertel iemand my van ‘n seuntjie van die ander skool. Soggens het hy maagpyn of gooi selfs op. Hy is te bang om skool toe te gaan, want hy word geboelie.

Baie mense voel dit is maar deel van grootword dinge. Maar só eenvoudig is dit nie. Boelies is ‘n universele verskynsel wat in elke land, kultuur, ouderdomsgroep en geslag plaasvind. Dit is ‘n probleem wat vir almal hoofbrekens besorg, ook vir kinderwerkers. Kom ons bekyk die verskynsel van boelies ‘n slag van naderby. Kom ons help en bemagtig mekaar om sodoende kinders, ouers en onderwysers te help wat hiermee te doen het.

Wat is ‘n boelie?

Dit is iemand wat beheer wil verkry oor ‘n meer weerlose of kwesbare persoon óf oor sy vriendekring[1] deur fisiese of verbale aggressie [2]. Seuns en dogters kan boelies wees.[3] Navorsing het bevind dat die verskynsel van boelies, baie dikwels in skole voorkom.[4]

Wat is tipiese boelie gedrag?[5]

  • Boelies is geneig om te boelie wanneer daar nie gesagsfigure naby is nie, byvoorbeeld op die speelgrond, in die kleedkamers of in die skool se gange.
  • Boelies het gewoonlik een of twee trawante wat altyd saam met hulle is en hul help om ‘n kind te intimideer.
  • ‘n Slagoffer kan geterg word, name genoem word, afgepers word of fisies seergemaak word.
  • Boelies kan stories of leuens oor die slagoffer versprei.
  • Boelies kan poog om almal teen die slagoffer te laat draai – om hom / haar ‘n uitgeworpene te maak.
  • Boelies kan die slagoffer se besittings wegsteek, beskadig of afvat.
  • Boelies kan slagoffers totaal ignoreer en ander sover kry om dieselfde te doen, die “silent treatment.”
  • Boelies kan die slagoffer dreig dat sy vriende of familie ook ge”kry” sal word.
  • Boelie gedrag doen nie net die slagoffer skade aan nie, maar ook aan die boelie self.[6]

Wat moet mens weet van boelies[7]

  • Hulle hou daarvan om mense te verkleineer, skaam of seer te maak.
  • Boelies het nie baie selfvertroue nie; daarom pik hulle op ander.
  • Hulle is dikwels ongelukkige mense met probleme.
  • Boelies voel beter oor hulleself as hulle ander kan laat sleg voel.
  • Baie kenners is dit eens dat boelies boelie, omdat hulleself geboelie is, miskien tuis, elders of by die skool. (NB Maar selfs al word iemand geboelie, het hy / sy ‘n keuse. Hy hoef nie ‘n boelie te word nie!)
  • Sommiges help die boelie om te boelie, om te verhoed dat hulleself geboelie word.
  • Boelies werk dikwels in groepe, want dit help hulle om verskonings te hê wanneer hulle uitgevang word, bv. “…Ek het dit nie begin nie… Ek was net daar naby… Hy [die slagoffer] het dit begin en ek het net my vriend gehelp…”
  • ONTHOU: ‘n Boelie kan alleenlik suksesvol wees indien niemand iets daaromtrent doen nie!
  • Boelies se ouers neig om inkonsekwent dissipline toe te pas en dikwels is daar min warmte of liefde in sulke gesinne.[8]
  • Gewoonlik is boelies nie model studente nie, presteer nie goed op skool nie en kom nie oor die weg met hul onderwysers nie.[9]
  • Boelies is nie gewild onder hul portuurgroep nie.[10]

Hoe lyk die boelie se tipiese slagoffer?[11]

  • ‘n Slagoffer kan enigiemand wees wat toevallig op die verkeerde tyd, op die verkeerde plek is.
  • Mense wat op enige wyse dalk “anders” is.
  • Enigiemand wat lyk asof hy / sy ‘n maklike teiken is (maklik om bang te maak).
  • Iemand wat kleiner of jonger as die boelie is.
  • Mense wat sensitief is, wat maklik huil of ontsteld word.
  • Mense wat nie baie vriende het nie, byvoorbeeld nuwe kinders.

Wat is die gevolge vir die slagoffer?[12]

  • Om geboelie te word is baie stresvol vir die slagoffer.
  • Kinders mag ‘n teësin ontwikkel vir skool.
  • Slagoffers begin alle lede van die portuurgroep wantrou en sukkel om vriende te maak.
  • Ekstreme slagoffers kan depressie of ‘n fisiese siekte ontwikkel.
  • Meeste slagoffers presteer goed op skool en is in staat om te begin vriende maak soos hulle ouer word.
  • Meeste slagoffers (veral die wat deur volwassenes ondersteun word) oorleef die boelie ondervinding sonder langtermyn newe-effekte.

Hoe hanteer mens ‘n boelie?[13]

  • Leer ‘n kind om ALTYD oplettend te wees en voortdurend op die uitkyk te wees vir ‘n moontlike boelie situasie.
  • Vermy ‘n boelie situasie. Weet wanneer om weg te loop.
  • Gebruik humor om ‘n boelie te ontlont. Maak ‘n grap wanneer ‘n boelie begin aanmerkings maak of begin om te terg. Daardeur kry die boelie nie die gewenste reaksie van die “slagoffer” nie. Laat die kind dit vooraf inoefen met rollespel. Gee vir die kind grappies / grappige sinsnedes wat hy / sy moontlik kan gebruik vir die boelie.
  • Tree self-handhawend (assertive) op. Sê DUIDELIK vir die boelie om te skoert of “GAAN WEG!” en stap dan self weg van die situasie. Laat die kind dit vooraf oefen in die spieël en deur rollespel.
  • Maak ‘n nuwe vriend(e).
  • Bly voortdurend tussen ‘n groep kinders. Boelies pik op kinders wat alleen is.
  • Soek vriendelike kinders se geselskap op en begin bou aan vriendskap met hulle.
  • Kry hulp by ‘n volwassene. Moedig die kind aan om as hy geboelie word, te gaan praat met ‘n onderwyser, sy ouers of ander volwassenes.[14]
  • Beskerm die kind se gevoelens teen “name-calling” deur hulle te leer om hulself te beskerm teen beledigings. Leer die kind dat om die boelie terug te beledig, die situasie net sal vererger.
  • Om die krag en seermaak uit woorde weg te neem, kan die beledigende woorde hardop gesê word deur die kind. Laat die kind dan die woorde “weggooi”. ‘n Mens kan die kind laat oefen om die woorde in ‘n vullisblik te gooi. Laat die kind daarna iets positiefs oor homself sê wat hy weer kan inneem. Byvoorbeeld: “Niemand hou van jou nie.” Ek gooi die woorde weg en sê “Ek hou van my.”
  • Leer die kind om nie dadelik tou op te gooi as ander kinders hom nie by ‘n speletjie insluit nie. Help die kind om vol te hou om te vra om saam te speel. (Laat die kind vooraf oefen om nie aggressief of kermend te klink as hy met hulle praat nie. Help hom om te oefen om positief en vriendelik te lyk. Oefen gesigsuitdrukkings in die spieël.)[15]
  • As ‘n laaste uitweg, (volgens sommige kenners) leer die kind selfverdediging, vir geval hy fisies seergemaak gaan word en hy nie van die situasie kan ontsnap of hulp kan kry nie.

Wat kan skole doen om boelies stop te sit?[16]

  • Moenie boelie gedrag ignoreer nie – spreek dit aan! ONTHOU: ‘n Boelie kan alleenlik suksesvol wees indien niemand iets daaromtrent doen nie!
  • Gaan doen deeglike “huiswerk”. Stel akkuraat vas wat die omvang van die probleem is.
  • Sorg dat volwassenes meer sigbaar is oral op die skoolterrein, maar veral die areas wat die boelie probleem voorkom, bv. kleedkamers, speelgrond, die nasorg lokale, gange, ens. Sorg vir beter toesighouding, veral tydens pouses.
  • Maak dit teen die reëls om iemand anders te boelie. Wees konsekwent om alle boelie gedrag te dissiplineer.
  • Praat ernstig met boelies. Laat hulle verstaan dat jy bewus is van wat hulle doen en dat jy dit nie gaan duld nie.
  • Help die boelies om hulp te kry. Boelies is mense wat self probleme het.

[1] Carol E. Watkins, M.D. (Northern County Psychiatric Associates, Lutherville and Monkton, Baltimore County, Maryland) – Dealing with Bullies and how not to be one (www.ncpamd.com)

[2] Laura DeHaan, Ph.D (Assistant Professor of Child Development, North Dakota State University) – Bullies, February 1997. (www.ag.ndsu.edu)

[3] Hara Estroff Marano – Big bad bully. Psychology Today Magazine, Sept / Oct 1995.

[4] Ibid.

[5] Bullying – being unkind to others (Kids’ Health: Children, Youth and Women’s Health Service, South Australia, 8 April 2008.)

[6] Carol E. Watkins, M.D. (Northern County Psychiatric Associates, Lutherville and Monkton, Baltimore County, Maryland) – Dealing with Bullies and how not to be one (www.ncpamd.com)

[7] Bullying – being unkind to others (Kids’ Health: Children, Youth and Women’s Health Service, South Australia, 8 April 2008.)

[8] Laura DeHaan, Ph.D (Assistant Professor of Child Development, North Dakota State University) – Bullies, February 1997. (www.ag.ndsu.edu)

[9] Ibid.

[10] Ibid.

[11] Bullying – being unkind to others (Kids’ Health: Children, Youth and Women’s Health Service, South Australia, 8 April 2008.)

[12] Laura DeHaan, Ph.D (Assistant Professor of Child Development, North Dakota State University) – Bullies, February 1997. (www.ag.ndsu.edu)

[13] Hara Estroff Marano – Big bad bully. Psychology Today Magazine, Sept / Oct 1995.

[14] Personal safety and self defense for children, teens and adults: Face bullying with confidence. KIDPOWER – webtuiste.

[15] Ibid.

[16] Laura DeHaan, Ph.D (Assistant Professor of Child Development, North Dakota State University) – Bullies, February 1997. (www.ag.ndsu.edu)

 

Toerusting vir Jeugleiers: #Imagine Ignite Jan 2017

15259603_694650427379903_8576923638044969516_o

#Imagine Ignite,  is toerustingsessies wat landswyd gehou word vir alle leiers in jeugbediening.
Anriëtte de Ridder skryf: “Dit behels verskillende sprekers en videogrepe oor allerlei onderwerpe, met groepbesprekings daarna.”
Die volgende geleentheid is op Saterdag, 28 Januarie 09:00 – 15:00 by Bergsig Gemeente in Durbanville.  Bring jou hele span jeug -vrywilligers (kategete, ouers, kinder- en jeugwerkers en predikante).  Die koste is R80 pp en dit sluit middagete en teetyd in.  Inskrywings teen Dinsdag, 24 Januarie by my in die Jeugkantoor per e-pos by jeug@sun.ac.za of 021 808 9050.
Jeugwerkers en jeugpredikante word ook genooi na ʼn spesiale #Imagine Ignite toerustingsessie net vir hulle op Vrydagoggend, 27 Januarie 2017 ook by Bergsig.  Dit is gratis, maar skryf ook asseblief daarvoor by my in.

 

Vriendelike groete

Gedagtes oor verhoudings, vryheid en lewe

#DIepdink

Cars- ja, die Disney fliek, met Lightning McQueen, Mater en Doc Hudson. Ten spyte daarvan dat albei my kinders dogtertjies is, speel Cars byna op “repeat” in die DVD masjien. Afgesien daarvan dat ek die storie letterlik honderde al gekyk het, het ek onlangs eers besef dat dit ’n storie oor vryheid is.

Aan die begin sien ons hoe McQueen se kuipe-span bedank, want McQueen is skynbaar ’n one-man-show. Hy wil nie gebind wees aan ander wat vir hom sê wanneer hy bande, of brandstof nodig het nie. Verhoudings is vir hom ’n struikelblok wat hom gevange hou en keer om sy doelwit te bereik, naamlik om wenner van die Piston Cup te wees. Dit is sy droom, maar meer, hy koppel sy hele identiteit aan die gedagte dat hy ’n renmotor is, wat moet kompeteer en wen.

Op pad na die wedren, wat die finale wenner sal bepaal, beland hy deur ’n snaakse sameloop van omstandighede as “gevangene” van Radiator Springs. Hy is gevonnis tot gemeenskapsdiens, om die hoofstraat te herstel. In die loop van die paar dae daar ontwikkel hy verhoudings met karre, waarmee hy nooit andersins sou nie. Hy leer dat sukses en prestasies as doelwitte leeg is.

Dit het vir my ’n treffende beeld geword van ons lewe saam met Jesus. Baie mense van ons wêreld is baie prestasie gedrewe en in die proses word verhoudings kettings wat ons gevange hou. Die cliché is egter dat wanneer die doelwitte behaal word, is dit leeg wanneer daar niemand is om die vreugde mee te deel nie.

Ek verstaan die storie van die Bybel dat Jesus nie teenprestasie is nie. Hy is nie teen die gedagte dat ons ontwikkel en uitnemend leef nie, maar Jesus is beslis eerste vir verhoudings. Ons is gemaak om God se liefde te ontvang en ander mense lief te hê. Wanneer ons uitnemendheid en sukses gekoppel word aan verhoudings, het dit ’n groei-effek op ander mense.

Aan die einde van Cars wen McQueen nie die Piston Cup nie. Hy kom derde en dus laaste, maar skielik is hy deel van verhoudings wat die eerste plek baie relatief maak. Hy ontdek dat die verhoudings baie meer vryheid gee as sukses en bekendheid.

Wanneer ons uitnemend lief het en verhoudings bou ontdek ons vryheid, want prestasies alleen is koue selle waarin ons opgesluit word. Saam met ander mense is daar vryheid en die lewe in oorvloed waarvan Jesus praat (Joh. 10).

*Hierdie het voorheen in NG Kenridge se Vrydag Nuus verskyn.